Lina Rens het eers in graad vier by hulle aangesluit. Sy is ’n langbeenmeisie met twee vlegsels wat by haar rug af hang. As Saartjie die rabbedoe een of ander kattekwaad voorstel wat hulle baie gaan laat lag en groot pret gaan wees, is Lina die een wat altyd eers so effens beswaar maak, maar later is sy ook vuur en vlam. Anna ondersteun Saartjie se voorstelle altyd sommer dadelik.
Saartjie is klaar met haar huiswerk. Sy pak haar boeke in haar tas. Dan staan sy op, rek haar lui uit en sê: “Ek gaan ’n bietjie na Anna toe, Ma.”
Saartjie het nog haar skooluniform aan. Dit is ’n donkerblou somerrokkie met ’n wit strook om die kort moue en kraag. Sy is bruin gebrand van al die swem en tennis speel gedurende die heerlike somermiddae.
Sy hardloop vinnig by die deur uit en met die tuinpaadjie af na die voorhekkie toe. Sy dra bruin skoene en wit sokkies. Haar bruingebrande bene vlieg oor die aarde.
Saartjie skiet by die hekkie uit en steek dan skielik in haar spore vas. Sy kyk na die sypaadjie wat vir twintig of dertig tree aan weerskante van die hekkie met betonblokke geplavei is. Sy sug swaar. Sy sal seker maar moet begin spring. Dit help nie om haarself te probeer kul nie.
Die munisipaliteit het hierdie deel van die sypaadjie ’n hele paar jaar gelede so met betonblokke geplavei. Saartjie was nog baie jonger en toe die werkers klaar was, het sy besluit sy sal nooit so lank soos sy lewe op die betonblokke loop nie. Nee, sy sal altyd van die een na die ander spring en as haar voet aan ’n gleuf tussen die blokke raak, sal sy weer van voor af begin.
Nugter alleen weet hoekom sy so ’n onsinnige besluit geneem het. Saartjie is nou baie jammer daaroor, want al probeer sy ook hoe, kan sy nie met hierdie onsinnige storie ophou nie. Sy voel as sy dit doen, sal daar iets vreesliks gebeur.
Sy het al een of twee keer haar uiterste bes gedoen om van die gewoonte af te sien, maar sy kon nie. Sy was te bang daar gebeur dan iets vreesliks. Sy begin dink sy sal miskien selfs eendag op haar troudag in haar wit rok ook nog van die een betonblok na die ander moet wip wanneer sy van die kerk af kom.
Saartjie staan reg en dan begin sy spring. Sy hop vinnig van die een blok na die ander. Sy bly ver van die gleuwe af weg, want sy wil tog sowaar nie weer van voor af begin nie. Sy sorg dat haar voete elke slag in die middel van ’n blok te lande kom.
Terwyl Saartjie soos ’n opgewende pop van die een blok na die ander wip, kom daar drie seuns op fietse verby.
“Haai, Saartjie!” groet hulle.
“Haai julleself!” groet Saartjie op die tipiese Lynnekom-manier terug terwyl sy verder spring.
Die seuns dink glad nie dit is snaaks of vreemd dat sy so van die een blok na die ander spring nie. Niemand in Lynnekom dink meer dit is nie. Almal weet van Saartjie se belofte aan haarself en hulle is die gehoppery gewoond. Sy doen dit mos nou al jare lank.
Die een seun, Galpil, was eens op ’n tyd Saartjie se kêrel. Hulle twee was gekys, maar dit het net ’n dag lank gehou en toe het Saartjie hom amptelik afgesê.
Galpil se volle naam is Lodewyk le Fras de Waal, maar niemand noem hom ooit so nie. Almal in Lynnekom en by die skool noem hom Galpil en hy het die slegte gewoonte om ’n ieder en ’n elk “ou perd” of “pêrre” te noem.
Saartjie hou net mooi niks hiervan nie en sy het vir hom ’n ultimatum gegee – óf hy hou op daarmee óf sy sê hom af. Galpil het vir haar gesê sy moenie so ’n “verkeerde perd” wees nie en toe het sy hom dadelik afgesê. Van toe af is hulle net doodgewone vriende.
Uiteindelik kom Saartjie aan die einde van die betonblokke sonder om aan ’n gleuf te raak. Sy hardloop tot by die bure se tuinhekkie, stoot dit oop en hardloop na die voorstoep toe.
Anna sit daar en doen huiswerk by ’n tafeltjie. Haar sewejarige sussie, Muggie, is ook daar. Muggie sit en speel met Trienkie, haar lappop.
“Haai, Anna!” groet Saartjie toe sy naby die stoep kom. Anna kyk op en sê glimlaggend: “Haai jouself.”
Muggie sê ook: “Haai jouself, Saartjie,” en dan tik sy haar lappop saggies op die bors en sê: “Het jy nie maniere nie, Trienkie? Groet jy nie die mense nie, hè?” Muggie laat die pop met ’n vinnige swaai van haar hand ’n buiging maak en sê met ’n stemmetjie wat nog fyner as haar gewone een is: “Haai, Saartjie.”
“Haai jouself, Trienkie,” sê Saartjie laggend en maak haar op ’n gemaklike stoel tuis.
Muggie is ’n koddige maar slim skepseltjie wat die wêreld soms baie moeilik maak vir die Drie Muskiete, want waar Saartjie-hulle ook al gaan, wil sy altyd saamgaan. As hulle haar nie wil saamvat nie, sit sy gewoonlik so ’n keel op dat ’n mens se oortromme omtrent bars. Saartjie is doodseker Muggie moet ’n blikkeel hê, want hoe anders kan enigiemand so skril skree?
Anna se sussie is ook ’n nuuskierige agie. Sy wil altyd weet waarmee die Drie Muskiete besig is of wat hulle beplan.
“Wat doen julle?” vra sy juis nou weer nadat sy en Trienkie vir Saartjie gegroet het, en kyk agterdogtig na die twee groter meisies.
“My maggies, Muggie,” sê Anna vies vir haar sussie, “kan jy nie sien ons doen niks nie? Ons sit sommer net.”
“Ja, moenie vir jou simpel hou, Muggie,” sê Saartjie laggend. “Ek sit en rus en Anna sit en huiswerk doen. Wat wil jy nog weet?”
“Ek wil weet wat julle gaan doen as Anna klaar is met haar huiswerk,” sê Muggie.
“Ons gaan niks doen nie,” sê Anna vies. “Ons gaan sommer net hier sit. Is jy nou tevrede?”
Muggie knik om te wys sy is. Maar sy mompel sy gaan nogtans hier bly sit, net ingeval hulle miskien iets doen, want dan wil sy saamgaan.
Die twee meisies besluit om liewer maar die kleintjie te ignoreer.
“Is jou huiswerk al klaar, Saartjie?” vra Anna.
“Lankal.”
“Wat van Ou Nukke se Engels? Dis moeilik, hoor!”
Hoërskool Saamwerk se leerders noem juffrou Necker, die Engelsonderwyseres, Ou Nukke omdat sy altyd vol nukke en draadwerk is.
“Ek het weer gedink dis maklik,” sê Saartjie.
“Nou maar hoe maak ’n mens twee verskillende sinne met die woord ‘page’? Ek weet ’n ‘page’ is ’n bladsy, maar wat is dit nog?”
“’n Hofknapie,” help Saartjie haar vriendin.
“O ja, natuurlik,” sê Anna. “Dat ek nou so onnosel kan wees.”
Terwyl Anna ’n sin maak waarin die Engelse woord “page” hofknapie beteken, sit en dink Saartjie aan Apie se verjaarsdag. Sy sien nogal uit daarna. Sy, Anna en Lina gaan haar ma mos met die partytjie help en daar gaan baie eetgoed wees. Hulle sal sommer heerlik kan weglê aan al die lekkernye.
Sy sal darem vir Apie ’n present moet koop. Sy wonder waarvan hy sal hou. Dit moet natuurlik nie iets wees wat te duur is nie. Geld is maar ’n skaars artikel by haar. Sy kla ook altyd oor haar sakgeld – maar natuurlik nie omdat sy meer as Apie kry nie. Nee, sy kla omdat sy nie nog méér kry as die meer waaroor haar boetie kla nie. Sy is darem al vyftien jaar oud. Haar pa-hulle behoort dit in ag te neem.
Saartjie wonder wat Anna en Lina vir Apie present kan gee. Al kom hulle nie juis as gaste na die partytjie toe nie, maar eerder om te help werk, moet hulle darem nogtans vir hom iets gee. Hulle kan mos nie met leë hande daar aankom nie. Sy weet sommer haar boetie sal hulle woes aangluur en sisgeluide maak deur die opening waar sy twee voortande behoort te wees – en dit sal die partytjie vir hulle almal bederf.