Een wintersoggend, nadat jy die snooze-knoppie op jou wekker gedruk het, skop dit skielik in. Jy is volledig met jou sintuie teenwoordig. Jy klim terug in jou bed en pleks daarvan dat jy oor jou probleme tob, voel jy hoe elke spier in jou lyf uitasem terwyl jy in die matras se holte neersak. Jy let op hoe jy soos ’n warm kuiken onder jou kombers lê en broei, die gerusstellende teenwoordigheid van jou lewensmaat, jou hond of jou teddiebeer langsaan jou. Wanneer jy uiteindelik die komberse afgooi om die dag te trotseer, probeer jy nie die koue wegwens nie, jy sit selfs ’n oomblik stil en voel die oggendlug teen jou vel. Jy ontspan in die koue in eerder as om jou skouers op ’n knop te trek. As mens ophou om teen die koue te baklei, is dit nie eintlik so erg nie, besef jy. Volgende bederf jy jouself met een van die lekkerste en mees ondergewaardeerde plesiere waartoe die menslike lyf in staat is – jy lig jou arms na weerskante, sprei jou vingers wyd, lig jou borskas en strek jou lyf uit. Jy vou oop soos ’n geroeste hek wat vars olie gekry het. Elke rugwerwel kreun van die lekkerkry.
In die badkamer loop jy jou eerste draai van die dag, ’n ervaring waaroor ons nie hier hoef uit te wei nie, maar wat op sigself besonder lekker kan wees as jy aandag gee terwyl jy dit doen. En daarna buk jy jou oor die wasbak en beleef ’n moderne wonderwerk: tandepasta, ’n middel waarvan jou oervoorvaders net sou kon droom. Die tandepasta skuim soos sjerbet in jou mond. Peperment, of watse geur ook al, stroom deur jou kieste.
Jy draai die stortkraan oop. Let bietjie op hoe jou asem liggies in jou keel vasslaan terwyl die water warm raak, asof jou hele lyf opgewonde uitsien na die plesier wat voorlê. Die oomblik as jy jou pajamas afpluk en met jou uniek geskape lyf in die warmwaterstroom ingly, skrik elke laaste sel in jou lyf volledig wakker. Die dag het aangebreek! Jy staan met jou rug na die stortkop en buig jou nek, jy voel hoe die rillings saam met die water teen jou ruggraat afklim. Luister hoe maak die sjampoebottel ’n stoute geluidjie as jy hom druk – pwiep – en voel die jellierige bederf van die blerts koue sjampoe wat jy op jou kopvel plak. Jy skrop jou kopvel soos wat jy ’n hond se magie sal krap. Jy maak jou oë toe van die lekkerkry en gun jouself ’n enorme glimlag. Skrop, skrop, skrop.
Met die afdroog kan jy voel hoe al die ou skilfervelle van jou vel afgeskuur word – ryk dames betaal honderde rande vir dieselfde voorreg in ’n spa. Jy pluk nie net jou onderklere oor jou lyf aan nie. Teen dié tyd is hulle al perfek gerek en gestrek om net mooi by die rondings van jou lyf te pas. Jy vóél die materiaal teen jou vel. Jou tone wriemel ’n paadjie deur jou sokkie of kous oop vir die res van jou voet om te volg.
Jy kyk in die spieël. Jy knip vir jouself oog. Jy het in jou eie lewe gearriveer.
As opstaan so lekker kan wees, dink net wat lê nog vandag voor.
Maar vir hierdie ervaring moet jy wakker wees. Jou sintuie moet aangeskakel wees. As jou gedagtes besig is om te worstel met die lewe wat jy eerder sou wou gehad het (“ek wens dit was Saterdag”, “nie nog ’n dag by my aaklige werk nie”, “ek wens ek was maerder”) gaan jy die betowering mis. En daarvoor sal jy net jouself kan blameer.
’N LUISTER-DISSIPLINE
Wat begin het met twee opgerolde komberse vir meditasiekussings en ’n bottel koeldrank wat Johan met sy snoepiegeld gekoop het, het gegroei tot iets wat niemand voorsien het nie.
Twaalf stuks gevangenes sit gereeld vir die Downeys se gereelde meditasiesessie aan. Elkeen het ’n swart meditasiekussing wat Johan se ma vir die groep gemaak het. ’n Wierookstokkie en kerse word elke keer aangesteek. Die groep hou selfs afsonderingstydperke, net soos dit by The Dharma Centre in Robertson aangebied word, waar hulle ’n naweek lank elke dag ’n paar uur lank in ’n tronksaal byeenkom om saam te mediteer.
Van die mans noem Heila en Rodney “Ma” en “Pa”. Hulle maak soms kollekteeroproepe na die Downeys se huis om oor hul alledaagse probleme te gesels.
Een van die gevangenes, ’n geharde Kaapse skollie wat graag spog hy is in die tronk “vir die één moord wat ek nie beplan het nie”, bel Rodney by geleentheid benoud by die huis op Robertson. Hy is heeltemal verward. Hy was die dag in ’n bakleiery, vertel hy Rodney, toe iets gebeur het wat vir hom heeltemal onbekend was. “Ek wou nie terugslaan nie! Ek verstaan dit nie. Ek was ewe skielik nie lus om terug te slaan nie.”
Rodney glimlag. “Jy begin ’n gewete ontwikkel.”
“Die meeste van dié ouens het in ’n samelewing grootgeword waar hulle pal om hul lewe moes baklei,” sê Rodney. “Niemand het ooit enige vertroue in hulle gehad nie. As jy hulle net kon wys hulle is in jou oë ook mense, dat jy hulle nie veroordeel nie … dan het hulle begin groei. Die eerste keer toe ek daardie man (die Kaapse skollie) ’n verjaardaggeskenk gegee het, het hy begin huil. Dit was die eerste keer in sy lewe dat iemand hom ’n verjaardaggeskenk gegee het.”
“Ons het hulle nooit gevra vir watter misdaad hulle in die tronk is nie,” vertel Heila. “Soms wou hulle by ons weet hoekom ons nooit daaroor uitvra nie. Dan het ek geantwoord ons hoef nie te weet nie …”
En toe vermoor iemand Heila se pa.
Drie aanvallers het die ou oom, ’n wewenaar, in sy huis oorval en met ’n mes doodgesteek.
Baie van wat in die dae ná haar pa se dood gebeur het, voel deesdae vir Heila soos die verre verlede. Die dag toe sy op Robertson verslae na die blou hemelruim opgekyk het pas nadat sy die oproep gekry het dat hy in sy huis op Kroonstad dood gevind is. Die reis saam met Rodney Vrystaat toe vir die begrafnis. Die familie. Die diens.
Maar veral twee herinneringe staan uit.
Een is die eerste hofverskyning van haar pa se moordenaars. Heila en Rodney het reg agter die beskuldigdes in die hofsaal gesit. Sy het in hul oë gekyk. Dit was soos om in ’n leë gat te staar. “Daar was net niks,” onthou sy. “Geen gevoel, niks.”
Dalk het sy op daardie oomblik gedink aan die geweldsmisdadigers met wie sy op Malmesbury gewerk het, die mense wat daar besig was om ’n karakter, ’n gewete, ’n gesonde emosionele lewe te ontwikkel. Dalk was dit die kontras tussen dié mediteerders en die gebroke drietal in die hof wat haar so verstom het.
En dan staan ’n tweede herinnering uit: Die eerste byeenkoms van hul meditasiegroep in die Malmesbury-gevangenis ná haar pa se dood. “Ons het daar aangekom en die gewone jillende skollies het na ons geskree terwyl ons in die gang afstap. Ons ouens het vir ons gewag. Almal het op hul meditasiekussings gaan sit. En toe vertel ons hulle my pa is vermoor. Daar was stilte, die mees aangrypende stilte. Onthou, die meeste van hulle het vroeër in hul lewe gemoor en verkrag. En nou het hulle die uitwerking gesien wat hul dade op mense het. In ’n sin was dit vir hulle soos om in ’n spieël te kyk. Van die ouens het gehuil. Hul harte was stukkend.”
Mens sou dink as misdaad jou familie so traumatiseer, sal dit vir jou moeilik wees om met misdadigers te werk. Maar teen dié tyd was daar tussen Heila, Rodney en die mediterende gevangenes ’n band wat byna niks meer kon breek nie.
“Ek het veiliger tussen daardie ouens gevoel as op straat,” sê sy. “Daar was iets onmiskenbaar aan hulle, ’n sin vir integriteit en selfrespek. Dit was nie omdat hulle my of Rodney wou beïndruk nie, maar omdat hulle geleer het hulle kan hulself vertrou om beter mense te word.”
Johan, die ou wat op sy dag selle omgekeer en as die “gemeenste bliksem in die tronk” bekend was, het besef dit help nie hy stry meer teen sy situasie nie. Hy is in die tronk en hy kan nie weghardloop nie.
“As daar enige emosie is wat jy jou kan indink, dan beleef jy dit in die tronk,” vertel hy. “Die donkerste hel, trauma, pyn, swaarkry, geweld en duiwels. Maar jy beleef ook die wonderlikste gevoelens wat jy jou kan indink. Jy voel dalk moerse happy want