“Yssie! Hoesit, dok?” Piet besluit dat kollegiale bonhomie die beste benadering tot die onderhandelingsproses is.
“Goeiemôre, kolonel. Waarmee kan ek jou help?”
Piet kan nie help om te wonder hoe oud – of dan, hoe jonk – hierdie man is nie. Dit wat hy vroeër oor hom gelees het, verklap min oor sy ouderdom. Hy meen Yssel se stem is ’n titsel aan die hoë kant. Wat hy egter weet, is dat Yssel van gemengde afkoms is. ’n Bruin man, so sê Boytjie, wat letterlik besig is om die wêreld te verander. Piet klits ’n bietjie beskeidenheid by sy aanslag in: “E … e … ja, sien, doktor, ons het ’n engel nod-d-dig.”
“Het ons nie almal nie, kolonel.”
“Vir ons Versoeningsfees … in D-desember?”
“Jammer, kolonel, my werk neem my dikwels na die buiteland. Ek hou tot my spyt nie tred met wat plaaslik gebeur nie. Stuur vir my ’n e-pos waarin jy julle behoeftes uiteensit, dan kyk ek wat ons vir julle kan doen. Ek het iemand in gedagte, maar die koste mag dalk buite julle departementele begroting val.”
“D-dankie, doktor, ek maak so, doktor.” Hy hoor Yssel het reeds neergesit. Piet kyk na die gehoorstuk in sy hand. “En ’n fokken lekker d-dag vir u ook.” Hy voel hoe sy gesig gloei.
Hy sit die gehoorstuk neer en druk die interkomknoppie. “Saar, sê Dames moet hiernatoe kom. Dadelik. Ons moet ’n e-pos s-skryf.”
6
Die vrou wat na Piet toe aankom, het ’n byna onnatuurlike skoonheid. Hy verkyk hom aan haar en besef te laat dat sy mond effens oophang. Haar oë is heldergroen en haar lang hare is koperkleurig en pas by haar karamelagtige gelaat. Sy is nie swart nie en ook nie wit nie. Perfek! Dit is vir Piet asof sy sweef, soos kleremodelle wanneer hulle op daardie smal verhogies loop. Sy dra ’n breërandhoed, ’n handsak en, tot sy verbasing, handskoene. Hy verlustig hom in haar outydse elegansie. Sy loop op fyn spykerhakke tot by hom en hou haar hand uit. In haar glimlag kan Piet geen sweem van vals onderdanigheid of onderdrukte selfvoldaanheid bespeur nie. Hy sien nou dat haar linkeroog effens kleiner as die regter is.
* * *
Soos die weke voor die koms van die groenoog-skoonheid met die soel gelaat verbygegaan het, het Piet se senuwees meer en meer op hol geraak, want daar was geen taal of tyding van doktor Yssel nie. Toe hy gister die soveelste keer teenoor hom afpak, sê Boytjie: “Kol’nel, ek sou sê bel hulle.”
“Maar ek hoor Yssel s-s-sit in T-T-Taiwan of China of iewers.”
“Bel sy tweede in bevel dan. Dis ’n vrou. Ek dink haar van is Kaltwasser.”
“Nou goed d-dan. As jy uitgaan, sê Saar moet haar op die lyn k-k-kry.”
Piet raak in sy eie gedagtes versink. Hy het reeds die betaling vir sy bestelling in ministawe gemaak. Die storie is deur sy sekuriteitshoof, Doc Ndlovu, bemiddel, heel onwillig maar darem. Doc was bang “bra Yssel” verkas met die miljoene rande se goud.
Piet skrik toe sy foon hard langs hom lui. “M-Moolman?”
“Dag, kolonel, ek is mevrou Kaltwasser. Doktor Yssel is in China. My verskoning daarvoor. Ek aanvaar u skakel oor u bestelling?”
“Ja, mevrou, ons het ’n engel op … op b-back order by u. Ek aanvaar d-doktor Yssel het u s-so ingelig?”
“Dit is korrek, kolonel. Die maniere hoe u haar aanwend, is uiteraard u eie saak, maar sy is veel meer as ’n aktrise. Ek weet nie hoe vertroud u is met slim-kobotte nie?
“Ek k-k-kan nie sê ek ken daai tie-tie-tipe nie, nee.”
“Slim-kobotte – of slimbotte, soos ons hulle noem – is robotte wat spesiaal ontwerp is om met mense interaksie te hê, en hulle vereis spesiale aandag.”
“E … h’m.” Piet besluit hy gaan geen beloftes maak nie. Hy is nie lus vir ’n masjien wat hy moet babysit nie.
“My aanbeveling is dat u haar so natuurlik as moontlik behandel – dit wil sê, soos enige ander werknemer. Dis belangrik dat sy sal voel dat haar teenwoordigheid by u en haar bydrae betekenisvol is. Sy het ’n gerekonstrueerde verlede, om haar by die samelewing te laat inskakel, maar dit is belangrik dat u, as haar voog, haar sintetiese status so ver moontlik sal beskerm. Begryp u? Sy is hoogs intelligent en grondig onderlê in vele dissiplines soos wiskunde, tale, wetensk-”
“D-d-dankie, mevrou, dit sal seker nuttig wees, wie weet?” Piet wil nie opgesaal word met ’n beterweterige breinboks nie. Boytjie Dames is al erg genoeg. “Wanneer k-kan ons haar t-te wagte wees?”
“Môreoggend. Maar u bedoel natuurlik húlle? Die steunpersoneel neem u, soos afgespreek, as deel van die bemagtigingspakket, en dan is daar die Olympia-demo-model wat u … e … engel … moet vergesel. Doktor Yssel het gemeen dit sal die aanpassing vir haar makliker maak.”
“Ons het reeds ge-genoeg engele, maar nogmaals d-d-dankie.”
“Die demo-model is ’n hy en sy kode is #01. Ons dink hy sal baie bruikbaar wees in u opset … enne … doktor Yssel dring hierop aan.”
“Om te-te wat?” Rooipiet het pas barser geklink as wat hy bedoel het, maar nou moet hy verdomp nog ekstra staatstoerusting oppas en dit gaan ’n pyn in die gat wees.
“Hy kan ’n hele klomp dinge doen, kolonel,” gaan mevrou Kaltwasser onstoord voort. “Hy is as ’n polimaat gekonfigureer … U is vertroud met die begrip?”
“E … wel …” Piet het nie vaagste benul waarvan sy praat nie, maar wat hy wel weet, is dat daar by die Kulturama nie twee nommer eens kan wees nie.
“U sien, kolonel, ’n polimaat is iemand met ’n breë vlak van kennis om ingewikkelde probleme op te los, hoewel ek u moet waarsku dat sy sagteware plek-plek onvolledig is en hy miskien nie so verfynd of belese is as wat ons sou wou hê nie. Hy is nietemin ’n liewe seun wat gou in u hart sal kruip.”
Terwyl mevrou Kaltwasser voortborduur op die slimbot se vele deugde en eweneens omvangryke gebreke, begin ’n plan in Piet se agterkop vorm aanneem. Hy sal Boytjie vra wat om met doktor Yssel se saamgeflanste superheld te maak.
Nadat hy afgelui het, gee hy ’n onbeholpe huppelsprong en pomp met sy vuis in die lug. Uiteindelik – sy hoofengel is op pad!
Toe het Boytjie oudergewoonte ’n blink plan. Hulle moet Saar Spaarwater deel van die slimbotprojek maak. Sodoende sal sy waarskynlik die belangrikste sensitiewe inligting oor die botte vir haarself hou, want as Piet se assistent is dit moeilik om inligting van haar te weerhou. Hulle moet dit bewimpel deur op Saar se swak plek te fokus: ’n kind van haar eie.
Minute later kan Saar nie weier nie. “Ek gaan hom Klein-Petrus noem, kolonel,” snik sy in die soveelste sneesdoek.
Piet kan haar man, die nutsman-cum-hekwag Groot-Petrus, vaagweg onthou. ’n Begaafde loodswaaier wie se lewe slegs iets beteken het omdat hy daarin kon slaag om die wulpse Saar Hartslief sover te kry om met hom te trou. Hy was ’n maer, beteuterde vent, maar die “Groot” voor sy naam was na bewering nie om dowe neute nie.
“Hy’s g-g-glo nie te ke-klein nie, Saar. Die DIS-mense sê hy lyk soos ’n spe-spiertier in ’n Marvel c-c-comic.”
Saar hou voet by stuk en só sal Klein-Petrus sy posisie en status as nommer een in sy eie wêreld verloor en sy regmatige plek in die Kulturama se rangorde inneem, sê Piet daarna selfvoldaan vir Boytjie. En dit nog voordat hy die terrein betree het.
Die volgende oggend, toe die slimbotte moet aankom, kan Rooipiet hom nouliks inhou. Hy loop mank, want hy het gister met die springery ’n spier in sy lies verrek. Hy stuur Saar en Vlindra van bakboord na stuurboord met onbenullighede, jaag Doc Ndlovu die harnas in en verskree die boekhouer Zombie Bezuidenhout omdat die jaareindstate van die vorige finansiële jaar nog nie gereed is nie. Hy reël dat Boytjie die steunpersoneel en Klein-Petrus hanteer.
Net ná elf lui sy foon. Dit is Saar Spaarwater.