“Karlien! Antwoord my!”
“Ek … ek het ’n bietjie lug kom skep.”
“Dis ’n infame leuen! Ek het ’n man agter jou gesien. Wie wás dit?” Hy ruk haar so ru aan haar boarm nader dat sy byna gil van die pyn. “Of sal ék jou sê? John Roderick is ook al ’n lang ruk nêrens te sien nie.”
Karlien staar hom met groot oë aan. “Jy … dink tog nie … Jy dink ek en … John …”
Sy gesig lyk bleek in die maanlig. “Ek dink dit nie, ek wéét dit!” sis die stem bokant haar en sy voel haar bene onder haar knak.
6
Julius vang haar voordat sy grond raak, ’n gedempte kragwoord op sy lippe. Sy gesig is vreemd grys toe hy in die deur van die groot saal verskyn. Verbaasde oë draai in sy rigting, maar hy sien dit nie raak nie.
Daphne kom dadelik nader. “Julius, wat …?”
“Sy is bewusteloos en sy brand van die koors. Ek neem haar dadelik huis toe. Bel dokter Frederick sommer hiervandaan.”
“Ek sal vir Pappa sê om hom te bel. Ek kom saam met jou.”
Malcolm kom ook vinnig nader, sy oë bekommerd. “Wat is dit, Julius? Wat makeer Karlien?”
“Ek dink sy het sonsteek. Sien jou later.”
Carroll se oë het ’n verwarde uitdrukking. Haar blik rus op Julius se strak, bleek gesig en volg dan sy breë rug.
Daphne het net vir Karlien klaar uitgetrek gekry toe die dokter opdaag. Hy kan egter nie veel meer doen as om salf te gee om aan die brandende vel te smeer en pille om die koors te probeer breek nie.
Toe die dokter verdwyn, laat Daphne saaklik hoor: “Ek sal vannag by haar bly, Julius. Julle mansmense is tog so hulpeloos as dit by siekte kom. Moenie so bekommerd wees nie. Ek sal mooi na haar kyk, ek beloof.”
Hy knik net en dit lyk asof hy nie sy kake van mekaar kan kry om te praat nie. Dan vra hy: “Wat van Essie?”
“Ek sal met ons tuinier se vrou, Alina, reël om in te slaap. Sy het na Essie gekyk toe ons by die dinee was. Alles is onder beheer. Daar staan nog ’n divan op die systoep. Gaan slaap daar.”
Daphne se blik rus bekommerd op Karlien toe Julius eindelik die kamer verlaat. Sy het maar so saaklik en kalm geklink, maar eintlik is sy diep bekommerd. Karlien is werklik baie siek. Sy kan haarself skop dat sy toegelaat het dat sy en John gaan tennis speel. Sy moes van beter geweet het. Die arme Julius, altyd so nugter en kalm in elke situasie, is vanaand soos ’n hulpelose seuntjie. Sy het hom nog nooit só gesien nie.
Laat in die nag begin Karlien yl en roep gedurig na Julius totdat Daphne hom maar gaan roep. Nog voordat sy langs sy bed staan, is hy reeds op sy voete.
“Wat is dit?”
“Sy yl en roep na jou. Ek dink jy moet liewer …”
Hy is klaar op pad kamer toe voordat sy nog haar sin voltooi het. Hy sak langs Karlien neer en Daphne, wat in die deur tot stilstand kom, sien hoe versigtig en teer hy die seer lyfie in sy arms tel sodat sy teen sy bors kan lê.
“Ek is hier, Karlien. Toemaar, slaap nou. Ek is hier by jou.”
“Julius … Julius …” prewel sy met toe oë en hy druk sy lippe teen die warm voorkop.
“Ja, dis ek. Slaap nou, my kleinding. Môre voel jy beter.” Dan kyk hy op. “Ek sal by haar bly. Gaan slaap jy maar, Daphne. Ek sal jou roep as dit nodig is.”
“Nou maar goed. Ek twyfel of ek sal kan slaap. Roep my dadelik as jy my nodig kry.” Daphne draai stil om en verdwyn in die kamer langsaan.
Dis net die Rodericks wat die volgende oggend aan die ontbyttafel verskyn. Dis ook die eerste woord wat John van al die ontsteltenis van die vorige nag hoor.
“Maar waar was jy dan?” wil sy suster weet.
John se gesig is skielik bot en sy oë ontwykend. “Ek het sommer ’n entjie gaan ry en eers laat by die huis gekom. Almal was al in die bed. Ek weet van niks nie.” Sy blik keer bekommerd terug na sy suster. “Jy sê sy is darem beter vanoggend?”
“Ja. Die koors het gelukkig gebreek. Sy het rustig geslaap toe ek netnou daar ingeloer het.” Daphne se blik rus speurend op haar broer. “John … Waarheen het jy gery daardie tyd van die nag en hoekom?”
“Hoekom nie?”
Daphne is ’n oomblik stil. Dan sê sy: “Jy is verlief op haar.”
John aarsel, kyk dan op, sy oë uitdagend. “Goed. Ek is. Wat daarvan?”
Sy frons liggies. “Sy is getroud.”
Sy mond trek grimmig en die jong gesig lyk skielik ouer. “Dít, my liewe suster, weet ek reeds. Nog iets?”
“Maar dis so futiel … so … Daar is geen toekoms in nie, geen hoop …”
“Wie sê so?”
Nou frons sy skerp. “Wat bedoel jy?”
John sug en speel met die vurk tussen sy vingers, sy oë strak op die tafeldoek gerig. Dan kyk hy weer op. “Daar is iets nie pluis met Karlien en Julius se huwelik nie. Ek kan nie my vinger op die fout lê nie, maar iets is nie reg nie.”
“Ek weet wat jy bedoel. Ek het ook so gedink – tot gisteraand …” Die kommer in sy suster se oë verdiep.
“Wat het gisteraand gebeur?” vra hy vinnig en dis nou sy wat fronsend voor haar op die tafel vaskyk.
“Nie veel nie, en tog … In haar ylende toestand het Karlien aanhoudend na Julius geroep en eers toe hy by haar was, het sy bedaar. En Julius was absoluut siek van bekommernis oor haar. Jy kon dit duidelik sien. En die wyse waarop hy haar teen hom vasgehou het, haar op die voorkop gesoen het, hoe sy oë gelyk het toe sy so ylend na hom geroep het, het boekdele gespreek.”
Sy ontmoet haar broer se ongelowige oë. “Dis waar, John. Ek kon dit self skaars glo. Tot dusver het ons almal geglo dat Julius so behep is met Carroll dat geen ander vrou ’n kans het nie. Ons almal het gegis en gewonder toe hy so onverwags met sy bloedjong vroutjie opdaag. Maar ek begin nou wonder of ons nie heeltemal op ’n dwaalspoor was nie. Ek is oortuig daarvan, ná gisternag, dat Julius baie vir Karlien omgee …”
“Goed en wel, maar wat van Karlien? Dis nie te sê as jy in jou bewusteloosheid na iemand roep, dat jy noodwendig op daardie persoon verlief is nie. Karlien tree nie soos ’n verliefde bruid teenoor Julius op nie, Daphne …”
“Ja, dit gee ek toe, maar … John, ek wil nie hê jy moet moeilikheid maak nie. Jy gaan Karlien nie probeer beïnvloed nie, verstaan my nou baie goed. Sy is met Julius getroud en jy het niks met haar te make nie.”
Broer en suster kyk mekaar strak aan.
“Jy sê dit asof dit net ’n kraan is wat ek kan toedraai,” sê John sag. “Jý van alle mense, Daphne. Hoe kry ’n mens dit reg? Kan jy liefde soos ’n draad afknip omdat jy weet daardie persoon is getroud? Hm, sus?”
Daphne verbleek. “Hoe durf jy …?”
“Stadig nou, my sussie. Ek probeer nie snaaks wees nie. Ek probeer ook nie katterig wees of jou geheime uitblaker nie. Die feit bly net dat wat jy van my vra, onmoontlik is. Ons weet dit albei, nie waar nie, Daphne?”
Hy staan op en gooi sy servet op die tafel neer terwyl sy blik op sy suster se geboë kop rus. “Wat sou die Roderick-voorvaders gesondig het dat ons so gestraf moet word? Hoekom kan ek nie op een van die meisies wat ek ken, verlief raak nie? En jy … Jy is ’n pragtige meisie, sus. Ek weet jy het al ’n hele paar huweliksaansoeke gehad … Ons is albei dwaas, Daphne – en ons kan daar niks aan doen nie. Ons sal jaar in en jaar uit so