Dink jouself gelukkig. Pieter van Jaarsveld. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Pieter van Jaarsveld
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796318060
Скачать книгу

      Dink jouself gelukkig

      Verander jou denke

      Verander jou lewe

      PIETER VAN JAARSVELD

      Lux Verbi

      Die uitleg van die teks in hierdie digitale uitgawe van Dink jouself gelukkig mag verskil van dié van die gedrukte uitgawe, afhangende van die instellings op u leestoestel. Die uitleg vertoon optimaal indien die standaardinstelling op u leestoestel gebruik word.

      Opgedra aan Irene, Janke en Ilana, Pieter-Paul en Yolandi.

      Voorwoord

      Jy slaap. Jy hoor ’n stem en jy is seker dit is die Hemelse Vader wat met jou praat. Hy sê aan jou, soos aan Salomo van ouds, jy kan kies wat jy graag wil hê en jy sal dit ontvang.

      Wat sal jy kies? Ek weet regtig nie wat ek sou kies nie. Sekerlik nie wysheid nie. Ek sou nooit daaraan gedink het nie. As ek eers kon gaan dink daaroor, sou ek dalk ’n beter besluit kon neem.

      Kyk ’n mens na wat navorsing oor die wêreld heen bewys, dan sou die meeste mense geluk gekies het. Maak nogal sin, nè? Sommige sal sê hul droom is om ’n gesonde lewe te lei, ander droom dalk oor beroepsukses, ander oor gelukkige verhoudings en nog ander oor gesondheid. ’n Mens dink hierdie dinge gaan ons gelukkiger maak. Kom dit nie maar alles neer op geluk nie?

      Boeke oor geluk word teen ’n asemrowende spoed gepubliseer. Is dit maar net ’n nuwe gier? Dit kan maklik so lyk, want vrouetydskrifte, koerante, televisieprogramme, blogs, raak almal mal oor hierdie onderwerp! Tog kan ’n mens nie van die feit wegkom dat mense wêreldwyd na geluk hunker nie. Plato het dit al in sy akademie bestudeer en sy sterstudent, Aristoteles, het dieselfde gedoen. Reeds ’n eeu voor hierdie twee het Confucius in China van dorpie tot dorpie geloop en ook verkondig hoe belangrik dit is om geluk te vind.

      Mense soek geluk, maar die werklikheid is dat mense net al hoe ongelukkiger word. Ons weet nie presies wat die geval in Suid-Afrika is nie, maar in die VSA is die vlak van depressie vandag tien keer so hoog as in 1960. In 2005 het slegs 36% van studente in Brittanje hulle as gelukkig beskou.1 Die mense in hierdie twee genoemde lande is vandag heelwat ryker as 50 jaar gelede. Waarom is hulle nie gelukkiger nie?

      Tog is die wonderlike nuus dat daar wetenskaplike bewyse is dat ’n mens gelukkiger kan wees. Dit is nie maar net ’n nuwe gier nie. Dit is wonderlik dat wanneer ’n mens gelukkig is, nie net jy daarby baat vind nie, maar ook jou familie, jou werksomgewing, jou gemeenskap, jou nasie. Die wetenskap bewys dat wanneer ’n mens gelukkiger is, jy nie net beter voel nie, maar dit jou energievlakke, jou immuniteitstelsel en jou kreatiwiteit verbeter. Dit verbeter jou verhoudings en jou produktiwiteit en, les bes, jy leef langer! Meer nog, dit het selfs ’n uitwerking op jou nageslag! 2

      Om gelukkig te wees is ’n opdrag aan elke gelowige. Ons is geskape na die beeld van God (Gen 1:26-27) en is sy verteenwoordiger op aarde. Ons mag dus ook nie lamlendige, negatiewe ambassadeurs wees nie. God het ons in elk geval geskape dat ons ’n oorvloedige lewe (Joh 10:10) moet lei en dit behels beslis ’n lewe van geluk.

      Iets wat ons in gedagte moet hou, is dat perfeksionisme ons dikwels weerhou van geluk. Daar is mense wat hulself as ongelukkig beskou, maar as jy na hul lewe in detail luister, dan besef jy hulle is nie elke oomblik gelukkig nie. Ander voel weer dat as jy gelukkig is, jy altyd geluk moet uitstraal. Jy kan nooit hartseer, kwaad of terneergedruk voel nie, maar moet altyd positiewe emosies hê. Dit is egter ver van die waarheid. Die enigste mense wat nooit hierdie emosies ervaar nie is psigopate en dooies! Geluk beteken nie dat jy perfek is nie.

      Om gelukkig te wees is ’n reis en ons werk elke dag daaraan. Hierdie boek bevat tegnieke en vaardighede wat wetenskaplik nagevors is en wat jou gaan help om ’n lewe van geluk te lei. Jy moet egter in gedagte hou: As jy ’n goeie sportman wil wees, moet jy hard oefen. Dieselfde geld ook as jy ’n suksesvolle deelnemer aan die daaglikse lewe wil wees. Dit vereis toewyding en harde werk. Dit is soos om ’n huis te bou: Elke dag bou jy steen vir steen. Hierdie boek gaan jou help om geluk in jou lewe te vind en te floreer met lewensvreugde.

      Iets omtrent hierdie boek

      Voornaamwoord: Meestal is voorkeur aan die manlike vorm gegee bloot om plek te bespaar en sodat die leser met gemak kan lees.

      Navorsing: Baie lesers van my boek Die hart van ’nwenner het aan my genoem dat hulle graag meer inligting oor die navorsing van sekere aspekte sou wou lees. Hierdie keer het ek meer besonderhede van navorsing gegee, veral die interessanter gevalle. Indien jy dus nie in navorsing belangstel nie, laat jou oë daaroor gly en kyk net wat die uitslag daarvan was. Vir julle wat nog meer detail verlang, kyk gerus na die verwysings en jy kan die meeste hiervan vandag op www.google.co.za opspoor.

      Herhaling: Ek weet dat baie lesers nie ’n hele boek deurlees nie (ekself ook nie!). Ek het dus sekere belangrike begrippe, navorsing of tegnieke en vaardighede soms herhaal vir die leser wat net sekere hoofstukke lees. Dit sal hopelik help om die geheelbeeld beter te kry.

      Engels: Ek het soms sekere begrippe, toetse of gesegdes in Engels gelaat omdat ek nie iets wou laat verlore gaan van die oorspronklike bedoeling van die outeur nie. Ongelukkig gaan daar maar soms iets verlore met ’n vertaling.

      Uitnodiging: Ek het soveel e-posse van lesers van my vorige boeke ontvang en dit was ’n ongelooflike ervaring waarvoor ek baie dankbaar is. Indien jy dus iets met my wil deel, meer oor iets wil uitvind of my sommer wil nooi om by julle te kom optree, kontak my gerus by [email protected] of [email protected].

      Erkenning: Baie dankie, Irene, Janke, Pieter-Paul, Yolandi en Adri Labuschagne vir die raad ná die deurlees van die manuskrip. Dankie ook aan Zandri vir die hulp met die tikwerk. Ek waardeer dit geweldig!

      Dankie aan die Hemelse Vader vir die voorreg wat ek gehad het om konferensies oor hierdie onderwerp te kon bywoon en om die voorreg om op internasionale konferensies oor die onderwerp te kon praat. Dit was ’n groot genade om met hierdie onderwerp besig te kon wees.

      Geniet hierdie boek en ek hoop dit lanseer jou op jou reistog van geluk.

      Pieter van Jaarsveld

      HOOFSTUK 1

      Gelukkigheid laat jou floreer

      “Geluk is die betekenis en doel van lewe, die hele strewe en die oogmerk van die mens se bestaan”

      – Aristoteles

      Wat is een van jou grootste begeertes?

      Mense sal dinge noem soos gesondheid, goeie verhoudings en sukses. Kom dit nie maar eintlik alles daarop neer om gelukkig te wees nie? Miskien was Aristoteles tog reg? Dit is nie verniet dat daar duisende boeke oor geluk gepubliseer word nie en baie navorsers noem dat dit byna die nommer 1-begeerte van die meeste mense is. Daar is nou selfs bewyse dat sportmense beter presteer as hulle gelukkig is. Jy is dus nie ’n uitsondering nie.

      Ed Diener, een van die voorste navorsers in die veld van geluk, het in ’n studie in 47 lande waar meer as 9 000 mense ondervra is, gevind dat geluk die meeste mense se grootste begeerte is. Mense is gevra om die belangrikheid van “geluk” en “hemel toe te gaan” te beoordeel op ’n tienpuntskaal waarop 1 die minste belangrik was en 10 uiters belangrik. Geluk is beoordeel as 8.0 en “hemel toe te gaan” 6.7!1 Dit laat ’n mens nogals dink oor die toestand van die mensdom. Geluk is belangriker as om hemel toe te gaan, maar aan die ander kant kan en mag ’n mens reeds hemel op aarde geniet deur gelukkig te wees en lewensvreugde te geniet. Is dit tog nie God se wil nie?

      As jy luister na mense wat terminaal siek aan kanker is, dan hoor jy baie van hulle sê dat hulle nou eers besef hoe wonderlik die lewe is. Hulle het nie ’n nuwe selfhelpboek gekoop wat ewe skielik vir hulle nuwe waarhede geleer het nie. Nee, hulle het begin besef dat hulle nog altyd die moontlikheid gehad het om te leef! Die vermoë om gelukkig te wees kom van binne ’n mens; jy het die vermoë in jou.

      Met ’n gelukkige lewe bedoel ek nie net gevoelens van geluk nie. Ek bedoel ook nie daardie geel gesiggie-plakker met die glimlag nie. Nie dat die gevoelens nie deel van ’n gelukkige mens is nie. Ek bedoel ook nie die cliché van “Don’t worry, be happy” nie. Nee, ek praat van ’n baie dieper geluk wat binne elke mens se bereik