Niemand kan hul kop heeltemal stilmaak nie. Maar wat jy wel kan doen, is om jou aandag te leer skuif van die oppervlakkige geraas na die werklikheid rondom en binne jou.
Sonder die kalmte en stilte wat jy deur meditasie aanleer, is dit baie moeilik om te hoor wat jou hart vir jou oor blydskap wil sê.
Ek vind dit nuttig om aan die binnekant van my kop as ’n digte woud te dink. Al die gedagtes en stories wat ek myself oor en oor vertel, is soos blaarryke bome wat my wêreld verdonker en my uitsig belemmer. Soms verdwaal ek heeltemal tussen al dié bome en weet ek nie na watter kant toe ek met my lewe moet beur nie. Meditasie is om een baie hoë boom te kies (verkieslik jou asemhaling) en al jou aandag na daardie een boom te bring. As die ander bome jou aandag aftrek, dan bring jy dit net weer terug na die hoë boom van jou asemhaling. Mettertyd gaan dit voel asof jy met daai boom opklim, al hoe hoër op in jou asemhaling totdat jy bo die res van die woud uitstyg. Daar is ál meer ruimte, ál meer stilte rondom jou, en uiteindelik bevind jy jouself waar jy hoog bo die ander boomtoppe is. Dis nie dat die ander bome ophou bestaan nie, die gedagtes dwaal steeds daar onder rond, maar jy het meteens perspektief, jy kan ver verby die ander bome sien en jy weet watter rigting om met jou lewe in te slaan.
Soos wat jy daar vanuit jou hoë boom afkyk, sal jy enkele van die ander boomsoorte begin uitken, jy sal patrone oplet in die geraas wat jou vrede so versteur.
Die sielkundige Jonathan Haidt het ’n nuttige lys saamgestel oor van die tipiese gedagtes wat so in ons koppe raas en ons in die lewe rigting laat verloor. Hier is van hulle:
•Katastrofering. Jy oordryf dinge wat in jou lewe verkeerd is en vertel jouself dinge wat jou hopeloos laat voel. “Ek sal nooit weer gelukkig wees nie.” “Hierdie tipe ding gebeur altyd met my.” “Alle hoop is verlore.” Hierdie soort gedagtes is omtrent altyd irrasioneel. As jy bo hulle uitstyg, kom jy agter hulle is op baie skrapse bewyse gegrond.
•Toekomsvoorspelling. Ons laat dikwels scenario’s in ons kop afspeel van hoe ons dink die toekoms gaan uitdraai. Maar is dit nuttig? Omtrent die enigste ding wat ons met sekerheid van die toekoms weet, is dat dit altyd anders uitdraai as wat ons verwag.
•Ou gesprekke. Die meeste mense het die gewoonte om dieselfde ou gesprekke oor en oor te herhaal. Dis soms nuttig om ’n post mortem van ’n ou gesprek te doen en te besin oor hoe jy dit beter kon gehanteer het, maar wanneer jy dit die 25ste keer in jou gedagtes herhaal, is jy neuroties.
•Om ander se gedagtes te wil lees. “Niemand hou van my nie.” “Hy is weer kwaad vir my.” “Ek is seker sy het haar mes in vir my.” Uit ervaring weet jy seker die meeste van die tyd as ons raai hoe ander mense oor ons voel, raai ons verkeerd. Mense spog graag oor hul “mensekennis”, maar die meerderheid van ons is nie naastenby sulke goeie ontleders van wat in ander mense se koppe aangaan as wat ons dink nie.
Daar in die Malmesbury-gevangenis het Johan Stander die punt bereik dat hy besef het die geraas in sy kop is ’n groot deel van die probleem. Hy het koers verloor en hy moes ’n nuwe perspektief kry om sy pad uit die woud te vind.
Miskien sou meditasie hom kon help om die nodige helderheid te kry.
MEDITASIE
Die Bolandse dorp Robertson staan ook bekend as “die Vallei van Wyn en Rose”. So walglik soos wat dit binne die hel van die Malmesbury-gevangenis lyk, so mooi is Robertson op ’n lentedag.
Een oggend in 1999 lui Heila Downey se telefoon in haar huis op dié dorp. Dis ’n tronkbeampte van die Malmesbury-gevangenis. “Toestemming is verleen dat jy jou student kan kom besoek,” deel die stem haar mee.
Wat de …?
Heila is ’n merkwaardige vrou. Sy het diep in die Mieliedriehoek op Klerksdorp in die ou Wes-Transvaal grootgeword, maar gou agter die stadsliggies aan na Johannesburg en later Kaapstad getrek. As jong meisie is sy as Mej. Transvaal gekroon, waarna ’n glanslewe as model en later choreograaf gevolg het. Kort voor lank het sy met die sakeman Rodney Downey getrou en die twee het hulle in ’n herehuis in ’n rykmansbuurt op Somerset-Wes gevestig.
Op die oog af was dit die lewe van net nog ’n glanspaartjie. Maar iewers tussen al die opwinding het Heila en Rodney iets gedoen wat baie min ander mense in hul portuurgroep gedoen het – hulle het begin mediteer. Hulle het studente van ’n Amerikaanse Zen-meester genaamd Philip Kapleau en later van ’n Koreaan, Seung Sahn, geword.
In die tagtiger- en negentigerjare het baie Suid-Afrikaners nog vas geglo meditasie is ’n sonde. Maar Heila en Rodney het die wêreld vol gerits, hulle as instrukteurs bekwaam, ’n wye netwerk van studente in Suid-Afrika, Oos-Europa en Brasilië opgebou, en uiteindelik besluit om op die dorpie Robertson ’n sentrum op die been te bring. By The Dharma Centre, soos wat hulle die nuwe sentrum genoem het, ontvang hulle van tyd tot tyd studente vir afsonderingstydperke. Tydens dié sessies volg almal die skedule van ’n Koreaanse Zen-klooster, wat behels dat daar ure en ure per dag gemediteer word. Ek oordryf nie as ek sê al die ure wat Heila en Rodney al in hul lewe gemediteer het, moet gesamentlik járe beloop nie.
En toe kry Johan Stander die Downeys se besonderhede in die hande en reël met die tronkowerhede dat hulle hom mag besoek om hom meditasie te leer.
Soos wat Heila die storie onthou, het sy, Rodney en hul boerboelhond die dag in hul motor geklim en die rit van sowat twee uur van Robertson na Malmesbury aangepak.
Vir iemand wat nie die wêreld van misdaad en die gereg goed ken nie, kan ’n eerste besoek aan die Malmesbury-gevangenis ’n senutergende ervaring wees. Die deel waarin Johan aangehou is, is uitsluitlik vir geweldsmisdadigers opsy gesit. Moordenaars, verkragters en mense wat ander mense gewelddadig aangerand het. Jy loop tussen koue staalmure in lang donker gange af. Traliehekke slaan keer op keer met ’n harde slag agter jou toe. Bendelede koggel en tart jou van agter tralies. Heila het aanvanklik alleen in dié gange afgestap (Rodney het met die hond op ’n wandeling gegaan) om ’n wildvreemde misdadiger te ontmoet.
Sy onthou die dag soos gister. “En toe beland ek in ’n lokaal waar ’n reus van ’n man staan en wag. ‘Hier is jou student,’ het die bewaarder gesê, omgedraai en my alleen saam met hom in die vertrek agtergelaat.”
Johan het in die jare sedert sy vonnisoplegging voortgegaan om met gewigte te oefen en was selfs groter as toe hy opgesluit is. Heila is nie ’n groot vrou nie en sou langs hom piepklein gelyk het. Die vertrek waarin hulle was, het geen vensters gehad waardeur sy om hulp sou kon roep as iets skeefloop nie, geen kamera, geen alarm en geen klokkie nie. Net sy en ’n wildvreemde gevangene. Heila het diep asemgehaal en besluit om te kyk wat die situasie oplewer.
Eenkant in die vertrek was twee opgerolde tronkkomberse. Johan het dit saamgebring omdat hy gemeen het hulle sou dalk iets nodig hê om op te sit en mediteer. Hy het ook koppies en ’n bottel koeldrank eenkant uitgepak wat hy met sy sakgeld by die tronk se snoepie gekoop het.
Hy is weens moord opgesluit, het hy haar vertel. “Daar is ’n goeie kans ek gaan minstens nog 27 jaar hier binne sit. Ek het jou hulp nodig om ’n beter mens te word.”
Heila het geantwoord dat sy hom iets kan leer wat hom kon help, maar net as hy sou instem om dit elke dag twee keer te doen, tien minute in die oggend en tien minute in die aand.
“Vertel my wat om te doen en ek doen dit,” het hy geantwoord.
En toe leer sy hom mediteer.
Oornag, voordat sy haar oë kon uitvee, was Heila Downey, die voormalige model en skoonheidskoningin, ’n tronkkapelaan.
In die daaropvolgende jare het Heila en Rodney twee keer per maand op Robertson in hul motor