Ena Murray Keur 2. Ena Murray. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Ena Murray
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Короткие любовные романы
Год издания: 0
isbn: 9780624068198
Скачать книгу
na Pauli. “Ek is seker as sy wil, sal mevrou Hattingh een van die moai kan beweeg om van sy troon af te klim.”

      Net die professor en Pauli se lag klink op. Zelia se gesig bly nors. Louw maak kortaf verskoning en stap uit, met Zelia kort op sy hakke. Weer heers ’n ongemaklike stiltetjie, wat dan deur dokter Inaki verbreek word.

      “Ek sal nou moet gaan. Alle sukses, professor.”

      “Dankie, dokter.”

      “Ek sal saamstap,” laat Pauli hoor en vergesel die dokter tot by sy perd. Hy huiwer voordat hy hom in die saal swaai en keer dan sy blik direk na Pauli.

      “Dankie vir jou mooi woorde, Ohutea. Jy is die enigste een wat werklik begryp.”

      Haar kop ruk op en dan bloos sy die hoeveelste keer terwyl sy haar blik vinnig laat sak. Sy oë bly op haar gerig, en dit voel vir Pauli of sy kan huil van skaamte. Dan moes hy seker Zelia se insinuasies ook gehoor het! Net baie vlugtig lê hy sy hand oor hare voordat hy in die saai spring.

      “Daar is iets wat ek jou moet sê, Ohutea. Ek doen dit net ter wille van jou.”

      Sy kyk vraend op. Sy het hom nog nooit so ernstig gesien nie.

      “Ja?”

      “Jou man is besig om navraag te doen na … na daardie danseres. Waarsku hom asseblief vriendelik maar dringend dat hy daarmee moet ophou. Onmiddellik! Dis van lewensbelang.”

      Pauli voel iets soos ’n koue staalband om haar hart slaan en sy kyk hom ongelowig aan. Hy knik sy kop.

      “Dit is so, Ohutea. Ek sou jou dit liewer nie wou vertel het nie, maar aangesien hy daarmee voortgaan, is ek verplig. Ek wou die saak nie persoonlik teenoor hom opper nie. Jou man … ons kan mekaar miskien misverstaan. Ek moet jou dus vra om die waarskuwing oor te dra. Ek wil herhaal, dis van lewensbelang.”

      “Jy bedoel hy …” Haar stem sterf weg en dan dwing sy haarself om te vra: “Maar wie is sy? Ek het dan gedink jy weet nie wie sy is nie, en nou … nou kom jy met ’n waarskuwing …”

      “Wat maak dit saak wat haar naam is? Jy sal niks wyser wees as ek jou haar naam sê nie. En die feit dat ek weet of nie weet wie sy is nie, het ook niks met die saak te doen nie. Wat van belang is, is dat jy jou man moet waarsku om sy navrae na haar onmiddellik te staak, en dat hy met sy lewe speel as hy haar enigsins probeer opspoor.”

      Sy gesig is meteens somber, so ook die blou oë wat in haar verskriktes afkyk.

      “Ter wille van jou, Ohutea, hoop ek hy sal ag slaan op my waarskuwing.”

      Weer eens, terwyl haar blik sy krimpende silhoeët volg, voel Pauli ’n rilling deur haar gaan. Daar is meteens koue angssweet in haar handpalms en ’n koue band van vrees om haar hart. Want iets in die vreemde blou oë van dokter Inaki het haar vertel dat hy nie grappies maak of oordryf nie; dat hy presies bedoel wat hy gesê het …

      Daar is verbystering en teleurstelling in haar toe sy stadig omdraai en na haar tent terugstap. Sy hoop en bid dat sy niemand raakloop nie. Sy wil nou niemand sien nie, nie eens vir professor Islinger vir wie sy reeds so lief soos vir ’n pa is nie; nog minder vir Zelia Meyer en … beslis nie vir Louw nie … Louw wat al weke lank naarstiglik navraag doen na ’n Polinesiese danseres.

      Genadiglik bereik sy haar tent sonder dat sy iemand teëkom en sak op die kampbedjie neer. Sy kán dit nie glo nie! Louw Hattingh van alle mans! En tog … hy is ’n man, ’n volwaardige man. Dit weet sy self. Dit het sy besef daardie aand toe hy na haar slaapkamer gekom het. En daarna … nie so lank terug nie, het hy dit weer vir haar gesê … daardie aand ná dokter Inaki se ontvangs … toe het hy haar reguit gesê hy is maar net ’n man.

      Daardie aand kon sy dit lees in sy oë terwyl sy blik op die pragtige, wringende liggaam van die danseres gerus het. Hy staan nie koud teenoor die instinktiewe sy van die lewe nie. Ten spyte daarvan dat hy ’n ontwikkelde, beskaafde, intellektuele mens is, dra hy tog ook in hom die drange en drifte van ’n normale man rond, drange wat baie jare lank sterk in bedwang gehou is; drange wat veral sedert sy huwelik ’n vuurproef moes ondergaan, maar waarvan hy tot op hede ten volle meester was. Miskien … miskien was dit net omdat daar geen aanmoediging gekom het nie. Maar nou …

      Sy druk haar gesig in haar hande. Aangesien sy wettige vrou nie belangstel nie, nog nooit enige teken getoon het dat sy belangstel nie, eintlik op ’n egskeiding aandring … Die uitnodiging was so openlik daar, die bedoeling só helder … hoekom nie? Diep in haar hart weet Pauli dat Louw nie die soort man is wat doelbewus daarna sal gaan soek nie, maar … as dit op ’n skinkbord verbykom …

      Bo die verslaentheid en teleurstelling styg daar ’n verblindende pyn in haar op. Onmiskenbaar, onmoontlik om te ignoreer, kom dié wete ook – dis háár skuld, grotendeels haar skuld dat Louw Hattingh die beeldskone meisie probeer opspoor … en dit sal op haar gewete lê as hy as gevolg daarvan iets gaan oorkom. Want noudat sy weer elke woord, elke intonasie, elke gesigsuitdrukking van die spreker nagaan, besef Pauli dat dokter Inaki nie ’n waarskuwing geuiter het nie, maar ’n dreigement. Bly weg van die Polinesiese danseres af, of …!

      Die eerste keer sedert sy dokter Inaki ontmoet het, voel Pauli bang vir hom. Tot op hede was hy nog altyd vir haar ’n beskaafde, opgevoede heer, ’n man om te respekteer en te bewonder vir wat hy in die lewe bereik het. Maar ná vanmiddag weet sy, nes Louw lankal besef het, dat daar veel meer in die goewerneur van Paaseiland skuil as wat ’n mens met die eerste ontmoeting kan waarneem. Haar effense agterdog oor dokter Inaki se verskuilde drifte word nou sterk vermoedens.

      Sy besef nog iets. Sy beskaafde maniere en sagte stemtoon is misleidend. Êrens in hierdie man se skraal, byna te skraal en fyn liggaam vir ’n man, skuil ’n verbete hardheid, ’n … roekelose vasberadenheid. Die kern van sy voorvaderlike primitiwiteit lê nog onbeïnvloed. Dokter Inaki is allermins ’n man om te ignoreer of te onderskat – en sy sag uitgesproke waarskuwings mag nie verontagsaam word nie …

      Daardie aand is dit net professor Islinger en Zelia wat in die eettent verskyn. Niemand het Louw weer gesien nadat hy so skielik ná dokter Inaki se verskyning padgegee het nie. Daar is ook geen teken van Pauli nie, hoewel die lamplig in haar tent verraai dat sy wel daar is. Die twee wetenskaplikes het nie veel vir mekaar te sê aan tafel nie, en albei is bly toe die ete verby is en hulle hul ook kan terugtrek in hul onderskeie tente.

      Dis reeds laataand toe Pauli eindelik voetstappe in die rigting van Louw se tent hoor beweeg. Sy slaak innerlik ’n sug van verligting. Hy is eindelik terug! Maar sy wag nog ’n hele ruk voordat sy opstaan. Ná ure lange bepeinsing weet sy nou nog nie hoe sy dokter Inaki se waarskuwing aan Louw moet oordra nie. Maar sy weet sy moet, want as Louw voortgaan hiermee, is hy in lewensgevaar. Daaraan twyfel sy geen oomblik nie.

      Pauli stap saggies nader. Die ander tente is reeds donker. Dan snak sy na asem, verstyf tot ’n standbeeld.

      Onmiskenbaar is dit vroulike buitelyne wat van die binnekant af teen Louw se tentseil val!

      6

      Toe Louw ure nadat hy kilometers ver oor die groen grasheuwels van die eiland gestap het na sy tent terugkeer, is dit reeds donker. Daar het nog net een liggie in die kamp gebrand – Pauli s’n. Maar hy het reguit na sy tent gestap, ingegaan en die lamp opgesteek.

      ’n Hele ruk lank het hy net so voor hom gesit en uitstaar en hom toe eindelik langsaam begin ontklee. Dit was nie die besadigde, kalm professor Louw Hattingh wat enkele oomblikke later met ’n strak gesig, net in sy kortbroek geklee, bo-op die kampbedjie neersak nie.

      Terwyl hy ’n sigaret aansteek, gloei sy altyd vriendelike oë met ’n vuur wat Pauli nooit sou herken het nie. Of het sy miskien reeds ’n vae vermoede gehad dat dit nie net dokter Inaki is wat dinge in hom omdra waarvan sy tot hiertoe niks geweet het nie, nie eens gedink het moontlik is nie?

      Louw is so diep ingedagte dat hy nie die sagte voetval buite sy tent hoor nie. ’n Oomblik lank is hy te verslae om iets anders te doen as om net te staar na die visioen wat meteens in die tentopening verskyn. Dan, toe die tentklap agter haar toeval, spring hy op, gryp vinnig na sy kortbroek en pluk