“Goed. Ek dink in elk geval nie sy sal my kan help nie. Dié soort wat sy wel sal kan kry, sal ek nie voor kans sien nie. Dit besef ek eintlik.” Sy aarsel en vra dan versigtig: “Maar hoekom het u dan daarheen gegaan?”
Hy glimlag skeef. “Jy is nie al een wat desperaat is nie. Ek is ook redelik wanhopig. Maar vergeet van my. Ek sal wel die een of ander plan kan maak. Maar jy …”
Julius hou voor die losieshuis stil en sien dadelik dat dit nie van die swierigste is nie. Hy wou haar net aflaai, groet, die beste toewens en dan vertrek. Maar nou verander hy skielik van plan en sê ongeërg: “Ek sal graag die kleine Essie wil sien.”
Karlien kyk hom verbaas aan. Hy lyk nie na ’n man wat in vreemde babas sal belangstel nie, maar sy kan niks anders doen nie as om te sê: “Kom saam, dan wys ek haar vir u. Sy is dierbaar.”
Hy volg haar en sien hoe die bestuurderes se oë rek toe Karlien met ’n man in die gang verskyn.
“Essie is stroopsoet aan die slaap,” antwoord sy op Karlien se vraag en kyk nuuskierig na Julius. Karlien gee egter vinnig pad, want sy besef skielik dat sy nie eens die vreemdeling se naam ken nie. Sy is selfbewus toe sy hom haar kamer binnenooi. Sy voel intuïtief aan dat hy baie beter gewoond is.
In die een hoek staan ’n wiegie en Karlien trek die kombersie opsy sodat hy die kleintjie kan sien.
Hy buk en vra sag: “Hoe oud is sy?”
“Sewe maande.”
Toe hy orent kom, lyk haar kamertjie nog kleiner as gewoonlik. Dis of sy groot gestalte al die ruimte opneem. “Karlien, staan jou huweliksaanbod nog?” Sy kan hom net aanstaar, en hy vervolg, sy mond grimmig: “Ek het besluit om dit aan te neem.” Toe sy nog niks sê nie, maar hom net staan en aankyk, sê hy: “Ek kan jou die versekering gee dat ek vir jou en Essie sal sorg.”
“Ek … het nie daaraan gedink nie,” stamel sy en laat haar blik verleë sak. Sy het glad nie aan die finansiële sy gedink nie. Die gedagte dat sy met hierdie man moet trou, was net te oorweldigend.
“Wel, waarvoor is jy bang?” wil hy ietwat ongeduldig weet. Sy ken hom nog nie goed genoeg om te weet dat hy sy ongemak so verberg nie. “Jy help my en ek jou. Dis al.” Dit voel vir haar asof sy oë tot in haar siel brand en weer sprei die rooi gloed oor haar gesig toe hy skielik vra: “Jy is tog nie bang vir my nie? Genugtig, kind, ek kon jou pa gewees het! As jy een oomblik dink …”
Skielik, tot haar algehele en verdere verleentheid, gooi hy sy kop agteroor en lag hartlik. “My liewe Karlientjie …” Hy frommel haar kuif deurmekaar asof sy tien jaar oud is en sy oë is nou vaderlik en vol terglus. “Moenie verspot wees nie, kind. Omdat ek dringend móét trou, beteken dit nog nie dat ek so desperaat is dat ek ’n kuikendief sal word nie! Wat my betref, is jy en Essie ewe oud. Jy het niks te vrees nie. Ek speel werklik nie pop nie!”
Dit voel vir haar asof die aarde haar kan insluk. “Ek het nie gesê …” laat sy met ’n dun stemmetjie hoor, en hy slaan sy arm gerusstellend om haar skouers.
“Nee, ek weet, ek stel jou maar net gerus. Jy het regtig niks van my te vrees nie, Karlien. Ek neem twee weeskindertjies aan. Dis hoe ek die saak beskou. Daardeur help ek myself. Kom sit. Ons het baie om te bespreek.”
Sy laat toe dat hy haar na die divan lei en nou is hy saaklik. Sy gee hom al die besonderhede wat hy wil hê en toe hy eindelik groet, draai haar kop.
“Slaap nou vannag gerus. Dit lyk asof jy nagte laas ordentlik geslaap het. Essie sal nie van jou af weggeneem word nie. Sorg dat jy môreoggend stiptelik elfuur gereed is. Ek sal vroegoggend met jou baas gaan praat. Ons trou eers en dan kan ons na die Kindersorgkantoor gaan. Laat alles aan my oor.”
Sy knik net gedwee en eers toe sy al in die bed is, onthou sy dat sy nie ja of nee geantwoord het nie. Hy het haar geen kans gegee nie. Dan onthou sy dit was oorspronklik háár voorstel dat hulle trou …
Julius het gesê sy moet slaap en al haar kommer en probleme van die afgelope tyd vergeet, want dit is uiteindelik opgelos. Maar sy slaap daardie nag slegter as ooit. Die probleem van Essie is opgelos, maar dalk het sy nou ’n groter probleem vir haarself geskep, dink sy telkens wanneer Julius – en sy besef dat sy nog steeds nie sy van ken nie – se gesig voor haar geestesoog verskyn.
Hy kon nie net in jare haar pa gewees het nie, maar sekerlik ook in lewenservaring. Die beeld wat telkens deur die nag in haar verwarde gedagtes verskyn, is dié van ’n man wat die lewe goed ken; ’n man teen wie sy beslis nie opgewasse is nie. Dan is hy boonop ’n volslae vreemdeling. Weliswaar weet hy reeds alles wat noemenswaardig is van haar, maar sy … sy ken nog nie eens sy beroep of sy van nie. En sy gaan met hom trou! Sy gaan haar lot by syne inwerp; die stuur van haar lewe in sy hande plaas.
Sy besef met beklemming dat dit nou ’n bietjie te laat is om berou te hê. Julius watsenaam sal haar nie toelaat om kop uit te trek nie.
Dan troos sy haarself. Sy het sy woord dat dit bloot ’n sakeooreenkoms is. Hy het haar oortuig dat hy geen amoreuse gevoelens of gedagtes het nie. Dit stel haar in groot mate gerus. Vreemd dat sy sy woord so onvoorwaardelik aanvaar; tog wéét sy intuïtief dat sy hom op sy woord kan neem. Wat meer is, sy weet ook dat sy geensins die tipe is wat hierdie man sal interesseer nie. Nee, hy sal ’n gesofistikeerde, ervare vrou verkies. Nie ’n onbeholpe meisietjie soos sy wat nog skaars haar kinderskoene ontgroei het nie; wat wegkrimp wanneer sy blik kil en ontevrede op haar rus, of soos ’n verspotte bakvissie senuweeagtig met haar hande sit en vroetel wanneer daar ’n stilte in die gesprek kom.
Wat sou hom so skielik van plan laat verander het? Maar daarop vind sy geen antwoord nie, en eindelik raak sy aan die slaap.
Lank nadat Karlien ingesluimer het, staan Julius nog by sy hotelvenster. Wat het my so skielik van besluit laat verander? wonder hy oor en oor. Toe sy voor hom in die straatkafee gestaan het, was hy oortuig daarvan dat sy nie die regte keuse is nie. Maar daarna het dit al meer tot hom begin deurskemer dat Karlien dalk net die meisie is met wie hy behoort te trou. Sy is nog ’n blote kind. Sy sal nie lastige vrae stel nie; nie goed verwag wat hy nie kan gee nie; nie probeer voordeel trek uit die situasie nie. Daarvoor is sy nog te onervare, te onskuldig.
En dís wat hy wil hê: ’n vrou wat net dáár is en dis al. ’n Meer ervare en gesofistikeerde vrou kan hom dalk duur te staan kom. Hy kan met so ’n vrou een probleem oplos en ’n ander, veel groter probleem skep. Maar nie met Karlien nie.
Die volgende dag gaan dit in volle vaart. Stiptelik om elfuur meld Julius hom by die losieshuis aan. Essie word weer in die sorg van die behulpsame, maar o, so nuuskierige Estelle Lategan gelaat. Dan vertrek hulle na die landdroskantoor.
Julius se gesig is weer so grimmig dat Karlien liewer niks sê nie. Sy het ’n eenvoudige roomkleurige baadjiepak aan wat haar geensins ouer of meer volwasse laat lyk nie. Haar aanstaande man let dit op en die hoeveelste keer is daar ’n beklemming in sy binneste. Sy is darem so jonk, dink hy en sug. Laat kom wat wil. Dis my enigste kans om ’n vrou te hê voordat ek oor ’n paar dae vertrek. Maar hoe gaan ek dit regkry om almal te oortuig dat alles pluis is met my huwelik?
“Is daar werklik niemand wat ons van ons … planne moet laat weet nie?”
“Nee.”
Hy kyk haar fronsend aan. “Het jy nie eens ’n kêrel wat sal wonder nie …?”
Karlien bloos verleë. “Nee. Ek was die afgelope tyd so besig met Essie … Daar is niemand nie.”
Van die daaropvolgende ure onthou Karlien maar bitter min. Al waarvan sy werklik bewus was, was van die oomblik toe Julius die breë goue band oor haar vinger laat glip het. Die landdros se woorde en die twee getuies se gelukwensing het by haar suisende ore verbygegaan. Eers toe hulle voor Elsa Richter se lessenaar tot stilstand kom, besef Karlien met ’n skok dat sy sowaar nie haar nuwe van kan onthou nie.
Julius red haar egter uit die penarie toe hy ferm sê: “Ek is Julius Schreider, Karlien se man. In verband met Essie …”