“Moenie daaraan raak nie, Pa sal Pa se hand brand.”
“Ek weet, seun. Dis dalk maar net dat die stoor se bedrading al so oud is.”
“Dis nie meer ’n stoor nie. Dis my Tabernakel.”
Verras kyk die ou man af na hom. “Ek weet, ek bedoel maar net …”
Die energie laai sterker in Gabriël op – en hy besef waarvandaan hy die krieweling teen sy rug op herken. Dis hoe hy gevoel het toe hy by Jack Erasmus se huis gekom het, gereed om hom dood te maak.
Maar dis sy pa. Hy kan nie.
Maar dis nodig.
“Nou ja,” sê die ou pastoor, “mens moet seker maar net ’n ander gloeilamp probeer.” Hy maak gereed om af te klim.
Dit moet nóú gebeur. Gabriël trek sy asem in. Want hy is tog lief vir sy pa. Maar hy kan nie aanhou groei as die ou man steeds hier is nie. En dis nodig. Hy sou graag wou glo sy wil is nie meer sy eie nie, dat iemand anders die besluit geneem het, of dat ’n ander mag namens hom besluit het. Maar hy het reeds sy hand uitgesteek en hy het bedoel om dit te doen.
“Gabriël?” sê sy pa op ’n vraende manier. Sy gesigsuitdrukking moes hom verklap het.
Dit is tyd om oor te vat.
“Gabriël, om liefdeswil, wat maak jy!”
Hy stamp teen die ou man se linkerbeen. Tony Bendt verloor byna sy balans. Die tafel maak ’n kraakgeluid.
“Gabriël, nee!”
Nog ’n stamp, harder. Om te keer dat hy val, gryp die ou man na die koord wat uit die dak hang. Hy kry dit nie vasgevat nie en die gloeilamp begin heen en weer wieg.
Dis nie nodig om weer te stamp nie, die pastoor begin tuimel. Dis ’n ver val vir ’n ou man. Gabriël wil-wil hom probeer vang, maar weerhou homself.
Die pastoor tref die harde kombuisvloer kop eerste. Bokant die dowwe slag wat sy liggaam maak, is daar ’n duidelike kraakgeluid. Dis sy nek. Dis dié dat sy kop so skeef gedraai is. Dié dat daar geen uitdrukking is in die oë wat na bo staar, waar die gloeilamp al hoe stadiger wieg nie.
Dit moes gebeur, weet Gabriël, al laat hy homself ’n paar oomblikke van spyt toe. Selfs van hartseer. Geen groot taak, veral nie ’n taak soos syne, kom sonder opofferings nie. Hy is immers God se geroepene. Sy instrument van vergelding. Hy het ’n engel se taak, sy naam is nie verniet Gabriël nie.
Hy moet ’n dokter bel, of die polisie … en hy sal nou-nou. Hy moet net eers ’n rukkie alleen wees met die nuwe besef.
Dat hy volgende keer die Tabernakel se mense sal toespreek sonder iemand anders wat ’n mate van die erkenning inpalm.
Hy loop badkamer toe en skeer sy blonde hare af, dié wat hy nog gehad het. Hy kyk na die man in die spieël wat nou soveel anders lyk. Gestroop. Vaartbelyn. Van swakhede bevry.
Gabriël moet egter sy oë knip om homself ordentlik te kan sien. Sy sig het baie agteruitgegaan. Dalk was beide sy pa en ma se sig swak, hy sal nie weet nie. Maar net môre gaan sien hy ’n oogarts, sodat hy ’n bril kan kry. Dat hy weer soos ’n jong, sterk mens kan sien, een wat nie weens so ’n defek enige foute kan maak in die uitvoering van sy pligte nie.
Voorwaar, hy word ’n nuwe man …
Hoofstuk 10
November 2014, Johannesburg
“Hoe vorder julle ondersoek?” vra die man oorkant haar en Anke gee ’n sug. Sy lig die bottel wyn uit die yshouer om vir haarself te skink, maar die kelner is vinnig by. Sy beduie met ’n wysvinger teen haar glas dat sy nie so baie wil hê nie, en draai dan weer na haar gryskopmetgesel. Professor Daneel lyk nie of hy al byna tagtig kan wees nie. Eens op ’n tyd was sy dié man se sterstudent. Sy sweer sy het teen twee keer sy spoed verouder. Dit is hy wat haar laat besluit het om ’n patoloog te word. Veeleisend soos dit soms mag wees, was sy nog nie een oomblik spyt nie.
“Die media is soos ’n spul brommers om ’n miskoek, prof. Dis dié dat ons maar so min moontlik sê voor buitemense.”
“Ek het opgemerk die straatplakkate is redelik stil daaroor. Daarom vra ek waar julle nou met die Klipmoordenaar is.”
“Ek wil glo ons vorder, maar hy is glibberig. Hy het begin om met die spanleier te kommunikeer – Danny Hector. Sy is werklik baie knap. Sy speel hom, in die hoop dat sy hom sal kan intrek. Ding is, ek weet nie meer wie die bok is en wie die jagter is nie.” Anke sug en verander dan die onderwerp: “Prof, jy het oor die foon gesê daar is iets waaroor jy met my wil praat.”
“Ja. Onthou jy dat ek ’n tydjie terug gepraat het oor vreemde selfdoodgevalle …”
“Die drie mans wat hulleself opgehang het?”
“Dis reg. Of dit was tóé drie. Ek het eergister gelocum by Pretoria se laboratorium. Die patoloog daar is dokter Johnson.”
“Hmm. Percy Johnson. Ken die man.”
“Ek …” Die kelner kom nader. “Sal ons eers bestel? Dan kan ons ongestoord praat.” Professor Daneel tik op die spyskaart. “My gewone, asseblief, Evert, maar vra die sjef om meer sous te gee. En jy, Anke?”
“Ek sal die schnitzel neem, dankie.”
Toe die kelner weg is, gaan die professor voort: “Wel, Percy Johnson verwys toe heel toevallig daarna dat daar weer ’n selfdoodgeval daar aangekom het, ook met ’n gebreekte nek. Gehang.”
Anke frons. “So dis nou vier?”
“En dit is darem baie verdag. Selfdood, het die polisie elke keer bevind. Maar dit begin ’n bietjie dik vir ’n daalder raak, dink jy nie? En so in die openbaar – dit was elke keer op ’n plek waar die liggame gevind kon word. Gesién kon word, wil ek glo. Dat dit deel is van die ding.”
“Prof glo dus vas dit is moord?”
“Wel, vier sulke gevalle, jy weet. Nie só baie mense hang hulleself op nie. Of goed, dit gebeur wel, maar nie soos hulle in Engels sê ‘in plain sight’ nie. Dis wat my die meeste opgeval het. En wag, voor jy verder praat …” Hy hou sy hand op, maak sy tablet oop en tik vinnig ’n bevel in. Daar verskyn ’n foto van om en by vyftien by vyftien sentimeter. Anke haal haar bril uit om die soliede blou vorm teen die bleek agtergrond beter te sien.
Dit is iemand se profiel. Geboë neus. Man of vrou, dit weet sy nie, want die hare is langerig. Dit moet hare wees – wat anders? Vreemde haarstyl egter, amper soos ’n hoedjie.
“Wat is dit dié? Dit lyk of prof dit baie vergroot het?”
Professor Daneel knik. “Dit was op die laaste man. Velgraffiti, kan jy maar sê. Al kom dit vir my baie outyds voor.”
“Hoe groot is dit in werklikheid?”
“So groot soos ’n vyfrandstuk.”
“Só klein?”
“Netjies met ’n sirkel om – sien jy? Regtig die grootte van ’n vyfrandstuk, asof dit nie gesien hoef te word nie. Nou bespiegel ek, maar … wel, dis asof dit om ’n ander rede as vertoon daar is. Dit maak seker nie sin nie. Ek sou nie kon raai watter ander rede nie.”
“Maar prof dink …” Anke se belangstelling is geprikkel, ondanks die feit dat sy en die res van Danny Hector se span so diep in die Klipmoordenaar-ondersoek gewikkel is.
“Dit het my laat wonder of ek moontlik dieselfde tatoe – of iets soos ’n tatoe – op die ander mans gemis het. Hierdie een, jy sal nie raai waar dit sit nie. Op die onderarm. Oksel, om presies te wees. Net langs die hare. Jy moet erken, dis ’n baie eienaardige plek om so iets te laat doen. Dit moet onuitwisbare ink wees, dis diep in die epidermis gekleur.”
“En só iets, tesame met ’n selfdood wat nie ’n geïsoleerde tipe voorval is nie …”
“Dis