Haar ma se kind. Helena Hugo. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Helena Hugo
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796318619
Скачать книгу
Sy hoor hulle skuifel en giggel, sien vaagweg hoe ’n selfoon aangegee word.

      Iemand het weer iets beet wat nie bevorderlik is vir jong gemoedjies nie. Sy kan opspring en die selfoon, wat onwettig ingesmokkel is, konfiskeer. Of sy kan hulle die opwinding gun en verder lees in die Danielle Steel wat sy gekoop het omdat dit oor ’n moeder-dogterverhouding gaan.

      Dissipline was nog nooit haar sterk punt nie – selfdissipline ook nie, helaas. Noudat sy ouer is en baiekeer huis toe verlang, dink sy aan haar kinderjare in die Weskusdorpie waar haar ouers steeds woon. Sy het saam met arm kinders in die stof gespeel, terwyl hulle as die ryk mense van die buurt bekend gestaan het – oor die huis. Sy was in graad twee toe haar pa die vervalle plaashuis op die grens van die oudorp gekoop het en vreeslik skaam toe hulle uit een van die nuwe skakelhuisies daar ingetrek het.

      Vandag is dit ’n statige woning met blink gepoleerde houtvloere en rame, ’n netjiese strooidak en stoepe reg rondom, op vier erwe beplant met allerhande soorte vrugtebome en met ’n groentetuin om van te droom. Haar ouers kon lankal in die bodorp gaan bly het, maar dis te verstane dat hulle nie wil verkoop nie.

      Destyds het hulle nie ’n keuse gehad nie. Apartheid het hulle in die bruin gemeenskap vasgehou, maar hulle was leiers en kerkmense wat respek afgedwing het. Haar pa het vir laerskoolkinders skoolgehou, al was hy opgelei om vir hoërskool klas te gee. So goed was hy in sy vak, wit kinders van die bodorp het vir ekstra rekeningkundelesse na hulle huis toe gekom. Na-ure het hy die Bezuidenhouts se boeke gedoen.

      Haar ma het eers nie gewerk nie. ’n Jaar nadat die kliniek oopgemaak het, het sy daar begin. Van die kinders in Jo-Anne se klas was jaloers. Hulle het lelike aanmerkings gemaak en gesê haar ma is aangestel om die wit suster, suster Lourens, se vuil werk te doen. Dit was nie waar nie. Haar ma het ’n uniform nes suster Lourens gedra en suster Lourens was baie gaaf. Sy het Jo-Anne met geskenkies bederf en naweke na hulle huis toe gekom om koesisters te bak. Dit was hul ekstra inkomste. Vandag is Dora Stals die dorp se koesister-koningin wat sal bak en bak tot sy eendag omval.

      Jo-Anne kyk van haar boek af op. Die klas het skielik onverklaarbaar stil geraak. Sy kyk hulle streng aan en sê niks. Die bom sal wel bars as dit moet. Ingedagte teken sy ’n agt op die koevert langs haar boek. Koesisters is in die stad se Suid-Afrikaanse winkels te koop, nêrens van dieselfde gehalte as Dora Stals en Sannie Lourens s’n nie – tannie Sannie. Jo-Anne sal haar nie vergeet nie. Sy was ’n weduwee met drie groot kinders wat sy geleerd moes kry. Moes al afgetree het, toe werk sy nog.

      Nadat sy siek geword het en weg is, het haar ma saam met verpleegster Bantjes gewerk. Dié het as jong meisie daar aangekom en by hulle in die stoepkamer geloseer. Sy was baie skaam en stil, en Ma-Dora het gekla dat sy nie juis op en wakker is nie, maar sy was darem ’n paar ekstra hande.

      Jo-Anne was toe al op koshuis in Wellington en het nie elke naweek huis toe gekom nie. Soms het sy by antie Lea-hulle gaan kuier en haar eers verstom en later verlekker aan die huis vol kinders. Sy was haar lewe lank die enigste een – vreemd in ’n omgewing van groot groepe en daarom ’n maklike teiken vir skoolboelies. Haar neefs en niggies was anders, hulle was gaaf.

      Aan die een kant was dit ’n goeie ding dat haar ouers haar weggestuur het Wellington toe. Aan die ander kant was dit nie so goed nie. Allerhande soorte kinders word in koshuise saamgegooi. Jo-Anne het daar stories gehoor wat haar ore laat tuit het. Van die meisies het die vreeslikste goed aangevang, soos om sigarette en drank in te smokkel of snags uit te glip. Hulle is selde uitgevang, en as dit per ongeluk gebeur, het die kamermaats saamgestaan en gemaak of hulle van niks weet nie. Dis in die koshuis dat sy leer rook het. Sy het dit eers vir almal weggesteek, maar antie Lea het ook gerook en van haar eerste jaar op kollege het hulle saam gerook. As sy daar gaan kuier, het sy vir antie Lea sigarette gevat wat sy met haar sakgeld gekoop het, geld wat haar pa vir haar gebank het. Antie Lea was so dankbaar daarvoor, sy het net soos haar kamermaats nooit op haar gesplit nie.

      Dit was die jare dat sy haar vir haar ouers se eenvoudigheid geskaam het.

      Antie Lea-hulle was arm, maar baie vroliker – altyd aan die musiek maak en partytjie hou saam met bure en vriende, kindertjies later aan die slaap onder die eetkamertafel terwyl die grootmense dans en drink.

      Jo-Anne het Danny aan antie Lea-hulle voorgestel voordat sy hom na haar ouerhuis gevat het. Hy het antie Lea-hulle hul armoede vergewe omdat hulle ’n jolly klomp was, maar die naweek nadat hulle by haar ouers gekuier het, het hy haar gevra of sy seker is hulle is haar ouers en nie ’n kerkpaartjie wat ’n weeskind aangeneem het nie.

      Daarvoor het sy hom amper die pad gewys.

      Pleks sy dit gedoen het. Maar dan sou Dania nooit gebore gewees het nie.

      Feit van die saak is – haar ouers is oud gebore.

      Dania het lank genoeg by hulle uitgehou, lank genoeg geglo sy is gedoem om die res van haar lewe suinig en eenvoudig te wees. Die dag gaan aanbreek dat sy rebelleer. Sy is nie verniet haar wat Jo-Anne is, se dogter nie. Haar ouers behoort dankbaar te wees dat sy hulle betyds verlos. Volgende jaar gaan Dania koshuis toe, dan is sy in elk geval nie meer elke dag onder hulle dak en onder hulle beheer nie.

      Hoe die kind dit by hulle hou, gaan Jo-Anne se verstand te bowe. Sy het niks teen hulle betrokkenheid by die kerk nie – sy is self op die lys by haar kerk se musiekbediening. Maar om die kerk die middelpunt van al jou sosiale bedrywighede te maak is, om die minste te sê, vervelig. Geen wonder die dorp se oujongnooiens is almal versot op liefdesverhaaltjies en vars brood nie. Die algemene handelaar verkoop nie eens ’n ordentlike verskeidenheid koeldranke en lekkers nie, koerante kom een dag laat en tydskrifte verskyn nie op sy rakke nie. Goed, Bakker Bakker kán bak, vleis en groente is vars, en die lewe is seker gesond – maar ai, so vervelig.

      In die kwartaal gebeur daar seker darem nog iets. Sy kan onthou dat die skool en kerk hulle besig gehou het met eksamens en toetse, sport en konserte, én die koor. Almal het in mevrou Swanepoel se koor gesing en selfs in omliggende dorpe opgetree. Maar sodra die skool vir die vakansie sluit, het die kinders net mooi niks om te doen nie. Dania hou haarself besig. Sy lees, sy help in die kombuis, pas babas op, sit by mevrou Koster, maak Kersgeskenke vir minder bevoorregtes, gaan ’n keer of wat saam met Jonnie en Dora Lambertsbaai toe, en elke jaar hoogstens een keer na die Kaapse Waterfront.

      Wanneer Jo-Anne daar kuier, kan sy sien Dania is uitgehonger vir ver plekke en stadsliggies.

      Sy wil daardie honger versadig, sy wil Dania wys dat die wêreld nie net uit sandpaaie en aartappellande bestaan nie.

      “Miss Stalls, Miss Stalls! She’s killing him!”

      Die skril gille wek haar uit haar mymering. Sy staan op en gooi die boek waarin sy veronderstel was om te lees, hard op die tafel voor haar neer. Die ontploffing ruk die klas tot hul sinne.

      Vyf

      Dania kan die reuk van halfrou vleis wat stadig kook, nie verdra nie. Sy maak vir haar roosterbrood, smeer dit met skaapvet en heuning, gooi ’n glas melk in en dra dit na haar slaapkamer aan die ander kant van die huis. Dan skuif sy haar skoolboeke op haar lessenaar eenkant toe, sit die brood en melk neer, trek een van Marta se boekies nader en lees verder aan die hartseer verhaal wat sy laat laas nag begin het.

      Louisa is ongelukkig. Sy verlang na iets wat sy nie kan beskryf nie. Die gesuis van die golwe en gekras van meeue eggo die treursang van haar hart. Die maan raak weg agter die wolke en sy silwer pad op die see verdof. Dit raak so donker soos haar eie gemoed. Die man van haar drome is weg en sy sal hom nooit weer sien nie. Een omhelsing is geen waarborg van ewige liefde nie, een rooi roos geen belofte van trou nie. Haar lippe roer: “Vaarwel, my enigste, totsiens en vaarwel.”

      Louisa pluk haar jas uit die kas en gooi dit om haar skouers. Sy loop kaalvoet by haar woonsteldeur uit.

      Dania vat ’n hap van haar brood. Dis die einde van hoofstuk twee en die storie is klaar so tragies. Wat kan nog verkeerd loop?

      Sy keer Louisa en die strandloper langs haar bord om. Die donkerkopheld en blonde heldin op die voorblad omhels mekaar teen die agtergrond van ’n seelandskap met ’n hemelsblou lug en skuimende branders. Sou dit Louisa en die man wat haar verlaat het, wees of