Best Books Studiewerkgids: My Japan. Hettie van Zyl. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Hettie van Zyl
Издательство: Ingram
Серия: Best Books Studiewerkgidse
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9781776071555
Скачать книгу

      

      Best Books Studiewerkgids: My Japan

      vir Graad 11 Huistaal

      Saamgestel deur Hettie van Zyl

BB_logo

      Hoe om die studiewerkgids te gebruik

      Die Best Books Studiewerkgids: My Japan is so saamgestel dat jy in Graad 11 die nodige literêre kennis kan verwerf en tot begrip van die drama kan kom. Die gids sal jou help om jou voor te berei vir toetse en eksamens.

      Afdeling A

      Hierdie afdeling bied aan jou agtergrondkennis om jou voor te berei vir die lees van die drama. Belangrike temas wat in die dramateks voorkom, word hier bespreek. Tydens die lees van die drama kan jy dit gebruik as gids om onbekende begrippe te verklaar.

      Afdeling B

      Kort opsommings, verklarings van onbekende woorde en kontekstuele vrae word in dié afdeling aangebied. Die bladsynommers en spreekbeurte verwys na die dramateks wat voorgeskryf is vir Graad 11 Huistaal (HT). Afdeling A en D kan gebruik word as naslaangids om te help met die beantwoording van die vrae.

      Afdeling C

      In hierdie afdeling gaan jy leer hoe om ’n opstelvraag te beantwoord. Die werkkaart/tabel in hierdie afdeling sal jou help om die belangrikste inligting te memoriseer en voorberei om die opstelvraag te beantwoord. Wenke en eksamenhulp word ook hier aangebied. Daar is ’n voorbeeld van ’n opstelvraag en ook tien ander opsteltipe vrae wat jy kan uitwerk. Jy kan belangrike inligting in afdeling A en D naslaan en gebruik in opstelvrae.

      Afdeling D

      Hierdie afdeling se doelwit is om die drama jou te ontsluit en die literêre kennis van toepassing te maak op die drama My Japan.

      Afdeling E

      Gebruik die konsepvraestel vir eksamenvoorbereiding.

      Afdeling F

      Belangrike begrippe is hier kortliks opgesom met voorbeelde uit die dramateks vir vaslegging. Maak seker jy ken die terminologie.

      Die samesteller en uitgewer

      Voorwoord: Schalk Schoombie

      My droom van Japan

      Schalk Schoombie © 22082012 BEELD Kuns Schalk Schoombie Storie: Anna-Retha Bouwer Foto: Nicolene Olckers Foto24/Gauteng

      Uit drome kom daar dikwels inspirasie. In die Bybel lees jy van profete, konings en gewone mense wat visioene en Goddelike boodskappe in drome ontvang.

      Toe ek aan ’n tema en ’n storie wou dink vir ’n jeugstuk, het ek op my studeerkamer se mat op die naat van my rug gaan lê en my oë toegemaak. Ek het my gedagtes vrye teuels gegee, rustig asemgehaal, gedagdroom. Ek was nie vaak nie, net doelbewus na binne gekeer. Waaroor wou ek regtig skryf? het ek myself afgevra. Wat interesseer my diep?

      Voor my gees het beelde geflikker van verre lande. Berge se sneeupieke. Woude, riviere. Ek hou van reis, en ek wil graag meer reis, het ek myself herinner. Dis belangrik om te reis, jou horisonne te verbreed, kennis van ander kulture te kry. Só begin jy jouself beter verstaan. Dít kan ek getuig uit eie ervaring.

      Ek was waarlik in die greep van my dagdroom. Ek het effens nostalgies gedink aan plekke wat ek besoek het: Amerika, Engeland, Skotland, Australië, Zanzibar. Ek het gedink aan plekke wat ek nog wou besoek: die Verre Ooste, Thailand, China, Japan. Ek wou summier my tasse pak en my stapskoene aantrek, my spaarrekening plunder en die pad vat.

      Watter van hierdie lande interesseer en fassineer my die meeste? het ek gewonder.

      Ek het al baie gelees oor Japan se geskiedenis, kulturele gebruike, die natuurskoon van die eilande, die futuristiese stede. En omdat ek hou van vooruitgang en nuwe uitvindings het ek altyd gehunker om Japan te sien, die land waar tradisie en toekomsdrome hand aan hand loop.

      Ek het ook onthou van ’n onderhoud vir ’n vrouetydskrif wat ek gedoen het met ’n jong vrou, Angelique Naude*. Sy het ’n paar jaar lank in Japan gaan onderwys gee. Haar stories was eksoties, vreemd, humoristies.

      Angelique het vertel van die grootmense en kinders wat soveel korter as sy was, wat haar met verwondering aangeraak het. Sy het gewerk in ’n klein bergdorpie ver van die stede. Sy het my vertel van die goeie vriende wat sy daar gemaak het, die mense se werketiek en vriendelikheid. Sy was in Japan ten tyde van die tsoenami en was besorg oor haar vriende wat deur dié natuurramp bedreig is.

      Dis waaroor ek wou skryf, het ek daar op my studeerkamermat besluit. Maar hoe? ’n Storie van ’n Afrikaanse onderwyseres in Japan? Haar ontdekkings en ervarings? Dis tog meer ’n reisbeskrywing en nog geen storie nie.

      My dagdroom het my verder gevoer. Ek het getob oor die grootskaalse verwoesting wat die tsoenami gesaai het, die onbeskryflike verliese wat die mense gely het.

      Was daar ’n manier om ’n tsoenami op’n verhoog uit te beeld? het ek gewonder. Ek het nog altyd as akteur, dramaturg en regisseur geglo dat ’n mens haas enige situasie met ’n raps verbeelding op die planke kan sit.

      Toe ek uiteindelik van die mat af opstaan met die saadjie van ’n tema – Japan en tsoenami – het ek die dagdroom-toestand saam met my geneem na my lessenaar, waar ek die titel op my rekenaar getik het: My Japan.

      Want voordat dit Ilse s’n was, was dit myne. My droom van Japan. My hunkering na die vreemde.

      Ek het probeer om die losse struktuur van my dagdromery oor te dra op die toneelstuk, want jy kan ’n droom immers nie vaskeer in ’n hoek of ’n kategorie nie. ’n Droom het sy eie nielogiese reëls en wendings en verskeie situasies wat tegelyk afspeel. Metamorfoses, maskers en identiteitsveranderings.

      In ’n droom kan jy immers wees wie jy wil – held én booswig, jagter én prooi, slagoffer én redder. Jy help soms skep aan jou eie droom – nes die skryf van ’n spookstorie.

      Ek het begin skryf met ’n enkele visuele beeld in my gedagtes – wasgoed wat aan ’n draad wapper. Dit kan soveel dinge wees: Mense se identiteit kan van hul klere afgelei word. ’n Storm wat aan die broei is. ’n Kind wat tussen die klere verdwaal en skielik net weg is.

      En so het die storie vanself begin ontvou; van Ilse wat droom daarvan om Japan toe te gaan, wat ’n spookstorie probeer skryf waarin sy haar eie verlies en skuldgevoelens probeer verwerk.

      Die spookstorie kon uiteraard nie ’n gewone storie wees nie. Dit moes uiteindelik ’n Japannese tradisionele spookstorie wees. Spookstories en storms is ou vertroudes. Die cliché, “It was a dark and stormy night”, was vir my ’n leidraad oor hoe ek Ilse se soeke na ’n spookstorie kon verbind met die tsoenami.

      Dus, My Japan is ’n droomstuk.

      Dit is die grootste sleutel om die stuk se struktuur en verskillende realiteite wat saamgeweef word te verstaan. Die situasie, plek, storie en karakters het by my ontstaan uit ’n dagdroom waar dinge nielogies saamgevloei het.

      Die hele stuk speel basies af in ’n droomtoestand, in Ilse se onstuimige gemoed, hetsy dagdroom of nagmerrie. Dis die droom waar sy oplossings vir haar jong lewe probeer vind, én haar toekomsdroom waarin sy ontvlug met ’n ander naam en mooi tradisies en selfs ander (beter) ouers; dis die plek waar haar vermoeide ma steeds haar verlore seun soek, waar ma en dogter mekaar oplaas kan vind en versoen raak.

      Want in drome kom alles saam. In drome ontdek ons die moontlikheid van ander plekke en dimensies, soms van ’n beter jy. Enige produksie van My Japan behoort hierdie droom-“werklikheid” uit te beeld, waar dinge soms sin maak, en soms nie.

      Ten slotte lei drome soms tot klaarheid, tot ’n nuwe insig en selfbegrip.

      Tydens die skryf van hierdie toneelstuk wat so naby aan my hart lê, het ek baie geleer oor my eie droom van Japan.

      Eendag, eendag ... wie weet.

      –