Isabella. Mariel le Roux. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Mariel le Roux
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624081388
Скачать книгу
“Ons kan nie vir Daddy onnodig lank alleen los nie.”

      Queenie het hard gesnork. “Jy is baie vroeg,” het sy laat hoor.

      “Kyk maar vir die blomme as julle te veel na jul meisiekind verlang,” het Gideon joviaal vir Ma gesê toe hy voor haar staan. Hy het die blomme na haar toe uitgehou. Ma het haar hand oor haar mond gesit. Ek was seker Gideon het gedink dis bewondering vir die blomme, maar ek het geweet my ma wou hom stilmaak.

      “Jy kan nie blomme in hierdie huis inbring nie,” het Queenie gesis terwyl sy by my verby druk en die blomme uit Gideon se arms neem. “Daddy sal hooikoors kry.” Toe stap sy met die ruiker weer by die voordeur uit, af met die treetjies tot op die tuinpaadjie en beur teen die wind op na die hoek van die huis. Die meeste van die blomme het agteroor geknak teen die aanslag van die suidoos. “Ek sal dit later vir die ouetehuis onder in die straat gaan gee,” het sy oor haar skouer gesê voor sy uit sig verdwyn het.

      Gideon het haar ’n oomblik oorbluf agterna gekyk, toe na my gedraai en ’n lang wolwefluit gegee.

      Ma het gewip soos sy skrik. “Sjuut,” het sy gesê en haar hande in die lug gegooi. “Daddy moet rustig gehou word.”

      Ek het my mond toegedruk. Om niks te sê nie en die senuagtige laggeluide wat wou uitborrel, te keer. Gideon was rooi in die gesig, sy kieste opgeblaas.

      “Kom wanneer julle klaar is,” het ek gemompel toe ek my stem kon vertrou en my tasse vir Gideon aangegee. “Ons wag voor die magistraatskantoor onder die bome.”

      Ons het dit net tot in die motor gemaak voor ons albei uitgebars het van die lag. Ontlading.

      “Was ons twee nou net in die sirkus of het ek my dit verbeel?” het Gideon gehyg.

      “Eintlik is ek histeries van verleentheid,” het ek gesê en my sakdoek uitgehaal, my trane afgevee. “Ek skaam my morsdood vir my mense.”

      “Wag tot ek jou die rillers van my voorvaders vertel,” het Gideon my getroos toe hy wegtrek voor die Dickson-huis. “Maar dis vir anderdag. Vandag bly ons twee net vrolik. Ons trou vandag.” Hy het vir my gekyk, geglimlag. “Vergeet van ons families en hul geite.”

      “Dis moeilik vir my,” het ek geantwoord. “Ek is nou nog nie seker of my ma en Queenie gaan opdaag nie.”

      “Moenie bekommer nie, twee van my vriende kom ook. Hulle kan ook maar teken.”

      Ons het in stilte tot by die magistraatskantoor gery. Gideon het die motor in die skadu onder die bome getrek en die enjin afgeskakel. Toe het hy na my gedraai. “Wat ek eintlik netnou daar in die voorportaal van jou ouerhuis vir jou wou sê, my bruid, is dat jy pragtig lyk.”

      “Dankie.” Ek het geknik. My trane was baie naby, my emosies steeds in ’n warboel.

      Met die dokumente geteken voor die magistraat, het almal regop gekom en in die paadjies tussen die stoele deur se kant toe gedraai, reg om uit te stap.

      Queenie se stem het skielik opgeklink. “Laat, Heer, U see-heen oor hu-hul daal …” Afgemete en skril het haar lied deur die kamer getrek.

      Almal het tot stilstand geruk. Die magistraat het kop onderstebo agter die lessenaar bly staan met my en Gideon en die twee getuies reg oorkant hom. My bruidegom se twee vriende het vergeefs hul lag probeer smoor. Gideon se skouers het al hoe hoër gestyg langs my. Ma het hier en daar ’n woord saam met haar oudste geprewel. Toe my lyf lewe kry, het ek skuins gedraai, vir Queenie geknik en my handsak opgetel. Ek het my bruidegom met my elmboog in die sy gepomp en gewys ons kan maar stap. Queenie se lied het ná die eerste versie stadig weggesterf.

      Die twee vriende was haastig om terug te gaan werk toe. “Ons drink vanaand ’n dop op julle,” het die een gesê toe hy Gideon se hand skud.

      “Of twee of drie,” het die ander een vrolik bygevoeg toe hulle omdraai en wegloop.

      Queenie en Ma het saam met ons tot by die motors gestap.

      Queenie se motor was langs Gideon s’n onder die bome ingetrek. “Julle hoef nie daar op godverlaat te bly sit nie,” het sy gesê toe sy my groet. “Jou bruidegom het darem ’n redelike kwalifikasie. Julle kan altyd weer hier na die Kaap toe terugkom. Hier is baie werk. En dan kan jy kom klaar leer.” Sy het vir Ma gekyk, haar mou opgetrek en op haar horlosie getik. “Ons moet by Daddy kom.”

      Gideon het verontwaardig met skrefieslippe vir Queenie gekyk. Toe het hy Ma, wat die hele tyd nie ’n woord geuiter het nie, se hand geskud en vir Queenie geknik. Die twee bruilofsgetuies het my een na die ander op my wang gesoen. Hulle het in Queenie se motor geklim en gery. Ek het my hand gelig en hulle agterna gekyk tot die motor om ’n draai onder in die straat verdwyn het.

      “Kom, vrou,” het Gideon geskerts en vir my die passasiersdeur oopgehou. Hy het galant met sy los hand in die rigting van die sitplek beduie. “Kom, dis tyd om die nes te verlaat. Die seremonie is verby en die seënbede is in skril klanke uitgejubel.”

      Ek het probeer glimlag en ingeklim.

      Die verskil tussen ongetroud en getroud wees is sewe en ’n half minute, het ek geamuseerd gedink toe Gideon die deur toemaak. Ek het die horlosie teen die muur agter die magistraat dopgehou. Net sewe en ’n half minute.

      Die suidoostewind het oor die Kaap getier met ons aankoms by die hotel in die middestad waar ons bespreek het om te oornag voor ons rit na die noorde die volgende dag. Ek en Gideon moes aan mekaar vashou om nie van die sypaadjie afgevee te word saam met al die papiere en vuilgoeddromme wat reeds straataf aan die rol was nie.

      Ons het uitbundig gelag toe ons verwaai voor die ontvangstoonbank staan. Vrolik daardie keer.

      * * *

      Dit was die eerste keer dat ek geweet het daar is terapie in die aanslag van die natuur. Die wind was daardie dag my regmaker. En sedertdien het die wind my kopdokter geword. Dis die wind wat ek elke keer gaan opsoek het op die donker dae ná my kind gebore is. Die wind kon my desperaatheid temper, my help om die twyfel in Gideon se oë mis te kyk wanneer ek rondgewaai is in die rooi stof van die mynwêreld. Bevryding van die skimme om my.

      * * *

      Gideon het ’n belofte gemaak die eerste oggend toe ons op die myn wakker word. Ons het saam die dag sien breek agter die kameeldorings terwyl ons in ons voordeur gestaan het. Die tweede sonsopkoms ná ons troue.

      “Eendag,” het hy gesê, “eendag gaan ek vir jou ’n seehuis bou waar jy elke oggend die hemele se soutlug in jou longe kan trek, mevrou Malherbe.” Sy lyf was teen my rug, sy arms om my middel, sy ken in die holte van my skouer. Naby my. “Eendag gaan ons by die see aftree, in ’n huis met ’n paradystuin. Dit belowe ek jou.” Sy asem was warm in my nek. “En lank voor daardie tyd, met my eerste vakansie, gaan ons wittebrood hou, iewers waar die krappe aan ons tone kan knibbel.”

      My ruimte het te klein gekrimp daar op ons voorstoep. Ek wou vlug.

      * * *

      ’n Paar jaar later het ons met ons meisiekind hier op Bloubergstrand gestap.

      “Wolkies!” Uitasem, hygend het Nicky dié oggend reg voor ons in die sand vasgesteek. Sy het ons van agter af ingehardloop. “Julle maak wolkies!” Sy het eers na ons voete beduie en daarna vooroor gevou. Haar kop was op haar bors en haar handjies het sy tussen haar knieë ingedruk. Gideon en ek is in ons spore gestuit.

      Ek het regop bly staan, verbouereerd na haar skouertjies gekyk wat op en af ruk om van die lughonger ontslae te raak.

      Gideon het voor haar gehurk. “Stadig nou,” het hy gesê. “Haal eers asem en dan vertel jy ons hoe ons wolkies maak.”

      “Daar is wolkies onder julle voete,” het sy ná ’n minuut of twee uitgekry.

      Ons het nie dadelik begryp nie. Sy het ons agter mekaar laat inval. Ons moes ná ’n paar treë plekke ruil sodat ons vir mekaar se voetsole kon kyk. Dit was daar, skaars sigbaar, die vaalwit skynsel van bleek sandkorrels wat lig en val, lig en val met elke tree wat jy gee.

      “Jou kop loop wilde