Hy glimlag. “Ek dog dan jy hou nie van skilpaaie nie?”
“Nee, maar landskilpaaie is anders. Kan ons eendag gaan kyk?”
Hy lag. Voorwaar, sy is nog ’n kind. ’n Oomblik lank verskyn ’n blonde vrou se gesig voor hom. Maar dan … Hy bekyk die meisie langs hom. Daar is geen vergelyking nie. Nie in die minste nie.
Hy skud sy kop. “Jy tref hulle eintlik net op die een besondere eilandjie aan, en ongelukkig kan ’n mens net met die gety uitgaan. Maar eendag kan ons kyk wat ons kan doen.”
“Hoe groot is hulle werklik?”
“Wel, jy sal seker ’n idee kan vorm as ek sê dat hulle, wanneer hulle volgroeid is, enigiets tussen drie honderd en vier honderd kilogram weeg.”
Karlien lyk nou beslis beïndruk. “Só groot? Ag, ek sou hulle darem graag wou sien.”
Die res van die vlug gaan sonder noemenswaardige voorval verby. Die atmosfeer tussen haar en Julius is gemaklik en ontspanne. Dis net soms, veral wanneer hy haar terg of na haar prille jeug verwys, dat sy haar ietwat vererg. Maar andersins vergeet sy byna dat die vlug nie vir ewig kan aanhou nie.
Julius se stem onderbreek skielik haar gedagtes. “Karlien, die Seychelle is waarlik ’n stukkie van die verlore paradys. Dis of die res van die wêreld met sy hartseer en smart, sy onreg en wreedheid, sy nood en valsheid, sy haat en afguns, ver agtergelaat is – op ’n ander planeet. Dis of daardie dinge klein en van minder belang word; asof dit deel is van ’n ander lewe, ’n ander aardbol. Elke keer dat ek moet teruggaan beskawing toe, kan ek nie gou genoeg terugkeer nie.”
Maar hierdie keer kom hy nie alleen terug nie. Hierdie keer het hy sy vrou saamgebring. Was dit verstandig? vra Julius homself af terwyl die lughawe van Victoria voor hulle opdoem. Was dit die beste oplossing vir jou probleem, of het jy net die probleem oneindig vergroot?
Hy kyk af op die fynbesnede gesiggie wat skaars tot by sy skouer reik. Sy is so jonk, Julius. Wat het jou besiel om haar hierheen te bring, na hierdie tuin van Eden? Is sy nie ’n bietjie jonk nie? Te jonk … vir Eden?
3
Karlien is onbewus van die man langs haar se gedagtes. Haar oë verslind die toneel voor haar. Sy is verras. Sy het nie so ’n goeie lughawe in hierdie afgesonderde wêrelddeel verwag nie.
Toe hulle deur die doeane is, sien Karlien hoe ’n donker man, seker so ’n paar jaar Julius se junior, met uitgestrekte hand nader stap.
“Julius! Welkom terug! Ai, die Seychelle is net nie die Seychelle sonder jou nie!”
“Malcolm!”
Die twee mans se hande sluit stewig inmekaar, en Karlien kan duidelik sien dat daar ’n hegte en innige vriendskap tussen hierdie twee mense is.
“Hoe gaan dit?” vra Julius baie ernstig, maar Malcolm glimlag breed en gerusstellend.
“Baie goed, dankie. Honderd persent vandat jy terug is.”
Julius knik, staan dan opsy en trek Karlien nader. “Kom ontmoet my vrou, Malcolm. My skat, dis Malcolm van wie ek jou vertel het.”
Dis die eerste woord wat Karlien van ’n Malcolm se bestaan verneem, en sy hoop sy laat niks blyk nie. Haar hart ruk by die “my skat” wat so ongeërg uitgespreek word – asof sy tong lankal daaraan gewoond is. Die toneelspelery het in alle erns begin, dink sy met beklemming. Sy kyk op in die vreemdeling se gesig en die verbystering en verslaentheid is so duidelik daarop te lees dat selfs Julius dit hierdie keer nie kan ignoreer nie.
Daar verskyn ’n geamuseerde glimlaggie om sy lippe. “Hoekom so verbaas, my vriend? Ek het jou tog gesê ek gaan hierdie keer ’n vrou terugbring.”
“Ja, maar … Ek het jou nie geglo nie. Ek …” Sy verdwaasde blik dwaal oor Karlien se skraal figuur, die bruin hare wat liggies in die windjie roer, die onskuldige bruin oë. “Ek kan dit selfs nou nie glo nie …”
Julius lag onbekommerd. Net in sy vingerpunte wat ’n bietjie stywer om haar skouerknop span, kan Karlien die spanning in hom aanvoel.
“Ek kan jou verseker ons is wettig getroud!”
Malcolm glimlag verleë en hou dan sy hand spontaan na Karlien uit.
“Vergewe my, mevrou. Hemel, dit klink belaglik. Ek het nog nooit in my lewe ’n vrou minder na ’n mevrou sien lyk nie! Wat is jou naam?”
Jy is reg, dink Karlien benoud, maar dwing ’n glimlag na haar lippe en antwoord: “Karlien. En noem my gerus so. Ek … dink ook nie mevrou pas juis by my nie.”
Malcolm dink natuurlik dis ’n grap. “Nou toe, kom. Die hele spul wag op jou … op julle by die Pirates’ Arms.”
“Maar jy het nog nie vir Essie ontmoet nie!”
“Essie?” Malcolm kyk vraend na Julius en laat tergend hoor: “Nóg ’n vrou?”
Daar is ’n vonkeling in Julius se oë. “Nee. ’n Baba.”
“’n Baba!” Dit lyk werklik asof Malcolm gaan omkap. Hy sien nou eers die babawiegie by Karlien se voete. Malcolm skud sy kop. “Hierdie keer gaan jy my nie oortuig nie, Julius. ’n Baba! Het die wetenskap al so gevorder dat ’n mens kitsbabas ook kry?”
Karlien tree nou tussenbeide. “Moet hom nie so terg nie, Julius. Vertel hoe Essie in die prentjie pas.”
Malcolm skud sy kop onbegrypend. “’n Baba met ’n baba. Julius, as die Seychelle nog nooit iets gehad het om oor te praat nie, gaan hulle hierdie keer genoeg kry. ’n Groter bom kan kwalik op hierdie eiland gelos word.”
Julius se stem klink koel. “Ek kan nie insien wat so vreemd daaraan is dat ek getrou het nie. Dis die doodnormaalste ding. Ek is ’n man soos elke ander man.”
“Nee, jy is nie, en jy weet jy is nie. En jou bruid is beslis ook iets … iets spesiaals. Maar kom, vriende. Ek kan nie wag om by die Pirates’ Arms uit te kom nie.”
Julius kyk hom ontevrede aan. “Is jy nou kinderagtig, Malcolm?” Hy kyk vinnig op sy bruid se bleek gesig af. “Moenie jou aan Malcolm steur nie, Karlien. Hy oordryf.”
“Hm,” laat Malcolm veelseggend hoor en Karlien laat stilswyend toe dat hy eers vir Essie by haar neem en dan vir haar in die motor help. Julius volg met ’n diep frons.
Daar is ’n onrus in Karlien wat amper aan paniek grens terwyl hulle op pad is na die hotel. Sy het ’n voorgevoel dat die toets van haar lewe net om die draai wag, en daar is groot twyfel in haar hart of sy sterk en volwasse genoeg is om dit te deurstaan. Dan voel sy Julius se arm teen hare en sy word ’n bietjie kalmer. Sy is darem nie alleen nie.
Hoewel nie baie groot nie, is die Pirates’ Arms ’n klein juweel van ’n hotel. Karlien kan ’n uitroep van bewondering nie bedwing toe hulle stilhou nie, en Julius kyk geamuseer na haar.
“Wat het jy verwag? ’n Hut van pale en palmblare?”
Sy bloos oor sy tergende verwysing en Julius sê vir Malcolm: “Karlien is onder die indruk dat ons nog baie primitief leef hier. Halfpad hierheen wou sy my weggooi daaroor.”
Malcolm lag hartlik en kyk vinnig na die verleë Karlien. Dan versober sy gesig. Waar sou Julius aan hierdie kind gekom het? Sy blik gaan oor haar kop na Julius en hy ontmoet sy vriend se vraende oë. Julius kyk egter terug met koel uitdaging, en Malcolm besef dat hy niks uit sy vriend sal kry nie. Selfs met hom is Julius nie bereid om sy vrou te bespreek nie.
Hy sal maar, soos die res van die Seychelle, sy nuuskierigheid moet sluk. Daar is vrae wat niemand, nie eens sy beste vriend, aan Julius Schreider stel nie.
Julius se arm is om Karlien se skouers toe hulle die sitkamer van die Pirates’ Arms binnestap. Sy klou Essie vas asof sy krag uit die bondeltjie lewe hier dig teen haar wil put.
’n