Toe kom Sean deur die gat in die heining agter hulle. Sy hemp staan bak van die perskes. ’n Oomblik lank bly hy hande-viervoet sit en kyk wat gebeur. Dan spring hy op en loop hulle storm. Ronny hoor hom kom, laat val Garrick en draai om.
“O, so jy is besig om Pa se perskes te steel!” skree hy. “Ek sal …”
Sean se vuis tref hom op die neus en hy sit plat in die stof. Sean swaai om met die doel om die ander twee ook by te kom, maar hulle lê reeds die rieme neer. Hy hardloop ’n paar tree agter hulle aan en draai dan om na Ronny. Hy is egter te laat. Ronny hardloop ook reeds koes-koes tussen die bome weg. Die bloed drup-drup van sy neus op sy hemp.
“Hoe voel jy, Garry?” Sean kniel langs hom en probeer die sand van sy gesig afvee met ’n vuil sakdoek. Sean help hom orent en Garrick staan effens waggelend regop. Sy oë is oop, maar op sy lippe is ’n dromerige, leë glimlag.
Daar is mylpale langs daardie rivier. Party van hulle is klein, soos ’n hopie klippe in vlak water.
Waite Courtney kyk oor die ontbyttafel na Sean. Die vurkvrag eier en gebraaide spek steek op pad na sy mond toe vas.
“Draai jou kop na die lig toe,” beveel hy agterdogtig. Sean gehoorsaam.
“Wat de duiwel sit daar op jou gesig?”
“Wat?” Sean voel met sy hand oor sy wang.
“Wanneer laas het jy gewas?”
“Ag, moenie laf wees nie, my ou man!” Ada skop sy been onder die tafel. “Dis nie vuil nie, dis baard!”
“O, baard, nè?” Waite kyk stip na Sean en glimlag breed. Hy maak sy mond oop om iets te sê en Ada weet dadelik dat hy ’n grap wil maak, een van daardie lomp grappe van hom wat Sean net sal seermaak in sy halfvolwasse manlikheid. Sy val hom in die rede: “Ek dink jy moet vir hom ’n skeermes koop, Waite. Dink jy nie ook so nie?”
Waite verloor die draad van sy grap, brom iets en steek die eier in sy mond.
“Ek wil nie skeer nie,” sê Sean en hy bloos bloedrooi.
“Hulle sal vinniger groei as jy hulle in die begin so ’n bietjie skeer,” lig Ada hom in.
Regoor haar sit Garrick verlangend sy ken en bevoel.
Party van die mylpale is yslik groot, soos bakens.
Waite kom die seuns in die begin van die Desembervakansie by die skool haal. In die geharwar van koffers in die verewaentjie laai en totsiens sê aan Fräulein en hulle maats, van wie hulle party nie weer oor ses weke sal sien nie, sien die tweeling glad nie dat Waite bra vreemd optree nie.
Eers later toe die perde twee keer vinniger as gewoonlik huis toe galop, vra Sean: “Waarom dan so haastig vandag, Pa?”
“Julle sal sien,” antwoord Waite. Garrick en Sean kyk skielik met groot belangstelling na hom. Dit was sommer ’n los vraag wat Sean gevra het, maar Waite se antwoord sit hulle dadelik aan die gis. Waite glimlag breed terwyl hulle hom met nog vrae bestook. Sy antwoorde bly maar vaag. Hy geniet die speletjie terdeë en teen die tyd dat hulle op Theuniskraal aankom, is die twee seuns dol van nuuskierigheid.
Waite hou die perde voor die huis in en ’n staljong kom nader gedraf om die leisels te neem. Ada staan hulle op die stoep en inwag. Die waentjie staan skaars stil of Sean spring af en hardloop die trappies op na haar toe. Hy soen haar vinnig.
“Wat gebeur, vertel asseblief?” pleit hy. “Pa wil nie sê nie, maar ons weet daar’s iets aan die gang.”
Garrick kom ook haastig-haastig die trappies op. “Toe, toe, Ma! Vertel!” Hy pluk haar aan die arm.
“Ek weet nie waarvan julle praat nie,” lag Ada. “Julle moet jul pa maar weer vra.”
Waite kom agter hulle die treetjies op, sit sy arm om Ada se middel en gee haar ’n drukkie.
“Ek weet nie waar hulle daaraan kom nie,” sê Waite, “maar hoekom sê jy nie vir hulle om in hul slaapkamer te gaan kyk nie? Hulle kan hul Kersgeskenke vanjaar maar so ’n bietjie vroeër kry.”
Sean is voor Garrick in die sitkamer en teen die tyd dat hy by die slaapkamerdeur kom, is Garrick ver agter.
“Wag vir my,” roep Garrick benoud. “Asseblief, man, wag vir my.”
Sean bly in die deur staan.
“Wragtag!” fluister hy.
Garrick kom agter hom staan en tesame staar hulle na die twee leertassies wat op die tafel in die middel van die kamer lê. Dis sulke plat, lang tassies van blink gepoleerde leer, die hoekies met koper beslaan.
“Koeëlgeweers!” sê Sean en hy stap stadig na die tafel toe asof hy die twee tasse bekruip en elke oomblik verwag dat hulle sal verdwyn.
“Kyk!” Sean raak met een vinger aan die gedrukte goue letters op die deksel van een van die tasse. “Ons name staan glad daarop!”
Hy laat die slotte oopspring en tel die deksel op. In sy nes van groen materiaal, swaar gegeur met geweerolie, glinster ’n gedig in staal en hout.
“Wragtag!” sê Sean weer. Dan kyk hy om na Garrick. “Gaan jy nie joune oopmaak nie?”
Garrick hink na die tafel toe terwyl hy sukkel om sy teleurstelling te verberg. Hy wou so graag ’n stel van Dickens se werke gehad het.
In die rivier is daar maalgate …
Die laaste week van die Kersvakansie lê Garrick in die bed met een van sy verkoues. Waite Courtney is Pietermaritzburg toe vir ’n vergadering van die Beestelersvereniging en op die plaas is daar min te doen. Nadat Sean een oggend die siek bees in die sanatorium gedokter en inspeksie in die suidelike deel van die plaas gery het, kom hy terug huis toe en bring ’n uur by die stal deur waar hy met die stalvolk ginnegaap. Toe staan hy huis se kant toe. Garry slaap en Ada is besig om botter te maak in die melkkamer. Sean vra vir Josef sy kos en eet staan-staan in die kombuis. Terwyl hy eet, wonder hy wat hy die namiddag gaan doen. Hy weeg die moontlikhede versigtig teen mekaar op. Die geweer vat en duiker gaan soek hier bo langs die berg of ry na die gate bokant die Witval en palings vang? Toe sy kos op is, weet hy nog nie watter koers hy sal inslaan nie. Hy stap oor die werf na die koel donkerte van die melkkamer.
Ada glimlag vir hom oor die karring. “Dag, Sean, jy wil seker jou kos hê?”
“Dankie, Ma, Josef het dit al vir my gegee.” Hy snuif die reuk van die melkkamer op. Hy hou van die kaasagtige aroma van vars botter en die eienaardige geur van die beesmis waarmee die kamer se grondvloer gesmeer is.
“Wat gaan jy vanmiddag doen?”
“Ek het juis kom vra of Ma vanaand wildsvleis of palings wil hê. Ek weet nie of ek moet gaan skiet of gaan visvang nie.”
“Palings sal lekker wees, ons kan hulle inlê en dit môre eet wanneer jou pa terug is.”
“Ek sal vir Ma ’n hele emmer bring.”
Sean saal sy perd op, hang sy blik aaswurms aan die saal en met sy visstok oor sy skouer ry hy weg in die rigting van Ladyburg. Hy ry oor die Bobbejaanspruit, maar draai net oorkant die brug af van die pad en volg die stroom op na die val toe.
Toe hy onderkant die Van Essens se plaas om die wattelbos kom, besef hy dat hy ’n fout gemaak het deur hierdie pad te kies. Tussen die bome uit kom Anna aangenael terwyl sy haar rok met albei hande bokant haar knieë hou. Sean sit die ponie op ’n drafstap en kyk reg voor hom.
“Sean! Haai, Sean!”
Sy is voor hom en sy probeer om hom af te sny. Daar is geen kans om haar te ontwyk nie en hy hou die perd maar in.
“Hallo, Sean.” Sy blaas en haar gesig is rooi van die inspanning.
“Hallo,”