Toe hulle by die wit tent instap waar die engele moet verklee, voel dit vir Piet asof dit ’n kamer binne ’n wolk is. Die engelharnasse hang aan drie kruisvormige staanders teen die agterste tentseil, en Lympi laat gly haar hand oor die borsharnas van gepoleerde metaal en die rye vere wat ’n vlerk uitmaak.
“Kyk hoe mooi, kolonel!”
Piet glimlag. Die vere is afkomstig van voëlsoorte wat nog nooit eens deur hierdie aarde se atmosfeer gevlieg het nie en opgediep is uit die DIS-laboratoriumargiewe van doktor Xavier Yssel – of doktor X, soos sy mense graag na hom verwys. Nog ’n klein oorwinning in sy onderhandelings met Yssel waarvoor hy seker nooit krediet sal kry nie.
Dan sien Piet ’n vreemde gestalte na hulle aangeswalk kom, styf-styf op outydse kunsprosteses. “Naand, juffrou Lympi. Naand, kolonel. Ek’s Dean,” roep die man hulle toe en waai vir hulle. Hy dra blou nitrielhandskoene. Hy is een van die techies wat Lympi se vlerke moet opkoppel. Dun staalledemate steek onder sy kortbroek uit en die gesis van die hidrouliese silinders in sy bene is hard in die stilte. Hy sit sy instrumentetas op ’n stoel neer en knip dit oop. “Is jy reg om die aarde te verlaat, Lympi?” vra hy saggies toe hy agter haar gaan staan.
Sy knik.
Dean trek die ritssluiter af en Lympi laat die rok van haar afgly. Haar lyf is bedek met ’n fyn lagie sweet. Piet loop stadig om haar. Hy sal moet seker maak dat haar gesig nie blink onder die volgligte nie. Met ’n hand op Dean se skouer klim sy versigtig uit die poel diepswart materiaal. Sy gaan staan toe-oë met haar rug teen die vlerkharnas, haar regterarm oor haar borste.
Dean sit sy oorfone op en vroetel bo teen haar blaaie totdat hy die regte sok onder haar vel raakvat. Hy kyk op sy tablet na die lesings wat hy van haar senuweekoppelings kry.
“Raait, Lympi, jy gaan soos gewoonlik ’n tinteling in jou arms voel, en jy kan dalk ’n paar onwillekeurige spiersaamtrekkings kry in jou boarms en lae rug. Dis normaal. Jou D-CPU probeer maar net om die ekstra gewig te versprei na die spiere wat die geskikste is vir die werk. Reg so?”
“Het jou, Dean,” antwoord Lympi koel. “Jy sê dit elke keer, maar omdat jy dit so mooi verduidelik, kan jy dit maar oor en oor doen …” Dan verstar haar blik en haar stem raak monotoon: “Jy sê dit elke keer … Jy sê dit elke keer … Jy sê dit elke keer.”
Haar kop ruk ritmies.
Dean tik vinnig iets op sy tablet, en Lympi se kop hou op ruk en haar oë val toe.
Piet gryp sy eie kop vas. “Wat’s f-fout met haar, Dean! Jirre, wat g-g-gaan aan m-met haar?”
“Dis oukei, kolonel, ek herlaai haar gou weer. Ek dink die ekstra las op haar senuweenetwerk het haar spierritmes uitgegooi.”
Dean se kalm optrede laat Piet tot ’n mate bedaar, maar dit voel steeds na ’n ewigheid voor haar oë oopgaan en hy kan sien hoe haar stelsels weer een-een aanlyn kom. Sy poep en die string borrelende winde laat Piet van verligting proes.
“Jammer, Lympi,” fluister Dean.
Sy glimlag. “Is ons nou reg? Jy werk altyd so mooi met my. Dankie, dankie, Dean.”
“Jy’s ’n doll, Lympi.”
“Ek weet, en jy’s die poppemeester.”
Dean bloos en sy lag. Sy toets die vlerke. Die linkerkantse een maak seer. Dean spuit spookpis op die konneksie en dan is alles reg. Hy gespe haar borsharnas versigtig vas.
“Nou nog net die GoPro, Lympi,” sê Dean en ryg die kabel met die miniatuurkamera en mikrofoon onder die harnas in sodat dit onsigbaar deel vorm van die metaalroset tussen haar borste.”
Piet soen haar hand. “Hoe voel jy, my ske-skat?” Hy kan nie wag om die opname te sien van haar engelvlug nie.
“Ek’s reg, Piet.” Sy blaas vir hom ’n lugsoen.
Die vlerke beweeg gemaklik en sy roer die lug in die stil vertrek. Piet kan sien dat sy dol is op haar kostuum en veral die vlerke. Dean soen haar op die wang, neem sy outydse galvanometers, tablet en seilsakkie met gereedskap en loop dan sis-sis, hinkend by die tent uit.
Die hare- en grimeersessie is ’n heeltemal ander tipe okkasie. Die meisies kwetter en Piet voel ontuis tussen al die krullers, borsels, chemikalieë en sjampoes. Hy wil egter nie loop en die kans waag dat iemand dalk iets met ’n krultang of ’n haardroër aanvang wat Lympi se stelsels beïnvloed nie. Sy moet die meisies aanmekaar maan om nie op haar vlerke se punte te trap nie. Die enetjie, Iris, hou aan om haar hare te trek terwyl sy dit uitborsel.
“Hou op, Iris, eina!”
“Jammer, antie!” Iris is onmiddellik in trane.
Piet kan sien Lympi is jammer. “Hoekom huil jy, Iris? Jy weet jy moenie my hare trek nie, want dit is seer.”
“Skuus, antie. My ma het gesê ek moet kyk of antie se hare rêrig is.”
“Hoekom sal my hare nie rêrig wees nie?”
“Sommer, antie, want … want my ma sê … sy sê … ’n bruin meisie kan nie sulke mooi hare hê nie.”
“Nie eens ’n mooi een soos ek nie, Iris?”
“My ma sê ook dat antie …”
“Nie ’n engel kan wees nie?” Lympi glimlag vir haar.
“Ek weet nie, antie. Ek weet tog nie. Ek is jammer! Ek weet nie hoekom sy dit sê nie. Antie is mooier as ’n engel, al sê oom Boet ook wat oor antie.”
Rooipiet snork. “Luister, Iris, ek k-k-ken jou ma. Sê vir haar Piet Moolman sê sy moet haar rassistiese s-s-stront los. Hoor jy?”
“Ja, oom Piet. Jammer, oom Piet. Oom Piet? My ma sê ook dat oom dink met … met oom se …”
Rooipiet se vinger skiet waarskuwend orent. “Genoeg, Iris!” blaf hy.
Lympi gee Piet ’n vermanende blik en sit ’n arm om die stomme meisie se skouers. “Kom, Iris. Kom borsel klaar. Jimmy moet nog my hare opvat.”
“Reg so, antie.”
“Glo my, Iris, ek’s nie jou antie nie,” sê Lympi saggies.
“Reg so, antie.” Iris wil begin borsel, maar slaan dan haar arms om Lympi se nek.
Piet raak rusteloos. “Waar is daardie skêrmoffie, Lympi?” knor hy. “Ons moet klaarkry.”
Gelukkig arriveer die stilis, Jimmy, net toe met sy skêrsak en sy wederhelf, Jan-Daniël. Ongeag sy misnoeë oor Jimmy se seksuele oriëntasie, het Piet vir Boytjie gestuur om hom by sy salon, Hare Fanfare, in die Kaapse woongebied Woodstock vir die aand se geleentheid te gaan haal. Ongeag die koste. Hy het gehoor Jimmy toor met hare, veral sintetiese hare wat nie van te veel hitte of die verkeerde produkte hou nie. Nadat Lympi vertel het van haar vriendin SexySes se hare, was Piet maar versigtig. Die droër se hitte en die verkeerde bleikmiddel het haar hare glo in groen ystervarkpenne omskep wat soos droë vermicelli afgebreek het.
Lympi hou aan Piet se elmboog vas toe hulle uit die grimeertent loop. Hy draai na haar toe en dink sy lyk waarlik soos ’n bonatuurlike wese. Haar oë gloei helder in die kasse wat donker gegrimeer is. Haar satyngladde vel laat hom dink aan gepoleerde esdoringhout. Sy is miskien bleker as gewoonlik, maar dit is te verstane. Sy maag is ook op ’n knop. Hulle het haar toegevou in ’n fyn gaasmantel, soos ’n weerlose skoenlapperpapie.
Hy omhels haar versigtig, maar sy druk hom styf vas.
“Ek is lief vir jou, Lympi.” Daar is dit, want dit is soos dit is.
Sy giggel en vee die merk wat haar vol lippe moes gemaak het van sy voorkop af. “En ek vir jou.” Dis meer as net ’n eggo van sy woorde; daar is gevoel in haar stem en dit laat Piet ligter voel as ’n ballon.
Hy stryk aan en toe hy ’n ent weg is, kyk