Kamee. Roela Hattingh. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Roela Hattingh
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Публицистика: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780798169189
Скачать книгу
waar is Timboektoe, The strange alchemy of life and law, Memory – an anthology, The wisdom of forgiveness en The inhuman condition.

      “God is the detail. So not!”

      Of dalk wel. In die begin was die prent daar en die prent was by God en die prentjie was self God en alles was perfek en goed. En toe verander alles toe dieselfde prentjie nie meer reg is nie. Daar is net te veel woorde, te veel alles. Hoe less-is-more jy jou kop, ’n lewe saam?

      As alles kortliks gesê kon word, het Shakespeare haikoes geskryf, was die Bybel ’n telegram. Sou alles vinniger plaasgevind het, almal soveel tyd kon spaar. TV-programme word TV-advertensies. Advertensies word ’n woord. ’n Boek word ’n tydskrif, ’n tydskrif ’n pamflet, alles verkort tot die essensie.

      Hoe?

      Goed.

      Ook.

      Laat?

      Ag, gym, jy weet.

      Hoenderbreyani?

      Reeds.

      Wat van?

      Nee, dankie, moeg.

      Is jy?

      O.

      (sug)

      Goed dan.

      Twintig woorde ná drie en twintig jaar. Hoekom nou? As dit tien jaar terug was, kon sy ook oor begin het. Maar nou is alles van haar met hom ineengestrengel, reeds gemeng, sodat sy nie meer weet wat haar storie of syne is nie.

      Mens kan tog nie die sout of suiker uit die beslag haal nadat jy dit by die meel gevoeg het nie. As jy te veel van die een bestanddeel ingegooi het, moet jy maar nog van die ander ingooi totdat die verhoudings weer reg is. Uitpakslaai maak van mengelslaai.

      Wat sou tannie Margaret sê? “Arrange whatever pieces come your way, my dearie, as Virginia Woolf said, and make a fresh pot of tea while you’re at it.”

      Dis oggend in die Bosveld, tannie Margaret help die standerdsewe-An met die Fairlady-blokkiesraaisel.

      “Seventeen across: ‘elsewhere’, vyf letters? Dink tannie dis ‘apart’?”

      “Alibi.”

      “Skuus, tannie?”

      “A … l … i … b … i.”

      “Ek dag ‘alibi’ beteken die mense by wie jy was toe die moord gepleeg is. As die regter jou in die hof vra.”

      “Exactly, my old dearie. It refers to where you were when the act happened. You were elsewhere. That is your alibi. To provide an alibi, to offer an excuse. I think it’s Latin.”

      Die gaste is hier. Sy sit Revlon se burnt bronze-lipstiffie aan, glimlag vir haarself in die spieël. Het al weer oor die lyne ingekleur. Sy moet ondertoe gaan. Jong, pragtige lywe, ’n paar mans met boyfriends, twee met blonde skinny-jeans-hoë-hakke-meisies. Die nuwe baas is alleen. Háár grimering is perfek. Almal hang aan Piet, of eerder Pete, se lippe.

      Sy dink aan die status update van haar oudste vriendin op Facebook vanoggend. “There is no listening. There’s just waiting for the other person to stop talking – Fran Lebowitz.”

      Sy probeer die verkeersligreël. Praat net as dit groen is. Komplimenteer die jongklomp. Konsentreer op die draaie en opdraandes en ratte en hellings en die resies van Piet, oeps Pete, se nuwe vriende. Bied van die uitpakslaai aan. Die bronslaai is eerste op.

      Haar oudste seun skuif die kos op sy bord rond. Die jongste eet niks nie. Sy sien hulle gedra hulle voor Pappa se vriende. Hulle sit regop, antwoord in volsinne, wag dat die grootmense klaar eet. Sy laat val haar mes; ’n vreemde man gaan kom kuier, dink sy toe sy buk om dit op te tel. Dis stil onder die tafel. ’n Ander wêreld, asof die bene nie aan die mense bokant die tafel behoort nie. Party met enkels gevou, ander vooruitgestrek. Deurmekaargestrengel. Nie netjies in rytjies nie. Sy sien hoë hakke, kinders se skoene, Nike-tekkies, een gespierde kaalvoet met haartjies op die groottoon wat haar man se naakte, geskeerde maermerrie liefkoos. Sy stamp haar kop van skrik.

      A … l … i … b … i, spel sy. I need an elsewhere.

      Toe staan sy op, verskoon haar saggies, wink vir die seuns, fluister vir hulle. “Kom ons gaan koop KFC.”

      Gate uit

      ONS HET NOU NET GALA GESWEM BY die Rec en stap huis toe deur die wye veld. Jy is tien, ek is nege. Ons het vyftig sent gekry om te deel en ons het vir ons elkeen ’n Groovy en ’n klein slab donkersjokolade van Albany gekoop. Dis bitter en soet en maak ons warm van binne af. Ons hare is teen ons voorkoppe vasgeplak en gekoek. Joune hang slierte teen jou nek af en jou hemp is reeds nat in die middel van jou rug.

      Ons is bang. Die huis is ver, die veld is oop en groot en leeg en ons loer heeltyd na die klompie doringbome. Op die horison is mynhope. Laas was dit die piramides in Egipte en ons was Nefertiti en haar tweelingsus. Ons het towerkragte gehad; ek kon enige metaal laat smelt deur daarna te kyk en almal wat jou sien, het op jou verlief geraak en jou gedien.

      ’n Ander keer was die mynhope Don Quixote se meulens en ons het Spaans gepraat: amigo, obrigado, por favor, mucho, hombre.

      Jy lees elke aand vir my uit die Kinders van die wêreld. Ons is ook kinders van die wêreld.

      Die huise waarheen ons stap, is nie van bakstene gebou nie. Dis sulke dunnerige mure, ek dink dis asbes; jy sê dis gevaarlik: Asbes gee mens tering. Ons het lank terug in ’n baksteenhuis gebly waarvan net die tuin nou oor is. Sondae op pad kerk toe ry ons daar verby. Ons kan nog sien waar ons gebly het, al is al die huise en strate weg. Net die tuine is oor. Ons mag nie ons eie kaalgatperskes gaan pluk nie, al sien ons dis ryp.

      “Verbode terrein,” sê Ma.

      “Niemandsland,” fluister jy altyd vir my met ’n spookstem.

      Ons bure het in die gat geval toe ons klein was. Ma het die dag voor die gat ingeval het, gesien die water verdwyn in die kraak in die grond in en die rose is droog, alhoewel sy die kraan vir die hele nag oop vergeet het, maar niemand het geluister toe sy sê iets is verkeerd nie. Die tuin wou net nie nat word nie. Ma sê myners hoor nie as vrouens praat nie. Ons bure het van vakansie af teruggekom en net vir een aand oorgeslaap voordat hulle na hulle oupa en ouma toe sou gaan. In die middel van daardie nag het die gat ingeval. En hulle het verdwyn. Vir altyd. Sommer so oornag. Ek het lank gewonder of die bure daar onder se huis heel is, of hulle vars melk gehad het. Ek weet daar was baie water.

      In ons kamer het die muur net in drie gekraak. Niks het ingeval nie. Toe eers luister die myners vir Ma.

      Inderhaas trek ons die dag ná die gat na hierdie splinternuwe huis toe in Summerplace, waar ons nou bly. Ons oom sing altyd: “Little boxes on the hillside, little boxes made of ticky-tacky, and they’re all made out of ticky-tacky, and they all look just the same.”

      Dan lag hy. Hy is ’n boer en bly op ’n plaas waar daar net een huis is. Ek dink hy lag omdat dit hier so plat is en omdat ons huis nie dieselfde as die ander is nie. Ons s’n is ligblou. Die bure aan ons linkerkant, die Souties s’n, is groen. Die ander buurtannie wat die inrykafee besit en wie se man dood is, se huis is ligpienk.

      Dis al skemer. Die miershope maak lang puntskaduwees.

      “Sê nou maar,” begin een van ons twee.

      “… die aarde is toe met ’n dun lagie sjokolade presies waar ons monde is. Dit sweef half in die lug en … ”

      “… en ons moet ons pad oopeet om êrens heen te gaan en die sjokolade gaan weer toe agter ons.”

      Ons loop en draai ons koppe van links na regs en weer terug soos ons ons pad kamstig oopeet. Soos katte maak ons klapgeluidjies.

      “Watter sjokolade ons ook al sê, dis wat daar is.”

      “Flake … ”

      “Turkish Delight … ”

      “… en hoe meer ons eet, hoe … ”