Maar De Wet lag net geheimsinnig en al haar pogings om hom uit te lok, help niks nie.
Dit hou die hele week so aan. Sy weet dat hy vir seker die een of ander geluk moes oorgekom het, want hy is omtrent uit sy vel van vreugde en vol lawwigheid. Maar elke keer as sy nuuskierig raak, lag hy net geheimsinnig.
Vir haar voel dit egter of die lewe gaan stilstaan het. Sy hoor of sien niks van Gustav nie. En wanneer die naweek ook aanbreek en verbygaan sonder dat sy iets van hom hoor, aanvaar sy dat hy en Selma versoen geraak het.
Nog ’n week gaan verby. Die Vrydagoggend sit sy weer alleen in haar woonstel en naaldwerk doen. Sy probeer Richard in haar geheue oproep. Maar Richard se beeld word telkens verdring deur dié van Gustav. Dit ontstel haar so dat sy nie op haar werk kan konsentreer nie. Toe sy die derde keer ’n naat moet lostorring, gee sy bes. Sy kan net sowel vir De Wet nooi om te kom kuier. Hy het juis vandag weer gevra wanneer hulle dan weer ’n slag gaan kaartspeel. En met die lewensvreugde wat hy deesdae uitstraal, sal sy geselskap haar ook hopelik opbeur.
Sy kan hoor De Wet is verras dat sy hom bel. Hy belowe om sommer dadelik te kom. Sy het egter kwalik hul gesprek beëindig, of haar telefoon lui. Haar bene word lam toe sy Gustav se stem herken.
“Ek bel net om te hoor hoe dit met jou gaan?”
“O, heeltemal goed, dankie.” Sy het moeite om haar stem normaal te laat klink. “Hoe gaan dit met jou?”
“Ek was nogal besig hierdie afgelope twee weke. Maar ons kan later daaroor gesels. Wat doen jy vanaand?”
“Ek? Ag, niks nie … De Wet is nou op pad hier na my toe om te kom kaartspeel.”
“O … ek verstaan. Nee, toe maar, dan sien ek jou op ’n ander dag weer. Hoe gaan dit met Eben?”
Dit voel asof ’n swaar klip in haar liggaam afsak. “Dit gaan goed. Hy slaap al.”
“Ek is besig om ’n huis op Danabaai te koop.”
“O?”
“Ek het gedink, as jy nou niks te doen gehad het, om jou te kom haal en jou opinie te vra oor die huis.”
“O.” Sy kan aan niks op aarde dink om by te voeg nie.
“Miskien kan ons dit ’n ander dag maak, of hoe?”
“Ja, miskien.”
“Ek sal jou weer bel. Jy moet lekker slaap.”
“Dankie. Jy ook.”
Toe die telefoon ’n klikgeluid in haar oor maak, strompel sy ongelukkig en ontevrede kombuis toe. Hoekom moes hy nou juis bel nadat sy De Wet genooi het? En hoekom sal hy háár opinie oor die huis wil hê?
Die gelui van die deurklokkie onderbreek haar wrang gedagtes. En toe sy De Wet se vrolike gesig sien, besluit sy om nie langer oor Gustav se wispelturige gedrag te tob nie. Laat hy na die duiwel vlieg met sy Selma en al!
Sy geniet De Wet se teenwoordigheid, maar haar gedagtes bly maar dwaal. Sy konsentreer sleg en dit gaan nie so ongemerk by De Wet verby as wat sy gehoop het nie.
“Esbeth, wat is verkeerd?” vra hy dan ook toe sy later vir hulle gaan tee maak.
“Verkeerd?” probeer sy haar onskuldig hou. “Daar is niks op aarde met mý verkeerd nie.” Sy voel erg ongemaklik onder sy deurborende blik, maar doen haar bes om gewoon te lyk.
“Wanneer laas het jy vir Gustav Opperman gesien?”
Die vraag, so uit die bloute, jaag haar haastig wasbak toe. “Wat laat jou dit vra?” Sy wonder of hy die vlamme op haar wange gesien het.
“Omdat ek so ’n spesmaas het dat dit Gustav Opperman is wat vir jou belangeloosheid en swak konsentrasie verantwoordelik is. Jy is verlief op hom, nè?”
“Ag, kaf, De Wet, man!” probeer sy haar vies verweer.
“Sal jy my in die oë kyk en nog sê en praat kaf?”
Sy durf nou glad nie omkyk nie, weet Esbeth. “Jy droom, man. Gustav gaan trou. Weer met sy gewese vrou.”
Hy is tjoepstil. Sy kan tog nie die hele aand voor die wasbak bly staan nie, en toe sy omdraai, is sy blik peinsend op haar. Hy kyk ook nie weg toe sy tafel toe loop nie. “En as jy my nou só sit en kyk?”
“Ek wonder hoe jy sal inpas in die kombuis van ’n huis daar teen die kop.”
“Wat bedoel jy?”
Hy gee ’n laggie. “Jy sal nog sien.”
“Wat sal ek sien?”
“Moenie so nuuskierig wees nie. Ek sê mos jy sal nog sien.”
“Weet jy, De Wet, ek verstaan jou ook nie meer die laaste tyd nie. Ek wens jy wil my vertel wat met jou aangaan. Het jy ’n klomp geld gewen, of wat?”
Hy roer sy tee met ’n selfingenome glimlaggie. “Ag, kom ons gesels oor ander dinge. Wat het jou laat besluit om nie vanaand naaldwerk te doen nie?”
Toe De Wet later vertrek, roer daar ’n vae onrus in haar. Sy hoop tog nie hy is dalk met onwettige dinge besig nie. Hy praat al meer van al die dinge wat hy gaan doen as hy eers ryk is. Glo hy dat hy ’n groot bedrag in ’n wedstryd gaan wen, of is hy met ander dinge besig? Hy moet tog nie dwaashede aanvang nie. ’n Man soos hy hoort nie in die tronk nie.
Soos die week vorder, betrap Esbeth haarself telkens dat sy skrik as die telefoon lui, dat haar oë die strate bly fynkam, en dat sy selfs hoop Gustav wag vir haar by die woonstel as sy tuiskom. Maar weer gaan die week verby sonder dat sy enigiets van Gustav hoor. Sy wik en weeg lank of sy plaas toe moet ry vir die naweek of nie. Besluit dan daarteen. Dalk bel hy, of kom hy haar besoek, en dan mis sy hom.
Vrydagmiddag toe hulle huis toe ry, nooi De Wet haar om die aand saam met hom te gaan uiteet by ’n nuwe restaurant.
“Waar kry jy skielik geld vir uiteet?” vra sy agterdogtig. “Jy is nie besig met onwettige dinge nie, is jy, De Wet?”
Hy lag. “Wie weet! Gaan jy saam met my eet, of gaan jy nie?”
“Ek gaan nie saam as jy jou geld oneerlik verdien nie.”
“Dit lyk my jy dink ek maak geen wins uit my winkel nie …” lag hy haar beswaar weg. “Hoe laat kan ek jou en Eben kom oplaai?”
Sy gee ’n suggie. Sê nou Gustav bel haar nie? Dan sit sy maar weer die hele aand alleen in haar woonstel. “Goed, maak dit so halfagt se kant.” Dit sal haar genoeg tyd gee om uit te draai ás Gustav dalk bel, dink sy. Maar toe De Wet haar kom oplaai, het Gustav nog niks van hom laat hoor nie. Dit laat haar besluit om die aand te geniet. Wat baat dit haar tog om langer oor hom te droom? Sy sal hul oomblikke saam seker nooit kan vergeet nie, maar sy sal moet aanvaar dit was maar net ’n tussenspel. Gustav kan nie regtig vir haar omgee as hy só met haar gevoelens speel nie.
Gustav kyk op sy horlosie. “Ek het ’n afspraak,” dis hy ’n leuen op aan die vrou wat pas sy kamer binnegekom het. “Jy sal vinnig moet sê wat jy te sê het. Ek wil nie laat kom vir my afspraak nie.”
Selma steur haar weinig aan sy oënskynlike haas. “Ek verstaan jy is besig om huis te koop. Wanneer gaan jy die huis vir my wys?”
“Waar het jy gehoor dat ek besig is om ’n huis te koop?” wil hy weet.
“Jou sekretaresse het so iets laat glip toe ek jou by die werk gebel het. Is dit waar dat dit ’n huis in Danabaai is?”
“Selma, my sake het niks met jou te doen nie,” sê hy gevaarlik sag. “Absoluut niks nie! En ek is siek en sat vir jou. Kry dit in jou verstand dat ek niks, maar niks, op aarde ooit weer met jou te doen wil hê nie. En nog ’n ding, as jy nie ophou om my by die werk te bel nie, sal ek verplig wees om ’n hofbevel teen jou te verkry.”
Haar gesig word bleek van kil woede. “Ek sê vir jou een ding, Gustav Opperman, as jy nie met my trou nie, sal ek sorg dat