“Nou hoe is dit dan dat jy nog nie getroud is nie?” wil Gertruida ’n ruk later weet. “Jy is mos darem nie ’n onaansienlike man nie.”
“Voorheen het ek nog net nie die regte vrou ontmoet nie.”
“Nou dink jy Suzanne is die regte vrou vir jou?”
“Tannie!” keer Suzanne gebelg. “Dis persoonlik. ’n Mens vra nie sulke vrae nie. Hoe ver is die kos? Ons wil na ete ’n entjie gaan ry.”
“Die kos is gaar. Dek jy die tafel, dan skep ons op. Flip kan op die kop sit, dan sit ons hier weerskante van hom.”
“Sy naam is Phil, tannie.”
“Ag, dis seker net ’n afkorting vir Philip. My oorle broer se naam was ook Philip, maar ons het hom sommer Flip genoem.”
Die ete is vir Suzanne erg ongemaklik.
Gertruida se uitvraery kry nie einde nie, en Phil se gesig verraai naderhand duidelik dat dit hom irriteer. Wat traak dit Gertruida in elk geval waar in Zimbabwe hy grootgeword het, wanneer hy Johannesburg toe getrek het, en hoeveel motors hy al gehad het?
Toe Gertruida na ete sê hulle kan maar gaan ry, sy sal alleen die skottelgoed was, voel Suzanne nie eens skuldig nie. Hoe gouer sy en Phil van haar nuushonger tannie af wegkom, hoe beter.
“Ek sien wat jy bedoel het toe jy gesê het jou tannie is die inmengerige soort,” sê Phil toe hulle in die motor klim. “Haar nuuskierigheid ken geen perke nie.”
“Ja, ek weet nie hoe ek dit met haar gaan uithou nie.”
Toe sy haar kom kry, het hy by ’n piekniekplek op pad na Albertinia stilgehou. “Ons het nou genoeg oor jou tante en nuuskierige mense gepraat,” sê Phil. “Nou behoort die tyd aan ons. Wat het jy die naweek gedoen?”
“Ek het Saterdagmiddag tot vieruur gewerk. Nie dat dit nodig was nie. Ek kon eenuur geloop het, maar ek hou daarvan om Maandae met ’n skoon lessenaar te begin. En gistermiddag het my tannie net na eenuur opgedaag. Daarna was alles in ’n warboel. Waar het jy die naweek gewerk?”
“Saterdag was ek op Oudtshoorn en Sondag moes ek Knysna toe.”
“Dis darem jammer jy is naweke so vas. Dit sou so lekker gewees het as ons soms naweke ook kon gekuier het.”
“Natuurlik sou ek dit ook verkies het, maar dit kan nou ongelukkig nie anders nie. Kliënte wil nie wag nie. Ek sal nooit klaarkry as ek naweke nie werk nie.” Hy trek haar nader, lig haar kop om haar te soen en fluister: “Maar ek sal sommer nou daarvoor vergoed.”
Suzanne probeer haar oorgee aan die genot van sy soen, maar kan eenvoudig nie meegevoer raak nie.
Hy kom dit agter, want toe hy haar laat gaan, kyk hy haar deurdringend aan: “Hoekom is jy so gespanne? Wat is fout?”
“Dis die teenwoordigheid van my tannie wat op my senuwees werk. Dit voel vir my haar oë het saamgery hierheen, en nou word ons beloer.”
Hy gee ’n laggie. “Ons kan altyd ’n plan maak daarmee. Daar is ’n kombers in die kattebak. As ons na die agterste sitplek verskuif en ons toemaak met die kombers, sal daardie oë niks kan sien nie.”
“Nee! Boonop is dit onveilig hier met al die bosse om ons.”
“Ons sluit die motor se deure.”
“Dit sal nie help nie. Dis maklik om ’n motor se ruit stukkend te kap.”
“Nou wat stel jy voor moet ons doen?”
“Ek stel voor ons gaan drink iewers koffie en gesels sommer net. Daar is baie dinge van jou waarvan ek niks weet nie.”
“Soos wat?”
“Wel, ek het vanaand eers danksy tannie Gertruida se nuuskierigheid gehoor dat jy in Zimbabwe gebore is en daar grootgeword het. Jy het eendag genoem dat jy ook in Johannesburg gewoon het, maar ek het nie eens geweet jy is nog maar net ’n jaar op George nie.”
“Dis mos nie belangrik nie. Die hede, nóú, en die toekoms is belangriker. Wat gaan jy omtrent jou tannie doen?”
“Wat kán ek doen?”
“Jy sal haar beslis moet sê jy verkies dat sy op haar eie gaan bly. Soos ek haar opsom, gaan jy nie deur mooipraatjies van haar ontslae raak nie.”
“Ek sal dit nie oor my hart kry om haar weg te jaag nie.”
“Sien jy dan kans om jou woonstel die res van jou lewe met haar te deel?”
“Miskien kom daar later een of ander vorm van uitkoms.” Suzanne hoop dat hy dalk iets oor hul toekoms sal sê, maar hy trek haar net nader om haar weer hartstogtelik te soen.
“Het jy nie na my verlang nie?” wil hy afgehaal weet toe sy hom na ’n rukkie afweer.
“Ek het, ja, maar ek voel nie heeltemal myself nie.”
Hy skuif terug op sy sitplek. “Nou goed, kom ons gaan drink koffie op Albertinia.”
Suzanne voel nie gelukkig toe sy halftwaalf haar woonstel binnegaan nie. Die aand was ’n mislukking, al kan sy dit nie ’n spesifieke naam gee nie.
Phil was net besonder stil in die restaurant. Daar is glo probleme by sy werk wat hom kwel, maar ’n stemmetjie sê vir haar hy is eerder onvergenoeg omdat hy nie sy sin by die piekniekplek gekry het nie.
“Nou toe, jy is vroeg terug,” word sy deur Gertruida vanuit die kombuis begroet. “Ek het gedag julle sal eers na middernag opdaag.”
“Dit is nie ver van middernag af nie. Onthou, ons werk môre, en Phil moet nog terugry George toe.”
“Wat is sy nering?”
“Bedoel tannie sy beroep?”
“Ja, is dit dan nie dieselfde ding nie?”
“Hy is ’n geoktrooieerde rekenmeester en doen etlike firmas se boeke. Op George, maar ook op ’n paar van die omliggende dorpe.”
“So hy is ’n man met ’n kop vir syfers. Somme is nie iets waarmee ek goed is nie. Kon nooit op skool die tafels in my kop kry nie. Geen wonder ek het in Matriek se middeleksamen ’n F-simbool gekry nie. Gelukkig kon ek darem die eindeksamen deurskuur.”
“Ek het gedink tannie sal al slaap.”
“Ja, ek ook, maar toe kom ek op dié boek daar in jou boekrak af. Ek kon hom net nie neersit nie. So ’n mooie storie. Skoon liefdesverhale is mos nie meer volop nie. Deesdae is dit omtrent net bedspring-stories wat jy te lees kry, asof die liefde net om seks draai. Nou wat van ’n koffietjie voor ons gaan slaap?”
“Nie vir my nie, dankie. Ek en Phil het ’n rukkie gelede koffie gedrink. Ek gaan nou maar inkruip.”
“Dan is dit reg. Ek dink ek moet ook nou maar die lesery los en gaan slaap.”
Suzanne lê weer lank wakker. Wat hou die toekoms in? Gaan Phil se liefde vir haar nie kwyn as sy geduld met Gertruida opraak nie? Nooit kon sy gedink het daar sal ’n dag kom dat sy haar in so ’n moeilike situasie bevind nie.
2
Dinsdagmiddag na werk word sy by die woonstel ingewag met die nuus dat Gertruida hul buurman ontmoet het. “Wat ’n aangename man! Ons het te lekker gesels.”
“Watter buurman?”
“Het jy dan meer as een buurman?”
“Weerskante van my bly mans. In nommer agt en tien.”
“O, ek weet nou nie wat die nommer van sy woonstel is nie, maar sy naam is Herman Steyn. ’n Regte boerseun, as jy my vra. Jy is seker bly jy het hom as buurman.”
“O, Herman. Hy is ’n gawe ou, ja. Behulpsaam, altyd bereid om te help