Maar sy moet eers die kommode gebruik.
Sy is nog besig toe iemand aan die deur klop. “Wie’s dit?”
“Jy’s wakker!”
Klink soos Hester. Sy draai aan die deurknop. “Jy’t gesluit?”
“Ek’s amper klaar.”
Caroline loer in die spieël en druk die los haarslierte agter haar ore in voor sy deur toe stap en oopsluit.
Daar staan Hester met ’n gedekte skinkbord. “Tee en skons soos Mother ons geleer het. Lekker geslaap?”
“Soos ’n klip. Ek skaam my dood.”
“Moenie! Ek kon jou wakker maak as ek wou.” Hester sit die skinkbord eers op die bed neer. “Jy’t jou rus nodig sodat jy môre Kersdag kan vier. Toe, gaan sit op daardie stoel, ek sleep die tafeltjie nader.”
Caroline gehoorsaam haar oudste suster se opdragte – sy is immers al jare soos ’n moeder vir haar.
“Nie kaalvoet nie!”
Sy steek haar voete in haar pantoffels en gaan sit in Willem se stoel.
Hester skuif die voetstoeltjie onder haar voete in. Sy gooi die venster oop en ’n koelerige luggie trek deur die kamer. “Ek kry jou tjalie voor jy koue vat.”
“Dis nie nodig nie.”
“Jy sit in ’n trek en jy kan nie bekostig om nou siek te word nie. Waar bêre jy jou tjalies?”
“In die laaikas, tweede laai.”
Hester haal een uit en kom hang dit om. Dis ’n syerige lap, beskilder met bont blomme en helderkleurige voëls wat net in lande soos Indië en Java te sien is.
“Is dit die een wat Willem vir jou van die Kaap af saamgebring het?”
“Pleks hy my saamgevat het.”
“Hulle het gaan perde laai, Caroline, en jy was verwagtend.”
“Ek was nog nooit in die Kaap nie.”
“Ek ook nie.”
“Ek het nog nooit die see gesien nie.”
“Ek ook nie, maar dit pla my nie.”
Hester raak ongeduldig, sy loer in die kamer rond en gaan trek die bed reg.
Caroline staar na die skinkbord met eetgoed. Sy raak aan die teemus, een wat sy self gemaak het toe sy nog opgewonde was oor haar huis.
“Nou sal ek nooit daar uitkom nie,” sê sy spytig.
Hester is besig om kussings op te pof. “Hou dop. Jan Adriaan vat Aprilmaand vir Susanna en die kinders met die trein af Kaap toe en Willem sal nie wil agterbly nie.”
“Die baba sal Aprilmaand nog te klein wees.”
“Dan wag julle.”
“Tot dit weer te laat is.”
Caroline steek haar hand uit na die teepot, maar Hester is klaar by. Sy gryp dit en skink tot die koppie oorloop. “Eet jou skon, dis pas uit die oond. Ek moet môre se hoenders gaan opsit. As jy klaar is, trek aan en kam jou hare, Susanna wil jou geselskap hou. Wees gaaf met haar, voor sy my weer in die kombuis kom pla.”
“Ek is nie in die bui om mense te ontvang nie.”
“Dit sien ek en ek gaan my nie meer daardeur laat versondig nie.”
“Jy het, jy is kwaad!”
Hester frons, sy plak haar hande in haar sye. “Ek moet myself keer om jou die waarheid te vertel.”
“Jy was nog altyd reguit, sê wat jy wil sê.”
“Goed, as ek dan moet – Neelsie is my enigste. Jy het ses, sewe saam met oorlede Daniëltjie – en jy waardeer hulle nie.”
Hester is sterk, sy huil nooit. Die pyn in haar oë en die stywe trek om haar mond verklap gevoelens waarvan Caroline niks verstaan nie, maar wat sy uit liefde vir haar suster wil insien. Die plan wat in haar broei, flits deur haar kop en sy soek nog na woorde om dit oor te dra, toe Hester se stem, nou so anders, tot haar deurdring. “Januarie is ek nege en dertig,” sê sy.
“Dis nie oud nie.”
“Dis vir my.” Sy huiwer, maar dan sê sy dit. “Ek het sedert Neelsie nooit weer gevat nie. My tyd is verby.”
Dis weer uit voor Caroline kan keer. “Wens mý tyd was verby.”
“Jy weet nie wat jy sê nie. Hulle kan van jou af weggeneem word.”
“My straf, ja. Ek treur oor Daniëltjie. Ek vergeet hom nie.”
Hester skud haar kop. Sy sit haar hand op Caroline se skouer, haar oë sag. “Die Here het hom geneem, maar Hy het jou dubbel vergoed. Sorg vir hulle.”
“Ek is lief vir my kinders, maar ek is moeg.”
“Ek verstaan en ek is uit my hart uit jammer as my ywer jou verontrief, anders kon ons nie Kersdag saam deurbring nie en dis nodig vir die familie. Jy moes die nefies en niggies vanmiddag sien speel het – almal in die groentetuin se leidam.”
“Annatjie ook?”
“Ek’t haar voetjies in die water gehou. Sy het dit so geniet – selfs toe Maria haar natspat.”
“Maria is jaloers.”
“Nie meer so erg nie. Sy wil net die voortou neem, dis hoe ek haar vandag ervaar het. Sy en Elsje help in die kombuis. Anna Catharina sit in die kamer en treur oor Daniël vir haar weggehardloop het. Jy moet jou skon eet voor dit koud is en ek moet die hoenders vir die pastei gaan opsit.”
“Jy moet jou nie so uitsit nie.”
“Ek wil. Eet nou, ek loop eers.” Hester is haastig, maar sy vorder net twee tree voor sy in haar spore omdraai. “Ek is nie jaloers op Jan Adriaan-hulle se treinreis nie. Dis gek – so ’n aangelaste spul waens wat op sulke dun spoortjies loop.”
“Maar hulle gaan see toe.”
“Ek en jy kan eendag die poskoets vat. Al is ons horingoud – ons sal die see sien – met of sonder kinders en mans.”
Dis op die punt van Caroline se tong om te sê dit sal nie gebeur nie, hierdie keer sterf sy en Hester moet die kleintjie vat en grootmaak soos haar eie. Maar die kamerdeur klap toe.
Later voor dit te laat is, besluit sy, en gooi suiker in haar tee.
Toe sy die skon oopbreek, ontsnap die geur van botter en sien sy Mother se vingerpunte wat meelbedekte botterkorrels uit die mengbak lig, hoor haar sê: “Die geheim van ’n perfekte skon is botter en geduld. Julle skeep nie af nie!”
Asof sy geduld met haar dogters gehad het! Sy was onverdraagsaam en met niks tevrede nie.
Caroline breek ’n stukkie af en sit dit in haar mond. Dit smelt soos nagmaalbrood en sy eet, al was sy nie eintlik lus vir kos nie.
Is dit by Mother wat sy hierdie ongedurigheid aangeleer het, die hunkering na iets meer as wat ’n man en ’n huis vol kinders kan bied? Mother het hulle leer kook en bak, en om kunsnaaldwerk te doen en Engels te praat en te skryf. Sy was alte trots op die Fullers se boekkennis en beskaafde maniere – ’n trap hoër as haar ongeletterde Hollandse ouers. Ontnugtering het haar wel getref. Dit weet Caroline en haar susters aan die geskimp en geskel en die weke en maande wat Father op jagtogte was. Wanneer sy wa, swaargelaai met karkasse, dierevelle en horings in die plaaspad opkruie, het Mother by die venster uitgekyk en gesê: “Hier kom hy om gou nog ’n kleintjie te maak, dan gaan hy weer vort.”
Mother het hulle opgemaak teen mans wat vroue misbruik en hulle wegsmyt as hulle klaar is.
Net sy en Hester van al agt susters is toe getroud – sy met Willem Basson en Hester met Cornelius Erasmus. Neels is nie so aantreklik