Vermis op Allesverloren. Anchien Troskie. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Anchien Troskie
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Ужасы и Мистика
Год издания: 0
isbn: 9780795706912
Скачать книгу
verlede alles kon deel. Saam met wie hy meer as sewe sakke sout opgeëet het. Saam met wie hy drie kinders grootgemaak het. Huis gekoop het. Langs wie hy elke aand in die bed klim.

      Die vrou met wie hy deesdae nie ’n ordentlike gesprek kan voer nie. Hoekom nie? Dís die vraag. Waar het dinge tussen hulle verkeerd begin gaan?

      Kaartkop lei hom na ’n huis aan die rand van die dorp. Hy vertoef ’n wyle in die motor, staar na die diggetrekte gordyne. Dan klim hy uit en sluit die motor. Stoot die voorhekkie oop. Dit protesteer piepend in die stilte.

      Die malvas en struike in die voortuin lyk verlep, maar toegegee, dis droog en warm. Op die stoep is varings en hen-met-kuikens. Die vloer kort verf, die mure ook. En die voordeur het ’n laag vernis nodig.

      Hy klop.

      ’n Vrou in ’n kamerjas maak oop.

      “Meneer Barnard? Ek is Melinda Visser. Verskoon tog, ek …” Sy beduie vaag na haar klere. “Kom in, kom sit. Ek gaan net gou verklee.”

      Hy volg haar na die sitkamer. Gaan sit en kyk om hom rond. Met die toe gordyne is daar ’n ekstra somberheid aan die vertrek. Die blakers met kerse wat oral rondstaan, dra by tot die benoude gevoel. Sy blik haak vas op die glaskas in die hoek. Dit bevat geraamtetjies en skedels van klein diere, seker versamelstukke uit die omgewing. Daar is ook kleurvolle vere wat oral in houers staan. En ’n versameling skilpaddoppe.

      ’n Klop aan die voordeur laat sy kop opruk. Hy wag vir die vrou om te gaan oopmaak, maar toe daar ’n tweede keer geklop word, staan hy op.

      “Gerda Muller,” steek die vrou haar hand uit toe hy die deur oopmaak. Haar rok is ’n baldadige pienk en groen, hare in ’n stywe kapsel. Die wys- en middelvinger van die hand wat sy na hom uithou, is geel gevlek.

      Kettingroker, dink hy. Haar growwe rokerstem bevestig dit.

      “Barrie Barnard.”

      “Ek is die buurvrou,” beduie sy met haar kop na die linkerkant. “Ek het net gou vir die arme Melindatjie ’n bietjie van my groentesop gebring. Ek is seker sy het nog nie haar mond aan kos gesit nie.” Sy bekyk hom op en af. “En jy lyk hoeka na ’n man wat lekker kan eet.”

      Sy skuur by hom verby, stap die huis in asof sy elke dag hier kom. Hy volg haar in die gang af, kombuis toe.

      “Melindatjie het gesê sy gaan ’n privaat speurder uit die stad kry om na die ouvrou te soek,” sê Gerda terwyl sy die bakkie sop op die tafel neersit en ’n stoel uittrek. “Ek was vroeër hier, om te kom hoor of ek kan help. Sy’t klaar vir Janneman hier gehad, weet nie hoekom sy jou ook moes laat kom nie.”

      Sy beduie na die stoel oorkant haar.

      “Janneman?” vra hy terwyl hy die stoel uittrek en gaan sit. Sy blik dwaal van een hoek na die ander. Só, dink hy, sou hy hom ’n plaaskombuis kon voorstel. Die koolstoof met die hout en kole in ’n balie daarnaas en ook ’n gasstoof. Die rye en rye ou blikke wat op die kaste staan. Die mandjies met groente en kruie oral. Al wat nie hier hoort nie, wat die huislike gevoel effens vertroebel, is die rakke met die skedels daarop. Bobbejaan. Aap. Ander wat hy nie kan eien nie. En die oopgespreide vlerke van ’n roofvoël wat teen die een muur vasgekap is.

      “Konstabel Janneman Verwey.” Gerda snuif. “Ek weet nie hoekom sy jou al die pad laat kom het nie,” herhaal sy. “Die ouvrou het maar die manier om rond te loop.” Sy skud ’n sigaret uit ’n pakkie, steek dit op en blaas die rook met getuite lippe na die plafon. “Sit haarself hoe lank en verkyk aan ’n bossie. Of is aan die dans. Alhoewel, sy het die laaste tyd min geloop. Ek het haar meer hier tussen haar kruie gewaar as in die strate.” Sy sug swaar. “Ek is nie iemand wat skinder nie, gehoor? Ek hou my ook nie op met ander se sake nie. Maar jy is nou hier in die omtes en jy gaan seker ’n spul vrae vra?”

      Sy kyk so lank na hom dat hy verplig voel om instemmend te knik.

      “Nou ja,” sê sy asof sy ’n las van haar skouers laat gaan, “ek gaan jou nou iets van Erta van Tonder vertel wat almal in hierdie dorp vir ’n feit weet. Die meeste is net te bang om dit hardop te sê.”

      Sy wag duidelik op ’n teken dat hy gretig is om te hoor wat sy wil vertel. Lyf wat vorentoe buig, wenkbroue wat vraend lig – enige aanduiding sal vir haar welkom wees. Hy hou egter sy blik uitdrukkingloos op haar gerig. Asof dit wat sy hom wil meedeel van geen noemenswaardige belang is nie, asof hy dit reeds weet.

      Sy skud haar kop liggies, lyk verontwaardig en gee ’n sug van teleurstelling. Dan blaas sy rook uit en leun vorentoe. “Erta van Tonder is ’n heks.”

      Nou skiet sy wenkbroue tog omhoog, hy sit tog effens vorentoe. “’n Heks?”

      Sy sit tevrede terug en knik gretig haar kop. “’n Régte heks. Is alles in die oë.” Sy beduie so driftig met die sigaretvingers dat hy vir ’n oomblik vrees vir ’n ongeluk. “Een groen oog, een blou. Kyk, ek wil nie sleg praat van haar nie, dis nie my aard nie, maar waarheid is waarheid. Sy het onmin na hierdie dorp gebring.”

      “Onmin? Hoe so?”

      “Dis sy wat hierdie droogte oor ons uitgespreek het.” Gerda se mondhoeke trek afwaarts.

      Hy haal sy pakkie Chesterfields en aansteker uit sy sak, sit besluiteloos daarmee in sy hand. Hy het sy kwota vir die dag al amper bereik en sy tafelgenoot se geel vingers is soos ’n waarskuwing.

      “Jy glo my nie?” Haar oë trek skrefies. “Kyk, jy ken haar nie. Jy ken nie haar geskiedenis nie. Erta van Tonder het verlede jaar al vir Oudominee gesê dat ons ons maar kan regmaak vir ’n droë jaar.” Sy kyk vir ’n oomblik nadenkend na die brandende sigaret tussen haar vingers. “Wat sy gesê het, is dit: Dit sal nie weer reën voordat die dorp nie sy weë regmaak nie.” Skud haar kop droewig. “Die enigste een in hierdie dorp wie se weë nie reg is nie, is Erta van Tonder s’n. Oudominee het kom praat, die nuwe een ook. Van die boere het haar kom smeek om die vloek van hierdie droogte te lig, maar Erta het geweier. Geniet dit natuurlik dat almal so moet ly.”

      Sy tik met haar vinger op die tafelblad, vee die stukkies as wat afval ongeduldig na die vloer. “Ek hoop sy is weg. Dit erken ek openlik. Dat hierdie dorp tog net weer na normaal kan terugkeer.”

      ’n Geluid laat Barrie opkyk. Melinda Visser. Sy staan in die deuropening, haar arms oor haar bors gekruis, met die son wat deur die gordyne agter haar inskyn sodat sy amper eteries lyk. Die lig skyn dwarsdeur haar dun somerrokkie sodat hy haar pragtige bene ten volle kan bewonder. Die hele prentjie herinner aan dáái foto van Lady Di, voor sy prinses Diana geword het.

      Hy kug, skielik ongemaklik omdat hy sien dat sy hom sien kyk het. Beduie na Gerda. “Jou buurvrou het sop gebring.”

      “Ja, Gerda, jy moes natuurlik dadelik oorstap toe jy die vreemde kar voor die deur sien staan.” Daar is ys in Melinda se stem. “Van wanneer af dink jy is jy welkom in my huis? En dan rook jy ook nog.” Sy beduie gang toe. “Ek gaan nie saam met jou uitstap nie, jy ken die pad.”

      Barrie vroetel skuldig met die pakkie Chesterfield en druk dit terug in sy sak terwyl Gerda haar sigaret in ’n piering dooddruk.

      “Julle was weer tussen my rose,” kap sy terug. “Moenie dink ek weet nie daarvan nie. Volgende keer skiet ek.”

      “En vat jou waterige groentesop saam met jou!” roep Melinda agter haar aan.

      Gerda loop die helderblou pot waarin ’n hen-met-kuikens welig groei amper van die kombuiskas af toe sy uitstorm. Die pot wieg gevaarlik heen en weer, heen en weer, tot dit oplaas tot stilstand kom.

      Melinda draai na Barrie. “Jy moet honger wees. Ek maak gou ’n slaai.”

      Die broodjie van vroeër het hom net lus gemaak en hy knik. “Dit sal lekker wees.”

      “Janneman hét begin soek,” sê sy terwyl sy ’n glasbeker uit die yskas haal en twee glase vol skink. Sy gee een vir hom aan. “Al die boere is in kennis gestel. Almal is op die uitkyk. Almal glo dat sy iewers in die veld is.”

      Hy neem ’n sluk, lek sy lippe