Chinchilla. Nanette van Rooyen. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Nanette van Rooyen
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798172820
Скачать книгу
na die chinchillas, om weer haar taak op te neem soos voorheen. Die keutelplate onder die hokke skoonmaak, waterbottels vol maak, kosbakkies met pille en stukkies wildegars vul, stofbaddens uitsit, puimstene vir die knaag, klipsoutringe aan die kant vasmaak, rosyntjies vir die knieseriges.

      Hier sal sy weer van nut kan wees.

      Sy staan op en loop klerekas toe. Haar denimoorpak en handskoene lê netjies opmekaar langs die rubberstewels soos sy dit twee jaar gelede hier gelos het. Onder die oorpak trek sy long johns aan. Toe sy dit oor haar heupe optrek, voel sy haar maagvel krimp van die hoendervleis. Sy kyk af na die donker lyn wat van haar pubis oploop tot teen haar naeltjie.

      ’n Misplaaste merk, buitentyds, ’n herinnering van ’n ander tyd in ’n ander wêreld. Linea negra, haar swart lyn van verlies.

      ’n Smaak stoot op in haar mond, mineraalagtig soos koper. Dit skok skielik soos aluminium teen ’n stopsel.

      Sy vou haar arms om haar borste. Niemand het haar gewaarsku dat haar melk steeds sou inkom al was daar nie meer ’n kind om aan haar te drink nie. Die onwrikbaarheid van die natuur. Vir ’n volle nege dae loop sy al met die pyn van ongebruikte borste rond. Soms klim sy in die bad en gooi warm water oor haar blinkstywe borste sodat die melk daaruit kan drup. Die eerste drie dae, warm koolblare om die borste sagter te maak.

      Lea buk om ’n tweede paar sokkies oor haar koue voete aan te trek. Sy trap in haar rubberstewels en vlug na buite vir vars lug. Later, as sy weer bymekaar gevat voel, sal sy afgaan kombuis toe.

      6

      Die kombuisdeur staan oop en die radio is aan. Krisjan is ook al op, dink Lea verlig. Sy ruik die Maltabella-pap wat in die kastrolletjie prut. Die bolaag daarvan is teen hierdie tyd dik en dof soos die modderlaag van ’n dam. Die moer ruik skerp in die koffiekan op die koolstoof. Daar staan ’n stapeltjie van Krisjan se varsgebakte witbrode onder ’n gaasdoek, ook grondboontjiebotter en heuning. In die winter is botter vir die aand se gebruik, nadat dit heeldag op die vensterbank kon staan om sagter te word.

      Sy skink vir haar koffie. Met haar hande om die beker gevou, draai sy haar rug na die koolstoof en rus met haar boude op die handreling. ’n Bekende hitte, ’n onwillekeurige handeling. Die veilige onveranderlikheid van Zacharias se huis.

      Sy tel die ry beenwit koppies wat aan die sideboard aan hulle ore hang, soek na nuwe merke in die dik riffelglas-skuifdeure waaragter die ander breekware gebêre word. Sy merk die groot geelhout-vrugtebak, vol sleutels, pleisters, skroewe, vuurhoutjies, kleeflint, ’n blou lint van ’n lank vergete present, Agfa-filmbuisies, ’n stukkende donkerbril. Zacharias se poespas.

      “Los uit,” hoor sy hom sê elke keer dat sy van die gemors ontslae wou raak, “ek weet presies wat daarin is.”

      Agter die deur hang ’n almanak van ’n dekade gelede, oop by April, met ’n lewensgetroue waterverfskildery van ’n swerfvalk daarop – Falco peregrinus. Bo-oor die almanak hang ’n vlieëplak. Op die muur teenoor haar, die drie portrette in ovaal skilpaddoprame: Zacharias met sy pyp, haar ma, Olga, wat by die kamera verbykyk, en Krisjan met ’n kleuter op sy nek. Haar kaal stofpootjies na onder gepunt oor sy seningrige bors. Sy groot hande om haar enkels gevou vir balans. Krisjan, van wie jy so seker kan wees soos die daaglikse opkom van die son.

      Onwillig kom sy van die stoofhitte los om haar koffiekoppie in die opwasbak te gaan sit. Op pad agterdeur toe lig sy ’n voorskoot van die spykerhaak af, gooi dit oor haar kop en bind die bande oor haar heupe vas. Sy bondel haar hare onder haar hoed in en stamp die onderdeur met haar knie oop terwyl sy die vingerlose handskoene aantrek.

      Haar stewels knars oor die amandeldoppe in die binnehof. Sy hurk by die fontein waar die sementleeus ’n wit poeierlaag oor hulle maanhaar het. Die twee leeus wat Zacharias en Mordechai een nag dronk-dronk van die hotel se buitemuur gaan steel het toe MacKenzie met restourasie aan die hotel begin het. En toe die gereg die volgende dag op Bloutuin kom navraag doen het na die vermiste sementdiere, het Zacharias hom vertel van die vloek van verandering. Die saak is geskik met Zacharias wat moes instaan vir lampe in die plek van die leeus. Vir ’n week het Zacharias en Mordechai gepik en gegraaf aan die fontein in die middel van Zacharias se werf, waaroor die leeus sou waak.

      Haar pa is nie ’n man wat hou van verandering nie. Dinge moet loop soos dit vir sy oog voorsienbaar is. Daarom dat haar ma se dood hom so verrinneweerd gelaat het.

      Die dun oppervlaklagie van die fonteinwater is gevries. Sy druk haar vingerpunte daardeur tot net onder die lit waar haar handskoene begin. Toe die pyn haar polse bereik, trek sy terug.

      Lea staan op en druk haar hande onder die voorskoot by haar trui in. Sy voel hoe die ysigheid oor haar borste sprei, en haar vingers begin brand soos hulle ontdooi.

      Die skuurdeur kraak toe sy dit oopstoot. Die wars reuk van droë lusern, wildegars en koue sement. Die chinchilla-hokke staan die hele lengte van die linkerkant drie-drie opmekaar gestapel. Dubbele houtstrukture met gaasdraadwande. Aan weerskante die broeihokke wat soos vierkantige ore uitstaan. Sy hoor die geritsel van skugter pootjies.

      Agter in die regterhoek van die skuur sien sy die chinchilla-slagter se nes. Sy kitaar hang aan ’n band oor een van die stoele. Sy klere lê in ’n hoop op die slaaprol. Teen die muur bokant sy slaapplek hang twee swart-wit foto’s. Sy bedwing haarself om dit nie van naderby te gaan bekyk nie. Sy wil hom nie eie maak nie. Hy sal hier moet uit.

      “Ek is terug,” sê sy hardop terwyl sy na die chinchilla-hokke loop. Met haar hand raak sy aan elke hok, kyk op hulle in. Groet.

      Toe die skuurdeur skielik agter haar oopkraak, voel sy hoe haar skouers saamtrek. Sonder om op te kyk, maak sy die stofbaddens bymekaar op die skinkbord en haal die blik Fuller’s Earth-poeier uit die voorraadkas. Die bakkies moet vars sand en poeier kry.

      Toe die stem kort agter haar praat, is sy ontstig.

      “Carlos Bastos,” sê hy, vat die skinkbord by haar en sit dit op die sorteertafel neer.

      Lea voel hoe dit langs haar regterslaap begin klop. Sy kyk doelbewus teen sy mond vas toe sy stram haar hand na hom uitsteek. “Wat weet jy van chinchillas af?” vra sy en trek haar hand vinnig terug ná die groet.

      “Dit wat mý pa en jóú pa my geleer het.”

      “Chinchillas is nie in Zacharias se bloed nie. Hy ken sy valk en hy ken sy skaap.” Sy tel die vrag stofbakkies op en loop van hom weg. “Hopelik het jy goed leer slag?” mor sy oor haar skouer. “Hier’s nie plek vir opneuk op Bloutuin nie.”

      “Relax,” roep hy agter haar aan. “Ek gaan nie in jou pad wees nie. Jy maak hulle groot; ek slag. Bly te kenne.”

      Sonder om na hom om te kyk, loop sy met die stofbakkies by die skuur uit. Buite skop sy die sinkplaatdeur agter haar toe. ’n Veervoethennetjie vlieg kakelend die lug in en gaan skuil met haar kuikens agter die vullisblik.

      Hoe en waar sy pa hom van die das geleer het, skeel haar min. Hoe minder sy van hom weet, hoe beter. Vir vreemde invalle het sy nie krag nie.

      7

      Kwart oor vier daardie oggend swaai Zacharias sy bene van die bed af. Sy kind is terug. Sy lê soos kleintyd in haar solderkamer onder die velkaros. Hy soek met een voet na sy Wellingtons en vat-vat na sy pyp. Hy steek dit dadelik in sy mond en laat die ronding van die babakalbas in een hand rus terwyl hy met die ander na die tabaksak soek. Die koue smaak van die hol pyp is tegelyk bekend en sleg.

      Die vel van sy tabaksak voel klam en is kouer as twee weke gelede. Die winter het teen hulle kom opkruip. Daar is alreeds minder voëls in die granaatboom voor sy venster. Daar is die konkareuk van vroeër vure wat van Jantjie-hulle se huisies na hom toe optrek. Hy sal maar sy skaapvelonderbaadjie aantrek wanneer hy Shamal uitneem vir haar jag. Waarskynlik die laaste, want die meeste eende is al vort oor die koue.

      Zacharias snork om die nagslym los te maak. Hy bondel dit agter in sy keel saam en stuur dit met ’n geoefende tong tot in die holte van sy harde verhemelte. Toe leun hy vooroor, kom op sy voete, skuifel drie tree tot by die venster en lanseer ’n silwer verskietende ster bo-oor