Jy moet dit oorweeg om met ander mans bevriend te raak. Jy sal sien dat iemand wat jou regtig waardeer, nie jou tyd gaan mors nie. Belangriker nog, hy sal nie sy tyd en aandag aan iemand anders wil wy nie.
Dit deug nie om voort te gaan met ’n verhouding waarin jy voel jy word misbruik nie. Jy is dit aan jouself verskuldig om jou jonkheid te geniet en nie altyd oor iemand se lojaliteit bekommerd te wees nie.
Soos sy te wagte was, is die berader se antwoord allesbehalwe bemoedigend.
Haar omstandighede is darem heeltemal anders as dié van die meisie, soek Suzanne verskoning. Phil se klere het nog nooit na parfuum geruik nie. Inteendeel, hy het haar al gevra om nie sterk parfuum te gebruik nie, want dit laat hom nies. Al rede wat sy het om oor te kla is dat sy werk hom so besig hou dat hulle mekaar min sien, en nooit naweke nie. Aan die ander kant verkies sy tog sekerlik ’n man met ambisie bo iemand wat te lui is om hard te werk.
Hoekom voel sy dan so omgekrap?
’n Kloppie aan haar kamerdeur laat haar die tydskrif gou toemaak. “Kom maar binne, tannie.”
Dis egter Herman wat die kamer binnekom. “Nou toe, is jy behoorlik deur die siekte platgeslaan?”
“Is jy nie bang jy steek aan nie?”
“Nee wat. Ek sal kan doen met ’n bietjie siekverlof. Hier, ek het vir jou sjokolade gebring.” Hy sit die boksie op die spieëltafel neer.
“Dankie. Miskien moet jy vir die meisie wat nie jou blomme wou aanvaar het nie, ook sjokolade koop. Dalk is sy allergies vir blomme.”
“Sover ek weet, is sy nie allergies vir blomme nie, en ek hét vir haar sjokolade gekoop.”
“Het sy dít darem aanvaar?”
“Ja.”
“Hoe lank ken jy haar?”
“So ’n paar maande.”
“Shame. Dan het ek nie veel hoop vir jou nie. By wie was jy nou die dag toe jy so blinkoog vir ons kom vertel het van die afspraak wat jy het?”
“O, dít! Ek was genooi na ’n universiteitskennis se verjaardagpartytjie toe. Ons het mekaar jare laas gesien.”
“Ek het gedag die afspraak was met ’n meisie.”
“Sy is toevallig ’n meisie.”
“O. Is dit die een wat jou nie wil raaksien nie?”
“Nee.”
“Moet jy dan nie maar liewer by die universiteitsvriendin aanlê nie?”
“Ek sal dit nie waag nie. Haar man sal my foeter.”
“Jy kan darem snaaks wees, weet jy! Hoekom het jy nie van die begin af vir my gesê sy is ’n getroude vrou nie?”
“Jy’t my nie gevra nie. In elk geval, tannie Gertruida het gesê ek moet jou vra of jy iets sal eet?”
“Ja, maar nie baie nie. Ek is nie honger nie.”
Dis weer Herman wat ’n rukkie later vir haar ’n skinkbord met kos bring. “Jy moet maar eet sover jy kom. Jou tannie het opgeskep, en sy ken nie ’n maat nie.”
“Ja-nee, dis ’n allemintige klomp kos. Ek sal maar kyk hoe ver ek kom.”
Dit is ook hý wat weer later die skinkbord kom haal. “Ek sien jy het darem goed geëet,” sê hy toe sy die skinkbord met die leë bord vir hom aangee.
“Tannie Gertruida hou nie daarvan ’n mens moet kos mors nie,” is die enigste verskoning wat sy kan aanvoer, want sy het nie eens agtergekom sy het alles verorber nie. Dit was oor sy aan ander dinge gedink het. Aan die sagmoedige meisie van die artikel wat voel sy word misbruik. Dit sou tog goed gewees het as sy en Herman mekaar kon ontmoet het. Dalk is sy die soort meisie wat hy soek.
“Waarmee hou jy jou besig? Het jy iets om te lees?”
“Ja, dankie. Ek het genoeg leesstof.”
“Enigiets anders wat ek vir jou kan doen?”
“Niks op die oomblik nie, dankie.”
“Dan sê ek maar goeienag, en lekker slaap.”
“Jy ook.”
Herman is nie ’n onaardige ou nie. Nie onaantreklik nie, maar ook nie die aantreklikste wat sy al gesien het nie. Hy lyk meer soos ’n boer as soos ’n onderwyser. As sy hom moet opsom, sal sy sê hy lyk ietwat grof met sy ruie wenkbroue, groot hande en die dik bos swart hare wat lyk asof ’n kam niks daaraan kan doen nie.
Sy sien hom nou nie elke dag nie, maar die paar keer wat sy hom ordentlik aangetrek gesien het, kan sy omtrent op haar vingers tel. Net kerk en skool toe. Verder boer hy in ’n ou verslete sweetpak. Maar hy is ’n rustige man, en sy glo hy het ’n goeie hart. Dit sou regtig gaaf gewees het as hy en die briefskrywer by mekaar kon uitgekom het.
4
Toe Gertruida die volgende oggend vir haar koffie kamer toe bring, sê sy Herman was al daar om te kom hoor hoe dit met haar gaan. “Maar jy het so vas geslaap, ek kon dit nie oor my hart kry om jou wakker te maak nie. Hy sê as jy nie sieker is nie, en jy voel daarna, kan hy jou later kom oplaai om ’n entjie te gaan ry.”
“Te gaan ry? Waarheen?”
“Seker maar sommer net iewers heen. Ek het hom nie gevra nie.”
“Phil kom vanoggend hier ’n draai maak.”
“O. Hoe voel jy? Ek sien darem nog nie tekens van erge griep nie.”
“Nee wat, ek voel vanoggend sommer weer piekfyn. Die hoofpyn en gevoel van koorsigheid het gelukkig die wyk geneem.”
“Ek is bly om dit te hoor. Dan sal jy seker opstaan vir ontbyt?”
“Ja, ek sal daarmee kom help.”
Die oggend kom en gaan, maar geen teken van Phil nie.
Teen tweeuur die middag voel Suzanne soos ’n stoompot wat dreig om te ontplof. Ten minste kon hy gebel het. Verniet of sy hóm sal bel. Hy moet hom nie verbeel sy is verleë oor hom nie. As hy met haar woerwoer speel, kan sy dit ook doen.
Toe Gertruida later wil weet wat dan van Phil geword het, skiet die stoompot se deksel summier af: “Dit traak my nie wat van hom geword het nie. Ek gaan nie vanaand hier by die woonstel sit nie. As hy dalk nog die moeite doen om te bel, kan jy maar vir hom sê ek is uit, en ek gaan nie voor middernag terug wees nie.”
“Stadig nou, Suzanne. Dis seker sy werk wat hom ophou.”
“Werk, werk! Dis ál wat ek moet hoor. Hy gaan hom nog morsdood werk.”
“Ag nee, moenie jou so opwen nie. Hy is so ’n oulike man, netnoumaar voel hy jy plaas te veel druk op hom en dan los hy jou!”
“Snaaks, maar ek was onder die indruk jy hou nie van Phil nie?”
“Wat sou jou onder só ’n indruk gebring het? Ek dink hy is alles wat jy van ’n man kan verlang. Aantreklik, hardwerkend en welaf. Wat meer wil jy hê?”
“Dit kan dalk so wees, maar my vriendinne gaan almal naweke uit, en as húl kêrels nie opdaag nie, bel hulle ten minste en maak verskoning. Hier sit ek soos ’n aap en wag, en hy doen nie eens die moeite om my te bel nie.”
Net toe lui die voordeurklokkie.
“Jy’t te gou gepraat. Gaan nooi hom binne.”
Haar ongedurigheid het nog nie gaan lê nie. “Laat hy maar weer lui. Hy moenie dink ek gaan my bene agter hom aan breek nie.”
Tydsaam stap sy voordeur toe, reg om Phil te laat verstaan sy het reeds ander planne vir die middag gemaak, maar toe sy die deur oopmaak, is dit Herman wat op die drumpel staan.
“Ek is bly om te sien jy is op die been, Soes. Hoe voel jy?”