Karlien gee haastig pad en hou haar ongeërg by ’n winkelvenster besig toe die man uitkom. Sy hou hom uit die hoek van haar oog dop. Hy is beslis nie die soort man wat jy met ’n huweliksburo sal verbind nie! Hy kom welgesteld voor en is uiters aantreklik. Sekerlik hoef hy nie ’n vrou by Soek-en-Vind te kom soek nie! En tog het hy heeltemal desperaat geklink.
Sy volg hom op ’n afstand en toe hy by ’n knus straatkafee instap, stap sy huiwerig agterna. Sal sy met hom praat?
Sy neem ’n paar tafeltjies van hom af plaas en hou hom dop. Hy bestel tee en sit peinsend voor hom en uitkyk, sy gesig op ’n diep plooi getrek soos ’n man wat baie bekommerd is. Hy lyk streng, amper kwaai, en Karlien byt weer hard op haar onderlip. Sal sy dit waag?
Hy lyk so … so ongenaakbaar, so hard. Hy lyk soos ’n man wat die lewe ken en dit nie te aangenaam vind nie. Wat as hy haar afjak of uitlag? Maar wat van Essie – Essie wat oor ’n week gehaal word? Elsa Richter het gesê dis al manier waarop sy Essie sal kan behou.
“Meneer, ekskuus, meneer …” Haar stemmetjie klink dun en bewerig.
Sy oë was vas op die koppie voor hom gerig en hy kyk gesteurd op.
Karlien se oë is groot en rond en duidelik baie bang. Haar hande bewe merkbaar en sy gryp die stoelleuning vas om haar knakkende knieë te onderskraag. Dit lyk asof sy enige oomblik kan omvlieg en weghardloop. Haar gesiggie is baie bleek.
“Meneer, ek … ek sal met meneer trou.”
’n Oomblik lank sit hy haar net en aanstaar. Hy wend geen poging aan om op te staan nie. “Ekskuus?”
“Ek het gesê ek … ek sal met meneer trou as … meneer wil.”
“Hemel! Dan het ek reg gehoor?” Hy is op sy voete en sy ligblou oë flits soos dolke op haar. “Waar kom jy daaraan dat ek …? Wag ’n bietjie! Jy was netnou by daardie kantoor.”
Sy word so rooi soos beet en laat haar ooglede sak. “Ja. Ek het gehoor. Ek wou nie afluister nie. Ek het voor die deur gestaan en gedink … wat om te doen en toe hoor ek u sê … u het ’n vrou nodig.”
Sy voel sy groot hande op haar skouers en daar skuif genadiglik ’n stoel onder haar in. “Sit, juffrou. Dit lyk asof jy gaan omslaan. Dis niks as jy gehoor het wat ek gesê het nie. Dis nie ’n staatsgeheim nie. Ek het ’n vrou nodig. Móét een binne ’n week kry.” Sy oë priem in hare. “En jy sê jý wil met my trou?”
“Ja, asseblief, meneer. Ek moet ook trou … dadelik trou.”
“O?”
Sy sien sy blik vlugtig oor haar gaan en weer word sy bloedrooi. “Nee, meneer! Dis nie dáároor nie! Ek makeer niks nie … ek bedoel … dis om Essie … om haar te behou.”
’n Geamuseerdheid flits in die kil oë, maar sy sien dit nie raak nie. Daarvoor is sy te benoud en te toegewyd besig om te bid dat die man haar huweliksaanbod sal aanvaar.
“En wie is Essie?”
“Dis my suster se baba. My suster is twee maande gelede oorlede. Sy was in ’n ongeluk, sy en haar man. Dis net klein Essie wat oorgebly het. Nou wil die maatskaplike werkster haar laat aanneem. Ek kan dit mos nie toelaat nie. Sy is dan al wat ek het!” Die bruin oë pleit nou openlik. “Mevrou Elsa Richter het gesê al manier waarop ek haar kan behou, is as ek trou en my man kan bewys dat hy vir Essie kan sorg. Dis regtig al manier …”
“En nou loop en vra jy rond en bont mans om met jou te trou?”
“Nee.” Weer skiet die blos pynlik oor haar gesig. “Dis maar net vir u … Toe ek hoor u het dringend ’n vrou nodig, het ek gedink … ons kan mekaar help.”
Hy sit haar ’n rukkie peinsend en aankyk en Karlien wens dat sy in die aarde kan wegsink.
“Hoe oud is jy?”
“Amper negentien.”
“Dit kan nie wees nie. Jy lyk niks ouer as sestien nie.”
“Ek ís amper negentien,” herhaal sy heftig. “Ek werk al ’n jaar lank.”
“Watter ander familie het jy nog?”
“Niemand nie. Dis net Essie.”
Soos die maatskaplike werkster voel Julius Schreider onwillekeurig ’n ruk aan sy hart. Maar sy gesig en stem verraai niks nie. Hy lyk selfs nog strenger. “Wat is jou naam?”
“Karlien … Karlien Steenkamp.”
“Wel, Karlien, ek waardeer jou … aansoek, of is dit aanbod, maar ek dink nie jy is die aangewese persoon vir die … die betrekking wat ek in gedagte het nie. Jy is nog ’n bietjie jonk en … onervare.” Onder die starende, weerlose blik raak hy die kluts ’n bietjie kwyt. Sy lyk soos ’n straatbrakkie wat ’n onverdiende skop gekry het, dink hy ergerlik. Liewe land, moet so iets ook nog gebeur!
Hy sien hoe die groot bruin oë verdof, die laaste bietjie hoop vervaag.
“O, ek verstaan …”
Hy frons onheilspellend. “Dis net dat jy werklik te jonk is, Karlien. Ek kan jou mos maar so noem, nè? Ek is amper vier en dertig. Ek kon jou pa gewees het!”
Sy knik en soek senuweeagtig na haar handsak. “Dan … stap ek maar weer. Ek is jammer dat ek u lastig geval het, meneer. Dis maar net … Essie. Ter wille van haar …” Sy staan op. “Ek hoop u raak gou geholpe.”
Hy staan ook op en kom vinnig om die tafel. “Waarheen gaan jy nou?”
“Losieshuis toe. Ek moes al daar gewees het. Mevrou Lategan, dis die bestuurderes, kyk net na Essie totdat ek van die werk af kom. Sy wil ook nie meer nie. Sy sê dit raak te veel vir haar. Maar as hulle haar oor ’n week kom haal …” Die stemmetjie raak weg en Julius kyk magteloos op haar neer.
“Ek sal jou terugneem. My motor staan net om die draai.”
“Dis regtig nie nodig nie, dankie, meneer. Ek stap sommer.”
“Ek neem jou terug.” Sy stem laat geen verdere teëpraat toe nie, en oomblikke later word sy die straatkafee uitgelei, sy hand onder haar elmboog.
In die motor sit Karlien so stil soos ’n muis.
“Wat gaan jy nou doen?” vra die vreemdeling toe hy sy motor in die verkeer inswaai.
Oudergewoonte byt Karlien haar onderlip eers vas en antwoord dan gesmoord: “Ek weet nie. Daar is blykbaar niks wat ek kan doen nie.”
“Ek hoop nie jy gaan voort om vreemde mans te vra om met jou te trou nie. Dit kan gevaarlik wees, Karlien. Jy moet my belowe dat jy dit nie sal doen nie.”
“Nee, ek sal nie weer nie,” beloof sy. “Ek sal nie weer die moed hê om so iets te doen nie. Ek was maar net desperaat oor Essie.”
“Ek weet,” sê hy sussend. “Miskien trek jy jou die ding van Essie te erg aan. Jy kan mos nie so ’n groot verantwoordelikheid op jou neem nie.”
Hy weet sy trooswoorde is leeg en beteken niks nie, maar hy voel hy moet iets sê. Hy kyk vlugtig na haar. Genugtig, sy is nog ’n blote kind. Sy behoort iemand te hê wat háár oppas!
“Wat het jy by daardie kantoor gemaak?”
“Ek het gaan hoor of daardie vrou nie dalk van iemand weet wat … wat met my sal trou nie.”
’n Gedempte woord ontsnap sy lippe en hy kyk haar kwaai aan. “Liewe genugtig, kind, besef jy aan watter gevare jy jou blootstel? Daardie vroumens sal haar eie ouma vir ’n paar sent verkoop. Jy bly in die toekoms weg van daardie kantoor af!”
Sy