Chinchilla. Nanette van Rooyen. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Nanette van Rooyen
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798172820
Скачать книгу
verleen. Sy oë rond en wyd, om die verwondering te dra waarmee hy na buite kyk.

      Hy verstar toe hy Lea herken. Toe laat hy sy kop tussen sy skouers sak en bly so sit terwyl ’n vrouestem histeries oor die radio roep om hulp. Op die agtergrond is ’n treinfluit hoorbaar. Die gepoef-paf van ’n stoomenjin wat al hoe nader kom.

      Lea stap nader aan Krisjan en vou haar arms om sy nek. Haar hare gly oor haar skouers en val oor sy voorarms. Sy sien die wit oorgroei van sy vingernaels. Die diep skoon wat hy elke dag met sy knipmes aanhelp. Die harde eelte aan die binnekant van sy voorvingers. Sy laat sak haar kop tot teen die warm boog van sy nek. “My volstruissuring het gevrek daar anderkant. Ek het teruggekom vir ’n nuwe een.”

      Die dag toe sy weg is, het sy die plantjie in ’n Floro-bak gesit en tussen haar klere ingedruk. Sifkop, soos Krisjan dit noem, of krimpsiektebos, soos Zacharias. Haar pa het die magiese van dié sterretjiesplant nie ingesien nie. Hy het gesien hoe dit sy skaap se nek skeeftrek en gevloek as sy dit huis toe aandra in potjies. Tylecodon reticulatus.

      Dit was Krisjan wat haar gewys het hoe die vyfpuntige kelk losskeur van die blom en dan soos ’n los sterretjie op en af teen die stingel beweeg.

      Krisjan lig sy arm en koepel dit oor Lea se agterkop. Hy druk haar só styf teen sy nek vas dat sy arm begin bewe. Toe staan hy op en hou haar ’n armlengte van hom weg. Sy sien hoe die voue in sy gesig blink word van die nat, hoe sy yl hare silwer skyn. Hy begin dreunend lag. “En wat sê jou pa?”

      Lea trek haar nek styf. “Hy weet nog nie.”

      “Ja, jy. Zacharias se eie wildeloot! Kom.” Hy stuur haar deur toe.

      “Daar sing ’n vreemde man in sy kombuis.”

      “Is maar net die Portugees. Hy kán tog so sing.” Hy vat haar aan die arm en lei haar hoofhuis toe. Soos hy haar as klein kind deur die veld gelei het om te leer. “Ken die bos en ken die kluit by sy naam en wys so jou respekte vir die veld.” Saam het hulle die rapuisbos nageloop, die perdebos, tontelbos, renosterbos, kankerbos en kanniedood, vingermelk, hotnosvy en kambro.

      Toe Zacharias die lang figuur van Krisjan in die deuropening gewaar, wink hy hom nader met sy pyp. “Kom-kom, ons het nog nie geëet nie.” Hy staan op en haal ’n glas vir Krisjan uit die kas agter hom.

      Die kitaar tjieng voort van oorloë en ver liefdes, die Portugees se kop laag oor die snare. Sy swart haarpunte raak af en toe aan sy bewegende vingers wat al stadiger van die een druk na die ander verskuif. Die rooiwyn lê diep.

      Toe Zacharias, pyp in die mondhoek, weer terugdraai na Krisjan, staan Lea voor hom. ’n Lang jas soos ’n swart mantel wat van haar maer skouers afhang. Haar gesig stil soos been, donker vore onder haar oë.

      “Dag, Pa,” groet sy. Die kitaar word stil.

      Zacharias snuif ’n toevloei van vog op in sy neus. Heen en weer skud hy sy kop, heen en weer. Sy neksenings, wat bo sy grys borshare uitstrek, beweeg asof dit klanke wil voortbring, maar dit bly net ’n stilte.

      “Jirre, maar jy’t klein geword …” Hy leun vooroor op die tafel sodat sy kneukels klap. Toe laat sak hy sy kop en verloor sy woorde.

      Die Portugees en Krisjan verdwyn na buite.

      Eers toe hulle alleen is, kyk Zacharias op na sy meisiekind. Sy gesig is rooi en sy mondhoeke stram. Rukkerig loop hy om die tafel na Lea en maak haar sit op ’n kombuisstoel. Hy haal haar hoed af en sit dit langs die wynbottels op die tafel neer. “Sit net so, sit net so,” mompel hy en verdwyn in die opwaskamer.

      Lea hoor hoe hy waterkrane oopdraai. Die hol klank van eerste druppels wat in ’n enemmelemmer val. Die klank laat haar skouers ontspan. Met dom vingers begin sy die knope van haar jas losmaak. Toe sy Zacharias langs haar voel staan, kyk sy op, glimlag. Die trane loop steeds teen sy nek af.

      Hy kniel langs haar en begin die stewels een vir een van haar voete aftrek. Die natgeswete sokkies bondel hy in sy hande saam en sit vir ’n oomblik daarmee voor hy dit teen sy gesig druk om sy oë af te vee. In stilte rol hy haar broekspype op tot by haar knieë en tel haar voete versigtig in die emmer warm water. Hy drup straaltjies water oor die stukkende merke op haar bene, die kneusings. Sommige daarvan is ou merke, al geel verkleur. Die ander is nog pers.

      “Ek het Epsom-sout ingegooi. Dit sal die moeg uittrek.”

      Lea knik haar kop, want haar keel voel te dik vir antwoord.

      “En jou goed?”

      “Daar’s nie veel nie; ek het dit by die hotel gelos.”

      Zacharias besluit om dit later te gaan haal, maar hy gaan nie nou verder praat nie. Die kind lyk wees van die moeg, sy moet rus kry. Later, dink hy, kan hulle praat. Vir nou is dit genoeg dat sy hier is en dat haar hand op sy skouer rus.

      5

      Kwart oor vier die oggend lig die maan Lea uit haar slaap. Die dakvenster van haar solderkamer is op ’n skreef oop. Dit gooi die maan in ’n blouwit streep oor haar bed. Sy het geen twyfel oor waar sy is nie. In Sutherland bons die ure nie teen mekaar nie – hier is dit stil soos sterre.

      Die reuk van bamboesrietjies hang in die lug. Reëlmatig aan mekaar gebind, volg dit steeds die noklyn van die dak. Nie een daarvan het verweer of weggeval terwyl sy weg was nie.

      Agter die dakvenster lê die vyf ewe groot koppies. Ronderugoerdiere wat dig soos ’n trop bymekaar hou. Tussen die tweede en die derde is die bergpoel waaruit Zacharias ’n ou wewenaar, met sy klipgordel aan, gaan haal het. In die vierde koppie is die grot waarin mensbeendere gevind is. By die vyfde is ’n Boesmangraf wat met skalieklip toegepak is, die twee kniekoppe wat bokant die grond uitsteek. Aan die onderkant daarvan is die gronddam met stink sperwergate in die wal, waarin Piet Suip sy halfjack wegsteek van sy vrou.

      Alles nog op sy plek.

      Lea staan op en druk die dakvenster wyer oop. Die ruit stut liggies op haar kop, sodat dit die buitenste koue soos ’n yskroon op haar kop sit. So bly sy staan tot die koue na die binnekant van haar skedel pyn. Haar neus brand van die ysige lug wat sy stadig intrek en deur haar mond na buite stoot. Sy sal diep bly asemhaal en uitblaas – só sal sy haar binnekant weer skoonkry.

      Laatnag het sy Zacharias teen die buitetrap hoor opkom met haar trommel. Hy het lank langs haar bed gestaan. Sy donker figuur onbeholpe en anderwêrelds met die blou maan op sy skouers.

      Lea gaan kruip weer in die bed en trek die chinchilla-karos oor haar skouers. Teen haar mond roer die lang swart en wit skuthaartjies van die chinchilla-pels, wuiwend op die maat van haar asemhaling. Sy blaas op die pels sodat die langer haartjies oopkloof tot by die blougrys onderpels.

      Dit is die karos wat Zacharias vir haar ma gemaak het; dieselfde pels waarin Lea toegedraai is pas ná haar geboorte. Die pels wat moes instaan vir die vel van haar ma wat sy nooit geken het nie. Die pels met die storie wat Krisjan saans vir haar vertel het wanneer sy soos ’n meerkat voor sy gat gesit en luister het:

      Eendag, lank, lank gelede, in die vyftiende eeu, was daar ’n Indiaan-clan in die Andesgebergte – die Chinchas. Hulle het die chinchillas se pelse gebruik as lyfklede en kooigoed. Later is hulle deur die sterk Inka-Indiane oorwin en verbied om verder chinchilla-velle te dra, omdat dit die voorreg van die Inka-adel geword het.

      Heelwat later, in die sestiende eeu, het die Inkas onder Spaanse oorheersing beland. En dit was toe dat ’n tussenganger, wat na die guns van die Spaanse koningshuis gevry het, ’n kis vol juwele en goudplaat aan die koningin gestuur het. Vir beskerming van die geskenk is die kis in ’n chinchilla-kleed toegedraai. Op pad na die koningin het die boodskapper besluit om self die juwele en goudplaat te vat. Hy het die chinchilla-kleed in die kis geprop, dit so vinnig moontlik by die koningshuis afgelewer en gemaak dat hy wegkom.

      Die Spaanse koningin was só verruk deur die weelderige geskenk dat sy dadelik ’n soekgeselskap uitgestuur het om die boodskapper op te spoor en na die hof te bring. Nie om hom, soos die boodskapper verwag het, te martel of dood te maak nie, maar om hom tot ridder te slaan as blyk van haar waardering vir die seldsame, eksotiese pels.

      Ou