Hoofstuk 3
Julie 2005, Wes-Rand
Die raadskamer se drie verwarmers brand volsterkte, want die winter ontsien geen mens of dier nie. Die raadslede neem stil-stil hulle plekke in, wetende dat ’n belangrike beslissing vandag gemaak moet word.
Die direkteur van die Kliprand Instituut vir Geestelik Versteurdes skraap sy keel, soos sy gewoonte is, en alle oë draai na hom aan een punt van die lang tafel.
“Ongeveer twintig jaar gelede is ’n ouer bewaarder deur ’n jongere by Pretoria Sentraal Gevangenis om die lewe gebring. Hy het na sy dood geval waar ’n paar tereggesteldes gehang is – ’n gruwelike moord. Die ouer man het sy nek gebreek. Die hof en die raad by Weskoppies Hospitaal het die moordenaar geestelik versteurd verklaar en aanbeveel dat hy lewenslank onder observasie gehou moet word.”
Daar is net die sagte gesis van die verwarmers. Almal weet reeds direkteur Muller praat van die agtienjarige man, eintlik nog seun, wat in dié instituut vir geestelik versteurdes volwassenheid sou bereik.
“Daar is ’n petisie aan die raad gerig dat Hansie Roodt se ontslag in heroorweging gebring moet word, na aanleiding van sy ontwikkeling en goeie gedrag die afgelope twee dekades. Daaroor moet vandag besin word. Ek moet van meet af aan byvoeg dat ek aan géén vroeë vrylating glo nie. Dit mag altyd reperkussies hê. Dus is ek bereid om buite stemming te bly wanneer die besluit geneem word.” Hy draai sy kop na die seningmaer vrou langs hom. “Is Roodt buite in die wagkamer, matrone?”
“Ja, doktor. Sal ek hom laat inkom?” Toe hy knik, kom sy orent, gaan maak die deur oop en roep saggies: “Kom maar in, Hansie.”
Die 38-jarige man glimlag en gehoorsaam. Sy been swik effens toe hy skeef trap, maar dit pla hom duidelik nie.
“Alles van die beste, ou seun,” fluister sy toe hy verby haar loop.
Hansie kom die raadskamer binne. Hy steek ’n oomblik vas en dan glimlag hy op die sonnige manier waaraan almal gewoond geraak het.
“Môre, doktor Muller,” sê hy byna eerbiedig.
“Kom nader, Hansie. Daar is ’n stoel vir jou teen die muur.” Toe Hansie sit, vra die doktor: “Weet jy waarom jy vandag by die vergadering is?”
Die pasiënt se oë vind dié van sy psigiater, doktor Giep Botes. “Dok het my gesê. Hy’t gesê daar moet besluit word of ek normaal genoeg is om uitgelaat te word buitentoe.”
“En hoe voel jy daaroor, Hansie?”
Die antwoord kom stadig: “Ek weet nie mooi hoe om te sê nie … Ek het baie daaroor gebid, maar ek het nog nie helderheid nie.”
Die hoofsuster voel haar hart saamtrek. Hulle Hansie het so ’n mooi man geword. Nog steeds jonk, en so nederig en vol liefde vir sy medemens. Wat gebeur het, was tog nou al so lank gelede en …
Hansie onderbreek haar gedagtegang: “Kliprand is die enigste huis wat ek ooit geken het. Julle weet my pa en ma is dood toe ek baie jonk was, en die weeshuis was nie regtig ’n húis nie. Maar hier tussen mense net soos ek het ek die Here leer ken, en sy groot genade. Dít is my huis. Hier kan ek iets beteken, tussen dié wat my nodig het. Ek kan help en ek weet niks meer van die buitewêreld nie.” Hy het beurtelings na almal gekyk, maar sy mooi blou oë vind weer doktor Botes s’n. “Ek het vir Dok so gesê. Dis nie dat ek bang is nie. Ek sal gaan waarheen die Here my ook al wil stuur.”
Pastoor Tony Bendt knik. Dit is dieselfde as wat Hansie vir hom gesê het toe hy hom geestelik bearbei het.
“Kan jy onthou wat twintig jaar gelede gebeur het?”
Hansie laat sy kop sak, maar knik. “Ja, direkteur. Oom Kallie was my meerdere en ek het hom afgestamp in die pit. Mag die Here my vergewe.”
“Kan jy onthou hoekom?” vra doktor Botes. As Hansie se psigiater wou hy dit liewer self vra, want die direkteur is duidelik nie simpatiek nie. “Het oom Kallie jou getreiter?”
Hansie haal sy skouers op. “Hy het seker net goed bedoel, Dok. Hy’t gesê hy sal van my ’n man maak.”
“Toe stamp jy hom na sy dood?” vra die direkteur.
Hansie lyk skaam. “Ek is jammer. As jammer net dinge kon verander … maar ek weet dit verander niks nie.”
“Hansie,” kom dit van pastoor Bendt, “het jy iets gehoor … ek bedoel, was daar miskien ’n stem wat met jou gepraat het en wat jou aangesê het om so iets te doen?”
Hansie huiwer. “Ek het al vir pastoor een keer gesê … Ek weet nie wat dit was nie. Ek het gedink ek kry ’n boodskap … ’n Goddelike boodskap. Ek weet nou dit was nie een nie, dit was net iets wat ek opgemaak het. Van die spanning. En ongelukkigheid. Dit is al wat ek kan onthou. Toe net dat ek oom Kallie afgestamp het en … en sy gil. Soms hoor ek dit nou nog; sal dit seker vir altyd onthou. My daad van moord.”
Die direkteur kyk betekenisvol na doktor Botes. ’n Goddelike boodskap wat lei tot moord? Hy het geen verdere bewyse nodig dat Hansie nooit vrygelaat mag word nie.
“Het jy ooit weer so ’n boodskap gehoor?” kom dit van die psigiater.
“Nee, Dok. Nooit weer nie. Dit was net die een slag.”
“Nog enige vrae?” vra die direkteur. Sy oë beweeg om die tafel.
Doktor Botes sê: “Net nog een vraag. Ek het lank gelede ’n ortopediese chirurg ingekry om na jou voet te kyk, Hansie. Die man was oortuig dat hy jou gebrek sou kon heel, sodat jy normaal sou kon loop – maar jy wou nie. Hoekom nie?”
“Dok, jy was baie goed vir my om so baie moeite te doen. Maar ek het die gebrek van die Here gekry. Hy het ’n doel daarmee en ek mag nie iets verander wat van Bo kom as ’n geskenk nie …” Hansie huiwer ’n oomblik, dan glimlag hy sag vir die matrone. “Matrone het my seer voet wat my so baie pyn gegee het, gesond gemaak en Kliprand het my oor die jare skoene gegee wat my voet nie druk nie.”
Die hoofsuster se oë is vol trane. Miskien moet Hansie maar onder hulle sorg bly. Hy is so sensitief en die buitewêreld kan so wreed wees.
“Nog enige vrae?” kom dit van die direkteur. Nie een van die ander reageer nie. “Dan kan jy gaan, Hansie.” Die pasiënt gehoorsaam stilweg en verlaat die vertrek. “Ons verdaag vir tee, daarna sal ons tot stemming oorgaan. Ek wil dit net weer beklemtoon dat Roodt deur die destydse Weskoppies-raad waansinnig verklaar is en as uiters gevaarlik bestempel is – iemand wat lewenslank uit die samelewing gehou moet word.”
“In twee dekades is daar tog geweldige vordering gemaak op die terrein van medikasie!” protesteer doktor Botes. “Hansie is my modelpasiënt. Met sy medikasie is hy normaler as die meeste mense daar buite.”
“En wat as hy dit nie drink nie?” Die direkteur kom orent. “Maar ons sal ná die teepouse daaroor besin.”
’n Sagte mistigheid hang oor die gestig se tuine. Doktor Botes wou gou ’n sigaret kom rook voor die vergadering hervat en pastoor Bendt het hom vergesel. Botes teug diep aan sy sigaret.
“Die direkteur het duidelik diep besware.”
Die pastoor lig sy wenkbroue. “Dit sal nie maklik wees om hom tot ander insigte te bring nie. Maar hy is ’n regverdige man. Dis goed van hom om buite stemming te bly. Ek en my hele gemeente het Hansie aan God opgedra, wat ook al die uitslag mag wees.”
“Dis die ding, pastoor – die direkteur kan nogtans die ander beïnvloed. Hy wil nooit van enige aanbevelings afwyk nie, maar hy sal miskien oorreed word as …” Giep Botes hurk en druk sy sigaret dood in die rou aarde wat wag vir die nuwe plantseisoen. “Indien hy die versekering kry dat Hansie onder sorg uitgeplaas kan word. Miskien is daar iemand, ’n persoon in u gemeente, wat …”
“Doktor, ek het aan dieselfde ding gedink. Kwel jou nie meer daaroor nie. Sal ons ingaan?”
Die laatoggendson skyn