Die mitologiese stad het ontstaan nadat ’n bose towenaar millenniums gelede lewend verbrand het op die plek waar Gotham sou ontstaan. Daar word vertel dat die towenaar die grond met sy bose siel besoedel het. Die gees wat opgewek is, is Dokter Gotham genoem. Die bose gees neem dan besit van die inwoners se siele en veroorsaak diaboliese bedrywighede.
Gotham City word gekenmerk deur alles wat boos is. In die Batman-flieks en Gotham-televisiereeks is daar die helde soos Batman, Tim Drake en Batwoman wat misdaad beveg. Dan is daar die skurke soos die mafiabase en ongure karakters soos The Joker, Harley Quinn, The Ridler, Penquin, Poison Ivy, Two-Face, Scarecrow, Bane en nog ander wat verantwoordelik is vir misdaad, moord en korrupsie.
Daar bestaan verskeie weergawes rondom die geskiedenis van Gotham City. Die mees bekende is dat Noorweegse ontdekkingsreisigers die eiland ontdek het en dat dit later deur Brittanje oorgeneem is. Die infrastruktuur van die eiland is tydens ’n oorlog gedurende die Amerikaanse Revolusie verwoes en later weer opgebou deur die Kane-, Crowne-, Cobblepot- en Wayne-families.
Die Wayne-familie het later grootliks beheer oorgeneem. Die eienaar van Wayne Enterprises en sy vrou word vermoor in verdagte omstandighede. Hulle seun, Bruce Wayne, het die hof se uitspraak bevraagteken en die misdadigers probeer van hom ontslae raak.
Arkham Asylum (die Elizabeth Arkham Asylum for the Criminally Insane) is die naam van die inrigting vir sielsiekes in Gotham. Misdadigers wat voorgee dat hulle nie by hulle volle verstand is nie en tronkstraf probeer vryspring, word na die inrigting gestuur, maar dan word hulle werklik sielsiek as gevolg van die ander pasiënte en die verpleegpersoneel. Dis waarom die Grootvlei Inrigting in My Japan ook bekend staan as Gotham City.
Selfsny
Die term “selfsny” is ’n onderafdeling van selfbesering, wat ten doel het om jou liggaam te beseer deur jouself te krap, te sny of ernstige brandwonde aan jouself toe te dien. Die doelwit van die beserings is nie altyd ’n poging tot selfmoord nie (nonsuicidal self-injury of suicidal self-injury), maar ’n ongesonde manier om emosionele pyn, intense woede en frustrasie te probeer beveg. Die persoon poog om uiting te gee aan gevoelens wat hy of sy nie in woorde kan uitdruk nie.
Hoewel selfsny kortstondige kalmte bied, ervaar die persoon skuldgevoelens en die emosionele pyn keer telkens terug. Dié soort gedrag kan aggressiewer raak en selfs lei tot die dood.
Die oorsake van selfsny is hoofsaaklik emosioneel van aard. Die persoon voel dalk waardeloos, eensaam en paniekerig. Die persoon ervaar skuldgevoelens en verwerping. Die persoon mag dalk sy- of haarself haat en dalk verwarrende gevoelens oor sy of haar seksualiteit hê. Deur hom- of haarself te sny, voel dit vir die persoon hy of sy beheer het oor sy of haar liggaam en lewensomstandighede. Die waarheid is dat hy of sy net een pyn vir ’n ander verruil deur innerlike gevoelens op ’n uiterlike manier te wys.
Simptome van selfsny is onder meer: littekens, vars snywonde, die dra van langmou-kleredrag, gedragsafwykings, ’n hopelose selfbeeld en ’n soeke na identiteit.
Die gedrag lei gevolglik daartoe dat die persoon skaam en skuldig voel. Daar kan ook infeksies in die wonde plaasvind. Permanente letsels word nagelaat en sonder behandeling kan die persoon ernstige gedragsafwykings toon of neig tot selfdood.
Persone wat aan die afwyking ly, moet met iemand praat wat hy of sy vertrou of vir sielkundige behandeling gaan om onverwerkte emosies te beheer en van die oorsaak van die probleem ontslae raak.
Japannese mitologie (Intertekstualiteit)
Japannese mitologie spruit uit Boeddhisme en Sjintoïsme asook volkgelowe in sekere streke van Japan. Daar word geglo dat die eerste gode gedurende die skepping verskyn het en dit word Kotoamatsukami genoem. Later het hierdie sewe generasies van gode, die kami-geeste (Kamiyonanayo), te voorskyn gekom en die hemel en die aarde het toe ontstaan.
Die son speel ’n belangrike rol in die Japannese mitologie en geloof. Daar word geglo dat charismatiese Japannese keisers direkte afstammelinge van die songodin, Amaterasu, is.
Akashita
Akashita (Aka-shita/Aka-jita) beteken rooi mond of rooi tong.
Foto: “Akashita” uit Hyakkai-Zukan deur Sawaki Susshi. [Publieke-domein]
Akashita is ’n misterieuse gees, wat in die vorm van ’n donker wolk verskyn. Hy het skerp naels, ’n harige voorkoms en ’n bloedrooi tong. Die gees verskyn volgens die mite in die somermaande wanneer reën broodnodig is vir die verbouing van landbougewasse. Net die gesig van die gees is bekend, terwyl die liggaam versteek is agter die donker wolke waar hy leef.
Akashita word simbolies gesien as teken van teëspoed en onheil. In Japan is daar waterkanale wat beheer word, sodat al die boere ’n gelyke hoeveelheid water kry vir die verbouing van rys. Tydens droogte kan die bure die vloedhekke oopmaak en die bure se rysland dreineer, wat groot skade en misoeste tot gevolg kan hê. Waterdiewe wat dink dat hulle nooit betrap sal word nie, word volgens die mite deur die rooi tong van Akashita opgeraap en dan nooit weer gesien nie.
Futakuchi-onna
Foto: “Futakuchi-onna” uit Ehon Hyaku Monogatari deur Takehara Shunsen.
[Publieke-domein]
Futakuchi-onna is ’n tipe yōkai (Japannese monster) wat gekenmerk word deur twee monde: ’n normale mond op haar gesig en tweede een aan die agterkant van haar kop onder haar hare. Die vrou se skedel is gesplete en daar is lippe, tande, ’n tong en ’n tweede mond aan die agterkant van haar skedel.
Die oorsprong van die tweede mond word dikwels gekoppel aan hoe min ’n vrou eet. Die vrou gee voor dat sy min eet, maar die tweede mond verorber dubbel die hoeveelheid kos wat ’n normale vrou eet.
Volgens een legende het daar op ’n plattelandse dorp, Fukusjima, ’n suinige, enkellopende man gewoon wat nie ekstra geld aan kos vir ’n gesin wou bestee nie. Hy het ’n vrou ontmoet wat niks geëet het nie en met haar getrou.
Toe sy rysvoorraad skielik begin wegraak, het hy op sy vrou gespioeneer en agtergekom dat sy ’n tweede mond agter haar kop het en dat sy met die tentakels in haar hare die rys verorber. Hy wou van haar skei toe hy dit agterkom, maar sy het van sy plan bewus geraak en wou hom doodmaak. Hy het gelukkig ontsnap en weggekruip waar sy hom nie kon kry nie.
Ilse sien haar ma as Futakuchi-onna, die vrou met die twee monde. In haar geval het die metafoor niks met kos te doen nie, maar wel met die twee persoonlikhede van haar ma, die goeie en die bose. Sy karakteriseer ook vir Mercia as iemand wat te veel praat en niemand kans gee om iets te sê nie, vandaar die twee monde.
Okiku
Foto: Tsukioka Yoshitoshi se afdruk van Okiku uit Shingata sanjurokkaisen. [Publieke-domein]
Die spookstorie van Okiku het verskeie weergawes, maar het wel een ding gemeen en dit is dat daar ’n onskuldige slagoffer is.
Die bekendste verhaal is dié van die diensmeisie, Okiku, wat in diens was van Aoyama Tessan, ’n samoerai-kryger. Hy wou haar sy minnares maak, maar sy het geweier. Hy het toe een van die tien kosbare Delft-borde weggesteek en haar beskuldig van diefstal. In daardie stadium was diefstal in Japan strafbaar met die dood.
Toe Okiku agterkom dat die bord weg is, is sy in trane