Hester skud haar kop. “Jy weet nie wat jy sê nie. Kry lewe, as jy nie lewe kry nie, sterf die kind!”
Nog een kom by. Sêrah Bok. Sy praat kwaai, die ou droë biltong.
“Kerliena! Hoor jy vir my? Dis tyd. Jy gaan nou druk as ek sê druk.”
Nooit geweet ouma Sêrah is die duiwel se werktuig nie, en sy is.
Iewers uit die dieptes kom die opdrag.
“Vat groot asem … Nou!”
Haar keel is droog, sy hyg na lug, haar maag keer om.
“Druk, Kerlienatjie! Skop vas en … druk!”
Sy wil nie en sy kan nie, maar sy moet. Sy gryp die katelstyl en stort die kind die wêreld in.
Die engele hou asem op, hulle huiwer en dan word alles swart. Haar lyf sak in die matras weg, haar bene en arms word water, haar hartklop stadiger en stadiger. Sy weet nie hoe lank sy weg was nie, maar toe sy uit die donker bykom, fladder woorde by haar verby.
“Lewe hy?”
“Hy lewe.”
“Sy… Dis ’n vroukend.”
“Sý lewe!”
“ ’n Meisietjie.”
“Hallo, tant Hester se skattebol.”
Iets skree soos ’n klein katjie.
Die ander lag.
“Jy het ’n pragtige dogtertjie. Is jy bly? Ek is.”
“Ek voel niks.”
“Maar Caroline …”
“Nôi Hessie, gee haar vir Siena lat sy eers afgebad kom. Ons moet klaarmaak.”
“Hoor jy, sus Caroline?”
“Los my uit.”
“Jy’t hard gewerk, ons is trots op jou, maar ons moet die nageboorte afkry. Dis belangrik.”
Die marteling is ver van oor. Sy speel onwillig saam, sy kla nie. Die hande wat haar vasgevat het, is nou so sag, sy verbeel haar sy dryf. Die stroom vat haar weg, sy spoel op die wal uit. Iemand lig haar op en laaf haar met soet geurende olies. Sy kry skoon beddegoed, ’n nagrok wat voor oopknoop. Sy laat hulle toe om haar hare te kam en ’n beker soet tee voor haar mond te hou sodat sy asseblief tog net ’n paar slukkies neem.
Eindelik lê sy teen die kussings terug – soos ’n lyk wat pas uitgelê is. Hester sit ’n bondel in die holte van haar een arm. Dis swaar, dis ’n gewig wat haar aftrek – af en af tot in die grond in onder die bed. Sy kyk weg, sy huil.
Hester vou die kombersie oop. “Haar voetjies makeer niks, dank die Here.”
Ek het Hom gesmeek, onthou sy doodmoeg.
“Hoe voel jy nou?”
“Klaar.”
“Jy kyk nie eens na haar nie? Raak net aan haar, toe.”
Caroline kan nie haar trane keer nie. Sy is te moeg om haar hand op te lig.
“Los eers, nôi Hessie, lat sy slaap.”
“Maar dis haar baba.”
Ouma Sêrah neem oor, sy praat hard, die ou vrou. “Bring die bedjie hier, stoot hom teen die katel. Lê die kend neer. Ek loop nou. Maak die kamer goed skoon voor julle uitkom.”
Wat ’n verligting toe Hester die bondel optel en wegneem. Geleidelik sluimer Caroline in. Sy voel gerus oor die gewerskaf wat nog om haar aangaan tot een van hulle, dis Siena, skielik uitroep.
“Kaggen!”
“Dis net ’n hotnotsgot, trek toe die gordyne.”
“Nôi Hessie, Nôi praat nie mooi nie. As hy nie hier was nie, het nôi Kerliena nie deurgekom nie.”
“Ek dag jy is gedoop?”
“Ek is, maar dit vat hom nie weg nie.”
“Red my van die dag dat ek ’n gogga moet aanbid. Ek sal die emmer dra, vat jy die lakens.”
“Hy is nie ’n gogga nie, hy maak hom klein om ons nie bang te maak nie.”
“Wat van mense wat vir goggas skrik?”
“Partykeers verander hy hom in ’n elandbul of ’n slang of ’n aasvogel.”
“Hou op met stories maak en trek toe die deur agter jou dat jou nôi kan rus.”
Dit word stil, so stil, selfs die engele swyg en dis goed. Caroline dink aan niks, sy voel niks behalwe uitputting. Die dooies se slaap kom maklik, sê sy vir haarself voor sy wegraak om te gou weer uit die newels van rus opgetrek te word aan haar hare, so voel dit vir haar.
“Caroline! Vrou, is jy wakker?”
Daar lê ’n gewig soos ’n klip op haar skouer. Sy is so moeg, sy kan skaars haar oë oopmaak.
“Het ek geslaap?”
“Heeldag.”
Dis haar man. Hy buk oor haar, sy hand is op haar skouer. Sy kan net sy vorm uitmaak, maar dit is Willem Basson. Hy soen haar op haar voorkop. Sy vingers dwaal na haar nek, sy baard raak aan haar neus. Sy reuk is bekend. Dit bly by haar toe hy regop kom.
“My vrou … Jy is ’n goeie vrou.”
Sê jy dit nou, noudat jy jou sin gekry het? Maar eers was ek sleg. Sy roer haar skouers om ontslae te raak van sy hand. Hy neem dit nie weg nie, hy vryf haar nek.
“Ons het nog ’n dogter.”
Sy draai na hom en kyk hom in die oë. “Ek wil haar vir Hester gee,” sê sy.
“Haar naam is Caroline Anne, jou naam. Sy is perfek.”
“Haar naam moet Hester wees – Hester Johanna.”
“Sy is Caroline Anne. Ek gee nie my kinders weg nie.”
“Hester moet haar vat.”
“Nee!”
“Roep haar.”
“Wie moet geroep word?”
Dis toe Hester met ’n skinkbord en hulle het haar nie hoor aankom nie.
“Ek wil seker maak dat jy jou baba saamvat as julle ry. Wanneer ry julle?”
“Môreoggend vroeg, tensy dit weer reent.”
Hester sit die skinkbord neer, sy staan en kyk. Willem bring die spieëlkasbankie sodat sy kan sit. Hy praat te veel. “Ons kind het reent gebring, ’n paar goeie buie laas nag, vandag ook nog. Die familie wou jou nie wakker maak om te groet nie. Jan Adriaan en Susanna het voor sonsopkoms gery, Jacoba-hulle ook. Almal wens jou spoedige herstel toe.”
“Jy moet eet sodat jy jou kragte kan herwin.” Hester bedoel dit, sy klink ernstig. “Kan jy regop sit?”
Bloed tap uit haar. Dis ’n rivier wat afkom en los goed saamneem, stukke van haar binnegoed.
“Ons help jou. Willem, vat aan haar ander kant.”
Hulle doen dit sonder om haar in ag te neem, sleep haar op teen die kussings, prop nog agter haar rug in, glimlag vir haar asof sy hulle moet bedank.
“Ek is nie lus vir kos nie,” sê sy ferm. “Roep vir Sêrah!”
“Ek loop,” sê Willem en maak dat hy wegkom.
Hester laat haar nie gebied nie. Sy neem haar Mother-houding in, skep ’n lepel vol en hou dit voor Caroline se mond. “Dis kragtige hoendersoep en jy gaan dit drink, al moet ek jou forseer.”
“Sê