“Ek kon my ore nie glo nie. In my droom was ek en Dirkie op ’n treinstasie, toe weer in die kerk, en sommer in die veld ook. Ag, jy weet mos hoe dit werk in drome, meneer Verdomp, ’n mens skuif maar bietjie rond. Maar die hele tyd was ons in mekaar se arms. Ek is mal oor Dirkie! Ek droom aanmekaar oor hom en ek weet hy droom oor my.”
“Jy moet jou nie dinge oorverbeel nie.”
“O ja, ek kan. En in my drome is Dirkie glad nie vertraag nie, hoor. Hy is wonderlik!”
“Maar hoekom het jy jou klere uitgetrek?” Ek kon hoor hoe seergemaak ek klink.
“Ek weet nie, dit was maar nét ’n droom.” Anna was ’n vrou met ’n sterk gemoed, maar ek kon sien haar oë kry nou water. “Ek weet nie!” het sy heftig herhaal. “Ek het maar net gedroom!”
“Maar net …! En boonop oor die kerk.”
“Die kerk was Dirkie se idee. Dit het koud geword, toe loop ons by die kerk in.”
“Dirkie se idee?”
“Sy idee in die droom, meneer Verdomp.”
Ek moes wonder of Anna weet van my eie drome oor haar. Dis toe dat sy haar hand in haar langbroeksak steek en een van die foto’s wat oom Kossie geneem het vir my wys.
Sy het die foto’tjie tussen ons op die tafeltjie gesit. Van Kleinschmidt se lessenaar gesteel toe hy toilet toe is, vertel sy my. In die voorgrond van die foto is Anna besig om met groot oë na die kamera te kyk, en op die agtergrond, ook in die kerkbank, ’n bietjie vaer, is die gestalte van Dirkie Verwey. Hy kyk strak voor hom soos sy manier maar was. Haar arms is om sy nek geslaan en sy kyk oor haar skouer na die kamera. Haar kaal borste is gedeeltelik sigbaar van die kant af. Daar was wat gelyk het na ’n stralekrans om die koppe, soos mens soms kry op foto’s wat effens uit fokus is.
Ek het na Anna daar langs my gekyk, en weer na die foto, en weer na Anna. Die vreemdste gewaarwording van my lewe was besig om in te sak, soos landsreën in sagte grond.
“Anna,” het ek gesê. “Dis nié jy hierdie nie. Sy lyk soos jy. Maar dis wraggies nié jy nie. Kyk!”
Toe bars Anna in trane uit. “Presies! Dis Kleinschmidt se dinge, die vark! Hulle het ’n foto van my gemaak waarop ek nie is nie.” Die trane het gevloei.
“Dis ook nie Dirkie nie,” sê ek vir haar. “Die hare lyk sagter en dit golf dan! Dirkie is borselkop. En hy is te skaam om op te wys op foto’s. Ek het hom al self reg van voor afgeneem en dan is daar later niks in die raampie nie.”
Anna het geknik en haar oë toegeknyp van die trane. “Jy’s reg, meneer Verdomp …” het sy amper onhoorbaar gesê.
My hart was oorhoeks bly dat dit nie sy op die foto is nie. Maar die enigste ander moontlikheid het my winduit geslaan. Ek onthou nog die gevoel van uiterste verbasing, ná al die jare. My woorde was nog: “Ek dink die waarheid is komplekser as Kleinschmidt se dinge, Annatjie.”
“Dis vreeslik kompleks, meneer Verdomp!” het sy sputterend tussen die trane deur beaam en my mismoedig om die hals geval. Met haar arms so om my nek het ek gehoop sy is nie te bewus van die boggel in my skouers nie.
“Hermanus,” het sy gesê. “Daar is nog iets waarvan ek jou moet vertel.”
Die kerkvensters waarin die droomagtige lig geskyn het. (Foto: Die Weekpos)
3
DIE KOERANTBERIG
Die vraag is: kon ek werklik al weet waaroor dit gaan? Want soos ek later sou agterkom, was die dinge groter as my vermoedens.
Die foto-episode was deel van ’n groter raaisel, wat toentertyd veel meer kommer by my sou gewek het as ek maar net ’n benul gehad het. As ek nou terugdink, besef ek dit het in verband gestaan met die vyandige aanslag teen die land, met die vrees van mense om van hul kolletjie op die aardbol gevee te word.
Daar was die besoek in 1971 van luitenant Nieman van die Veiligheidspolisie aan die drukpers waar my koerantjie destyds gedruk is. Die Veiligheidspolisie was en is mos belas met landsveiligheid. As ek reg onthou, was Nieman, met sy onskuldige groot bruin oë soos dié van ’n sint bernardhond, se woorde met die intrapslag: “Jy weet waaroor dit gaan, Verdomp.”
Dit was moeilik om sy oë met sy aggressiewe houding in verband te bring. Ek het outomaties agter my proefleeslessenaar in die voorvertrek orent gekom.
“U bedoel …” wou ek nog sê, sommer wys ek steek niks weg nie. Toe gebied hy my: “Sjuut. Ons neem dáárdie.” Hy het bedoel die koerante.
Dit moet aanvanklik sommige berigte oor geweld van boere teenoor plaasarbeiders gewees het wat my koerantjie in die kollig geplaas het.
Luitenant Nieman, wat ek nog nooit in my lewe gesien het nie, se blik het stadig oor die skamele interieur gerol, rustig, asof hy die plek nou net gekoop het. Hy het lank op die geraamde swart-en-wit foto teen die muur gefokus. Die vergrote portret was die enigste versiering aan die ongeverfde pleisterwerk. Dit was van Anna wat hokkie speel.
Ek het dit ’n paar jaar tevore van buite die skoolheining met ’n zoemlens geneem. Kom ons sê maar die paparazzi-vlooi het my in plaaslike konteks gebyt.
Nieman het homself en sy adjudant, ene Anderson, voorgestel. Al twee van die tak in Kimberley. Hulle soort kom in twees. Ek het vir Mina beduie maak tee, maar los, het Nieman terugbeduie. Toe loop hulle na die agtervertrek waar die koerantargiewe gehou is. Ek het gevolg soos ’n stertjie.
“Slegs dié?” het ek gevra.
“Slegs.” Ten minste wou hulle mý nie saamneem nie.
“Watter wet?”
“Vra jou prokkie,” het die adjudant geblaf. Hy sit toe ’n stewige hand oor my boarm. Ek dag ampers hy gee my ’n drukkie, van alle dinge. Toe ons so terugstap voordeur toe het my voete al hoe swaarder gevoel, en dis toe dat Nieman in die kosyn terugdraai om met my praat.
“Verdomp, jy ís ’n pennelekker. Maar moenie dit soos die waarheid laat klink nie, oukei?” Die ander vent was reeds straataf met die oorskiet-eksemplare onder sy arm.
“Die staat sal besluit wat gebeur of nie gebeur het nie, Verdomp. Sit die stront in ’n liefdesverhaal of iets, man.”
Sy laaste was: “Ek hou van jou. As jy na raad luister, sal jy veilig wees. Ek is ’n man van my woord.” Hy het homself diep geglo. Ek wou-wou deur skaamte oorval word.
Die eerste wat ek gedoen het, was om afdrukke van die belangrikste mikrofiche’e te maak. Die veiligheidsmanne het nog nie van die fiche’e uitgevind nie. In die bedryf het ons dit soos in die Engels vir “visse” uitgespreek.
Ek het asemsnakkend uitgestap vir vars lug. Op die sypaadjie het ek die veiligheidspolisieman se laakbare opmerkings oordink. Waaroor sou hy dit gehad het?
Ek kan onthou dat ek omgedraai het om die gebou te betrag. Miskien ’n voorgevoel? ’n Valerige eenverdiepinggebou op ’n hoek met die hoofstraat. Nooit sou ek kon gedink het dat hierdie gebou later nie meer daar sou wees nie. Poeiergroen sinknokdak. Ek het my voorvenster swart geverf gehad en dit het ’n paar duim bo die breë sypaadjievlak begin en amper die hele buitevlak beslaan. ’n Skuins oorhang van sink het die volle lengte van die sypaadjie tot aan die einde van die straatblok bedek.
Die drukpers se smal deur was langs die vertoonvenster van die eenheid langs myne, Seejay’s, die algemene handelaar-koem-meubelwinkel van die Indiër. Hy wat later ’n Portugees geword het onder die wet. Dié se ingang was op die afgeskuinste hoek onder die dekoratiewe geweltjie. Aan die ander kant van my drukpers was die dubbeldeur van ’n kleinerige Ackermans.
Ons dorpie was bekend as ’n groot dorp, op die rand van