Kamee. Roela Hattingh. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Roela Hattingh
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Публицистика: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780798169189
Скачать книгу
so styfgeklem onder sy arm op die hot spot in die middel van die pale druk, maar vandag gaan hy die bottel melk op die vertoonvloer drop en die meidjies kom nie in nie. Hulle poets die vloer en al die voertuie tot dit blink op Vrydae sodat alles spiekeries is vir Saterdae.

      Sweis staan voor by die bakkie, sy hand om die Amarok se bosbreker geklem. Bert dag hy praat van Clarese van Biljon se figuur.

      Die meisie wat die hele omgewing se ramme in ’n beswyming het vandat sy vier jaar terug by die laerskool begin skoolhou het. In die middae ná sport het al hoe meer broers en nefies en ooms kom kinders oplaai. Net om met die juffroutjie kennis te maak. En toe dit eers uit is dat sy mal is oor inheemse tuinmaak en die skool en koshuis se terreine wil mooimaak, toe val die dorp se rugbyspan ook in. Toe is dit net aalwyntjies van Groot Geluk en kiepersolletjies van Omdraai. ’n Bakkie vol kraalmis van Saamrus en ’n span werkers van Strydpoort wat kom bossies uittrek. Sweis het selfs klippe by die groot krans gaan loop uithaal vir Clarese. Die manne het tougestaan om “dankie” uit daai rooi mond te hoor, soms ’n drukkie teen haar ronde, stywe borste. Dit het nie verander vandat sy verloof geraak het nie. Dit was werklikwaar asof daar ’n virus in die omtrek was. Iets soos die malkoeisiekte, of eerder Clarese-koors. Sal seker ná die troue anders wees, as sy eers goed deur haar man ingelê is.

      “Is dit ’n groot troue, Sweis? Sweis?”

      Hy staan steeds voor by die Amarok, streel wragtig die masjienkap en fluister: “Die Amarok. Clarese. Troukar.”

      “Ja, Sweis. Die Amarokkie is mooi, heeltemal in ’n ander klas.”

      Dis toe dat Bert instem oor die aanddemoding. Wel, eerstens gaan hy en sy vrou ook troue toe, so hy kan sommer self ’n ogie hou. Tweedens is dit ’n goeie bemarkingsgeleentheid.

      Dinge het die aand effens anders uitgespeel as wat hy verwag het. Ja, dit was ’n uitstekende advertensie. Ja, Clarese was stralend op die Amarok. Hulle het nogal ’n ekstra paar draaie van die kerk af na die onthaal by die skouterrein gery. Die mense het in die strate gestaan en kyk asof dit ’n optog was. Of ’n stoet. Haar sleep het in die wind bokant die bakwerk van die Amarok gewapper. Sy het regop gestaan met tieties afgeëts, net soos Bert die oggend in sy geestesoog gesien het. Hardop gelag. Haar bruidegom het geklou vir die vale. Seker nie bestand teen die grootsheid van die oomblik nie, of dalk was hy net soos al die ander mans, wel, opgewonde.

      By die saal gekom, het Clarese gesukkel met die afklim. Die Amarok was te groot om by die stoep tussen die doringbome te parkeer.

      Modderpoele, as gevolg van die vorige dag se reën, het soos ’n hindernisbaan om die saal gelê. En toe begin die toustanery en stryery om haar af te help. Op die ou end het die omgewing se manne haar saam van die Amarok afgetel. Soos in een van daai danse by Skouspel. Die hele rugbyspan met arms omhoog asof sy die vrou van die wedstryd was. Amper soos in ’n lynstaan. Die bruidegom het maar self afgeklim en al druipend en spring-spring oor die modderpoele die spulletjie gevolg toe hulle Clarese die saal indra.

      Dit was ’n onthaal om van te praat. Clarese het gedans, gedraai, gelag. Rooi mond en tieties, rooi mond en tieties, tot laat in die nag. Die voggies het ook woes gevloei. Humansdorp weet van makietie hou. Bert en sy vrou het saam met die oues van dae so ná twaalf gery. Sweis sou die demo-Amarok Bastion Motors toe vat en agter by die werkswinkel parkeer nadat hy die presente by Clarese se woonstel afgelaai het. Die sleutel deur die klein toiletvenstertjie gooi.

      Ná twaalf het dinge gedraai, loop die storie. Die bruidegom kon nie byhou nie, het sommer op die troutafel langs die troukoek aan die slaap geraak. Die bruid het bly dans en in die loop van die nag ’n paar keer teen die Amarok se masjienkap geleun. Daar is mos genoeg sitplek en vashouplek op daai reusebosbrekers. En sy het gekraai van plesier. Agterop die bakkie ’n keer of wat en voor in die kajuit ook. So loop die storie in die dorp.

      En die bruidegom het bly slaap tot vroeg die volgende oggend nadat die presente afgelewer is, heeltemal onbewus van die kaperjolle. Arme ding, weet seker steeds nie wat alles gebeur het nie.

      Sweis het die bakkie vroeg Sondagoggend teruggebring. En ’n week later het hy die geslagte en netjies verpakte bees en skaap kom aflaai.

      “Dankie, oom Bert. Dinge het beter uitgewerk as wat ek gehoop het. Die Amarokkie het my verwagtings, en ook my manne s’n, oortref.”

      Hy het uitgeloop net voor Clarese en haar man by Bastion ingeloop het. Dié was so ’n tree of wat agter Clarese. Bert het gesien hoe die verwese mannetjie bloos toe Sweis eenkant staan dat hulle kan verbystap. Clarese het vyftien kontanttjeks – R5 000 elk – en ’n spul kontant uit haar netjiese swart handsakkie gehaal. Vir die res van die prys het hulle al twee ’n koopkontrak geteken. Hulle het nie soos jonggetroudes gelyk nie, het Bert opgemerk. Clarese wou die einste demobakkie koop; al het haar man nie verstaan nie.

      Bert het hulle jammer gekry, sommer self ’n tien duisend rand afgeskryf.

      “Trougeld vir die troukar,” het hy gesê en weggekyk van Clarese se mond wat effens begin bewe het. Sy het nie lipstiffie aangehad nie.

      Voorspel

      “’N PLAAS KAN NIE TWEE BOERE HÊ NIE,” sê Kobus de Korte hardop. “Dit sal wragtagwaardieHerehoormy nooit werk nie.”

      Hy kyk vinnig rondom hom, maar dis net die nagveld en die herkouende koeie wat hom hoor. Dis nou al goed twee jaar dat dinge net nie tussen hulle stryk nie. Klein-Koos is hardkoppig, nes hy ook was. Maar die tyd slyt aan ’n mens. Die skurwe kante moet af, ’n kalf kry die beste weiding, maar nie vir altyd nie. Hierdie storie dat die kind dink Cow Candy kan al sy weidingprobleme sommer so oplos, is verregaande. Weiding, goeie weiding, bestaan uit grasklawers, meerjarige raaigras en gemengde kikoejoe. Dit was nog altyd so op Grasfontein en so sal dit bly. In elk geval tot die dag dat hy sy kop neerlê en Klein-Koos kom maak en breek soos hy wil.

      Partykeer is hy amper spyt dat hy op net die een kind besluit het. ’n Dogter sou na sy stories wou luister. Of ’n ander seun. Maar die plaas is te klein om te verdeel. En sy vrou vat ook altyd die seun se kant. Al sê sy nie so nie. Hy sien dit in die kospakkies wat sy vir die kroonprins landboukollege toe stuur. Met briefies binne-in! Die geraamde foto langs haar bed. Dit maak hom skoon ongemaklik. Wanneer hy aantrek, sit hy die ding plat.

      Hy wat Kobus de Korte is, moes ná matriek kom boer, hy moes maar aangaan waar sy pa gelos het, daar was nie tyd of geld vir studie nie. Hy moes net raakvat. Vir sy ma sorg.

      Maar sy vrou en die kind is mos geleerd. Weet beter. Hy het self ook ’n paar keer sy kop goed gestamp. Veral voor die lang droogte. In ’74 het hy gebargain op die reënval. Dit was egter ná jare van noukeurige opnames en so het hy toe wragtag gewaag om te voorspel wat gaan gebeur. ’n Maand te vroeg gesaai. Die hele spul het gevrek en hy het amper sy gat gesien. God weet, as hy toe die plaas verloor het, so net ná sy pa se dood …

      Nee wat, die kind sal maar net moet leer. As hy wat Kobus is nou vandag ’n voorspelling kan waag, is dit dat die seun maar eers op die plaas waar hy sy prakties doen, moet voorman word vir so tien jaar. Daarna kan hy maar weer probeer. Laat hy sy foute op ’n ander man se rekening maak. ’n Boer kan nie speel nie, dit kos net te veel.

      Hy is bly Klein-Koos is die naweek by die huis, sal môre met hom praat oor die toekoms. Vandag is hy net te rammetjie-uitnek. Laat hy maar by sy vriende op die dorp kuier vanaand. Môreoggend vroeg, net ná melktyd en voor kerk, kan hulle praat. Wanneer die vrou nog titivate. Dis nou as die klein klits nie weer laat is vir die melkery nie. Deesdae fuif hulle mos tot vroegoggend, dan kom hy ingesluip, borsel net tande, suig peperment en trek skoon klere aan. Die koeie weet ook. Die seun vat die spene maklik mis en dan wil hulle nie sak nie. Dis die drank. Sy vrou sê los, dis net ’n fase. Hy sal maar sy bek hou, maar hy het al gesien hoe boere hulle plase wegsuip.

      Miskien moet hy maar sy halsstarrigheid oor restaurantkos laat staan en aanbied dat hulle ná kerk by die Wimpy gaan eet. Al kos dit ’n plaas se geld. Andersins boer die meneer in elk geval net met sy studentepraatjies by sy ma in die kombuis wanneer sy kook. En hy wat Kobus is, sit alleen op die stoep en luister RSG.

      Ja, dis soos dit sal wees. Hulle gaan môre Stilbaai toe. Direk ná kerk. Nie