Okiku se gees (Onryó) het elke aand nege borde afgetel en wanneer sy nie die tiende bord vind nie, het sy vreesbevange begin gil. Die gees het Tessan van sy verstand gedryf en hy het in die put gespring en ook verdrink.
Een weergawe van die verhaal is dat ’n geesbestryder of buurman “tien” geskreeu het en so het die gees tot rus gekom.
Die verhaal van Okiku word in Japan met bordspeletjies, kabuki (’n klassieke dans- en sangteaterspel), poppespel, verhoogdramas en TV-reekse (soos Afro Samurai) uitgebeeld. Die put van Okiku by die Himejikasteel (naby die stad Hyogo) wat in 1613 gebou is, is ook ’n besienswaardigheid vir toeriste in Japan.
Ander verwysings na Japan
Japannese manga
Foto: ’n Figuur geteken in manga-styl
© Niabot. [Creative Commons-lisensie]
Japannese manga is strokiesprente wat oorspronklik in Japan gepubliseer is. Die strokiesprente was aanvanklik slegs in swart-en-wit beskikbaar. Oud en jonk geniet die strokiesprente in Japan en oor die wêreld. Die strokiesprente is later in ander tale vertaal en wêreldwyd versprei. TV-reekse en rekenaarspeletjies waarin die van bekendste animasiekarakters in Dragon Ball, Naruto, Tokyo Mew Mew en Pokémon verskyn, is oral in die wêreld beskikbaar.
Liefde (liefde, romanse en vroulike krygers is deel van die genre, shōjo manga, meestal gemik op meisies), humor en superhelde en ruimtereise (shōnen manga vir seuns tot agtien jaar oud en seinen manga vir mans omdat dié manga soms seksueel eksplisiet is) is die hooftemas in die genre. ’n Mens kry manga in verskeie formate – in tydskrifte, in boeke, in strokiesprente (comics) en grafiese romans. Jy kan ook ’n mangakursus by sekere universiteite voltooi.
Daar is ’n verskil tussen anime en manga. Anime is die animasie van Japannese spotprent of karikatuurtekening (video’s of videogrepe) en manga is tekeninge van spotprente of strokiesprente.
Kalligrafie
Die term “kalligrafie” is afkomstig uit die Griekse taal. Kallos beteken skoonheid en graphe beteken skrif. Dit is dus die kuns van skoonskrif, met ander woorde die skryf van sierletters. Die kuns word met ’n breëpuntinstrument of ’n kwas beoefen. Die kuns word met die hand beoefen en is soms moeilik leesbaar. In die Middeleeue het godsdienstige geskrifte se hoofstukke, of die begin van ’n boek, met ’n besonderse sierskrifletter begin. Westerse kalligrafie het streng reëls en vorme. Elke letter se lyne word in ’n spesifieke volgorde getrek.
Ná die uitvinding van die boekdrukkuns het dié soort kuns geleidelik verdwyn, maar sedert 1850 het die belangstelling in kalligrafie herleef. Dit is eers net as stokperdjie beoefen, maar later het dit in ’n selfstandige kunsvorm ontwikkel.
In hierdie drama leer Marioka San vir Amaja (Ilse) die kuns van kalligrafie.
Foto: Japannese teks wat deur die keiserin Komyo geskryf is. [Publieke-domein]
The Grudge
Die film is gebaseer op die verhaal van die Japannese film Ju-On: The Grudge.
Kayoko Saeki raak verlief op haar kollege-professor en fantaseer oor hom in haar dagboek. Wanneer haar man, Takeo, op die dagboek afkom, is hy woedend. Hy dink sy het ’n verhouding met die professor en vermoor haar. Hulle seun, Toshio, neem die moord waar. Sy pa verdrink hom en die huiskat in die bad en steek hulle liggame in die solder weg. Die gebeure hierna het ’n reeks sinistere moorde tot gevolg weens die gees van Kayoko, Toshio en Naoko, Kayoko se suster.
Nota: Besoek die volgende webtuiste vir ’n lokprent van die film: https://www.youtube.com/watch?v=_SzTW_6_Ec4.
Tsoenami
’n Tsoenami is ’n reeks getygolwe wat veroorsaak word deur ondergrondse aardbewings/grondverskuiwings/vulkane en wat ’n spoed bereik van tot 720 km/h met ’n skadelose hoogte van enkele sentimeters tot ’n verwoestende hoogte van 30 m. [Pharos Verklarende Afrikaanse Woordeboek. Pharos: Kaapstad] “Tsoenami” is ’n Japannese woord wat “hawegolf” beteken. Die invloed van tsoenami’s strek van die oppervlak tot op die oseaanbodem, selfs al is die water kilometers diep. Wetenskaplikes verwys soms na tsoenami’s as seismiese golwe. Die oseaanbodem beweeg boontoe tesame met die water bo-op die bewegende deel. Die oorsaak van tsoenami’s is te wyte aan aardbewings, grondverskuiwings, vulkaniese uitbarstings of ontploffings. In die diep water is dit nie gevaarlik nie, maar dit verander wanneer die golwe naby die kus in vlakker water voorkom.
’n Reeks onegalige golwe veroorsaak wrywing op die seebodem. Die agterste golf in die diepwater beweeg vinniger as die voorste een. Die golf word saamgepers sodat die stadiger snelheid ’n groter golf tot gevolg het. Intussen haal die agterste golwe die voorstes in en dit veroorsaak ’n opeenhoping. In die laaste fase stuur die tsoenami’s op ’n kusgedeelte af en ’n muur van water (vloedbrander) vorm. Voordat die tsoenami die kus tref, trek die seewater terug en visse word sigbaar op die seebodem.
Volgens statistieke is baie waarskuwings oor tsoenami’s vals alarms en dit veroorsaak dat die kusbewoners oorgerus is en onkant betrap word as ’n tsoenami wel voorkom. ’n Tsoenami kan geweldige skade en lewensverlies veroorsaak.
Die 2011-tsoenami in Japan is veroorsaak deur ’n aardbewing wat 9.0 op die Richterskaal gemeet het. Die aardbewing se episentrum was 129 kilometer van die kus van Mijagi af. Die tsoenami het oor ’n afstand van 670 kilometer, al langs die Stille Oseaan se kus van Japan, verwoesting gesaai. Op sommige plekke was die golwe aan die kuslyn 15 meter hoog. Dit het keerwalle en rivieroewers vernietig en die vloedwater het tot 40 kilometer ver in die binneland ingestroom.
Bronne wat elektrisiteit, gas en skoon water voorsien het, is heeltemal vernietig. Ongeveer 160 000 huise, winkels en fabrieke is beskadig of weggespoel. In een stadium het tot 440 000 slagoffers in sowat 2 500 tydelike skuilings, soos skole en plaaslike gemeenskapsentrums, gebly. Baie ander het by familie of vriende gaan bly. Tienduisende mense het gesterf, duisende is nooit gevind nie.
Die skade wat die tsoenami aan die reaktors by die Fukusjima Dairichi Kernkragstasie aangerig het, het wêreldwyd groot opslae in die nuus gemaak. Radioaktiewe straling het oor Japan en ander lande versprei. Duisende mense moes hulle wonings ontruim weens die gevaar van die dodelike straling.
Die Japannese regering het onmiddellik brandweermanne, polisiemanne en lede van die verdedigingsmag van oor die hele Japan na die gebied gestuur. Binne ’n kort tydjie was meer as 130 000 mense by reddings- en noodlenigingswerk betrokke. Mettertyd het ander lande en internasionale organisasies ook hulp verleen. Tientalle reddingspanne, sowel as mediese personeel, het kort voor lank daar aangekom. Hulle het na oorlewendes gesoek, mediese hulp voorsien en opruimingswerk gedoen.
Meer as 15 700 mense het gesterf en ’n kernramp het verdere skade aangerig.
Foto: Die nawee van die tsoenami in Japan © Maryna Bielodied. [Dreamstime.com]
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию