“Miskien, maar jy moet haar eers vir my voed tot sy gespeen is, dan praat ons weer. Toe, maak oop jou mond of wag, ek gee vir jou die bakkie, dan skep jy self. Ek gaan haal solank ons dogtertjie uit haar wiegie. Sy is jou mooiste kind.”
“Joune.”
“Goed, myne.”
Sy skep van die sop, sy toon haar dank en eet, kyk tersluiks na Hester wat oor die wiegie leun.
Buite gil en raas die baba se broers en susters.
“Sy slaap, sy is so soet, word nie eens wakker van die ander kinders nie.”
“Wat raas hulle so? Dit pla my.”
Hester hink so saggies van die wiegie af weg, jy sou sweer sy loop maklik op haar tone. “Die vlieënde miere is uit ná die reent, dis ’n spelery. Weet nie wie dit die meeste geniet nie – die kinders of die voëls.”
Caroline stoot die bord van haar af weg. “Ek het genoeg gehad.”
“Skaars drie happies? Verlang jy nie na jou kinders nie? Wil jy nie weer sterk word en opstaan en kyk hoe hulle speel nie?”
Sy skud haar kop. Hester raak so seker van haarself en haar goeie raad, dis ’n grap en sy lag daarvoor – een droë, gevoellose, dooie lag. “Ek bloei my leeg en jy is net ’n vaal kol langs my sterfbed. Sal ek nog ’n dag haal? Ek glo nie.”
Hoofstuk 6
Voordag sit Willem in die kombuis en dink terug aan hoe hy en sy ma en pa soggens drieuur opgestaan het om volgens tradisie en uit gewoonte huisgodsdiens te hou. In die winter was die wêreld wit geryp en die uur voor die vuur ’n warm troos, al kon hulle skaars sy pa se stotterende voorlesing verstaan. Sy ma het eerste opgestaan om die stompe aan die brand te kry en die ketel oor te hang. Nie dat sy pa veel later gelê het nie. Willem moes gou wees as hy sy ma wou help en die klein deeltjie van die dag saam met haar deurbring. Sy het nie veel gepraat nie, maar haar teenwoordigheid het hom getroos. Toe was hier nog ’n oop herd en ouma Fien Bok, destyds ’n sterk vrou, het volgens reël net ná sonop van die strooise af ingekom om met die huistake te help en saans voor sy gaan die hout reggepak sodat sy ma net kon aansteek.
Hy het die houtstoof laat insit voordat hy Caroline hiernatoe gebring het. Hy het baie gedoen om die huis vir haar gerieflik in te rig. Die badkamer kom ook nog. Jan Adriaan sê hulle kan pype van die leidam af aanlê, jy draai die kraan oop en die water loop. G’n aandraery nie, maklik.
Hy het nie getel hoeveel emmers hy laas nag op- en afgedra het nie.
Daar is fout met Caroline. Hulle het heelnag geen rus of duurte met haar gehad nie. Vroeg al moes hy Sêrah wakker maak en met haar plekke ruil. Sy bly toe in die kamer by Caroline, hy hier in die kombuis om water te kook en emmers vol op te dra – af met die roeswater, te bang om te kyk of die bloedkleur ligter raak. Hulle het hul bes gedoen. Hy het aangedra en sy het om die beurt warm en koue kompresse opgesit om die bloeding te probeer stop. Hester het ook kom hand bysit. Die kind het gehuil en sy het haar met ’n teelepel water gevoer en weer aan die slaap gesus. Maar vandag gaan sy en Neels terug Doringfontein toe. Wat dan?
Willem gooi drie lepels suiker in sy koffie.
“Môre, Willem.”
Dis Hester wat met ’n bondel vuil linne in haar arms ingestap kom.
“Môre, Hester. Hoe gaan dit?”
“Sy slaap eindelik.”
“Jammer sy wou nie laas nag die warm melk drink nie.”
“Uitputting het gewen.”
Hester los die bondel net buite die kombuisdeur en kom skink vir haar koffie. “Neels wil vandag ry, maar ek het besluit ek sal met hom praat. Sêrah kan nie alleen nie, selfs al help Siena haar. Dis nie dat ek hulle nie vertrou nie, maar Caroline is my suster en ek is bekommerd. Buitendien, Annatjie en George is nog klein, hulle moet ook versorg word. Ek gaan vir Neels vra of ek en Neelsie hier kan agterbly – ’n week of so. Gee jy om?”
Willem voel verligting deur hom spoel. “Ek sal jou ewig dankbaar wees. Maar wat van Neels?”
“Hy kan goed op sy eie regkom. Soms dink ek hy’s ’n beter huisvrou as ek en Lena is daar vir die skoonmaak en die wasgoed.”
Willem draai sy leë beker in sy hande om en om. “Susanna is dalk reg, oor die hospitaal.”
“Vir Susanna is als in Kimberley reg en dit is nie. Ek weet van sterk jong vroue wat soontoe is om sogenaamd deur ’n dokter verlos te word en by die dood omgedraai het van infeksies wat hulle in die wonderlike hospitaal opgedoen het. Nie almal is ewe skoon nie en hulle steek mekaar aan.”
“Moet ek nie die dokter gaan haal nie? Hy het kennis.”
“Ouma Sêrah het veldkennis en dis genoeg. Sy weet ten minste sy moet skoon werk. Jammer om dit nou vir jou te sê, maar as Caroline sieker word, is dit nie Sêrah se skuld nie.”
“Myne?”
“Haar eie, tensy sy ’n hartsverandering ondergaan en begin saamwerk, maar ons sal haar deurhaal en Susanna hoef niks hiervan te hoor nie.”
Willem luister haar enduit, en kan toe nie help om te glimlag nie. Neels staan agter haar en wag tot sy klaar uitgevaar het. “So, hier is jy,” sê hy en kom soen sy vrou goeiedag.
“Koffie?” vra sy.
“Dankie.”
Sy vat een van die skoon bekers op die skinkbord en loop stoof toe waar die koffiepot staan en prut.
“En jy, swaer Willem? Hoe gaan dit?” Neels lyk opreg besorg.
“Goed met my.”
“Nie so met die vrou nie?”
“Nee, sy is gedaan.”
“Ek is jammer.”
Hester sit die koffie voor hom neer. “Ek het aangebied om te bly.”
“Ons kan nie die plaas laat lê nie.”
“Jy kan gaan, ek bly.”
Neels lig sy beker en drink eers tydsaam voor hy praat. “Klaar besluit?”
“Dis my susterlike plig. Jy mag nie weier nie.”
“Nee, ek sal ook nie.” Hy neem nog ’n behaaglike sluk. “Jy is reg, jou suster het jou nodig. Bly Neelsie ook?”
“Dis goed vir hom om ’n slag tussen maats te wees.”
“Dis dan afgespreek, ek sal hom inlig.”
“Dankie, my man.”
“Lekker sterk koffie gewees.” Neels sit sy beker neer, staan op en stap uit.
Hy is ’n beter broer as Jan Adriaan, dink Willem wat die gesprek met ’n gevoel van vaag erkende naywer gevolg het. Laat Hester wees wat sy wil, sy kan raakvat en Neels weet om haar te ondersteun.
“Dankie, Hester. Jy is die enigste een wat Caroline sover sal kry om tot haar sinne te kom.”
“Ek kan dit nie alleen doen nie, nie sonder Sêrah nie. Die arme mens sal moet sorg dat sy vandag slaap. Waar is sy?”
“Veld toe om bontbees te soek. Sy maal die verdroogde blare en trek dit soos tee. Dis glo goed vir bloedlating.”
“Vergeet ek – sy’t dit gisteraand genoem. Ek ken dit en rooivergeetwortel.”
“Laat ons hoop een van hulle werk.” Willem staan op om vir hom ’n pyp te gaan opsteek. “Van sit en staan kom niks gedaan – ek moet gaan melk.”
Maar Hester keer hom. “Voor jy loop. Daar is nog iets.”
“Ek wag.”
“Ons moet ’n soogmoeder soek.”
“Laat Caroline