“Hy’t geluide hier in die woonstel gehoor en het toe kom kyk of hier nie dalk ’n inbreker by jou is nie. Toe nooi ek hom in vir koffie, en daar kom ons toe mooitjies agter hy is so verlangse familie van dokter Pieter Wasserman.”
“Wie is dokter Pieter Wasserman? Is ek veronderstel om hom te ken?”
“Nee, jy sal nie weet wie hy is nie, maar hy’t jou ma met haar geboorte gevang. En dit was ampertjies of ek was met hom getroud.”
“O? Nou hoekom het jy toe nie met hom getrou nie?”
“Oor ek gedag het ek is op ’n ander man verlief. ’n Skatryk man met ’n bek so glad soos seep. Amper te laat agtergekom hy is net agter my lyf aan. Toe ek hom los, was Pieter klaar verloof aan die meisie met wie hy later getroud is. Ja, jonkheid is dikwels ydelheid. As jy nie met oop oë loop nie, trap jy maklik in ’n strik.”
Tot Suzanne se stomme verbasing begin sy Gertruida se teenwoordigheid geniet. Dis lekker om saans met ’n bord lekker kos ingewag te word en geselskap te hê, maar toe die telefoon Vrydagoggend by die werk lui, en sy hoor dis Phil, raak sy opnuut benoud.
“Woon jou tannie nog by jou?” is sy eerste vraag nadat hulle gegroet het.
“Ja, en ek kan jou die versekering gee dat sy geen planne het om te verhuis nie.”
“Dan sal ons seker maar weer iewers heen ry.”
“Ons kan gaan uiteet, as jy wil.”
“Goed, ons kan op Albertinia gaan eet. Ek het gehoor die hotel daar maak baie lekker kos.”
Gertruida is nie ingenome met dié verwikkelinge toe Suzanne haar bel om te sê sy moenie moeite doen om die aand vir haar kos te maak nie. “Nee, goed dan maar, as Flip so baie geld het om te mors. Miskien is my boerekos te eenvoudig vir hom. Dalk is hy ’n man vir sjampanje en kaviaar. Ek sal maar vir Herman nooi om saam met my te kom eet.”
Suzanne is nie lus vir ’n argument nie, dus beëindig sy liewers die gesprek deur te sê daar het nou net ’n kliënt opgedaag aan wie sy moet aandag gee.
Toe Phil die aand by die woonstel opdaag, is Suzanne aanvanklik verras deur sy gemoedelikheid. Hy gesels land en sand oor allerhande onbenullighede met Gertruida, en al staan agterdog asof met ’n swart merker op haar gesig geskryf, sien hy dit skynbaar nie raak nie.
Hy wys egter ’n rukkie later Gertruida se aanbod om koffie te drink van die hand. “Dankie, maar ons gaan uiteet, en dit sal dalk net ons eetlus bederf. Wat gaan tannie vanaand doen?”
“Die buurman van hier langsaan kom by my eet. Ek weet nie of jy hom al ontmoet het nie?”
“Nee, hulle het mekaar nog nie ontmoet nie,” sê Suzanne, en wend haar onmiddellik tot Phil om aan te dui sy is gereed, hulle kan maar ry, want iets waarsku haar Phil se skielike vriendelikheid is vals.
Hulle is dan ook kwalik in die motor of hy begin lag. “Ek het die voete van daardie tannie van jou onder haar uitgeslaan deur so gaaf teenoor haar te wees, nè?”
“Ek het gedag daar is ’n slang in die gras. Hoekom het jy dit gedoen?”
“Om haar sag te maak voordat ek haar laat verstaan sy moet ander blyplek gaan soek. Jy sal dit nie doen nie, so ek sal dit moet doen.”
“Moenie glo sy gaan daarvoor val nie. Ek kon sien sy was agterdogtig oor jou aangeplakte vriendelikheid.”
“Gee my ’n kans dat ek net eers haar vertroue wen, dan gesels ons weer. Sy kan nie verwag jy moet haar vir die res van haar lewe versorg nie.”
“Ek sorg nie vir haar nie. Inteendeel, sy sorg eerder vir my. Sy kook kos, hou die woonstel aan die kant, en het gister selfs my wasgoed ook gewas.”
“Daarvoor kan jy ’n huishulp kry.”
“Teen betaling, ja, maar tannie Gertruida doen dit verniet, en boonop betaal sy die helfte van die woonstelhuur.”
“Hoe lank gaan jy in dié omstandighede tevrede bly?”
“Daarvan is ek nie seker nie, maar tans geniet ek haar nogal. Sy kan soms die kostelikste goed kwytraak. Eintlik kom ons baie beter oor die weg as wat ek verwag het.”
“Gaan ons dan nooit weer saam wees nie?”
“Wat bedoel jy? Ons is dan nou saam,” hou sy haar dom.
“Ek wil vir jou iets sê, my lief, maar ek wil dit nie hier in die restaurant doen nie. Ons moet alleen wees.”
Haar hart gee ’n sprongetjie. Phil se gesig is ernstig. Wil hy haar vra om verloof te raak of om te trou?
“Jy kan dit mos maar in die motor vir my sê.” Sy probeer nonchalant klink.
“Nee, dit sal nie werk nie. Ek wil jou styf vashou en jou soen wanneer ons daaroor praat.”
“Ek sal jou sê wat ons doen. Ons kan teruggaan na my woonstel toe, dan kry ek my motor en ry agter jou aan na jou huis op George.”
“Nee, ek kan nie toelaat dat jy in die nag alleen van George af terugry Mosselbaai toe nie. Dis gans te onveilig.”
“Jy ry dan alleen in die nag van Mosselbaai af George toe.”
“Onthou, ek is ’n man. Dis anders.”
“Dan moet jy my maar kom haal en weer terugbring.”
“Dis ’n veiliger opsie.” Hy kyk op sy horlosie. “Miskien moet ons dit maar laat oorstaan tot ’n volgende keer.”
“Ja, ek werk darem nie môre nie, maar wil in elk geval nie te laat by die huis kom nie. Waar werk jy môre?”
“Op Knysna, so ek sal vroeg moet opstaan as ek die werk daar wil afhandel, want Sondag moet ek weer Wildernis toe.”
Gertruida is nog wakker toe sy die woonstel binnegaan nadat Phil met ’n hartstogtelike soen by die voordeur van haar afskeid geneem het.
Haar groottante kan nie uitgepraat raak oor hoe lekker sy en Herman gekuier het nie: “Ons het tot kaart gespeel ook. Hy het my omtrent elke keer gewen en is netnou eers hier weg, net ’n rukkie voordat jy opgedaag het.”
Suzanne gee ’n lang gaap om Gertruida te laat glo sy is vaak. “Ek gaan nou slaap.”
“Ja, ek gaan ook nou kamer toe. Eintlik is ek nie meer gewoond daaraan om so laat te gaan slaap nie, maar sal darem ook nie die aand vir ’n bed wou verruil het nie.”
In haar kamer steek Suzanne voor die spieël vas, allesbehalwe vaak. Hoe sal sy lyk in ’n wasige wit trourok met ’n lang sleep? Wie sal sy vra as haar strooimeisie?
Die volgende oggend vaar sy die winkels in en koop vir haar die mooi blou rok waarop sy al so lank ’n ogie het. Met dié dat Gertruida die helfte van die woonstelhuur gaan betaal, kan sy darem ook ’n slag ietsie op haarself spandeer.
Daarna draal sy eers deur ’n winkel wat allerhande dinge vir troues verkoop. Waar gaan sy ’n dogtertjie en seuntjie in die hande kry om as blommemeisie en hofknapie op te tree?
Terug by die woonstel, moet sy hoor Gertruida het vir Herman genooi om saam met hulle te eet.
“Hy het dan gisteraand hier geëet.”
“Ja, maar toe was jy mos nie hier nie. Hy’t dadelik ingewillig, seker maar dankbaar hy hoef nie self kos te maak nie.”
“Ek hoop nie hy het so baie fiemies met kos soos met meisies nie.”
“Fiemies met meisies, hoekom sê jy so?”
“Ek het al afsprake vir hom gereël met drie van my vriendinne, maar hy neem hulle net een keer uit, dan sien hulle hom nie weer nie. Die fout lê altyd by hulle, nie by hom nie.”
“Wat is dan fout met hulle?”
“Dis nie wat ek bedoel nie. Hý is te foutvinderig. Sandra praat te veel, Ester praat te min, en Patricia, ek