ENA MURRAY
KEUR 11
Vreemdeling in Eden • Waar die wilde besembos bloei • Altaarvure op Kandavu
Jasmyn
1
Karlien vee soos ’n weerlose kindjie met die rugkant van haar hand oor haar oë.
Die ouer vrou agter die lessenaar se blik verteder en haar stem is minder saaklik toe sy vervolg: “Karlien, jy móét verstaan! Hoe gaan jy vir die kleintjie sorg? Die welsynsorganisasie se belange is eerstens by die kind. Glo my, ek verstaan jou kant van die saak en jy het al my simpatie, maar ter wille van klein Essie is dit beter dat sy vir aanneming beskikbaar gestel word.”
Daar is ’n koppige trek in Karlien Steenkamp se oë. “Maar ek stem nie saam nie, mevrou. Ek is Essie se eie vlees en bloed. Ek is al wat sy in die wêreld oorgehou het … en sy is al wat ek oorgehou het.”
Elsa Richter voel ’n lastige knop in haar keel. Sy weet Karlien probeer nie doelbewus op haar gevoel speel nie. Daarvoor is sy nog te jonk en onervare. Karlien stel bloot ’n feit. Essie het net vir Karlien oorgehou en Karlien het net vir Essie oorgehou. Maar … Elsa sug. Hoeveel tragedies sal hulle nog afspeel tussen die mure van hierdie kantoor van die Kindersorgvereniging? Soms wil jou hart breek, soms voel jy lus om te moor, maar altyd, altyd is daar die hartseer, die weemoed, die hoekom …
As maatskaplike werkster weet Elsa sy mag nie toelaat dat emosie haar verstand oorheers en haar besluite bepaal nie. Daar is lewens, kinderlewens, op die spel. Jy moet nugter dink, nugter besluit … en dis nie altyd so maklik nie. Ook in hierdie geval wil-wil die hart telkens by gesonde verstand oorneem.
Sy kyk na die bruin hare wat los oor die skouers hang, die geboë kop, die neergeslane ooglede. ’n Oomblik lank het sy lus om te sê: Nou goed, Karlien, hou vir Essie. Ons sal ’n plan maak. Op die een of ander manier sal julle seker liggaam en siel aanmekaarhou. Maar dan sê haar verstand: Sy is nog self ’n kind. Nog nie eens negentien nie. Hoe kan sy ooit met haar klein salaris vir haarself en ’n opgroeiende kind sorg? Watter toekoms sal klein Essie hê as sy by Karlien moet bly? Elsa Richter het self ’n dogter so oud soos Karlien, en sy voel innig jammer vir die dapper meisie voor haar lessenaar. Maar sy durf nie toegee nie.
“Karlien, ons het hierdie saak al na alle kante beredeneer, en jy weet dis net onmoontlik. Jy verdien ’n klein salaris, want jy werk nog skaars ’n jaar. Jy sit in ’n enkelkamertjie in ’n losieshuis. Wat gaan jy bedags met die kind aanvang wanneer jy gaan werk? Hoe gaan jy vir julle albei sorg? Jy is nog self so bitter jonk … Nee, kindjie, Essie moet aangeneem word. Ons moet aan háár toekoms dink. Jy kan haar nie behou nie.”
Die bruin oë flits pleitend op. “Is daar géén manier, geen enkele manier, waarop dit moontlik sal wees nie?”
Elsa Richter sug. “Daar is net een manier: as jy trou met ’n man wat kan bewys dat hy vir Essie kan sorg. Dis al. Maar aangesien dié moontlikheid buite die kwessie is … Dis net ’n week voor die einde van die maand. Ek gee jou nog hierdie week grasie, maar oor ’n week kom ek Essie haal. Asseblief, Karlien, moet dit nie vir my moeiliker maak as wat dit reeds is nie.”
Karlien knik stom en staan op. Toe die deur agter haar toegaan, vee die maatskaplike werkster die lastige trane uit haar oë. Arme Karlien … en arme klein Essie.
Karlien staan ’n oomblik buite die deur soos iemand wat die pad totaal byster geraak het. Dan stap sy aan, heeltemal onbewus van watter rigting sy inslaan. Oor ’n week kom hulle Essie haal. Sy kan haar nie behou nie … Sy mag nie … Daar is geen kans, geen moontlike manier nie.
Dan skok sy in haar spore tot stilstand, sodat ’n voetganger teen haar bots en vererg ’n verskoning mompel, maar sy hoor dit nie eens nie. Ja, daar is ’n manier. As sy kan trou … ’n man in die hande kan kry.
Sy voel amper paniekerig by hierdie gedagte. Waar kry ’n mens so gou ’n man in die hande? Sy kyk om haar rond. Mans – grotes, kleintjies, vettes, maeres, langes, kortes, mooies, lelikes – skarrel by haar verby. Baie mans … en sy het een so dringend nodig! ’n Histeriese geluid ontglip haar mond. Sy wonder wat sal gebeur as sy een sommer trompop loop en sê: Meneer, ek het ’n man dringend nodig. Sal u asseblief met my trou?
Haar gedagtes galop soos wilde perde. Sy dink aan die ouens wat sy ken – dié op kantoor en in die losieshuis. Almal is omtrent haar ouderdom. Hulle sal nie vir Essie kan sorg nie, en dís die vereiste. Hulle kan skaars vir hulself sorg. Net haar baas sal vir Essie kan sorg, maar … hy is getroud, al oupa.
Wie dan? Wie dan tog? Daar is niemand anders nie. Maar dis al uitweg, al manier as sy Essie wil behou. Sy moet net trou; sy moet binne ’n week ’n man kry.
Die tweede keer binne ’n paar minute gaan sy botstil op die sypaadjie staan. Iets het haar skielik te binne geskiet. Die talle hoekies vir eensames in die tydskrifte wat so adverteer … Is jy eensaam? Verlang jy na ’n maat? Wil jy sin in jou lewe hê? Geluk in jou lewe? Kom dan na ons. Ons het net die regte maat vir jou. Alle inligting vertroulik.
Sy byt hard op haar onderlip. Sy is nie eensaam nie. Bedags is daar haar werk, en ná werk wag Essie vir haar. Daar ís sin in haar lewe … Essie. Sy verlang nie na ’n maat nie – weet nog skaars wat dit beteken om na ’n maat te verlang. Maar sy het ’n man nodig …
Sy stap die eerste die beste kafee binne en koop ’n tydskrif en ’n koerant. Naarstiglik blaai sy na die advertensiekolomme. Hier iewers moet dit wees. Ja, hier is dit. Soek-en-Vind: buro vir eensames. Haar wysvinger bewe op die adres. Dis net twee strate hiervandaan. Sy sal moet spring as sy hulle nog voor sluitingstyd wil spreek.
Met bonsende hart stap sy enkele oomblikke later die kantoortjie van Soek-en-Vind binne. Dis ’n ouerige vrou wat agter die lessenaar sit, maar sy het haar bes gedoen om dié feit onder baie lae grimering weg te steek.
“Goeiemiddag, meisie. Kom sit. Kan ek iets vir jou doen?”
Karlien sluk en knik tegelykertyd, sak dan dankbaar op die stoel neer.
Die vrou glimlag oordadig. “Kom soek jy ’n maatjie? Ek kan jou honderde gee om uit te kies. Net eers ’n paar besonderhede, asseblief …”
“Asseblief, ek soek nie ’n maatjie nie. Ek … soek ’n man … baie dringend.”
Die vrou se oë rek. Hierdie een is ten minste eerlik! Sy lag kortaf. “Dis eintlik waarop dit neerkom, nie waar nie? Net … ons stel dit darem nie so … so blatant nie, juffroutjie. Jy weet, ’n mens moet baie taktvol wees in hierdie soort situasie.”
Karlien frommel haar sneesdoekie tussen haar bewende vingers op. “Daar is nie tyd vir takt nie, mevrou. Ek móét ’n man hê … op die laatste oor ’n week.”
Die ouer vrou se glimlag verdwyn nou heeltemal en haar blik dwaal speurend oor die skraal figuur.
“Só dringend?”
Karlien sluk en begin halsoorkop verduidelik. Toe sy eindelik stilbly, is die agterdog weg uit die ander vrou se oë.
“Dis baie moeilik, juffroutjie. Jy sien, die mense wat hier aansoek doen, is almal mense wat werklik eensaam is en na ’n lewensmaat soek. Ek kan jou voorstel aan ’n paar, maar of jy daarin gaan slaag om een van hulle te oorreed om met jou te trou, is ’n ander saak.”
Karlien kyk haar teleurgesteld aan en haar hoop sak weg.
Sy besef egter dat sy dwaas was om soveel hoop op haar skielike ingewing te geplaas het. Soek-en-Vind se koördineerder hou darem ook nie mans opgemaak in pakkies in haar pakkamer aan nie.
“Gee my jou adres en telefoonnommer. Ek belowe niks nie, maar ek sal kyk wat ek kan doen.”
Mismoedig stap Karlien ’n rukkie later na die deur. Voordat sy egter aan die deurknop kan vat, is daar ’n klop en die deur gaan oop. Die man staan opsy, en sy stap uit, net ’n vae beeld van hom in haar deurmekaar gemoed. Essie is weer voorop in haar gedagtes. Dan is daar seker maar niks aan te doen nie.
“Ek soek ’n vrou … Ses maande … Bereid om te vergoed en …”
Karlien kom spontaan tot stilstand en spits