“Wat’s innie b-boks, B-B-Boytjie?”
“Kol’nel, die duiwe vir die opening, kol’nel.”
“Ek dog hulle kom op so ’n sleepwa met sulke va-va-vakkies?”
“Dis posduiwe, kol’nel. Mens kry hulle nie meer nie.”
“Nou w-w-watse duiwe is hierdie?”
“Kol’nel, dis pet shop-duiwe, kol’nel.”
Rooipiet kan sy ore nie glo nie. Hy voel hoe sy wange gloei en sy moermeter se naald flik-flik die rooi in. “Is jy nou bedonnerd?! As die duiwe losgelaat word, waarheen dink jy gaan hulle? Terug na die pet shop in die mall toe, courtesy van Google Maps?! Jy is nou al twee jaar my administrasiehoof, maar party dae wonder ek hoekom ek …”
Boytjie se oë is groter as gewoonlik en sy adamsappel beweeg senuweeagtig. Hy gooi sy blonde maanhare oor sy skouer en verstel dan die pruik wat ’n aks skuinsgetrek het oor sy hoë voorkop. Daar is iets so melancholies aan dié gebaar dat die kolonel voel hoe deernis die woede uit hom verdring. Jirre-mia, broer.
Die situasie word ontlont toe Boytjie sy aandag vestig op die drie dartelende, giggelende figure in gepluimde wit gewade wat hand aan hand soos ’n eksotiese wit seilskip oor die golwe van teer aankom: Lympi, die skegbeeld; dan Vlindra in die middel as hoofmas; en Lizzy wat die agtermas vorm.
“J-j-julle lyk presies soos engele. P-p-pragtig! Soos daai drie meisies in Botticelli se P-p-p-rimavera.” Die kolonel se hart vermurwe by aanskoue van die drie grasieë. Hy druk elkeen teen sy bors vas en soen waar hy kan bykom: Lizzy bo-op haar kop en Lympi op haar kuiltjie. Sy lippe talm op haar warm vel, wat liggies vibreer, en hy snuif haar op asof sy ’n eksotiese dwelm is.
Maar toe sien hy die bloed langs Lizzy se slaap. “Wat het jy n-n-nou weer aangevang, Lizzy!” roep hy geskok uit. “Die fees begin netnou!”
Lympi verduidelik half uitasem: “Kolonel, sy’t weer geval, flou geword.”
“Nou wat het julle gedoen?” Piet kan sy agitasie kwalik verberg en die hemel weet, hy wil nie met Lympi baklei nie.
“Dis die Stendhal-ding, oom Piet. Toe daai kêrel van die klank vir haar die pragtige bos rooi rose gee, toe word sy flou en kap haar kop teen die Dolly Varden. Gelukkig is dit nie te erg nie.”
“Jirre, mense, julle sal my hart laat gaan s-staan.”
Met Vlindra kan hy nie beter doen as om die kloof tussen haar borste te soen nie. Sy druk sy kop daarteen vas. Normaalweg sou hy dit onvoorwaardelik geniet het, ’n voorloper van ongebreidelde seks, maar vandag lê sy belangstelling elders. Hy gee ’n ligte proesie en trek dan sy kop terug.
“Nou ja, julle,” sê hy floutjies, “st-sterkte vir vanaand. B-b-break a leg!”
“Jis, dankie, oom Piet!” tril die drie in ’n koortjie.
“Ons kort nog ons vlerke, kolonel!” sê Lympi oor haar skouer terwyl hulle wegsweef.
Hoekom is dit, dink Piet, sy gevoelens in ’n warboel, dat wanneer Lympi met hom praat of net naby hom is, dit voel asof hy reeds syne het?
10
“Kol’nel, die grootkoppe begin aankom,” sê Boytjie.
“Wie’s al hier?”
“Pastore Boet en Aster. Pastoor Aster het van onder af gebel en wil kol’nel graag vinnig spreek.”
Dis op die punt van sy tong om te sê onder geen fokken omstandighede nie, maar hy besef dat hy brûe gaan verbrand wat hy dalk later nodig mag kry. “Laat hulle maar k-k-kom. Waar parkeer hulle?”
“Voorste ry, kol’nel. Die goue Fortuner. Ouerige pre-elektriese model.”
“Roger jou.”
Die kolonel wonder oor dié twee, Boet en Aster Bitzer. Voor hulle Die Volle Evangeliekerk vir Welgeskapenes begin het, het Aster ’n modelagentskap gehad en Boet aan die verkeerde kant van Stateway motoronderdele verkoop. Die kerktent het uit die niet verrys. Die kerk se sentrale boodskap berus op die idee dat ’n gesonde liggaam ’n gesonde gees huisves. Die twee het mekaar in die Virgin Attractive-gimnasium ontmoet, lui die gerugte.
Piet loop tydsaam na die Fortuner met die nommerplaat GODLIKE 1 FS. Ja-nee, dink Piet, hulle is stewig in die saal.
Pastoor Boet laat rol die ruit aan bestuurskant af en steek sy hand uit. “Naand, broer Piet.”
Die kolonel neem dit nie. “Dag, Boet. En Aster. Ek hoor julle s-soek my?”
Die pastore klim uit die goue koets – Boet in ’n satynpak met ’n mandarynkraag – en Aster stap voor om. Piet besef sy is wragtig ’n kop langer as hy. Sy is ook aantrekliker as wat hy kan onthou, en hy moet strek om haar op die wang te soen.
Aster laat haar dit welgeval, maar haar nek is stywerig. “Piet, ek gaan met die deur in die huis val. Ons soek ’n plek vir die kerk. ’n Permanente area vir die tent, jy weet? Ons het gedink dat dit hier bo-op jou berg goed sal werk. Dáár, agter die laaste ry motors. Op die grasperk,” en Aster beduie met haar kop na Arcadia, die fees se tentedorpie. “Daar’s genoeg plek en buitendien sal ons jou nie pla nie, want ons praise-and-worship is net Sondae. Nou ja, soms ander dae ook, maar ons kan dit mos reël, of hoe? En Piet, dit moet ek bysê, ons is gelei na hierdie plek. Deur gebede en visioene.” Met dié openbaring leun sy vorentoe, sit haar hand op sy skouer en kyk vol afwagting na hom.
Rooipiet kan weer voel hoe sy wange opvlam en ’n belangrike aar dringend in sy slaap klop. Jesus, Josef en Maria! Waar kom hierdie mense aan so iets? “Jammer, Aster, Boet, maar dit sal nie moontlik wees nie.” Hy is verbaas dat sy stem so gelykmatig is terwyl iets donkers in sy bors kolk.
Aster kyk onbegrypend na hom. Boet se uitdrukking kan hy nie peil nie. Daar volg ’n stilte wat beklemtoon word deur die hitte wat van die teer af opslaan. Ook die sproeiers is nou stil.
“Nou ja, dan is dit seker dit.” Aster se nek en lippe is snaarstyf gespan. Sy besluit ooglopend om beheer oor die situasie terug te neem. “Piet, ek wil nou nie klaerig klink nie, maar van die girls het by verlede Woensdag se praise-and-worship gesê hulle hoor ’n mens kan van die engele in die toneelstuk se …” en hier kyk sy eers na Boet, “se … tieties en … nou ja, fielemandorushare deur hulle outfits sien. Is dit so?”
“Hulle s-s-se wat?” Piet is werklik vir ’n oomblik uit die veld geslaan oor die koersverandering.
Aster leun weer vorentoe, kyk eers rond en sê dan driftig in daardie lae register wat hy so goed onthou van toe hy haar op skool in die donker agter die saal gevry het: “Wolpoeding, Piet. Jy van alle mense ken tog van wollie, of moet ek dit verdomp uitspel!”
“Dankie, nou onthou ek. Ek het jou. Die girls is volledig voor-b-berei vir die vertoning. Die k-k-kerk het niks te vrees nie.”
Aster glimlag en sit ’n vinger met smaraggroen naellak onder sy ken. “Onthou, Piet, God slaap nie,” sis sy en stap dan statig saam met pastoor Boet teen die effense helling van die teerblad af na die amfiteater.
11
Die stroom BBP’s wat bo by die inryteater arriveer, het aansienlik aangegroei en Piet begin soontoe beweeg om ego’s te streel, verbintenisse te verstewig en vyande in sy visier te hou.
Die Kulturama se sekuriteitshoof pyl van ’n afstand op hom af. As daar een lid van kolonel Rooipiet se personeel is wat hy nie altyd kan peil nie, is dit Doc “Tryhard” Ndlovu. Van sy lewe buite werksverband weet Piet nie veel nie, en hy weet nie of hy meer wíl weet nie. Die man se verbintenis met die zama-zamas, wat onder uiters gevaarlike omstandighede onwettig goud myn, stem hom onrustig. Dit is Justus Range wat hom daarop gewys het dat die woord “tryhard” ’n losse vertaling van “zama-zama” is. Vir dié wat hom ken, is hierdie man egter “Doc”.
Piet