Ena Murray Keur 11. Ena Murray. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Ena Murray
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Эротическая литература
Год издания: 0
isbn: 9780624080053
Скачать книгу
ek moet hou en van wie nie. Jy het ’n stuk papier gekoop, nie vir my nie.

      Toe die jeep skielik tot stilstand kom, vra sy verbaas: “En nou?”

      “Die pad eindig hier. Ons gaan te voet verder. Kom.”

      Karlien gehoorsaam. Julius stap voor en hy moet varings, boomvarings en tropiese slingerplante wat soos ’n gordyn bokant hul koppe hang telkens met geweld voor hulle wegvee sodat hulle kan deurkom. Die klam grond onder hul voete is begroei van die mos en net hier en daar kom ’n sonstraal deur die blaredak en verlig die groen hart van die oerwoud. Dis alles ’n bietjie oorweldigend, dink sy. Sy het nie geweet dat daar nog sulke plekke op die aarde bestaan nie. Dis werklik asof sy haar in ’n hoekie van die oorspronklike Paradys bevind. Dan staan Julius opsy en laat haar tot langs hom kom.

      Hy wys met ’n vinger na die groot, groen vrugte wat onder die groot waaiervormige blare teenaan die stamme sit. “’n Vollengte coco de mer, wat ook die vrug se naam is, weeg omtrent agtien kilogram. Dit neem sewe jaar om ryp te word.”

      “Maar hoekom word dit nou juis die verbode vrug genoem?”

      “In die Middeleeue was die oorsprong van hierdie vrug – wat, terloops, die grootste boomvrug in die wêreld is – in die grootste geheimsinnigheid gehul. Soos die vrugte ryp geword het, het hulle in die see beland en op vreemde, verre strande gaan uitspoel. Niemand het geweet waar hulle vandaan kom nie. As gevolg van die misterie wat hierdie vrug omgewe het, het allerhande gelowe en bygelowe daaromheen ontstaan. Prinse en hooggeplaastes het fantastiese pryse daarvoor betaal. Die binneste jelliedeel is beskou as ’n baie sterk liefdesnektar. Toe die eiland egter ontdek is, en daarmee ook die oorsprong van die coco de mer, is die geheim opgeklaar. Tog bly die coco de mer, die verbode vrug van Eden, iets besonders.”

      Hy sê dit spottend en sy kyk vinnig weg. Bokant hul koppe is daar skielik ’n gekras en hy wys met sy vinger.

      “Daar! Sien jy hom? Dis die swart papegaai van Praslin. Ook die enigste plek op aarde waar jy hom inheems aantref.”

      “Dit lyk my hierdie eiland is iets besonders. Hoekom sal nou juis net op hierdie stukkie aarde ’n boom en ’n vrug groei wat jy nêrens anders in die wêreld aantref nie? En nou het dit ook sy eie spesiale soort voël wat nêrens anders op die aarde gevind word nie. Eienaardig, nè …?”

      Julius knik. “Dit het al baie geleerdes laat kopkrap en die geheim is tot vandag toe nog nie opgelos nie. Gordon het vas geglo dat Praslin ’n stukkie van die oorspronklike Paradys is wat oorgebly het.” Sy blik dwaal oor die reuse voor hom.

      “Aan wie behoort die vrugte nou eintlik?”

      “Aan die regering. Ons maatskappy se grond eindig waar die jeep staan. Ons moet liewer nou terugdraai. Dis reeds laat.”

      Met hul terugkeer by die huis, sit Daphne en John Roderick hulle op die stoep en inwag. Terwyl hulle nog buite hoorafstand is, sê Julius half binnensmonds: “Hulle sal seker by ons oornag. Dis reeds te laat om terug te gaan na Mahé. Wonder wat kom soek hulle hier?”

      Karlien kyk vinnig na hom. Hy klink beslis nie baie bly om Daphne Roderick te sien nie, en dit troos darem ’n bietjie. Dan kom sy tot stilstand en kyk hom ontsteld aan. “Maar … hoe gaan ons slaap? Daar is net een spaarkamer!”

      Hy glimlag skeef. “Teen wil en dank sal jy vanaand jou kamer met my moet deel.” Hy sien haar oë rek, en vervolg gedemp: “Jy sal verplig wees om my te vertrou. Onthou … die verbode vrug is net eetbaar wanneer dit ryp is … en jy is nog te jonk, kindjie!”

      Die bruin oë blits hoewel daar ’n breë glimlag om haar lippe speel ter wille van die toeskouers. “Natuurlik is ek nie bevrees nie, nie terwyl daar genoeg ryp – of selfs oorryp – verbode vrugte in jou tuin van Eden groei nie.”

      Die hoeveelste keer daardie dag kyk hy haar verras aan. Dan gooi hy skielik sy kop agteroor, lag hartlik en slaan terselfdertyd sy arm om die niksvermoedende Karlien.

      “Miaau!” sê hy saggies in haar oor en dan is hulle by die stoep.

      John Roderick kom met ’n breë glimlag nader. Daphne sit hulle fyn en bestudeer. Karlien voel dadelik weer hoe die spanning in haar oplaai. Dis byna onmoontlik om ’n verliefde vrou ’n rat voor die oë te draai. Wat het Daphne Roderick so gou hier kom soek? Het sy ook haar agterdog oor Julius se huwelik en het sy gekom om seker te maak of haar agterdog gegrond is? Karlien byt op haar onderlip. Een ding is seker. Sy gaan daardie vergoeding verdien. Dis nie altemit nie!

      Sy kyk op in John Roderick se gesig en voel intuïtief aan, soos met Malcolm, dat hier iemand is vir wie sy nie in haar pasoppens hoef te wees nie. “Dis ’n verrassing, John,” sê sy daarom spontaan.

      “Ja. Ek het vir Julius vorms gebring wat ek hom beloof het.”

      “O? Dankie! Dit was nie so dringend nie, maar … gaaf van jou. Welkom, Daphne. Julle bly natuurlik vannag oor.”

      Daphne glimlag effens in haar broer se rigting en knik. “Dankie, Julius. John het gehoop jy sal ons nooi.” Sy lag toe haar broer haar verwytend aankyk. “Hy wou homself kom vergewis dat hy gister reg gekyk het.”

      Julius kyk vraend na die jonger man, maar dis weer sy suster wat laggend antwoord: “Jou vroutjie het blykbaar ’n baie diep indruk op my kleinboet gemaak. Jy sal moet oppas, Julius!”

      John raak bloedrooi en sy stem klink vererg. “Daphne praat twak. Moet julle nie aan haar steur nie. Jy het ook nie veel oorreding nodig gehad om saam te kom nie, of wat sê jy, my liewe ousus?”

      Daphne se glimlag verstar en dis Julius wat vinnig tussenbeide tree.

      “Wat die redes ook al is, ons is bly om julle te sien. Hoe lyk dit, my skat? Is daar iets koels in die yskas?”

      “Natuurlik.” Karlien is bly om van die geselskap te ontsnap. “Ek gaan gou iets haal.”

      “Ek sal saamkom en help dra.” John volg sonder toestemming. In die kombuis sê hy huiwerig: “Jy moet jou nie aan my suster se praatjies steur nie, mevrou. Sy is eintlik ’n baie gawe mens. Ek weet nie wat haar deesdae makeer nie. Sy kan soms sulke onsinnige, selfs bitter dinge kwytraak.”

      Karlien kyk op. Ja, John sal nie verstaan nie, maar sy wat ook ’n vrou is, kan begryp. Ja, sy kan begryp hoekom Daphne Roderick soms bitter raak …

      “Jy maak ’n berg van ’n molshoop. En noem my asseblief Karlien. Jy laat my stokoud voel met jou gemevrouery en ek is seker ek is jonger as jy.”

      Hy glimlag verlig en sy oë is openlik bewonderend. Gelukkig sien Karlien dit nie, want sy is besig om in die yskas rond te vroetel.

      “Dankie, Karlien. Mag, jy is darem die beste ding wat in jare met die Seychelle gebeur het!”

      Sy kyk verbaas op. “Wat praat jy?”

      Hy glimlag breed, ingenome. “Dis lekker om iemand van my ouderdom te hê om mee te gesels. Die ander ou klomp is so oud en …” Hy bly verleë stil toe haar hartlike lag opklink. “Ek is jammer. Ek het nie bedoel om … ek bedoel, Julius is darem nie … ek meen …”

      Sy skud haar kop en skater van die lag. “Laat maar staan, John. Jy maak dit al erger! En jy moet liewer nie dat die ander ou klomp jou só hoor praat nie. Hulle hang jou sowaar nog aan ’n coco de mer op!”

      Buite op die stoep verstil die geselskap ’n oomblik toe Karlien se hartlike lag die tweede keer opklink. Daar is skielik ’n diep frons tussen Julius se wenkbroue asof die geluid hom nie aanstaan nie. Op Daphne Roderick se gesig verskyn ’n tevrede glimlaggie.

      “Jy sal vir Karlien en John moet gaan sê hulle moet nog glase bring, Julius. Hier kom Malcolm en Carroll ook aan.”

      5

      Toe Karlien en John uitkom op die stoep, het Malcolm en Carroll hulle reeds tuis gemaak.

      “En toe, kleintjie, hoe smaak die verbode vrug?” laat Malcolm ná ’n rukkie plaend hoor.

      “Ek het mos beloof ek sal