Mispa. Helena Christina Hugo. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Helena Christina Hugo
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796319708
Скачать книгу
hul enigste kind loop. Hester se lewe lyk vir Caroline gelukkiger as haar eie.

      Maar is sy gelukkig? Caroline weet nie meer nie.

      Sy voel darem beter noudat sy geëet het en wil opstaan om haar op te knap toe iemand aan die deur klop.

      “Kan ek inkom?”

      Susanna klink so vrolik soos ’n vink, maar mislikheid gryp Caroline aan die keel toe die deur oopvlieg en sy na binne trippel. “Hoe gaan dit met jou?”

      “Goed.”

      “Het jy gerus of pla die geselsery jou?”

      “Ek hoor niks.”

      “Ons kuier só lekker!”

      “Ek is bly.”

      “Kan ek sit?”

      Sy wag weer nie vir ’n antwoord nie, maar maak haar tuis op die bankie voor die spieëltafel. Toe kan sy die versoeking nie weerstaan om haar eie gesig te bewonder nie, hier en daar ’n haarlok reg te druk, met haar vinger oor haar bolip te vryf en dan dieper in die spieël te staar.

      “Ek sien jou sit!” roep sy uit. “Jou arme ding, jy lyk opgeblaas, ek meen ongemaklik.”

      Dis vanselfsprekend. Caroline voel ongemaklik, maar opgeblaas!

      Susanna lig die haarborsel en bekyk dit. “Ek kan jou help om jou hare netjies op te maak.”

      “Dis nie nodig nie, ek kan nog self.”

      “Nes jy wil. Ons mis jou teenwoordigheid op die stoep.”

      “Ek was so moeg ek dag ek kom lê ’n rukkie, toe …”

      “Toe ek op my laaste was met Elsje was ek so moeg ek kon skaars op die bed klim om te rus. Gelukkig het ons vir Mary gehad om die huishouding waar te neem. Deesdae raak sy so stadig, ek wil vuur maak onder haar. Jan Adriaan sê ek moet haar laat loop, maar ek wil nie. Een goeie ding van haar is – sy is eerlik en eerlikes is skaars. Jy kan nie glo hoe my vriendinne besteel word nie. Alles moet toegesluit word en dis so lastig. Mary het nog nooit soveel as ’n speld gevat nie. Sy dra die sleutels, nes jou Doelie. Waar kry jy nog swartes soos hulle?”

      “Doelie is geel, sy is Griekwa.”

      “Wat ook al. Ek kan hulle in elk geval nie hanteer nie. Jy moet volgende keer Kimberley toe kom vir jou bevalling. Ons het nou opgeleide vroedvroue wat weet wat hulle doen. Suster Stockdale is ’n juweel, maar die tweeling het jou seker al vertel. Jammer een van hulle kan nie hier wees nie, ingeval jy op Kersdag kraam. Hoekom het julle nie met hulle afgespreek nie?”

      “Dis nie nodig nie – ouma Sêrah is hier.”

      “Sy is horingoud!”

      Caroline maak vuis tot haar naels gate in haar palms druk. Sy wil opspring en Susanna se mond vir haar toestop. Sy wil aanval, maar sy is op die verdediging. “Ek is gewoond aan ouma Sêrah.”

      “Jy moes maande gelede al Kimberley toe gekom het.”

      “Wat word van my huishouding?”

      “Jou huishouding sou net mooi niks oorgekom het nie. Genade, die bediendes val omtrent oormekaar soos hulle werk soek om te doen. Jy’t dan tot twee kinderoppassers!”

      “Dis net Doortjie.”

      “Dan het sy vandag geselskap. Wat ek nie kan verstaan nie, is dat Willem Daniël soos ’n slaaf laat werk, terwyl hy oorgenoeg arbeiders in sy diens het.”

      “Daniël wil werk.”

      “So hard dat hy nog nie sy gesig kom wys het om sy familie te groet nie? Anna Catharina het so uitgesien na die kuier, ek moes vir haar drie nuwe rokke koop en hy is nêrens.”

      “Hy sal wel môre saam met ons aansit.”

      “Ek hoop so, anders is my kind se hart gebreek.”

      “Hulle is familie, Susanna, hulle is neef en niggie.”

      “Maak dit saak? Neefs en niggies kan met mekaar trou.”

      “Nie in hierdie familie nie.”

      “Jy en Willem is getroud.”

      “Ja, en twee van ons kinders is kreupel.”

      “Twee uit ses – en dis nie asof hulle nie kan loop nie. By ons in Belgravia is daar mense met ’n dogter wat nie haar kop kan oplig nie. Hulle vat haar oorsee na Engeland, Frankryk, Duitsland, oral. Die hele wêreld se dokters kan niks vir haar doen nie. Dis die loon van die sonde, sê ek vir jou, God straf. Sal nie sê waar ek dit hoor nie, maar dis algemene kennis dat die pa sy geld met smokkeldiamante gemaak het. Dink jy ek moet my hare hoër opkam? Ek hou van die nuwe style, wys jou nek mooi af.”

      Caroline wil skree, maar sy doen dit nie. Sy knik met haar kop asof sy saamstem en vra liefies. “Skoonsus, doen my ’n guns. Vat die skinkbord af kombuis toe en vra vir Siena sy moet vir my vars waswater bring, ek wil was en skoon aantrek.”

      Susanna stoot haar moue op asof sy haar gereed maak om brood te knie. Sy tel die skinkbord op. “Kom jy af as jy klaar is?”

      “Ek sal sien hoe ek voel.”

      Caroline kyk haar agterna. As daar ’n hel vir haar wag, is dit om ’n kamer te deel met Susanna Basson en nooit van haar geselskap verlos te word nie.

      Here, hoe smag ek daarna om alleen gelaat te word met my gedagtes. Ek wil in vrede luister na die oggendvoëls in die peerbome of reent op die dak, rustig wag vir die besoek van u hemelwesens en u genade. Wis my uit en teken my oor, ek smeek U.

      Die kind rek hom uit. Caroline maak haar oë oop en kyk na sy bulte en knoppe. Hierdie een sal leef of nie leef nie en daaroor het sy geen beheer nie.

3949.jpg

      Willem wag tot almal tot rus gekom het voor hy die trap opklim. Hy het sy stewels geborsel en gepoets, dra dit in die een hand en loop saggies. Die kuiergaste was uitputtend en hy verwens Caroline omdat sy dit reggekry het om weg te kruip. Hester wat alles begin het, was heeldag in die kombuis, Daniël het steeds nie teruggekom nie en Jan Adriaan sit en lieg oor sy moeilike jeug. As daar een mens is wat van swaarkry kan getuig, is dit hy wat Willem is en hy moet sy tong vasbyt en met sy tande om sy pypsteel klou om nie sy mond oop te maak en die waarheid te praat nie.

      Hester wou eers nie sê hoekom sy drie hoenderpasteie maak en twee skaapboude inlê nie, tot sy aangekondig het dat Willem se oorlede skoonpa se tweede vrou saam met haar oudste seun uit haar eerste huwelik per ossewa van Philipstown op pad is. Hulle het teen laatmiddag opgedaag en kamp opgeslaan langs die waenhuis – Jacoba en Arnoldus, sy vrou Alida, hul tweetjies en Jacoba se halfdosyn wat deur Pa-George wees gelaat is. Die kinders is so uit hulle vel om soveel maats op een dag te hê dat hy hulle met die plak moes dreig voor Doortjie hulle in die bed kon kry. Sy werf lyk soos nagmaaltyd op die meent voor die kerk in Kimberley – ergste van alles is die aanloop na die kleinhuisie!

      Hy het Hester deeglik haar fortuin vertel! Volgende keer hou sy haar familiebyeenkoms op Doringfontein of almal kuier soos gewoonlik nagmaaltyd in Kimberley. Sy het ingestem, maar voet by stuk gehou oor dié een. Dis ter wille van Caroline en die kinders, het sy volgehou en Neels ondersteun haar. Met hom het Willem simpatie. Hester is hardkoppig en sy weet hoe om haar sin te kry – nes Susanna. Hulle het tot laat vannag Kersgeskenke toegedraai, winkelgoed wat Susanna van Kimberley af gebring het en tuisgemaakte koekies en lekkers van Hester. Dis nie asof hulle in die verlede ooit enige geskenke uitgedeel of ontvang het nie – ook ’n onnodigheid wat van oorsee af oorgewaai het Kaapkolonie toe, en nou oral uitslaan.

      Willem gaan staan voor die kamerdeur en draai die knop. Toe hy dit oopstoot, val die sleutel op die plankvloer. Caroline roer op die bed. Hy wag dat sy iets moet sê, maar sy slaap seker. Versigtig druk hy die deur agter hom toe, voel na die sleutel op die vloer, steek dit in die slot en sluit – voor iemand inkom en sien hy sit en slaap in die stoel asof Caroline hom uitgeskop het.

      Die