“Wat gaan jy nou doen?” vra sy.
“Ek gaan hom ’n pak slae gee! Ek gaan die vel van sy bas slaan!”
“Ag, asseblief, moenie!”
“Hoe bedoel jy nou?”
“Hy het genoeg straf weg. Het jy nie gesien hoe lyk hy nie?”
Waite laat sy skouers moeg sak en hy gaan sit in die leunstoel langs die bed. Ada raak aan sy wang. “Ek sal hier by Garry bly. Gaan probeer jy ’n bietjie slaap kry, ou man.”
“Nee,” sê Waite. Sy kom sit langs hom op die stoel. Waite slaan sy arm om haar middel. En ná ’n lang ruk raak albei aan die slaap, styf teen mekaar in die stoel langs die bed.
5
Dis lelike dae wat volg. Garrick se verstand sit met hom op loop en hy dwaal in ’n warm wêreld van lighoofdigheid rond. Hy hyg na asem en gooi sy koorsrooi gesig heen en weer op die kussings. Hy huil en kerm in die groot bed. Die stompie wat van sy been oorgebly het, swel geweldig op en die steke daarin span so styf dat dit lyk of hulle gaan losskeur uit die dikgeswelde weefsel. Die uitloop van die ontsteking syfer geel en stink deur op die lakens.
Ada bly die hele tyd by hom. Sy vee die sweet van sy gesig af, maak die verband om die stompie skoon. Sy hou die glas sodat hy kan drink en paai hom wanneer hy yl. Die uitputting en kommer laat haar oë donker in haar kop wegsink, maar sy verlaat hom nie ’n oomblik nie.
Waite kan dit nie uithou nie. Soos die meeste mans is hy doodbang vir lyding, en wanneer hy in die kamer is, voel dit vir hom of hy verwurg word. So elke halfuur kom hy die kamer binne en kom staan hy by die bed. Dan draai hy maar weer om en gaan voort met sy rustelose ronddwalery in en om die huis. Ada kan sy swaar voetstappe in die gange hoor.
Sean bly ook in die huis. Hy sit in die kombuis of in die hoek op die stoep. Niemand praat met hom nie, ook nie eens die bediendes nie. Wanneer hy probeer om by die siekekamer in te sluip om Garrick te sien, word hy weggejaag. Hy is eensaam, die troostelose eensaamheid van die skuldige. Garrick gaan sterwe, hy weet dit aan die onheilspellende stilte wat oor Theuniskraal hang. Uit die kombuis kom daar geen gebabbel of geklater van kastrolle nie; geen ryk, diep gelag van sy pa nie, selfs die honde is stil. Die dood is op Theuniskraal. Hy kan dit ruik in die vuil lakens wat uit Garrick se kamer na die kombuis gebring word: Dis ’n muwwe reuk, die reuk van ’n dier. Partykeer kan hy dit byna sien. Selfs helder oordag wanneer hy op die stoep sit, voel dit vir hom dit sit hier langs hom soos ’n skaduwee in die hoek van sy oog. Dit het nog geen vaste vorm nie. Dit is ’n swartheid, ’n koudheid wat geleidelik besig is om oor die huis te groei, al sterker word totdat dit sy broer sal wegneem.
Die derde dag kom Waite Courtney brullend uit Garrick se kamer gehardloop. Hy nael deur die huis tot voor die stal. “Karlie! Waar’s jy? Gooi ’n saal op Rooiberg se rug, man! Opskud, opskud, vervlaks! Hy sterf, hoor jy, hy sterf!”
Sean bly botstil sit teen die muur by die agterdeur. Hy vat Tinker net stywer om die nek en die hond raak met sy koue neus aan sy wang. Hy kyk hoe sy pa op die hings se rug spring en wegjaag. Die perd se hoewe dreun weg in die rigting van Ladyburg. Toe hy weg is, staan Sean op en glip die huis binne. Hy staan ’n oomblik voor Garrick se deur en luister. Dan maak hy dit versigtig oop en stap binne. Ada draai om toe hy inkom. Haar gesig lyk moeg. Sy lyk baie ouer as vyf en dertig jaar, maar haar swart hare is styf oor haar kop gekam en in ’n netjiese bolla agter in haar nek vasgemaak en haar rok lyk vars en skoon. Sy is nog steeds ’n mooi vrou, ondanks haar uitputting. Om haar is daar ’n sagtheid, ’n goedheid, wat lyding en kommer nie kan vernietig nie. Sy steek haar hand na Sean uit en hy stap na haar, gaan staan by die stoel en kyk na Garrick. Toe sien hy waarom sy pa die dokter gaan haal het. Die dood is in die kamer, sterk en koud hang dit oor die bed. Garrick lê botstil. Sy gesig is geel, sy oë en sy lippe is oopgebars en droog.
Die eensaamheid, die skuld, alles swel op in Sean se keel en hy bars in snikke uit. Hy sak op sy knieë neer, druk sy gesig in Ada se skoot en huil. Hy huil vir die laaste keer in sy lewe, soos ’n man huil hy, bitter en pynlik, asof elke snik iets binne-in hom losskeur.
Waite Courtney kom terug met die dokter van Ladyburg. Weer word Sean uit die kamer geboender en die deur toegemaak. Die hele nag hoor hy hulle in Garrick se kamer werskaf, die gemompel van hul stemme en die geskuifel van hul voete op die geelhoutvloerplanke. Die oggend is alles verby. Die koors is gebreek en Garrick lewe. Maar hy leef ook net. Sy oë sit in sulke donker gate in sy kop soos dié van ’n kopbeen. Sy liggaam en verstand sal nooit heeltemal herstel van hierdie wrede verminking nie.
Dit neem byna ’n week voor hy sonder hulp kan eet. Sy eerste behoefte is sy broer. Voor hy veel meer as ’n fluister kan uiter, vra hy: “Waar’s Sean?”
En ure lank sit Sean, wat nog swaar ly, by sy broer. Wanneer sy broer slaap, glip hy uit die kamer uit, en met sy visstok of kieries en Tinker blaf-blaf agterna, gaan hy die veld in. Sean se berou kan gemeet word daaraan dat hy homself so lank in die siekekamer laat hou. Niemand weet wat dit hom kos om daar by Garrick se bed te sit terwyl sy hele liggaam jeuk en brand van onverbruikte energie en sy gedagtes rusteloos rondspring nie.
Toe moet Sean terug skool toe. Op ’n Maandagoggend vroeg, terwyl dit nog donker is, lê Garrick en luister na die voorbereidings vir die vertrek: die sagte gerunnik van die perde op die werf en in die huis Ada se stem wat Sean sy laaste opdragte gee.
“Ek het ’n bottel hoesstroop onder jou hemde ingepak. Gee dit vir Fraulein wanneer jy uitpak. Sy sal dit vir jou gee sodra daar tekens van ’n verkoue is.”
“Ja, Ma.”
“Daar is ses frokkies in die klein tassie, trek elke dag ’n skone aan, hoor!”
“Net sissies dra frokkies.”
“Jy doen soos Ma sê, kêreltjie!” Waite se stem. “Opskud nou met jou pap. Ons moet nou begin aanstaltes maak as ek jou om sewenuur in die dorp wil hê.”
“Kan ek gou vir Garry gaan groet?”
“Jy’t mos gisteraand al gegroet. Buitendien slaap hy nog.”
Garrick maak sy mond oop om te roep, maar hy sluk sy stem weer terug, want hy weet dit sal nooit so ver trek nie. Hy lê stil en luister hoe die stoele oor die eetkamer se vloer skraap, die voetstappe in die gang af, en uit op die stoep, stemme wat totsiens sê en dan uiteindelik die wiele van die verewaentjie wat oor die gruis op die pad knars. Dis doodstil nadat Sean en sy pa weg is.
Daarna is naweke die enigste ligpunte in Garrick se kleurlose bestaan. Hy hunker na hul koms, maar dit duur ’n ewigheid van die een na die ander.
Ada en Waite besef hoe hy voel en hulle skuif die middelpunt van die huis na sy kamer toe. Hulle bring twee van die vet leerleunstoele uit die sitkamer en sit een aan elke kant van sy bed neer. Hier bring hulle hul aande deur. Waite sit met sy pyp in die mond en ’n glasie brandewyn langs hom en kerwe aan die houtbeen wat hy vir Garry maak en hy lag weer sy ou, diep lag. Ada sit aan die ander kant en brei. Hulle probeer albei om hom te bereik, maar moontlik omdat dit so ’n bewuste poging van hulle kant is, slaag hulle nie daarin nie. Miskien is dit ook nie moontlik om soveel jare terug te loop en jou in te dink in die wêreld van ’n jongman nie. Garrick lag en gesels met hulle, maar dit is nie dieselfde as wanneer Sean daar is nie. Bedags moet Ada na die groot huishouding omsien en moet Waite aandag gee aan sy sewe duisend vyf honderd morg grond en sy twee duisend beeste. Dit is die eensaamste tyd vir Garrick. As hy nie boeke gehad het nie, sou hy dit dalk nie uitgehou het nie. Hy lees alles wat Ada vir hom bring: Stevenson, Swift, Defoe, Dickens, en selfs Shakespeare. Baie verstaan hy nie, maar hy lees gulsig en die opium van die geskrewe woord help hom om deur die lang dae te kom totdat Sean elke Vrydag opdaag.
Wanneer Sean by die huis is, is dit asof daar ’n sterk wind waai. Deure klap, honde blaf, bediendes skel en voetstappe klap op en af in die gange. Die meeste van die lawaai is Sean s’n, maar darem nie alles nie. Daar is ook Sean se aanhangers, kinders van die dorpskool wat Sean se gesag net so gewillig soos Garrick aanvaar het. Dit was nie net Sean se vuiste wat hierdie