Hy het die koevert oopgemaak terwyl hy praat en haal twee poskaartgrootte foto’s uit. Hy skiet dit oor die lessenaar.
“Het jy dit al gesien? Wyle Johannes Jacobus Smit. Vasgebind in sy eie kombuisstoel. Vul dit jou met deernis en simpatie en begrip en insig? Of watter ander aangeplakte, politiek korrekte woord jy ook al wil opdis. Iemand het dít aan hom gedoen – hom vasgebind met draad en hom gebrand met ’n blaasvlam tot hy gewens het hulle wil hom skiet. Iemand. Mense. En jou onaantasbare engel Wilma van As is in die middel van hierdie ding. Tony O’Grady van Moord en Roof sê hy dink sy was deel daarvan, want ’n klomp klein dingetjies wil nie pas nie. En as dit by moord kom, is die statistieke aan sy kant. Dis gewoonlik die man of die vrou of die houvrou of die skelmpie. Miskien is hy reg, en miskien is hy verkeerd. Maar as hy reg is, waar is jou idealisme dan?”
Sy het opgekyk van die foto’s af. Bleek. “En jy gaan my borrel bars …”
“Het jy al ’n moordenaar ontmoet, Hoop?”
“Jy het jou punt gemaak.”
“Of ’n kinderverkragter. Ek en …” Hy stamel, ’n enkele hartklop, maar hy praat daaroor, daardeur, ietwat verstom oor homself. “Ek het ’n kinderverkragter gevang. ’n Sagte, ronde oubaas van nege-en-vyftig wat lyk of hy enige Desember vir Vader Krismis kan instaan. Wat sewentien dogtertjies tussen die ouderdomme van vier en nege met Wilson’s toffies na sy kar gelok het en teen Constantia se berg …”
“Jy het jou punt gemaak,” sê sy sag.
Hy sak terug in sy stoel.
“Laat ek dan my fokken werk doen.”
Die noordwester waai die donker buite teen die venster aan. En binne praat Wilna van As, soek sy na Jan Smit met haar woorde, haar hande op haar skoot inmekaar gevleg, nooit heeltemal stil nie. “Ek weet nie. Ek weet nie of ek hom geken het nie. Ek weet nie of dit móóntlik was om hom te ken nie. Maar dit het nie vir my saak gemaak nie. Ek het hom liefgehad, want hy was … Dit is asof hy ’n wond gehad het, asof hy soos ’n … ’n … Ek het soms in die nag langs hom gelê en gedink hy is soos ’n hond wat geslaan was – te veel, te hard. Ek het baie dinge gedink. Ek het gedink miskien is daar ’n vrou en ’n kind iewers. Want toe ek swanger was, het hy so bang gelyk. Ek het gedink hy het ’n vrou en ’n kind gehad wat weggeloop het. Of miskien was hy ’n weeskind. Miskien is dit iets anders, maar iewers het iemand hom so vreeslik seergemaak dat hy nooit vir iemand anders daarvan kon vertel nie. Dit het ek geweet en daarom het ek nooit gevra nie. Ek weet niks van hom nie. Ek weet nie waar hy grootgeword het nie en ek weet nie wat van sy pa en sy ma geword het nie en ek weet nie hoe hy met die besigheid begin het nie. Maar ek weet hy was op sý manier lief vir my. Hy was sag en hy was goed vir my en soms het ons saam gelag – nie baie nie, nou en dan – vir mense. Ek weet hy kon pretensieuse mense nie verdra nie. En dié wat hul geld rondgegooi het. Ek dink hy het dalk swaargekry. Hy het so mooi, so versigtig met sy geld gewerk. Ek dink hy was bang vir mense. Of miskien skaam … Daar was nie vriende nie. Daar was net ek en hy. Dit is al wat ons nodig gehad het.”
Net die wind en die reën teen die ruit. Sy kyk op van haar hande, na Hoop. “Daar was so baie kere dat ek wou vra. Dat ek vir hom wou sê hy kan maar vir my vertel, ek sal steeds vir hom lief wees, maak nie saak hoe groot die seer is nie. Daar was tye dat ek net wou vra omdat ek so verskriklik nuuskierig was, omdat ek hom wou ken. Ek dink dit is omdat ek hom wou plaas, omdat ons maar met almal só maak, hulle op ’n plek in ons koppe plaas sodat ons volgende keer kan weet wat om vir hulle te sê of wat om vir hulle te gee, dit maak die lewe so bietjie makliker. Maar ek het nie gevra nie. Want ek dink as ek gevra het, sou ek hom dalk verloor het.”
Sy kyk na Van Heerden. “Ek het niks gehad nie. Ek het soms gedink miskien het sy pa ook gedrink en sy ma ook geskel en miskien het hy ook van Rugby af gekom. Soos ek. Maar ons het mekaar gehad en verder was niks nodig nie. Daarom het ek nie gevra nie. Nie eens toe ek swanger geraak het en hy gesê het ons sal moet plan maak nie, want kinders verdien nie die sleg van hierdie lewe nie en ons kan hulle nie beskerm nie. Ek het nie gevra nie, want ek het toe geweet hy was geslaan. Soos ’n hond. Te veel. Ek het net gegaan dat hulle die kind kan uitsny. En toe het ek gegaan sodat hulle my kan regmaak dat ek nie weer ’n kind kan kry nie. Want ek het geweet ons het net vir mekaar nodig.”
En dan vee sy ’n druppel van die punt van haar neus af en kyk weer vir haar hande en hy weet nie wat om te sê nie. Hy weet hy kan nie sy ander vrae vra nie.
Die huis is ’n grafkelder.
“Ek dink ons moet ry,” sê die prokureur eindelik en staan geluidloos op. Sy stap na Wilna van As en sit haar hand op die vrou se skouer.
Van Heerden en die prokureur hardloop saam deur die reën oor die straat. As sy die sleutels in die BMW se deur druk, staan hy langs haar.
“As ons nie die testament kry nie, kry sy niks?”
“Niks,” sê sy.
Hy knik net. En dan stap hy stadig na die Toyota terwyl die water op hom neersif.
Hoop steek dertien van die kerse in haar badkamer aan, maar sy tel hulle nie. Die kerse is veelkleurig, groen en blou en wit en geel – een is welriekend, almal is kort en dik. Sy hou van kerslig en dit maak die klein, witgeteëlde badkamer van die meenthuis in Milnerton Rif meer draaglik.
Haar tydelike huis, met sy twee slaapkamers en sy oopplankombuis en wit melamienkaste. Haar tydelike belegging – tot die firma goeie geld begin maak. Tot sy iets kan koop wat op die see uitkyk, ’n wit huis met ’n groen dak en ’n houtdek en ’n uitsig oor die Atlantiese Oseaan en sy sonsondergange, ’n huis met ’n groot kuierkombuis en eikehoutkaste en ’n boekrak wat die hele voorkamermuur bedek.
Sy gooi die badolie in en roer die water met haar hande terwyl sy buk oor die bad, haar klein borste wat saam met die spiere van haar skouers beweeg.
Haar seehuis sal ’n groot bad hê.
Sy draai die krane toe en klim stadig in die warm water, luister vir ’n oomblik of sy die reën buite kan hoor, sodat die stoom en die warmte en die gemak van bad daardeur benadruk kan word. Sy droog haar hande aan die wit handdoek af, strek, tel die boek op wat op die toe toiletdeksel lê. London. Edward Rutherfurd. Dik en wonderlik. Sy maak dit oop by haar Biblioteekweek-boekmerk.
Jong Dames Dinamiek. Hy kan nie veel van ’n speurder wees as hy haar so maklik en verkeerd kategoriseer nie.
Buitendien, sy is nie ’n gimnasiummens nie – sy is ’n drawwer.
As ons nie die testament kry nie, kry sy niks? Asof hy nie die eerste keer, in haar kantoor, gehoor het nie. Asof Wilna van As eindelik vanaand tot hom deurgedring het.
Ons is almal sleg …
Eienaardige man.
Sy fokus op die boek.
Terwyl die uie, peperkorrels en naeltjies in die water kook, bel hy.
“Ek maak kos,” sê hy as sy antwoord.
“Hoe laat?” vra sy en hy wil nie die verbasing in haar stem hoor nie. Hy kyk na sy horlosie.
“Tienuur.”
“Goed,” sê sy.
Hy sit die telefoon neer. Sy sal bly wees, weet hy. Sy sal aannames maak, maar sy sal niks vra nie.
Hy stap terug na die kombuis – die enigste vertrek in die huisie waar daar nie verval en gebrek is nie. Hy sien die water is weggekook. Hy gooi stukkies pypkaneel in sy palm en voeg dit by die bestanddele van die silwer pot. Hy voeg die olyfolie by, meet met die oog, draai die gasplaat se vlam af. Die uie moet stadig verbruin. Hy trek die snyblok nader en kerf die lamskenkel in stukke, verplaas dit eindelik na die pot. Hy sny die gemmerwortel fyn, voeg dit by, dan