Kamee. Roela Hattingh. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Roela Hattingh
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Публицистика: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780798169189
Скачать книгу
moet ons al hoe meer eet om ons bestemming te bereik en almal wat ons wil seermaak, moet ook ’n pad deur die sjokolade eet.”

      “Teen die tyd dat hulle by ons kom, is hulle soet … ”

      “… en wil ons nie meer pla nie.”

      Ons blaas ons monde op en maak ons arms rond en waggel heen en weer in die paadjie soos ons die pad voor ons massiewe lywe probeer oopeet. Ons loop al weerskante van die grondpaadjie en sig-sag voor mekaar verby.

      “Peppermint Crisp … ”

      “Gemmersjokolade … ”

      “Koffiesjokolade … ”

      “Daai Pink Panther-sjokoladetjies … ”

      “Kit Kat, Crunchies … ”

      “Sirkeltjieklappersjokolade … en … en … bokdrolletjies … ”

      By die laaste troppie doringbome gaan die aarde oop en die dag val diep in ’n rysmiergat in. Al die soet sjokoladestafies wat ons al ooit geëet het, skif in ons mond.

      Die lang man leun teen ’n doringboompie, sy ding in sy hand. Dis vet en pers soos ’n eiervrug. Dit blink. Maar dis sy oë wat ’n gat in die dag brand.

      Ons hardloop. Laat val die handdoeke met ons nat baaikostuums wat styf opgerol is. Ons skree nie. Voel nie die skerp klippe onder ons voete of die duwweltjies nie. Ons is nie Johanna van Arkel, Racheltjie de Beer, Emily Hobhouse, Barbara Lipschutz, Medea of die Koningin van Skeba nie. Ons hardloop uit al ons stories, ensiklopedieë en kinderdrome uit.

      Toe is ons by die einde van die veld. Ons klim deur die draad. Uiteindelik teerpad en geel, pienk, groen, blou, geel, pienk, groen huise tot by ou Bettie wat ons met haar kreukelvel inwag.

      “Ek het vir die nonnies gekyk al die pad van doer bo by daai bome.”

      Sy hou ons styf vas tot ons ophou ruk. Sy ruik na Vaseline en meubelolie. Sy maak ons sit op die agterstoep, ons bene in die son. Gee vir ons krummelpap met botter en sheba. Ons eet hoenderboudjies in die oond gebraai. Die sout maak ’n krakerige skilletjie. Ons eet sommer so met ons hande.

      Die soet smaak van bang is weg.

      Swem

      GOD WEET, SY WEET NIE HOEKOM haar man hierdie vakansieoord gekies het nie. Of hoekom hy dink dat hy haar hiermee bederf nie.

      “Net om dankie te sê dat jy so ’n goeie hulp vir my is, Naseera, my vrou.”

      Elke keer wat hy só praat, glimlag sy skaam, kyk af, sê sy dank God dat hy haar geneem het.

      Tweegesig.

      Dis nie eintlik vakansie nie. Nie vir haar nie. Alles is amper dieselfde as by die huis. Net dubbel so swaar. Sy kook, maak skoon, was en stryk, versorg die kinders. Haar man werk nie. Hy rus.

      God weet. Hoe gaan sy ooit vandag whudu bereik? Sy kan die velle van haar arms afskuur, maar haar hart en kop is vuil soos urine. Vergewe my rebelsheid, bid sy. Die huisskoonmaak is nie heeltemal so erg nie, maar sy moet elke dag klere was. Die kokery is amper dieselfde. Sy onthou hoe sy gesukkel het om te kies watter potte en panne sy moes saambring. Breyanipot vir seker, dan een vir dhal, en die ysterpot vir vleisgeregte, klein pannetjie vir chapati’s en puri’s. Groot pan vir roti, ’n ryspot, stomer vir die groente, drukkoker en vergiettes. Melkpot vir paneer en die sweetmeats. Oondpan en ’n rooster.

      Uiteindelik was amper al haar potte ingepak. Vir een week se vakansie? Sy moes haar buurvrou roep om te help besluit. Sonder haar raad sou sy nooit regkom nie. En toe die eetgerei en bakke en kruie en dhania-jeera-haldi-garam-masala. Al die verskillende soorte meel ook, die growwe meel, semolina, self-raising flour, chana, koekmeel. Gelukkig het die buurvrou haar gehelp om die bestanddele in sakkies uit te meet. Uiteindelik was driekwart van die bagasieruimte afgestaan aan die potte en kos.

      Sy het min klere vir hulle kon inpak. Die kinders gee nie om nie, maar haar man wel. Hy vergewe haar, sien sy. Seker omdat sy kurta steeds onberispelik wit is.

      “Trots is my kleed en groot is my jas en die een wat met my kompeteer, sal tweede kom,” het die Profeet tog gesê.

      Sy wonder of Hy ooit sy eie kleed moes was. Dit was nog altyd die vroue se werk. Dis die belangrikste. Alles kan maar verkeerd gaan, maar as kurtas skitter en glad gestryk is, is die manne se eer gered. Die kinders se klere is makliker gedurende vakansies. Dis nie skoolklere nie. En boonop word hulle nie eintlik vuil nie, hulle bly meestal in die woonstel. Lees, kyk televisie. Siestog, hulle is vry om te speel, natuurlik nie met die ander kinders nie, maar darem playstation, Scrabble en rummy. Dis tog jammer dat sy nie halaalspeelmaats vir haar kinders ook kon inpak nie, dink sy met die goddelose kant van haar brein. Sy staan op van haar gebede. “Die gelukkige sal goeie dade doen.” Vandag sal sy baie hard moet werk om ’n ryskorreltjie se geluk te verdien.

      Een keer ’n dag gaan hulle strand toe. Ná zuhr en middagete en voor maghrib. Hulle moet voor sononder tuis wees – die djins loop rond op soek na slagoffers. Sy weet daar word onbeskaamd na haar gekyk, meer as na die vrouens in die bikini’s met borste wat punte staan en lap wat styf om hulle skaamboog span. Meer as na die babas en peuters wat rondwaggel, sand orals in hulle oop monde. Nog meer as na die jong mans met die blink kaal bolywe wat volspoed die see inhardloop, skuins bo-oor die eerste golwe platval en omkyk met helder oë vol water wat stroom oor wimpers, mekaar duik en jaag en later volleyball speel, spring, uitbundig lag, arms om hulle meisies. Baie meer as na die pienk, wit, bruin vel om skouers, arms, mae, boude, dye, selfs die wegloerbinnekant wat ingesmeer word met sonskerm. Selfs meer as die staar van die lewensredders na die see en swemmers as dié buite die afgebakende area swem. Die klein vlaggies wat die swemmers veilig laat voel in die water. Asof die haaie nie daar swem nie.

      Op die strand is die beskerming van haar purdah baie dun. Die vreemde jahiliya-oë volg haar maer, afgeëtste silhoeët. Die oë van mense wat doen en kyk wat en waar hulle wil. Die oë sien die vrou agter die swart gordyn wat die eentonigheid van sand en halfkaal lywe en water en lug breek. Die vrou wat verby hulle stap en eenkant gaan sit. En binne-in die gordyn kruip sy nog dieper weg. God weet. En haar man weet. Van hoe sy haar wegsteek ook vir hom.

      Haar man en kinders stap saam met haar tot sy sit. Eenkant. Dan hardloop hulle na die vlaggies en spring-spring in die golwe tot hulle knieë amper nat is. Hulle staan nie uit soos sy nie. Hulle swem met driekwartbroeksweetpakke. Sy kan haar verkyk aan haar dogtertjie wat elke keer wat sy val of rol na haar pa kyk, asof sy net mag lag as hy dit goedkeur. Sy ken dit. Die ingehoue self wat net deur ’n pa of ’n broer, later ’n man, mag wees. Nooit totaal oorgee nie. Vroue het slegs lewe deur mans. Binne die vlaggies van God se genade.

      “My genade is sterker as my wraak,” hoor sy die Skrif. “As my dienaar daarvan hou om My te ontmoet, sal Ek hom ontmoet. As hy My nie wil ontmoet nie, sal Ek hom nie ontmoet nie.”

      Sy kyk na die skepe ver op die horison. Vasgehou tussen lug en see. Kan hulle kies om anders te vaar? wonder sy. Toe sien sy hoe haar man na haar wink. Sy bedek vinnig haar enkels wat sy verspot vir die meeue gewys het. Asof hy weet. Sy moet gaan as hy haar roep. Haar voete onder die warm sand uithaal. Sleepvoet beweeg sy na hom. Voel weer die oë. Dis hoekom sy die purdah moet dra, sê haar man. Dis hoe hy haar beskerm teen die aankyk van ander mans. “O, mense, dit is waar dat julle sekere regte ten opsigte van julle vroue het. Dit is julle reg dat hulle nie vriende maak met iemand wat julle nie goedkeur nie.” Maar wat van beskerming teen haar eie man se oë? As haar vel maar purdah was. Sy kyk af toe sy by hom kom.

      “Kyk na my dogter en maak jou voete nat, die water is goed. Ons stap rotse toe,” sê hy.

      Sy ken die stemtoon. Trots. Sterk. Man. Hy wil hê almal moet sien dat niemand behalwe hy haar mag sien nie. Dit klits hom op. Vannag wanneer die kinders slaap, sal hy vir haar nuwe onderklere gee. Sy sal dit aantrek sodat hy dit kan uittrek. Hy sal orals aan haar vat. Haar soen en vryf. Sy sal alles doen wat hy wil hê sy moet. Maar haar hare sal sy nie losmaak nie. Nie vir haar man nie.

      Sy glimlag vir haar dogter. Nou kan haar kind gelukkig swem soos sy wil. Naseera draai om. Sy wil kyk of haar man en seun nog