Johannes stap nader aan hom. “Los haar uit, Willem. Soek met my moeilikheid, dis mos wat jy nog altyd doen. Jy los haar uit.”
“Dink jy jy gaan my keer? Ek bang jou nie, Visser.”
Ek maak my oë toe toe Stefaans ook opstaan. Sy vuiste klap sommer vir niks. Kyk hoe lyk my maermerrie, en dit net omdat ek ’n slukkie van sy koffie gevat het. Ek begin jammer voel vir dié Willem.
Ek hoor niks en maak my oë oop. Agter Willem het nog gesigte verskyn.
“Kyk haar rok,” giggel een van die meisies. “Shame, kon jou ma nie ’n rok kry wat pas nie?”
Ek kyk af na my rok, vee die pleats wat effens oopgeval het omdat ek kruisbeen sit plat. “My rok pas mos.” Ek staan op sodat hulle kan sien.
“Arme arm Vissers,” lag een van die groter seuns. “Jy moet kyk dat jou ma meer wydsbeen lê, dalk kan sy dan vir jou ’n rok koop wat pas.”
“En skoene,” snip nog een.
“Miskien moet jy ook maar wydsbeen begin …”
Hy kom nie verder nie. Stefaans se hou tref hom teen die kakebeen sodat sy kop agteroor ruk en hy in die stof neerslaan.
Ek knyp weer my oë toe. Toe ek deur my vingers loer, is dit ’n warboel van vuiste en bene en lywe. Die meisies staan grootoog eenkant, hand voor die mond. Ek sien hoe hulle pad maak en ’n oom, nee, ’n menéér, ruk die seuns hardhandig uitmekaar.
“Al weer julle Vissers! Kom kantoor toe!” Hy sleep vir Johannes en Stefaans aan hul krae daar weg.
“Vir wat huil jy?” Juffrou Mulder se stem is hard.
Ek skud my kop.
“Haar broers het baklei, juffrou.”
“Dankie, Frans, jy kan gaan sit.” Sy kyk na my. “Kom hier.”
Ek staan stadig uit die bank op, stap tot voor haar tafel.
“Huil maak niks reg nie. En as jy elke keer huil wanneer jou twee broers in ’n geveg betrokke is, gaan jy nog baie huil.”
“Dit was nie hulle skuld nie,” snuif ek.
Sy sug. “Dis altyd hulle skuld. Moeilikheidmakers, daardie twee. Kyk jy maar dat jy nie dieselfde paadjie loop nie. Gaan was jou gesig.” Sy kyk af na my voete. “En jou voete. Vir wat het jy nie skoene aan nie?”
“Die meel was op, die suiker ook. Dis belangriker as skoene, sê my ma.”
Die klas lag en juffrou Mulder sug weer. “Loop was jou voete, jy trap die klas vol stof.”
Met lang pouse sien ek ’n tafel buite teen die muur staan, met kinders wat daarom rondmaal. Ek stap verby, na die boom toe. Johannes en Stefaans is reeds daar. Hulle klere is stowwerig. Johannes het ’n sny onder sy oog en Stefaans se lip is dik. Hulle staan onder die boom. Selfs toe ek gaan sit, bly hulle staan.
“Hoekom sit julle nie?”
“Want ons gatte is aan die brand,” sê Stefaans.
“Hu?”
“Ses van die bestes,” sê Johannes. “Wanneer jy op die skoolgrond baklei, is ses houe van die prinsipaal jou voorland.”
“So julle het pak gekry?”
“Met die rottang,” knik Stefaans. “Ses houe op jou …”
“Los dit nou,” keer Johannes.
“Maar dit was nie julle skuld nie!”
“Los dit.”
Wanneer Johannes sê los dit, dan los jy dit.
Ek kyk weer na die tafel teen die muur en die kinders wat daar rondstaan. “Wat gaan daar aan?”
“Brood en koffie,” sê Johannes. “Wil jy hê? Ek sal gaan haal.”
“Toemaar, ek sal gaan.”
Ek staan op en stap na die tafel. Daar is toebroodjies met botter en konfyt in groot silwer bakke. Die brood is dun gesny. Langsaan staan twee groot silwer kanne met ’n kraantjie vooraan. Daaruit laat ’n tannie die koffie in blikbekers loop. Suiker en melk waarop die room dik lê, staan langsaan.
Ek sukkel om die drie bekers en drie toebroodjies te dra, stort van die koffie oor my hand.
“Hoekom het jy so baie brood en koffie, hè?”
Ek gaan staan, draai effens dat ek die gesig agter die stem kan sien. Ben.
“Is omdat hulle nie kos het nie. My ma sê so.” Frans staan langs Ben, ’n bruin kardoessak in sy hand.
“Los haar, Frans.”
Dis Gertjie. Hy vat twee van die bekers by my en loop saam met my na my broers toe.
“Visser-Pisser, Visser-Pisser, Visser-Pisser …” lag Frans en Ben terwyl ek sukkel om die trane te keer. Gertjie draai dreigend om en die twee spring so vinnig weg dat daar stof in die lug hang.
Terug in die klas sê juffrou Mulder dat ons langs ons banke moet bly staan en ons ore moet spits. “Wanneer die klok trieng-trieng-trieng lui in plaas van triiiiiiieeeeeng, is dit die teken dat daar ’n bom op pad is.”
Langs my begin Susanna kliphard huil. Sy pie haarself nat.
“Nee, o magtig!” brul juffrou Mulder. “Kry die mop en maak skoon! En dan gaan maak jy jouself skoon!”
Eers toe Susanna terug is, sê juffrou Mulder: “Dis net ’n oefening, nie ’n rêrige bom nie. Sodat julle kan weet wat om te doen as dit die dag rêrig is. Ons is in die groot oorlog en ons moet paraat wees! Wanneer julle die klok hoor, duik dadelik onder julle banke in en sit julle arms oor julle koppe.”
Die klok lui en ons duik. Daar is ’n nat kol voor my oë en ’n slegte reuk in my neus.
“Nou toe, dit was goed, kom maar uit. Volgende keer wil ek dit baie vinniger hê.”
Ek steek my hand op. “Dit gaan boggerôl help, juffrou. Pa sê as ’n bom hierdie ingat dorpie tref, bly daar net ’n stofkol oor.”
Agter my gaan die klas aan die lag. Selfs Susanna giggel agter haar hand.
“Stilte! Onmiddellik!” Juffrou Mulder pluk my aan my kraag tot voor haar tafel. “Ek sal nie sulke taal in my klaskamer duld nie! Onder geen omstandighede nie! Hou uit jou hande!”
Die liniaal brand drie keer op elke hand. Ek huil, blaas op my hande, spring op en af, maar niks help teen die brandpyn nie.
Ná skool loop ek sleepvoet saam met Johannes en Stefaans huis toe. Ek sukkel om my kop te lig.
Totdat Johannes vererg stop. “Vat haar koffer,” sê hy vir Stefaans.
Hy kom hurk voor my. “Klim op my rug, Erta-Kepêrta, dan pêpa ek jou. Anders kom ons donkernag by die huis.”
“En jy sê nie vir Ma van die skool nie. Anders neuk sy ons weer.” Stefaans vat my koffer en stap aan, onder ons uit.
Het dit alles in een dag gebeur? Dalk eerder oor weke, selfs maande.
Nie dat dit die verloop van tyd is wat saak maak nie. Dis die wete dat daar mense soos juffrou Mulder, Frans en Ben en die ander naamloses is. Mense wat jou bestaan kan reduseer tot niks.
As ek in reïnkarnasie geglo het, sou ek wou terugkom as ’n persoon met mag in ’n dorp soos Allesverloren. Sodat ek die bose kringloop van baas en klaas kan verbreek.
BARRIE
Vrydagoggend
Aftrede is nie vir sissies nie, het Barrie op die harde manier geleer. En terwyl hy gras gesny en in die tuin gevroetel het, terwyl hy lekkende krane en pype herstel het, terwyl hy tienuur soggens tee in die kombuis en vieruur smiddae koffie op die stoep saam met sy vrou