Helena Hugo Eerste Keur. Helena Hugo. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Helena Hugo
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Эротическая литература
Год издания: 0
isbn: 9780624083627
Скачать книгу
’n verwaaide varing wat seker net water kry as sy die slag vir langer as ’n week tuis is. Marissa druk die klokkie en hoor dadelik voetstappe nader kom. Die slot kraak en die deur swaai op. Sy maak haar arms oop, gereed om haar vriendin te omhels. En haar hart gaan staan amper toe sy die man in die oop deur herken. Theo Wessels!

      “Eindelik! Ek het my al mal oor jou bekommer!”

      Byna beskuldigend roep hy dit uit. Sy is sprakeloos. Wat gaan aan? Is Diana en Theo familie, dalk in ’n saambly-verhouding of verloof of getroud? Is hy die goddelike man wat Diana aan haar wil voorstel? Onmoontlik! Haar mond gaan oop om iets te sê, maar sy is stomgeslaan. Haar kop voel of ’n swerm bye hul intrek geneem het. Die volgende oomblik word alles dof en toe pikswart.

      Theo vang Marissa, handsak en al, net voor sy val. Die emosie wat die vroumensie in hom wakker maak, wissel van plesier tot deernis. Hy kry die prikkelende geur van haar liggaam gemeng met haar reukwater, lig en pienk soos sy. Skuldig druk hy sy neus teen haar nek se kuiltjie, maak sy oë toe en sien haar met haar hare in die wind aanstap oor die persblou Karooveld. Sy lig haar arms en omhels die son voordat sy in die water afduik. Teerheid oorweldig hom. Om haar so in sy arms te hou, is maklik. Sy is klein en fyn en weeg seker nie meer as vyftig kilogram nie. Tog veroorsaak dit ’n fisieke pyniging wat hy nie langer as ’n paar sekondes kan verduur nie. Hy stamp die voordeur toe en dra haar na Diana se gastekamer waar hy haar op die bed neerlê. Sy roer en kreun saggies. Hy wikkel haar handsak los, sit dit op die vloer neer, loop badkamer toe en maak een van die gastehanddoekies nat. Versigtig vee hy oor haar slape, haar nek en halslyn, haar arms.

      Skielik vlieg haar oë oop. Sy wip regop en kyk verwilderd om haar rond. “Waar is ek?”

      “Veilig in Pretoria.”

      “Waar?”

      “Diana Boshoff se huis.”

      “Maar jy? Wat maak jý hier?”

      “Vir jou kom wag.”

      “Hoe weet jy ek sou hiernatoe kom?”

      “Jy’t my gesê.”

      “Ek het nie!”

      “Ek wou nog vra of dit dieselfde Diana is wat ek ken, maar dit was so onwaarskynlik ek hou dit toe vir myself tot jou ma my die adres gee, toe besef ek, dis Di.”

      “Jy bly doodstil! Jy sê my niks.”

      “Jy was al in jou kamer aan die slaap en die volgende oggend was ons op pad. Ek het haar gebel toe ek hier aankom. Daar is ’n lang boodskap op jou foon wat jy duidelik nie gelees het nie. Ek gaan haal vir jou ’n glas water. Of wil jy liewer tee hê? Ek kan maak.”

      “Water, asseblief.”

      Marissa kyk hom agterna soos hy wegstap. Hy is alte tuis in die huis.

      Sy oorweeg dit om haar selfoon uit haar sak te haal en sy “lang boodskap” te lees, maar sy sal simpel voel as hy inkom en haar betrap.

      Di! Hy noem haar Di! Hoe goed ken hy en Diana mekaar? En hoekom het Diana nog nie voorheen iets oor hom gesê nie? Hulle deel tog al hul geheimpies oor mans ook. Maar nou ja, sy het nie als oor John vertel nie. Van die intieme besonderhede steek sy weg, selfs vir haar beste vriendin. Hulle ken mekaar al lank. Vandat hulle as groentjies op Stellenbosch ’n koshuiskamer gedeel het tot sy en Diana soms saam modelwerk gedoen het. Diana het onderwys geswot, die een ná die ander modelkompetisie gewen en soveel aanbiedings gekry dat dit op die ou end maklik was om haar skoolklas vir die kameras te verruil. Marissa, aan die ander kant, sal nooit haar navorsing vir die glanswêreld van fotomodelle prysgee nie. En Theo Wessels is duidelik aangetrokke tot voorbladmeisies soos Diana. Wel, sy gun Diana die man. Yslike toeval, maar toemaar. Hier kom hy! Glas water in die hand.

      Haar hare en klere is seker vreeslik deurmekaar. Maar dit maak nie saak hoe sy lyk nie. Hy behoort aan Diana en sy sal Diana nooit as te nimmer seermaak nie. Hy kom staan langs die bed, kyk haar op en af. “Hoe voel jy nou? Beter?”

      Sy antwoord nie, glimlag net verleë.

      Hy gee die water aan en kom sit sowaar langs haar op die bed. Die glas is yskoud en gladgewasem. Sy moet dit vasvat en klein slukkies neem. Amper laat val sy dit toe sy arm om haar gaan en hy haar teen hom vasdruk.

      “Jy moes saam met my gery het, jong.”

      “Sou nie gewerk het nie,” mompel sy en beur weg.

      Hy is so naby sy kan sy parfuum ruik, Hugo Boss, as sy dit nie mis het nie. Haar mond binne-in is koel van die water, die lug rondom haar drukkend warm. Sy kan nie asem kry nie. Sy klou aan die glas, haal vlak asem.

      “Diana is uit op ’n shoot,” sê hy. “Sal later vanaand terug wees. Sy’t my gevra om by jou verskoning te maak. Die werk het onverwags op haar afgekom. As sy vroeg klaar is, kan ek julle vir ete uitneem.”

      Marissa trek haar vingers deur haar hare. Haar kop is steeds bietjie dronk. Deur die ruite sien sy in die takke van die groot jakaranda voëls wat vrolik rondspring. “Jy en Diana kan, ek gaan slaap liewer vroeg.”

      Hy klap op sy bobene en spring regop, tel terselfdertyd haar handsak van die vloer af op en sit dit langs haar neer. “Diana sal jou nooit alleen los op jou eerste aand nie.”

      “Ek is so moeg gery, ek sal nie omgee nie.”

      Hy staan voor haar, hou sy hand gebiedend uit. “Gee my jou sleutels, dan gaan haal ek jou tasse.”

      “Ek kan self.”

      “Komaan, moenie hardkoppig wees nie. Ek kan sien jy is moeg.”

      “Dankie vir die kompliment,” sê sy, maak haar handsak oop en haal die sleutel uit.

      Hy raak liggies aan haar wang. “Moeg of nie moeg nie, jy is altyd mooi,” paai hy.

      Sy hou die sleutel na hom toe uit. Haar sleutelhouer is ’n merinoskaap met ’n wenroset teen sy nek. Hy grinnik, vou sy hand om die skapie. “Oulik,” sê hy en stap weg.

      Watter man wat van modelle hou sal hom steur aan ’n plaasmeisie met ’n skaap aan haar sleutelhouer, selfs al is dit ’n kampioen? Theo Wessels is buitendien klaar verbind en dit aan Diana, haar beste vriendin! Sy sal nogtans nie dat haar selfrespek daaronder ly nie. Die voordeur klap skaars agter hom toe of sy gryp haar handsak en draf badkamer toe om haar hare en gesig op te knap.

      Diana het dit mooi ingerig. Dis geteël met Art Nouveau-teëls, versier met Pears-advertensies en spieëls in houtrame. Lentegroen handdoeke en pienk sepies voltooi die prentjie. Marissa voel soos ’n agie, maar sy maak die badkamerkassie oop en verwag om ’n stel skeergoed en ’n ekstra tandeborsel te kry. Dis gepak met nagrome en haaropknappers. Nou ja, miskien is daar van Diana se goed in Theo se badkamerkassie. Dat hulle heeltemal onskuldig is, kan sy nie glo nie.

      Sy los haar handsak in die badkamer en stap in die kort gangetjie af na die oopplan-leefkamer. Antieke kaste, fraai kothuismeubels, ’n versameling porseleinborde en foto’s van Diana en haar kollegas, ook een van hulle twee saam, versier die mure. Sy wil naderstaan om ’n onderskrif te lees, toe die voordeur oopgaan. Theo kom binne, belaai met tasse. “Is jy van plan om vir ’n jaar te kuier?” vra hy goedig, altans sy dink hy probeer om goedig te klink. Hy sit die tasse op die vloer neer, vis die sleutel uit sy broeksak, sit dit op die kombuistoonbank neer en fluit waarderend. “Jy lyk of jy herstel het.”

      “Ek is jammer ek gee jou soveel moeite.”

      “Niks moeite nie.” Hy beweeg na die voordeur. “Nou ja, ek moet weg wees. Is jy seker jy het niks nodig nie? Diana het vir jou iets in die yskas gelos. Nice van haar. Gewoonlik dink sy nie aan kos nie.”

      “My ma het ook padkos ingepak. Ek sal nie honger ly nie.”

      “Eet iets en slaap. Onthou om die deur agter my te sluit. Hier is sekuriteit, maar jy kan nie te versigtig wees nie. Lekker slaap.”

      Daarmee trek hy die voordeur agter hom toe. Die sleutel, sien sy, steek aan die binnekant. Sy sluit die deur, bly net daar staan en luister na sy voetstappe. Soos ’n verliefde tiener storm sy