Haar ma se kind. Helena Hugo. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Helena Hugo
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796318619
Скачать книгу
in hoofstuk een ook donker en gespierd. Die lokteks op die agterblad voorspel een van daardie stories wat Dania nie sal kan neersit voor sy die slot gehaal het nie. Sy kou haar broodkorsie en lees dit weer.

      Louisa se hart is gebreek toe die man van haar drome op ’n geheime sending vertrek. Al wat sy het, is een rooi roos en die belofte dat hy eendag sal terugkom. Moet sy hom glo, of moet sy haar oorgee aan die aantreklike strandloper wat haar een stormagtige nag langs die see optel, na sy vissershut dra en versorg tot sy weer op die been is? Louisa kan loop, maar sy kan nie onthou nie – nie wat haar naam is nie, ook nie waar sy woon nie. Die strandloper wil moeite doen om uit te vind, maar sy is bang vir die waarheid. Wat is die waarheid en hoekom is sy bang? Lees saam en raak deel van die avontuur!

      Lekker! Sy kyk weer na die paartjie op die omslag en dink: Wat wed ek julle twee, teen die einde van die dag weet ek wat julle geheim is! Ek sal net eenuur as antie Dora kom inloer, sorg dat ek besig lyk met opstelle en woordeboeke. Gelukkig is sy altyd haastig om terug te gaan werk toe, dan kan ek weer ontspan. Oom Jonnie kom veel later – eet, rus en gaan werk in die tuin. Wie op aarde leer in elk geval vir English composition? Sal help as hulle ons die onderwerpe voor die tyd gee!

      Sy vat ’n sluk melk, tel die boekie op en lees verder.

      Hoofstuk 3

      Die branders spoel skuimend om haar voete, sproei wasem teen haar koorsige gesig. Die see roep haar diep uit sy eie hart. In die lig van die maan lyk die water so glad soos satyn, die skuim soos die kantvalle van trourokke. Louisa loop dieper in. ’n Reuse-brander breek teen haar knieë. Sy loop nog dieper. Die see is haar minnaar, hy praat met haar. Hy nooi haar om rus te vind in sy arms. Elke nuwe golf wat na haar toe aangespoel kom, bring trooswoorde saam. Die see suis troetelwoorde – sag en teer en sonder oordeel. Louisa kyk af. Haar voete sak weg in die nat sand, skuim maak walletjies en smelt om haar enkels. Haar rok klou teen haar bene. Sy stap dieper in. Haar rok raak swaar van die water. Nog branders kom op haar aangestorm, een breek oor haar kop en skouers. Sy verloor haar balans, haar voete word onder haar uitgeslaan. Sy snak na asem en strompel orent. Die see is ’n dier met geen genade nie. Hy gryp haar!

      Dania konsentreer so, sy hoor die branders breek, sien hoe die see Louisa intrek. Sal sy van plan verander en loskom? Die spanning laai op. Toe klap die huis se voordeur.

      Amper keer sy haar melk om. Het sy die deur oop vergeet? Sy spits haar ore. Haar nekhare staan regop. Sy hoor iemand praat.

      Klink soos wie? Antie Dora?

      Dania spring op, steek Louisa en die strandloper onder haar kopkussing in en staan botstil en luister.

      Dit is antie Dora en ’n man.

      Gewapen met haar hokkiestok sluip Dania in die gang af en sien verlig dis dominee Van Velden. “Is jy seker sy’s hier?” vra hy.

      “Sy moet leer.” Antie Dora klink oud en moeg.

      “Hier’s ek!” Dania lig haar hokkiestok asof sy hand opsteek in die skool.

      Dominee Van Velden glimlag.

      “Dag, Dania. En daai stok?”

      “Dis om skelms mee plat te slaan. Môre, Dominee.”

      “Jou tante het griep. Jy moet kyk dat sy in die bed kom en rus.”

      Antie Dora hou aan die deurkosyn vas. Sy lyk beslis siek.

      “Stap saam met haar kamer toe.”

      “Die … sopkombuis,” hyg antie Dora.

      “Moenie jou bekommer nie, ek en Dania sal regkom.”

      Antie Dora stry nie, en dis vreemd, want sy is altyd vreeslik begaan oor alles wat in die sopkombuis gedoen moet word. Sê nou antie Dora is dodelik siek, wat dan?

      Dania gaan staan langs haar. “Wil Antie op my leun?”

      “Liewer … nie … ”

      Antie Dora se asem kom in sulke kort hygies, nes Oubaas as hy warm kry. Sy loop ’n paar treë en staan eers om te rus. “Het jy … die … pakkies afgelewer?” vra sy.

      “Vir ouma Loesie-hulle? Ek het nog nie kans gekry nie.”

      “Moenie vergeet nie.”

      Amper klink sy weer so streng soos gewoonlik. Sy loop sleepvoet tot by haar en oom Jonnie se slaapkamer. Die bed, wat altyd so netjies opgemaak is, lyk vandag sommer slordig. Dania vou die deken terug en pof die kussings op. Antie Dora raak net van haar skoene ontslae en val skuins op die bed neer.

      “Moet Antie nie pajamas aantrek nie?”

      “Later, gaan help vir Dominee.”

      Dania is verlig om die siek vrou agter te laat. Dis verwarrend om antie Dora soos ’n omgekeerde skilpad te sien lê. Sy word dan nooit siek nie! Selfs as sy en oom Jonnie albei griep of maagwerk kry, dan bly antie Dora uitgespaar om hulle te verpleeg. Wie gaan haar gesond dokter?

      Dominee Van Velden hou ’n kardoesie na Dania toe uit. “Haar pille,” sê hy. “Tannie Emma sê dit lyk na somergriep. Jy moet sorg dat sy in die bed bly en elke vier uur een van elkeen neem. Bel ons as sy sieker word, dan vat ons haar Clanwilliam toe na die dokter – en sorg dat sy eet, al is dit net ’n stukkie brood.”

      Dania knik. Die verantwoordelikheid om na haar siek antie om te sien, is so groot al die spoeg het uit haar mond verdwyn.

      “Jy wil mos eendag ’n verpleegster word – nes jou tante?”

      Sy wil nie, maar knik entoesiasties.

      “Beskou hierdie een as ’n goeie oefenlopie. Jou tante gaan jou dalk voorsê, maar sy behoort nie ’n moeilike pasiënt te wees nie. Ons moenie die sopkombuisgoed vergeet nie!”

      Dominee dra die pot kokende vleis na sy bakkie wat in die straat voor hulle tuinhekkie geparkeer staan. Dania kom met ’n emmer vol geskilde groente agterna.

      “Moenie alleen voel nie, tannie Emma sal vanaand kom inloer,” troos hy. “Jou oom kom seker eenuur se kant van die skool af, of hoe? Bel my as jy dink dis nodig om hom vroeër in te lig, sal jy?”

      Dania knik weer. Antie Dora sal seker sê wanneer dit nodig raak.

      Dominee klim in sy bakkie en trek baie stadig weg. Seker bang die pot vleis val om. Dania maak gou dat sy in die huis kom. Gelukkig het hulle nie bure oorkant die straat nie, anders het hier nou ’n string ou anties aangekruie gekom. Antie Maxie van langsaan het blykbaar niks gesien nie – nie dat sy veel kan doen nie. Sy is oud en sieklik en loop met ’n kierie. Antie Dora stuur dikwels vir haar en oom Frekie kos oor, was en stryk gereeld hulle wasgoed.

      Dania kan steeds nie glo dat antie Dora siek is nie.

      Sy loop op haar tone na die slaapkamer en stoot die deur versigtig oop.

      Daar lê sy nog net soos sy op die bed neergeval het! Dania word so bang, iewers in haar kop weergalm haar hartklop. Sy kyk lank voor sy antie Dora se borskas sien op en af beweeg.

      Dankie tog, sy haal asem.

      Hoekom moet sy vir die eerste keer in haar lewe siek word net voordat Jo-Anne kom kuier en noudat al die lekker uitstappies stad toe klaar gereël is? ’n Siek mens in die huis gaan alles bederf!

squigle.jpg

      Dora droom sy lê op ’n wolkebed, maar dis niks lekker nie. Die wolke verstop haar neus en mond en sy kan nie asem kry nie. Sy wil regop kom, maar kan nie roer nie. Vliegtuie vlieg links en regs van haar verby – so naby, hul vlerke skuur teen haar, en hul enjins dreun so hard, dis asof sy haar kop in ’n bynes het.

      Iemand roep haar. Die stem is vaagweg bekend en sy wil dit nie hoor nie.

      “Dora, my vrou, wakker word. ”

      Jonnie.

      “Jy moet bykom.”

      Sy wil nie.

      Hy sit sy hand op haar skouer.