Die vliegtuig begin sirkel oor O.R. Tambo-lughawe. Sy sal ’n uber neem en eers oë gaan wys by Mbulu, dan miskien vir Billy vra om haar Westdene toe te neem sodat sy van haar tas ontslae kan raak.
Dis net hulle drie – Danny en Billy Venter, haar speurluitenant-vennoot, langs mekaar oorkant kommissaris Bongani Mbulu, wat besig is om hulle meer inligting te gee oor Harm Hasslau se ontsnapping.
“Sersant Fourie was aan diens gewees. Volgens hom was daar twee dokters – nou weet ons nie regte dokters nie – wat daarop aangedring het dat Hasslau na die x-straalafdeling moet gaan. Hy het al twee dae gekla oor pyn by sy niere. Fourie was dus nie agterdogtig nie, maar hy het nogtans die trollie waarmee Hasslau laat haal is tot daar gevolg. Toe hulle hom by die x-straalkamer ingestoot het, het Fourie voor die deur wag gehou. Ná byna ’n kwartier van stilte het hy agterdogtig geraak en die deur oopgemaak. Die vertrek was leeg. Geen teken van Hasslau of die danige dokters nie.”
“Waar is die naaste uitgang?” vra Danny.
“Dit is wat die plan laat werk het. Die vertrek is verbind met die een langsaan en daarvandaan loop ’n gangetjie direk na die area waar ambulanse stop as hulle aankom met ’n noodgeval. Die uiteinde is dat Hasslau spoorloos verdwyn het.”
Danny sien daar gaan niks meer volg nie en kom orent. “Daar moet iets vasgevang wees. Die hospitaal het tog sekerlik kringtelevisiekameras?”
Mbulu kyk na Billy. “Gaan saam, Venter. Julle is vir eers saam op die saak.”
By die hospitaal word hulle deur sersant Fourie begroet. Hy gaan wys hulle in watter kamer Hasslau was, en hulle loop saam die redelike entjie na die x-straalafdeling toe.
“Niks meer uitgevind oor die sogenaamde dokters wat hom kom haal het nie?” vra Danny.
Fourie skud sy kop. “Hulle was baie oortuigend en hulle beplanning was goed. Radiologie het vir my gesê die Röntgenmasjien is buite werking. Daar was dus geen besprekings vir enigiemand gemaak nie.”
“Met ander woorde,” sê Billy, “iemand by x-strale het aan hulle gelek dat die vertrek leeg sou wees.”
“Die een langsaan ook. Dié een. Kom.” Fourie lei hulle deur die tweede vertrek en dan deur die kort gangetjie na buite.
“Indien ’n voertuig hier gewag het, kon hulle hom sonder hindernis inlaai en –”
“Weg is ta vir goed!” brom Billy.
“Nie vir goed nie,” help Danny hom reg. “Iewers moes hulle ’n spoor agtergelaat het. En ons sal hom vat.”
Dan is daar drie stapels beeldmateriaal om deur te werk – van oor die hele hospitaal op die gewraakte dag.
Niks val vreemd op nie.
“Noudat ons daardeur is, kom ons beweeg aan na die voertuie op die parkeerterrein,” sê Danny eindelik.
Elke motor, elke ambulans en afleweringstrok word bekyk.
Billy lyk later moedeloos. “Mors ons nie ons tyd nie?”
Danny druk die laaste disket in die masjien. “Hy kon nie in die lug verdwyn het nie.” Sy weet nie wie van hulle sy probeer moed inpraat nie.
“Wat het ons hier …” mompel Billy ’n paar minute later. ’n Byna tenkagtige vierwielaangedrewe motor ry die raampie binne. Dit lyk na ’n bruin motor, maar dis moeilik om te sê met so ’n dik laag vuiligheid op die bakwerk. “Lyk nie na designer mud nie,” merk hy op.
“Nee, Billy, daai motor kom van ver af. Kan jy inzoem op die nommerplaat?” ’n Opgewondenheid begin in Danny kriewel.
“Shit. Nee. Kan dit nie lees nie. Dit lyk of swart verf daaroor gespuit is.”
“Dis hy, Billy! Dis ons motor. Vergroot dit sover jy kan.”
“Dis dít. Help ons nie veel nie.”
Danny verskuif haar leesbril. Probeer op ’n ander manier daarna kyk. Dan sien sy dit. Die registrasienommer mag onleesbaar wees, maar in die middel van die modderskerm is ’n embleem. Danny leun vorentoe en trek haar oë op skrefies.
“Wat is dit?” wil Billy weet.
Sy beduie met haar vinger. “Lyk soos ’n soort hoed?”
Billy leun ook nader. “Dis ’n hoed, kaptein. ’n Basotho-hoed!”
“Lesotho! Die voertuig kom van Lesotho.” Sy draai na hom. “Dis dan waarheen ek gaan, Billy. Ek hoop nie Boelie gaan moeilik wees nie.”
“Ek kom saam, natuurlik. Jy kan nie vrou-alleen …”
“Bog, Billy. Jy weet ek kan my man staan.”
“Hulle sal jou nie toelaat om jou dienspistool in te bring nie,” stry hy. “Ek gaan saam, Danny.”
“Nee, luister na my. Jy sal moet instaan hier. Mbulu sal nie al twee van ons afstaan nie – nie so ver weg nie.”
“Maar ek en jy is saam …”
“Nee, Billy,” sê sy ferm. “Hasslau is myne. Myne en myne alleen. Onthou, hy was mý pa se moordenaar.”
Hoofstuk 8
Mei 2014, Johannesburg
Gabriël vertel nie sy pa van die uitnodiging nie. Dit mag hom ontstel – en buitendien, ou pastoor Bendt is een van die min mense buiten Kliprand se personeel wat weet van Hansie. Wat die geskiedenis ken van die mank seun wat die man Gabriël geword het.
Terwyl hy bestuur, dink hy aan die berig wat in Beeld verskyn het. Baie kortliks is vermeld dat dominee Jack Erasmus se lyk vroeg die vorige oggend deur ’n buurman aangetref is toe hy sy hond vir ’n wandeling geneem het. Die deur van die motorhuis was oop en hy kon die lyk van die straat af sien. Die predikant het aan ’n balk gehang en die polisie vermoed geen misdaad nie. Helena Erasmus was nie tuis nie en daar was ’n dubbele tragedie deurdat sy op dieselfde dag haar man en siek moeder verloor het. Sy het gesê Jack Erasmus was soms neerslagtig, maar dat hy nooit laat blyk het hoe ernstig die toestand was nie.
Geen verwysing daarna dat hy dalk voor sy dood ’n hou teen sy kop gekry het nie. Gabriël het geweet hy waag ’n effense kans met die staalpyp, maar hy moes die man tog op ’n manier bewusteloos kry en op die plek waar hy geslaan het, was die hare taamlik lank en lekker dik. Kamoeflering.
Gabriël het sy gesig uitdrukkingloos gehou toe hy sien ou pastoor Bendt lees die beriggie en sy mond vertrek liggies in afkeer van sulke geestelike swakheid.
Die internet is ’n seën. Jy kan so baie omtrent iemand uitvind. Dit wat jy nog nie weet nie, kan sosiale media jou bied. Helena Erasmus het op Facebook ’n boodskap gedeel dat dit so ’n voorreg is om tans by haar siek moeder te kan wees. Toe het Gabriël geweet haar man is alleen by die huis – die perfekte tyd om hom te besoek. Met al die moderne middele waardeur mense hulleself so blootstel, hoef jy net jou oë oop te hou.
Hy bring die motor tot stilstand hier waar hy dekades gelede sulke foltering deurgemaak het. Skakel die enjin af en sit ’n oomblik in diepe bepeinsing. Die grasperke is nog so diepgroen. Die kannas blom steeds helderrooi. Niks hier buite verraai die gruwels wat eens op ’n tyd in die vierverdiepinggebou tussen die groot watertenks plaasgevind het nie.
Gabriël klim uit, sluit sy motor en loop stadig na die ingang. Om die een of ander rede is hy nou weer bewus van sy linkervoet. Dit het hom so lank laas enige ongerief veroorsaak, maar pyn weer, sonder rede. Hy weet dis psigosomaties. Daar ís geen pyn nie.
Hy sluit aan by ongeveer twintig genooide gaste in die voorportaal. Die gids, ’n jong vrou in uniform, besluit om nie langer te wag nie en begin die groep na die eerste seksie lei.
“In 1985 alleen is 137 mense gehang. In 1987 vermeerder die getal na 164. In een week is daar elke dag voor ontbyt sewe mense gehang. Ons hoop dat u besoek aan hierdie museum dit by u almal sal inskerp wat ’n barbaarse praktyk