“Heng, ja, Pa,” sê Apie en glimlag vriendelik. “Dis ook weer waar. Maar ’n verjaarsdag een keer ’n jaar is genoeg as ’n mens baie presente kry.” En dan vra hy die vraag reguit: “Wat gaan Pa vir my gee?”
“Ek het nog nie daaroor gedink nie.”
“Weet Pa wat sal vir my wonderlik wees?” sê Apie vinnig. “As Pa vir my bokshandskoene kan gee. Ek wil vir die ouens wys hoe goed ek kan boks, Pa weet.”
Apie besluit om sommer nou ook vir sy gesin te wys hoe hy kan boks. Hy spring op, doen ’n paar lomp passies wat veronderstel is om voetwerk te wees en slaan woes met sy vuiste. Sy ouers en Saartjie glimlag vir mekaar oor sy koddige bewegings.
“Pa sien,” sê die outjie hygend sodra hy ophou rondspring en slaan, “as ek net bokshandskoene het, sal ek ’n kampioen wees.”
Jan Baumann kyk glimlaggend na sy sproetgesigseun met die ondeunde, wakker oë.
“Nou goed,” sê hy, “ek belowe nie, maar ons sal sien.”
Apie moet daarmee tevrede wees – en hy is ook. Hy ken sy pa mos. As sy pa sê: “Goed, ons sal sien,” dan doen hy altyd wat hulle ook al sal sien.
Wanneer dokter Baumann weg is, gesels Apie land en sand oor sy verjaarsdag en die partytjie wat so lekker gaan wees.
Saartjie besluit om hom nou te probeer oorreed om meisies ook te nooi. “Jy weet, Apie,” sê sy, “jy’s rêrig onnosel.”
“Hoekom?” vra haar boetie vererg. Sy tongpunt wikkel in en uit waar sy twee voortande moes gewees het, maar nie meer is nie.
Saartjie verduidelik: “Hoe meer kinders na jou partytjie toe kom, hoe meer presente gaan jy kry. As jy meisies ook nooi, gaan jy mos baie meer presente kry as wat jy sal kry as jy net die seuns hier in Lynnekom vra.”
Apie het nog nooit so oor die saak gedink nie. Sy voorkop is gefrons en hy maak sisgeluide deur die opening waar sy voortande skitter in hul afwesigheid. Hierdie geluide moet hom vermoedelik help om helderder te dink.
“Hoe meer mense by my partytjie is, hoe meer presente kry ek,” mompel hy. Dit klink vir hom heeltemal redelik.
Dan kyk hy vinnig na Saartjie toe op en sê: “Maar hoekom moet al hierdie meer mense nou juis meisies wees?”
Die vraag kom so blitsig dat dit Saartjie onverwags vang.
“Hè?” vra sy.
“Hoekom nooi ek nie net baie meer seuns nie?” wil Apie nou weet. “Die ekstra klomp wat vir my meer presente gaan bring, hoef mos nie meisies te wees nie. Daar’s mos baie ouens hier in Lynnekom.”
“Stadig, stadig,” sê hul ma en kyk van haar breiwerk af op. “Ons het nie plek vir baie kinders nie. Ek het dit uitgewerk – jy kan twintig maats vra, nie een meer nie. En dit help nie jy neul daaroor nie.”
Toe sy dit sê, gooi Martha Baumann haar kop effens terug en vee vinnig ’n krul van haar voorkop af weg, amper net soos Saartjie dit altyd doen.
Apie weet dit help nie hy kerm om meer as twintig kinders na sy partytjie te nooi nie. As sy ma haar kop so teruggooi en op so ’n besliste manier iets sê, kan jy maar vergeet om verder aan haar te karring. Nee, hy sal maar tevrede moet wees met twintig gaste. Dis darem nie te sleg nie, dink hy nou, dis darem twintig presente.
“Tien moet seuns wees en tien meisies,” stel Saartjie voor.
“Hoekom?” wil Apie weet. Hy wikkel sy sproetneus op en af om vir sy suster te wys hy hou niks daarvan dat sy so in sy sake inmeng nie – en om ekstra seker te maak sy weet hy is nou baie omgekrap, maak hy ook ’n paar harde sisgeluide deur die opening in sy ry voortande. Sy moet onthou dit is sy partytjie en nie hare nie.
Maar Saartjie laat haar nie van stryk bring nie en sê: “’n Partytjie moet gebalanseerd wees. Daar moet net soveel seuns as meisies wees.”
“Hoekom?” vra Apie vies. “Hoekom moet ’n partytjie gedinges wees?”
“Gebalanseerd,” sê sy suster sarkasties en verduidelik dan: “As ’n mens speletjies speel, moet daar ewe veel meisies en seuns wees.”
“Watse soort speletjies?” vra Apie. Sy oë is op skrefies soos hy agterdogtig na haar loer.
“Wel, daar is die speletjie wat in Engels ‘kiss in the ring’ genoem word.” Saartjie glimlag en haar oë glinster ondeund.
Apie se oë rek groot. “Jy be-… jy bedoel…” sê hy en dit lyk of hy sy ore nie kan glo nie, “die seuns soen die meisies … en die meisies soen die seuns?”
Die knaap is skoon rooi in die gesig van skaamte en ontsteltenis omdat hy die woord “soen” hardop moes sê.
“Dis wat ek bedoel, ja,” sê Saartjie.
“Dink jy ek’s mal?!” roep Apie uit. “Ek wil nie meisies op my partytjie hê en dinges-speletjies speel nie. Wie se partytjie is dit, hè? Joune of myne?”
“Joune, natuurlik,” sê Saartjie, “maar ek gee jou net goeie raad.”
Martha Baumann het na die argument gesit en luister. Sy sê nou dit is nie nodig om soenspeletjies te speel nie, maar sy voel ook daar moet meisies genooi word – anders sal sy ernstig moet dink of sy die partytjie nie maar moet kanselleer nie.
Sy gooi haar kop weer so effens terug en Apie weet hy is vas. Hy sal eenvoudig ’n paar meisies ook moet vra, anders kan hy vergeet van sy partytjie. Hy besluit om in te stem – hy het nie juis ’n keuse nie – maar hy besluit ook in die stilligheid hy en sy maats gaan die meisies ignoreer so gou soos hy sy presente by hulle gekry het. Die seuns gaan hul eie speletjies speel en klaar.
“Orraait, Ma,” gee hy toe, “maar ons speel nie daai simpel soengoete nie.”
So is dit dan afgespreek dat Apie twintig kinders na sy partytjie toe sal nooi – tien seuns en tien meisies. Die Drie Muskiete gaan ook daar wees. Hulle sal mevrou Baumann help en sommer ook toesig hou.
Die volgende oggend gaan Saartjie met die foppotlood en die rubberslangetjie in haar kleurbaadjie se sak skool toe. Sy, Anna en Lina staan en gesels by Lynnekom se bushalte.
“Jy moet tog oppas, Saartjie,” waarsku Anna haar weer, “dat jy die goed nie verloor of vuil maak nie. Jy weet hoe Apie te kere sal gaan as hy moet uitvind die present wat ek vir hom gee, is al voor die tyd gebruik.”
“Moenie bekommerd wees nie, Anna,” sê Saartjie. “Hy sal nooit uitvind nie. Ons gaan vandag ’n bietjie pret met die goed hê, en dan bêre ons dit vanmiddag weer in daardie houtkissie.”
Lina is baie opgewonde oor die poetsbakspeelgoed. Sy stel voor hulle moet sommer in die bus al met die pret begin. Saartjie dink dit is ’n goeie voorstel, maar Anna lyk nie gelukkig nie.
“Sê nou maar net,” maak sy beswaar, “die buskondukteur kry die slangetjie en wil dit nie vir ons teruggee nie, wat dan?”
“Hy sal die ding mos nooit in die hande kry nie,” sê Saartjie.
Die Drie Muskiete sit gewoonlik heel agter in die bus en Galpil en sy twee boesemvriende, Gert en Piet, net voor hulle.
Toe hulle in die bus klim, gaan sit Saartjie-hulle nie soos gewoonlik agter nie. Die sitplekke daar is reeds baie vol. Die bus is leër voor en daar sal hulle iemand makliker met die slangetjie kan skrikmaak.
“Lyk my daai pêrre is kwaad vir ons,” mompel Galpil toe die meisies nie agter hom en sy twee vriende kom sit nie. Die bushalte in Lynnekom is die terminus en wanneer die bus stad toe vertrek, is die klomp skoolkinders die enigste passasiers.
By die eerste bushalte ná die terminus klim daar ’n hele paar grootmense in, maar Saartjie dink nie een van hulle lyk asof hulle vir die slangetjie sal skrik nie. Die poets sal volgens haar net werk as die persoon hom of haar amper doodskrik.