Karlien kyk kalm terug terwyl haar hart tamboer teen haar ribbes speel. Kalm bly, Karlien. Moenie dat sy daarin slaag om jou uit te lok nie. “Nee, ek vertrou my man.”
Carroll se hartlike lag klingel met die stoep langs. “O, werklik, Karlien! Hoe naïef! Maar jy sal nog agterkom dat ’n mens hier in die trope geen man kan vertrou nie.”
Karlien kyk haar met opgetrekte wenkbroue aan. “Wat het die trope nou juis daarmee te doen?”
“Omdat alles hier nader aan die oppervlak is, alles groter en sterker is as op die res van die aardbol. Die skilletjie vernis dop maar gou af in die gloed van die ewenaarson. Die mens se primitiewe emosies, die dierlike drange, beur hier gouer na bo; is hier sterker, meer onbeheerbaar as in die res van die wêreld. Miskien sal jy nie nou verstaan waarvan ek praat nie. Nee, ek dink nie jy sal nie. Jy is nog ’n bietjie jonk vir Eden.”
Karlien kyk onverskrokke terug in die spottende oë. “In daardie geval hoop ek dat ek te jonk bly, want die Eden wat jy nou skilder, is nie mooi nie.”
“Miskien nie mooi nie, maar … baie interessant, Karlien. En juis vanweë die verbode vrug wat daarin groei. Het Julius jou al daarvan vertel?”
“Nee. Jou man het.”
Carroll lag kortaf. Daar is minagting in die geluid, en Karlien voel ’n innige jammerte vir Malcolm Day in haar hart. Sou hy weet watter soort vrou Carroll regtig is?
Op daardie oomblik huil klein Essie en Karlien voel skoon verlig. Tot haar ontsteltenis volg Carroll haar egter en terwyl Karlien met die kleintjie werk, staan sy stilswyend en toekyk. Haar blik rus lank op die tweede bed in die kamer wat so duidelik nie in gebruik is nie.
“Ek stap eers weer, Karlien. Kom gerus oor en gesels ’n bietjie wanneer jy so voel.”
“Dankie. Maar wil jy nie eers iets drink nie? ’n Koue drankie of so iets?”
“Nee, dankie. Ek moet nou gaan. Ek … weet nou wat ek wou weet.”
Karlien kom fronsend orent. Wat sou sy bedoel? Dan volg sy die ander se blik na die tweede bed en skielik weet sy. Sy verbleek effens en waar sy die krag vandaan kry om onverskrokke en trots terug te kyk, weet sy nie.
Met ’n sagte laggie verlaat Carroll die kamer en Karlien voel hoe haar naels in haar handpalms vreet. Daardie vroumens … Daardie slang!
Karlien byt weer haar onderlip vas. Blykbaar het Julius vir Carroll nie in sy vertroue geneem oor die ware toedrag van sake nie. Sy kou peinsend aan haar onderlip. Het die situasie te delikaat begin word en is dit daarom dat Julius met haar getrou het? Het hierdie geheime verhouding vir Julius onhanteerbaar geword en wil hy hom nou deur ’n skynhuwelik daaruit loswikkel? Het hy gedink dat hy, deur ’n vrou saam te bring na Praslin, ’n demper op Carroll Day se planne sal kan plaas?
Haar blik dwaal na buite waar die tropiese natuurskoon soos ’n meesterskildery in die vensterraam lê. Dit is voorwaar ’n klein paradys, maar … dis nie ’n egte Eden nie. En dis die bewoners van Eden wat dit vals maak.
Karlien voel vrees in haar binneste roer. Carroll Day was in die kol. Sy ken nie bedrog en dierlike hartstog, skynheiligheid en valsheid nie. Sy is ’n vreemdeling hier … En sy wil hul Eden nie van nader leer ken nie.
Maar reeds is sy besig om kennis te maak daarmee, deel daarvan te word. Reeds begin sy vreemde emosies, tot dusver aan haar totaal onbekend, ervaar. Reeds begin sy leer om te haat, die eerste stekies van jaloesie ervaar. Sy begin dinge doen wat vreemd aan haar aard is; dinge dink wat haar nie tot eer strek nie.
Hoe het Carroll gesê? Die dun lagie vernis dop vinnig af in die gloed van die ewenaarson. Ná net een dag begin sy swak plekkies in haar vernislagie opmerk, plekkies wat al groter sal word totdat dit die rou oppervlak blootstel.
En Karlien is skielik bang … bang vir hierdie Eden waarin sy beland het.
Toe Julius laat die middag tuis kom, doen Karlien haar bes om vriendelik en gewoon teenoor hom op te tree. Sy het haarself oor en oor verseker dat sy hom beslis nie weer die kans sal gee om haar daarvan te beskuldig dat sy haar inmeng nie. Sy is ’n vreemdeling hier en dít, het sy vasberade besluit, sal sy bly. Kom wat wil, laat Carroll Day sê en insinueer wat sy wil, laat Julius doen wat hy wil, dit gaan haar nie skeel nie. Oor ses maande is sy weg. Sy is net ses maande lank ’n getroude vrou – teen ’n goeie vergoeding. Dis al.
“Ek gaan netnou ’n bietjie deur die plantasies ry – het jy lus om saam te kom?” nooi hy vriendelik, sy onweersluim van vanoggend gesak.
“Ek sal graag wil gaan, maar wat van Essie?”
“Ek sal vir Sumong vra of sy vrou nie ’n ogie oor haar kan hou nie. Jy hoef nie bekommerd te wees nie. Sumong is die trotse pa van agt kleingoed; Alina sal wel weet wat om te doen as die kleintjie lastig word.”
Karlien gaan met ’n geruste hart saam met Julius en geniet dit terdeë. Bokant hulle troon die kokosneutplantasies en onder groei die wilde trope in al sy weelde.
Op pad kom hulle Malcolm teë tussen ’n klomp werkers waar hulle kokosneute pluk. Julius hou stil. Albei mans is in kort kakiebroeke en -hemde geklee, met breërandhoede op hul koppe. Malcolm kom glimlaggend nader en sy blik rus vriendelik op Karlien. Sy glimlag breed terug. Sy hou van hierdie man. Daar is niks agterbaks en vals in hom nie. Tot dusver was hy ook die enigste mens hier op Praslin wat haar nie soos ’n vreemdeling laat voel het nie.
Op sy beurt dwaal Malcolm se blik vlugtig oor sy vriend se vrou en weer voel hy die ongeloof in hom opstoot. Liewe land, sy is darem jonk! Miskien nie so erg in jare nie, maar die uiterlike voorkoms, die onskuld in die bruin oë, laat ’n mens dink dat sy nog jonger as haar amper negentien is. Karlien het ’n T-hemp en kortbroek aan, met fleurige sandale. Haar lang hare is in ’n los vlegsel saamgevat en vasgebind met ’n serp vol kleurspatsels. Soos sy daar langs Julius sit, die gesiggie blink en sonder grimering, lyk sy kompleet soos ’n tiener.
“Hoe gaan dit hier?” vra Julius en Malcolm knik terwyl hy sy hoed agtertoe skuif.
“Heeltemal goed. Waarheen is julle op pad?”
“Ek wil vir Karlien die coco de mer gaan wys.”
“O!” Hy draai na Karlien. “Die verbode vrug! Is dit wenslik, my vriend?”
“Wat bedoel jy?” vra Julius ietwat verward.
“Hulle sê mos as ’n mens eers een keer die verbode vrug geproe het, kan jy nie daarvan wegbly nie.”
Karlien glimlag vir sy grappie, maar Julius vind dit blykbaar nie snaaks nie. Hy het skielik ’n ergerlike frons tussen sy wenkbroue.
“Moenie verspot wees nie, Malcolm!”
Karlien glimlag ekstra vriendelik om te vergoed vir Julius se kortaf houding. “Ek dink nie daar is eintlik gevaar nie, Malcolm. Ek beloof ek sal net kyk, nie proe nie!”
Malcolm gooi sy kop agteroor en lag hartlik. Dan trek hy plaend aan haar vlegsel. “Ek begin so stadigaan agterkom hoekom Julius met jou getrou het, meisietjie.”
Julius se stem is uitermate koel. “So?”
Maar Malcolm skud sy kop, sy blik nog steeds op Karlien. “Lyk my jy ken self nog nie die rede nie, my vriend. Tot wederom. Dit begin nou laat raak.”
Karlien waai vriendelik toe hulle vertrek, maar Julius se oë is strak op die nou paadjie gerig.
“Jy en Malcolm kom blykbaar baie goed klaar,” merk hy styf op. “Julle het mekaar blykbaar sommer uit die staanspoor gevind.”
Karlien kyk hom fronsend aan. Aangesien Malcolm sy boesemvriend is, behoort hy mos bly te wees dat sy vrou goed met hom oor die weg kom. Maar blykbaar staan dit hom nie aan nie. Sy sug. Julius Schreider is beslis ’n komplekse wese en sy sal, met haar gebrekkige mensekennis en lewenservaring, nie eens probeer om hom te peil nie. Sy is beslis ook minder vriendelik toe sy antwoord: “Ek hou baie van Malcolm. Hy is ’n gawe man.”
Sy