'n Lewe voor God. Stephan Joubert. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Stephan Joubert
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796321343
Скачать книгу
tion>

      

      ’n

      LEWE

      voor

      GOD

      366 DAGSTUKKIES oor

      PRAKTIESE CHRISTENWEES

      STEPHAN JOUBERT

      Lux Verbi

      Januarie

      My allerbeste vir die Allerhoogste

      1 JANUARIE Lees 1 Johannes 4:19

      God het eerste liefgehad

      Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het (19).

      Die evangelie is genade en waarheid. Wanneer kerkmense slegs die waarheid kil en koud beklemtoon, raak hulle gou-gou liefdeloos en onsimpatiek. Dan betree hulle morele hoë grond en veroordeel almal rondom hulle wat nie presies soos hulle praat of dink nie. Vir sulke mense tel wette, voorskrifte en reëls dikwels veel meer as ’n lewende verhouding met God en met ander met wie hulle daagliks te doen kry!

      As ons net genade beklemtoon sonder om reguit te praat oor sonde, is ons te sag op sonde. Mense se gevoelens tel dan op die ou end vir ons meer as God se eer. Dan staan ons nie so maklik op vir die waarheid nie, want ons wil niemand aanstoot gee nie. Die slagspreuk “ruimte vir almal” word dan misbruik om die kerk in ’n geestelike supermark te verander waar alles reg en gangbaar is. Daarom dat die evangelie van Christus tegelyk genade én waarheid moet wees. Anders word die eintlike punt van kerkwees gemis.

      Wanneer ons geestelik gebalanseerd leef, het ons ander lief. Dan dra ons mense op die hande deur eerlik vir hulle te sê as hulle verkeerd is en deur hulle aan te moedig as hulle reg doen.

      Dan het ons hulle lief omdat God ons eerste liefgehad het. Dan loop ons eintlik maar net in die voetspore van die Allerhoogste.

      Here, laat u kerk meer skitter in liefde en minder in kritiek.

      2 JANUARIE Lees Jesaja 43:1-7

      God ken jou op jou naam

      Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne (1).

      Op baie plekke in die wêreld is ons maar eintlik net ’n nommer. Kyk net: By die belastingkantoor het ons ’n belastingnommer. By die Departement van Binnelandse Sake het ons ’n identiteitsnommer en by Buitelandse Sake dalk ook ’n paspoortnommer. Ons bank neem kennis van ons geldsake deur verskillende rekeningnommers, so ook die munisipaliteit, klerewinkels, skole, lewensversekeraars, noem maar op. Ja, by al die sentrale instellings in die samelewing is ons in sekere sin slegs ’n klompie nommers op papier. Maar nie by God nie. Nee, Hy ken ons op ons naam. Hy het ons gered deur ons op ons naam te roep. Toe het ons sy eiendom geword.

      God hou nooit boek van ons by wyse van rekeningnommers nie. Nee, Hy ken ons altyd op ons naam. Toe Hy ons die eerste keer op ons naam geroep het, het ons daar en dan van eienaar verwissel. Toe het ons die eienaarskap oor ons eie lewe finaal afgeteken. Ons het God toe tot die nuwe Eienaar van ons lewe verklaar.

      Ons bevind ons nou in die hande van die lewende God. En dit is die veiligste plek om te wees. Hy waarborg sy persoonlike bystand aan ons in alle omstandighede. Wanneer ons deur groot riviere moet worstel, is Hy aan ons sy. Ook as ons deur die vuur moet stap. Want ons behoort aan Hom. En God pas al sy eiendom persoonlik op.

      God van hemel en aarde, dankie dat U my naam ken en dat ek met U mag praat in Christus se Naam.

      3 JANUARIE Lees 1 Korintiërs 13:1

      Die allerbeste wat God het, is joune

      Nou wys ek julle wat nog die allerbeste is (1).

      Sekerlik die bekendste deel van al Paulus se briewe is 1 Korintiërs 13. By troues word hieroor gepreek; digters haal dit graag aan; boeke verwys dikwels hierna, maar om die een of ander rede sukkel gelowiges om wat hier staan behoorlik uit te voer. Paulus beskryf mos die liefde hier. Liefde is dade, dit word gedoen. Ja, liefde is veel meer as net ’n klomp emosies. Agape, die Griekse woord vir liefde, sou selfs hier ook vertaal kon word met die woorde “onverdeelde lojaliteit”.

      Nadat Paulus in die eerste drie verse die liefde gekontrasteer het met die grootste geestelike gawes, vertel hy hoe liefde in aksie lyk. Onder meer maak hy dit duidelik dat egte liefde vergeetagtig is. Dit maak dat jy nooit die slegte dinge wat mense doen teen hulle hou nie. Jy maak keer op keer daardie geheime swart notaboekie, waarin jy boekhou van ander se foute, in jou kop toe. Jy “delete” telkens al die negatiewe inligting oor ander wat in jou kop vasgesteek het. Die Here se mense hou immers nooit boek van die kwaad nie. Dit is hoe ons deur die Here gemaak is. Ons verstand, wat deur die Here nuut gemaak is, het nie genoeg geheue of bandwydte om haat en bitterheid te stoor nie. Die liefde neem immers nou al die beskikbare spasie in. Nou is daar net plek vir dade van vergifnis in ons lewe.

      Here God, laat ons liefhê soos U ons leer.

      4 JANUARIE Lees Sefanja 3:17

      God is tevrede met jou

      Hy is stil-tevrede in sy liefde (17).

      Ek het nog nie baie in die kerk gehoor dat die Here met enigiets hier op aarde tevrede is nie. Ook nie met die kerk nie. Ons doen byna altyd te min te laat. Ons skiet te kort; ons mis die punt; ons is aan die dooierige kant; ons kom nie behoorlik by ons doel uit nie …

      Ken jy daardie gevoel? Voel jy ook elke keer wanneer jy uit die kerk stap dat jy weer in die leeukuil saam met ’n klompie kwaai Daniëls was? Terloops, vergeet van kwaai leeus, vandag se Daniëls is veel gevaarliker!

      Ek moet sê, ek was heeltemal uit die veld geslaan met die woorde van Sefanja 3:17. Dit klink soos ’n stroom koel water op ’n warm dag. Hoor net: “Die Here jou God is by jou … Hy is vol vreugde oor jou …” En dan die mooiste woorde: “Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou.” Mensdom, dit is hemelse musiek!

      In ’n tyd waarin ons dikwels van kansels af en in geestelike gesprekke moet hoor ons onderpresteer as dit by God kom, vertel die Here Hy is tevrede met sy mense. Geloof is nie prestasiegedrewe nie. Ons kry nie bonuspunte vir geestelike prestasies nie. God se liefde staan hoegenaamd nie in direkte verhouding tot ons geloofsdade nie. Hy is stil-tevrede, want Hy het ons lief ten spyte van onsself. Jesus se kruis sê so!

      Here, dankie dat U stil-tevrede met my is.

      5 JANUARIE Lees 2 Tessalonisense 2:13

      God het my lief

      Die Here het julle lief … (13).

      Die Here het my lief! Dit is ondenkbaar. Om te dink dat God ’n brief spesiaal laat skryf om vir my te sê Hy het my lief. Ek, wat soveel foute het en my vingerafdrukke op elke sonde agtergelaat het. Hoe is dit moontlik dat die Here my liefhet?

      Die antwoord is dat God my liefhet ten spyte van myself, nie as gevolg van myself nie. Hier op aarde het ons mekaar meestal lief as gevolg van … Ons hou van ander omdat hulle oulik, mooi, ryk, vriendelik, en wat nog alles, is. God se liefde staan nie in direkte verhouding tot ons geestelike prestasies soos baie kerkmense dink nie. Ons glo mos dat God ons nie meer liefhet as ons sonde doen nie. Of dat Hy niks meer vir ons omgee as dit met ons swaar gaan nie. Dit is nie waar nie.

      God het ons lief ten spyte van onsself. Hy het kant gekies vir ons. Hy het besluit om sy hand groot oop te maak oor ons. Sy liefde sê oneindig meer oor Homself as oor ons. Dit sê dat God ’n liefdevolle, ontfermende God is. Dit sê dat Hy ons ’n tweede en ’n derde en ’n vierde kans gee omdat Hy ons liefhet. Weet dit, glo dit en beleef dit. Moenie sy liefde goedkoop maak met jou ongehoorsaamheid nie.

      Here, dankie dat U my liefhet.

      6 JANUARIE Lees Miga 7:18

      Wie is soos God?

      Wie is ’n God soos U? (18).

      Dié vraag waarmee Miga sy profetiese boek afsluit, is ’n