Witwatersrand. Wilbur Smith. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Wilbur Smith
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Историческая литература
Год издания: 0
isbn: 9780795707032
Скачать книгу
voel.

      Die uur is lank vir Sean. Hy teken ’n geweer in die kantlyn van sy spelboek en vee dit dan weer sorgvuldig uit. Hy sit ’n rukkie na Garrick en kyk totdat sy broer se verdieptheid in sy werk hom irriteer.

      “Bokker!” fluister hy, maar Garrick ignoreer hom.

      Sean is verveeld. Hy skuif rusteloos op sy bank rond en kyk na die agterkant van Karl se kop voor hom. Daar is ’n ryp puisie op sy nek. Hy tel sy liniaal op om die puisie ’n druk te gee. Maar voor hy dit kan doen, tel Karl sy hand op asof hy sy skouer wil krap. Tussen sy vingers is ’n stukkie papier. Sean sit die liniaal neer en probeer ongemerk die papiertjie vat. Hy hou dit op sy skoot en lees een woord daarop: “Muskiete.”

      Sean grinnik. Sy nabootsing van ’n muskiet was een van die baie redes waarom die vorige onderwyser bedank het. Ses maande lank het ou Akkedis geglo dat daar muskiete in die kamer is – en die volgende ses maande het hy geweet daar is nie muskiete in die vertrek nie. Hy het elke moontlike plan bedink om die skuldige te betrap, maar op die ou end was hy self die slagoffer. Sodra die eentonige gesing begin het, het die spiertjie in die hoek van sy mond begin ruk.

      Sean maak sy keel skoon en begin brom. Dadelik kan ’n mens voel hoe almal spook om hul lag binne te hou. Elke kop, ook Sean s’n, is hardwerkend oor ’n boek gebuig. Mnr. Clark se hand huiwer ’n oomblik terwyl dit op die bord skryf, maar gaan dan gladweg voort.

      Dis ’n oulike nabootsing. Deur die krag van sy stem te vermeerder of te verminder, wek Sean die indruk dat die insek heen en weer in die kamer vlieg. ’n Ligte trilling by sy keel is die enigste aanduiding dat hy verantwoordelik is vir die gesing.

      Ná ’n rukkie hou mnr. Clark op met skryf en draai hom om na die klas. Sean maak nie die fout om op te hou nie. Hy laat die muskiet nog ’n rukkie vlieg voor hy êrens gaan sit. Mnr. Clark klim van sy kateder af en stap tussen die ry banke aan die ander kant van die klaskamer deur. Een of twee keer gaan hy staan om die werk van sy leerlinge na te gaan. Toe hy agter in die kamer kom, stap hy oor na die ry waarin Sean sit. By Anna se bank steek hy vas.

      “Dis mos nie nodig om so ’n geweldige krul aan jou L te sit nie,” sê hy vir haar. “Laat ek jou wys.” Hy vat haar potlood en skryf. “Sien jy wat ek bedoel? Om in ’n mens se skrif vertonerig te wees is net so lelik as om in jou alledaagse gedrag vertonerig te wees.”

      Hy gee haar potlood terug, swaai dan skielik op sy een been om en slaan Sean ’n harde hou met die plathand teen die kant van sy kop. Sean se kop ruk eenkant toe en die hou klap hard deur die stil klaskamer.

      “Daar het ’n muskiet op jou oor gesit,” sê mnr. Clark.

      11

      Die volgende twee jaar is ’n oorgangstyd van hul kinderdae na volwassenheid vir Sean en Garrick. Dit is asof hulle op ’n sterk stroom dryf, asof hulle vinnig op die rivier van die lewe meegevoer word.

      Dele van die rivier vloei diep en stil.

      Ada is een van hierdie dele. Steeds begrypend, met die vermoë om uitdrukking te gee aan daardie begrip, bly sy onveranderlik in haar liefde vir haar eggenoot en die gesin wat sy as haar eie aanvaar het.

      Waite is ook een van daardie dele. Sy hare is effens gryser, maar hy bly steeds groot van liggaam, groot van lag en groot van vermoë.

      Dele van die rivier vloei vinniger …

      Soos Garrick se vertroue in Sean. Met elke maand wat verbygaan, is Garrick se behoefte aan Sean groter, want Sean is sy skild, sy staatmaker. As Sean nie daar is om hom te beskerm wanneer hy in gevaar verkeer nie, gebruik hy sy laaste toevlug: Hy kruip weg in homself, weg in die warm, donker mistigheid van sy eie gees.

      Hulle gaan perskes steel: die tweeling, Karl, Dennis, en twee ander seuns. Rondom mnr. Pye se boord is daar ’n hoë heining wat sy pragtige perskes beskerm. Hulle is so groot soos ’n man se vuis en so soet soos heuning, maar selfs nog soeter wanneer hulle gesteel kan word! Die seuns gaan met ’n ompad die boord binne, deur ’n plantasie wattelbome.

      “Ons moenie te veel van een boom pluk nie,” beveel Sean. “Ou Pye sal dit sweerlik dan agterkom.”

      Hulle kom by die heining en ná ’n rukkie kry Sean die gat waarvan hulle lankal weet.

      “Garry, bly jy hier en staan brandwag vir ons. As iemand kom, fluit jy.” Garrick probeer om nie te verlig te lyk nie. Hy het nie kans gesien vir hierdie strooptog nie.

      Sean gaan voort. “Ons sal die perskes vir jou aangee. En moenie daarvan eet voor ons klaar is nie, gehoor?”

      “Hoekom kan hy nie maar saamgaan nie?” vra Karl.

      “Omdat hy nie kan hardloop nie, daarom. As hulle hom vang, sal hulle weet wie die ander is en dan sal ons ook in die pekel wees.”

      Karl is tevrede. Sean buk laag en kruip hande-viervoet deur die gat in die heining. Die ander volg die een ná die ander totdat Garrick alleen buite bly staan.

      Hy staan vas teen die heining; dit laat hom veilig voel. Die minute sleep verby en Garrick vroetel senuweeagtig met sy hande. Wat draai hulle tog so?

      Skielik hoor hy stemme. Mense kom deur die plantasie in sy rigting aangestap. Hy voel paniekerig en druk homself nog dieper in die heining in. Hy dink nooit daaraan dat hy die ander moet waarsku nie.

      Die stemme kom al nader en dan gewaar hy Ronny Pye tussen die bome deur. By hom is twee van sy vriende. Al drie het slingers in die hand. Hulle oë is in die lug, want hulle soek voëls in die bome.

      Dit lyk vir eers nie of hulle Garrick in die heining gaan sien nie, maar toe hulle amper verby is, draai Ronny toevallig sy kop in Garrick se rigting en gewaar hom. Hulle staar na mekaar. Daar is skaars tien tree tussen hulle. Die uitdrukking van verbasing op Ronny se gesig by die aanskoue van Garrick wat hier so verskrik in die heining wegkruip, verander geleidelik en daar kom ’n listigheid in sy oë. Hy kyk vinnig rond om te sien of Sean nie dalk naby is nie.

      “Dis ou Hinkepoot-pinkepoot!” kondig hy aan, en sy twee vriende draai terug en kom staan weerskante van hom.

      “Wat doen jy hier, Houtbeen?”

      “Het die rotte jou tong afgebyt, Houtbeen?”

      “Nee, die rysmiere het sy been afgevreet.” Hulle lag hard met die doel om seer te maak.

      “Praat met ons, Houtbeen.” Ronny Pye het ’n paar bakore wat soos twee waaiers weerskante van sy kop uitsteek. Hy is klein vir sy ouderdom, gemeen en hy het rooi hare.

      “Toe dan, Houtbeen! Praat dan!”

      Garrick lek met sy tong oor sy droë lippe. Die trane brand al klaar in sy oë.

      “Haai, Ronny, laat hom loop vir ons, soos dié.” Een van die ander boots Garrick se hinkstap na. Hulle lag weer, nog harder dié slag, want hulle sien Garrick se vrees. Hulle kom nader. “Wys vir ons hoe jy loop.”

      Garrick draai sy kop heen en weer op soek na ’n wegkomkans.

      “Jou broer is nie hier nie,” kraai Ronny. “Dit help nie om na hom te soek nie, Houtbeen.”

      Hy gryp Garrick aan die hemp en pluk hom uit die heining uit.

      “Wys vir ons hoe jy loop!”

      Garrick probeer tevergeefs om Ronny se hand los te kry.

      “Los my! Ek sal vir Sean sê! Ek sal vir Sean sê as jy my nie los nie!”

      “Nou goed, ek sal jou los,” stem Ronny in en met albei hande stamp hy Garrick voor die bors. “Moenie hiernatoe kom nie, loop soontoe!”

      Garrick steier agteruit.

      Maar een van die ander is reg vir hom. “Moenie hiernatoe kom nie, loop soontoe!” En hy stamp hom in die rug. Hulle staan in ’n wye kring om hom en stamp hom heen en weer tussen hulle.

      “Loop soontoe!”

      “Loop soontoe!”

      Die trane loop oor sy wange.