Vermis op Allesverloren. Anchien Troskie. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Anchien Troskie
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Ужасы и Мистика
Год издания: 0
isbn: 9780795706912
Скачать книгу
draai terug na die kas en begin die goedjies daarop in rye herrangskik. Totdat alles presies haaks is. En dan doen sy dit weer.

      Ek wag tot die bewing in haar hande bedaar. Ek wag totdat sy weer op die punt van die rusbank gaan sit. Ek wag totdat die tyd aanbreek om die man te gaan besoek wie se naam sy so driftig in die koerant omkring het.

      Dis ’n doodgewone kamer. ’n Dubbelbed, gekoop van ’n kettingwinkel, goedkoop afdrukke van natuurtonele kunstig teen die muur gerangskik, ’n effens verweerde wiegstoel waarvan die sitplek glad is van baie aande ’n knieserige baba sus. ’n Spieëltafel met die huismense se lewe uitgebeeld in foto’s daarop. Troues, gradeplegtigheid, ’n aksiefoto van ’n jong seun wat oor ’n doellyn duik.

      Die groen flikkering van die wekker langs die bed is die enigste lig in die vertrek. Twee persone in die bed. Op die linkerkantse bedkassie staan ’n ou man se goedjies uitgestal: Vicks (Allergieë? Sinus? Of bloot verkoue? Vir al drie sou ek vir hom ’n kruiemengsel kon aanmaak), kamferroom, Grand-Pa-poeiers en oogdruppels. Daarnaas ’n verweerde, voosgevatte Bybel en ’n selfoon. Die man van die koerant lê op sy rug, sy arms agter sy kop gevou, elmboë wat hoekig uitsteek. Sy mond groot oop, sy kakebeen slap. Die snork is ’n nasale gebulder. Voete wat van die bed afhang.

      Hy is jonger as wat sy bedkassiegoeters verklap, maar reeds grys om die slape, die snor grys gevlek. Die letsels van die lewe is op sy gesig geëts. Dis ’n taal wat ek goed verstaan – die taal wat tussen die fyn lyne op ’n gesig geskryf staan. Fronsplooi tussen die oë, maar nie van beneukgeit nie, daarvan getuig die lagplooitjies. ’n Goed gebalanseerde man, wat sy humeur kan verloor, wat kan lag. ’n Denker. Sy nek is besig om die geveg teen swaartekrag te verloor. Ek skat hom in sy laat veertigs, miskien vroeë vyftigs. Daardie verwarrende ouderdom wanneer jy te jonk voel om oud te wees en te oud is vir jonk wees.

      Op die ander bedkassie liefdesverhale, ’n Bybel en ’n bedlampie. Die vrou lê in die fetusposisie met haar rug na haar man. Fyn snorkgeluidjies ontsnap uit haar halfoop mond. Haar gesig is nog redelik glad, die tekens van die ouderdom nog nie so duidelik sigbaar nie. Maar die vel tussen die twee sagte borste is verkreukel; die are op haar hande staan reeds blou uit.

      Hoe weerloos is die mens wanneer hy slaap.

      Hoe beny ek hulle nie hierdie ouderdom nie. Wanneer die ledemate nog taamlik soepel is, en as die styfheid nou en dan toeslaan, is dit nog nie heeltemal waar nie. Wanneer jou sig nog taamlik goed is. Wanneer bejaardheid nog in die verte lê en wink.

      Nou kan ek myself seker voorstel: Erta van Tonder (née Visser), aangename kennis. Van vanoggend word ek amptelik deur my susterskind vermis. Ek vermoed dat ek al van gisteraand af vermis is. Daar is geen wit lig wat my omhul nie, ook nie ’n ewigdurende hel van vlamme waarin ek my bevind nie. Ek is in limbo. Sonder geheue oor hoekom ek is waar ek is.

      Ek voel soos ’n prentjie in ’n kleuter se inkleurboek, net in trurat. Die kleure is uitgewis, die buitelyne vaag. Net ’n dowwe beeld bly oor. Ek moet die buitelyne weer trek, ek moet die kleure weer invul, ek moet alles weer beleef. Sodat ek kan weet hoekom. En waar. As ek kon, sou ek dit gespaar wou bly. Nie alle herinneringe is soet nie.

      Die jaar toe die Kasteel in Kaapstad tot ’n nasionale monument verklaar is, toe die jong Amerikaanse atleet Jesse Owens vier goue medaljes by die Berlynse Olimpiese Spele gewen het, drie jaar ná die Groot Depressie en drie jaar vóór die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog, is ek gebore. 1936. Derde in die ry van ses kinders.

      Ma se tyd het haar onverhoeds betrap waar sy besig was om ertappels op te erd. Die pyne was so erg dat sy nie die huis kon haal nie. Sy het die seuns aangesê om te help. Daar in die middel van die ertappelbedding is ek gebore. Met onpaar oë, ’n bloue en ’n groene. Tussen die moere en die swart grond. Toe noem sy my Erta. Ek het my kruis daardie dag al opgetel.

      Ek kan dit onthou, my geboorte. Al het Ma gesê dis nonsens, niemand onthou hulle geboorte nie. Ék het. Die benoude, bedrukte gevoel. Die vrees om die warm waterkokon te verlaat. Die wete dat ek nie ’n keuse het nie. Die reuk van grond en ertappels. Die groot oë van my broers, my ma se natgeswete lyf toe sy my teen haar bors druk. Die vinnige maar gerusstellende klop van haar hart. Ek onthóú dit.

      Agtuur en die man van die koerant en sy vrou sit aan vir ontbyt. Hy is lank en breed om die middel. Die vrou is effens aan die mollige kant, met skoenlapperhande: gee vir hom die margarien aan, die stroop, nog kaas, fladderend bo die ontbyttafel. Die stilte wat in die vertrek tussen hulle hang, is hoorbaar. Toe die telefoon lui, staan sy op, dankbaar vir die onderbreking.

      Haar lippe beweeg, haar kop knik. Sy plaas die telefoon versigtig terug op die mikkie. Druk haar hare reg en draai om.

      “Dit was ’n Melinda Visser,” sê sy toe sy weer by die tafel gaan sit en haar koppie koffie nadertrek. “Haar tante van agt-en-sewentig jaar word vermis. Op Allesverloren, jy weet mos? Die dorpie nie ver hiervandaan nie? Ek het nog eendag aan jou genoem dat ons soontoe moet ry, sommer net om die omgewing te bekyk.”

      Sy kyk afwagtend na haar man. Toe sy geen antwoord kry nie, vervolg sy: “Dis nie te ver nie, Barrie. As jy nou-nou ry, is jy elfuur daar.”

      Hy plaas sy mes en vurk netjies langs mekaar op sy leë bord, vee sy hande tydsaam aan ’n klam lap af. Hy doen dit alles sonder om na haar te kyk, sonder om op haar mededeling te reageer.

      Sy stoot haar koffiekoppie terug en staan op. “Ek pak gou vir jou. En ek sal bel vir verblyf.”

      Hy bly so sit, dit kan sekondes wees, of minute, voordat hy opstaan en deurstap kamer toe.

      So goed soos wat ek my geboorte onthou, so vaag is die gebeure van die volgende ses jaar. Omdat dit van geen noemenswaardige belang is nie? Geen betrekking het nie? Dalk.

      Dít onthou ek wel: my pa wat die reuk van veld saam met hom by die huis indra. Bossies, gras, modder, die mis van vee, die reuk van konkavuur, sweet en stof en sigarette. En bo-oor dit alles ’n soeter, lekkerder reuk.

      Dié reuke het nie lank gehou nie, dis vinnig vervang deur die reuk van brandewyn.

      Volgens my ma was Grootkoos Visser in sy jeug ’n man van formidabele statuur, vandaar die naam. Hy het hom klein gedrink, het sy vertel, die ene knopperige knieë en elmboë. Die sleutelbene wat hoekig uitstaan, dis wat ek die beste onthou. En sy permanente frons, asof hy gebore is om bekommerd en bedonnerd deur die lewe te gaan. Mondhoeke wat altyd afwaarts neig. My onbetrokke alkoholispa.

      Grootkoos Visser was Allesverloren se funksionerende alkoholis. Ek vermoed dat elke plattelandse dorpie een van hulle gehad het – ten minste in daardie jare. Die alkoholis wat weg van die huis en soms ook die omgewing werk. Die omgewing wat nou nog spog met boorgate wat deur sy bekwame, alhoewel bewende, hande aangewys is.

      Een keer per maand, soms veel langer uit mekaar, het hy huis toe gekom. Waar hy driekwart van sy verdienste uitgesuip en sy vrou swanger gemaak het. Die oorblywende kwart van die bitter min geld het hy vir haar gelos om mee aan te sukkel. Tot hy weer op ’n dag voor die huis stilhou, ’n sak met bottels brandewyn in die een hand en ’n sak met vuil wasgoed in die ander. Sy vuil skoene het hy voor die deur uitgeskop en daarna het hy heeltyd net met sokkies aan rondgeloop.

      Dit was my werk om sy skoene skoon te skrop en te politoer. Moeilike werk, want dit was weke se modder en mis wat aan die sole gekleef het. En hy sou elke nou en dan op die stoep uitstap en met ’n krom vinger nog ’n vuil plek uitwys. Wanneer hy eindelik weer die pad gevat het, was die skoene so blink soos wat hý die hele tyd by die huis was. Dan kon ek ’n sug van verligting slaak. Tot hy weer daar sou aankom.

      Een jaar het hy met my twee ouer broers die pad gevat. Toe was daar skielik drie pare skoene om skoon te maak. En dis hulle wat die raaisel van die soet reuk wat soos ’n wolk om hom gehang het met sy aankoms en wat ná ’n paar dae verdwyn het, vir my opgelos het. Grootkoos het nie op die job gedrink nie, kan jy nou meer? Daar, het my broers vertel, het hy niekerbôls gesuig. En bewaar jou siel as jy durf raak aan sy pakkie swart lekkers.

      Vir ons kinders het hy nooit iets soets saamgebring nie. My ma het darem dan en wan, wanneer daar genoeg meel en eiers was, iets soets gebak. Winkellekkers het ons nie geken nie.

      Die