Weerlose meganika. Anton Roodt. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Anton Roodt
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624091363
Скачать книгу
Styger die graad gegee om hulle geldkoffers te versterk, maar gerugte wil dit hê dat Van Gass se Africana-versameling beter as museumgehalte is. Daarby maak die Kulturama staat op ’n ruim jaarlikse skenking. Trouens, as dit nie vir Styger was nie, sou die fees nie elke jaar moontlik wees nie. Piet kon ook nie anders as om hom aan te stel as voorsitter van die Kulturama-raad nie.

      Die amptelike siening is dat die goud in Welkom grootliks uitgewerk is. Die meeste groot mynhuise is lank reeds weg en die myneiendomme is aanvanklik deur swartbemagtigingsgroepe gekoop, wat dit weer later vir ’n appel en ’n ei aan Chinese maatskappye verkoop het. Die Chinese het toe weer die myn se komponente en geboue, dit wat oor was, stuk-stuk en plek-plek afverkoop.

      Kolonel Piet glimlag. Ja-nee, dalk is die myne hier rond kapoet vir die groot menere, maar daar is darem nog so ietsie aan die gang vir dié wat weet waar om te kyk en wie om te vra.

      8

      Om eerlik te wees, was die Kulturama nie Rooipiet se idee nie. Dié droom het begin by Frans Thiti, die direkteur-generaal van kuns en kultuur. Hy het op ’n reis deur Noord-Afrika, Switserland en Skandinawië ’n aantal kultuurparke oftewel kulturamas besoek. Hy was gaande oor dié interaktiewe museums, wat die ontwikkeling van die mensdom uitbeeld, en het vir Piet ’n selfie aangestuur van waar hy saam met Homo Naledi poseer, met die byskrif: Here is a photo of me with your ancestor, broer. Guess who’s who! Haha!

      Met sy terugkoms het hy dramaties aangekondig: “Pieta, we are all part of the same evolutionary timeline. People should know this, you know? We emphasise the wrong differences. People have lost touch with their culture and a culturama could remedy that. En Welkom is net reg, nè, want jy weet mos, even yoghurt has more culture than Welkom. We must do something.”

      Piet onthou hoe hy geglimlag het vir dié ou grappie van die DG. Hoe vreemd is dit nie dat politici so sonder aanvoeling enige grap sal vertel omdat hulle weet die gatlekkers moet maar lag nie.

      Maar die DG was reg: Van kultuur is hier nie juis veel meer sprake nie. In die straatname van Bedelia, een van die oudste voorstede, leef Shakespeare vir die oomblik nog rustig voort. Dié name het geen betekenis vir die jong mense van vandag nie: Prospero, Montague, Capulet en Falstaff. Net soos Romeo en Juliet se tragedie vergete is. Piet het nou die dag gesien hoe een van die vrouens by Bevoorrading op ’n vorm skryf sy bly in Flagstaffstraat, en toe hy haar daaroor vastrap, sê sy ewe verontwaardig dit sê so op Google Maps.

      Hy was aanvanklik moer skepties oor die kultuurparkbesigheid. Hy was gelukkig op die regering se melkplaas tussen Virginia en Welkom, waar hy binne ses maande ’n korrupte knoeispul in ’n winsgewende besigheid omskep het, en was nie lus om weer van voor af met iets te sukkel nie. Sy kaas-, jogurt- en roomysproduksie is jaarliks geheel en al deur Woolworths opgekoop. Die lewe was goed.

      Die DG was egter uitgeslape. “Listen, Piet,” het hy een middag gedurende die teepouse by ’n eindelose strategiesessie gesê, “let’s go eat at Le Dorado this evening. I hear it’s a good place. We’ll talk some more. I’ll meet you there.”

      Dié aand kom Piet toe voor die DG by die restaurant aan. Hy is geklee in sy donkerblou klubbaadjie met die militêre wapen, in gouddraad geborduur, op die bosak. Die restaurant is geleë aan die hoefystervormige park wat as “die hoefie” bekend staan. Die ouer garde vertel hoe die torchkoppe, soos hulle die myners genoem het, resies gejaag het om die park, maar vanaand is dit doodstil. Die goeie ou dae, sug Piet in sy binneste en bestudeer solank die spyskaart.

      Die DG arriveer met sy twee sekuriteitswagte. Hy gewaar vir Piet en stuur toe die wagte uit die restaurant uit. Deur die venster sien Piet hoe hulle die groot BMW se kattebak oopmaak en ’n Tupperware-bak en fles uithaal.

      Die DG kom sit oorkant die kolonel. “Wel, hier is ons. What are you having, comrade Piet?”

      “Meneer, ek mik na die hoenderslaai, sonder die krotons. En water, asseblief.” Piet vou sy spyskaart toe en gee dit vir die kelner.

      Die DG waai daardie besluit met ’n beweging van sy hand eenkant toe. “He’s having what I’m having,” sê hy sonder om na die kelner te kyk. “Die vierhonderdgram-ribfilet met ’n pepersous en ekstra tjips. Medium rare.” Hy wag dat die kelner klaar skryf. “Ons wil ook ’n bottel Allesverloren Merlot hê.”

      Piet sug weer in sy binneste. Hy probeer nou al die afgelope twee weke ietsie afskud, maar daar is altyd die een of ander verpligting wat hom uit beter eetgewoontes en geheelonthouding forseer. Hy begin sommer ook weer fokken rook.

      “Goeie keuse, agbare ntate Frans,” sê die kelner kruiperig, want sy fooitjie is nog lank nie ’n uitgemaakte saak nie. “Dit is een van die laaste wyne wat in die Kaapse wynlande gemaak is. Voordat die winterreën vort is. Nogal duur, maar lekker, monate.” Die kelner is nou meegevoer en hy punt sy vingers voor sy mond en kus die punte op die Franse manier, met ’n klap van sy lippe. “Wou u ’n slaai by gehad het, meneer? Groente is ingesluit by die vleisgeregte.” Hy sprei die servet op die DG se skoot oop.

      “No, thank you, chief, lose the greens and bring us both a side-order of lamb chops.”

      Die oorredingsproses is later die aand by die kroeg hervat, toe die DG met eentonige reëlmaat ruim sopies Glenlivet 20 bestel het. Met vars ys, natuurlik. Toe die restaurant eenuur se kant die oggend wou sluit, het Piet geswig.

      Piet Moolman het vele hartstogte wat nie aan almal bekend is of behoort te wees nie, maar sy liefde vir geskiedenis is legendaries. Dit het baie daartoe bygedra dat hy die DG se aanbod aanvaar het. Hy is ’n kenner van die ou Suid-Afrikaanse en selfs eietydse geskiedenis, wat begin by die Azaniese Federasie se ontstaan met die inlywing van Lesotho by die ou Suid-Afrika. Welkom ken hy ook, maar om ander redes. Hy het hier op die goudveld grootgeword. Sy oupa was ’n mynkaptein en hulle het goed geleef.

      Die volgende oggend, toe Rooipiet nog effe onvas op sy voete was, maar weliswaar op sy pos, het die DG kom groet. Hy het vars en fris gelyk. “Morning, morning, broer Piet!”

      In Piet se kop het daar skerp brokstukke mynerts rondgeskommel, wat vererger is deur die DG se harde stem.

      Om hulle ooreenkoms te konsolideer, het die DG vir hom ’n eksemplaar van ’n skaars boek oor Welkom se beginjare gegee: Welkom – The Capital of the Orange Free State Goldfields. “Wil jy glo, Pieta, daardie tyd het die stadsraad Welkom bemark as ‘the city without robots’!” Hy het uit sy maag gelag.

      Piet moes toegee dis nogal snaaks. Hy het later deur die boek geblaai. Dit wys die Welkom van weleer, ’n stad met gemanikuurde verkeersirkels en jong maar lowergroen parke, wat moontlik gemaak is deur die aanwending van gesuiwerde rioolwater. In voorstede poseer jong wit paartjies opgewonde voor nuwe woonhuise, die belofte van ’n beter lewe gereflekteer in hulle destyds modieuse sonbrille. Amper voor in die boek is ’n foto van Rheeder, op wie se plaas die goud ontdek is. Sy glimlag is so breed dat Piet kon sweer hy sien die stopsels in sy agterste kiestande. En hoe dan anders? As hulle goud op sý plaas ontdek het, sou hy permanent soos die Joker in ’n Batman-fliek gelyk het. Daar is ook foto’s van mynskagtorings met glinsterende kabels, en swart mynwerkers met blink lywe wat seker ook gehoop het op ’n beter lewe, maar in wie se oë min entoesiasme gesien kan word. Daar is nog geen groot mynhope op die foto’s sigbaar nie. Dié sou nog kom soos molshope in ’n tuin. Die dorp se kim en topografie sou byna elke dag inkrementeel verander.

      Dit is nou ’n stad met min van daardie vroeë optimisme oor, hoewel almal toe al moes geweet het die goud gaan die een of ander tyd opraak. Maar hy wat Piet Moolman is, sou iets teruggee. Wat, het hy toe nog nie geweet nie.

      9

      Piet en Boytjie staan en kyk hoe die kom en gaan op en om die verhoog toeneem. Die diorama van Graaff-Reinet wat in die eerste bedryf gebruik gaan word, word in posisie geplaas. Die beligting word getoets en die flitsende ligte is ’n heenwysing na die opwinding van die aand wat voorlê. Piet trommel ingenome met sy vingers teen sy belt se gespe, totdat die gesuis van die klankstelsel hom laat frons.

      “Tjak! Tjok-tjok! Testing ah-one! Ah-one-two! Tjak, tjak!” Die klankman, met ’n skoongeskeerde kop en bloedrooi baard, geniet