Asbesmiddag. Etienne van Heerden. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Etienne van Heerden
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624068747
Скачать книгу
’n pupilskap in Wene. Sommige stil middae as dit net die skrywer, Giuseppe en die masseuse in die salon is, kom sing sy arias terwyl sy kop ingeseep word. Saggies sing sy, dankbaar vir die gehoor, en Giuseppe se oë blink van die trane. In die spieël kry die masseuse ’n vredige uitdrukking. Almal voel hulle in die nabyheid van jong talent, van ambisie en Wene wat wink.

      Dis die begin van grootsheid, verseker Giuseppe die bestuurder van Tux Dudes elke keer opnuut, en dit in hierdie klein salon so diep versteek onder hierdie swaar, grys ou gebou.

      Ten spyte van sy nederige omstandighede lok die salon interessante kliënte, en die skrywer is haas nie die vaalste lojalis nie. Toevallige besoekers wat drupsgewys opdaag, is daar natuurlik wel, maar vir hulle wag daar geen pierinkie olywe nie. Die Indiese fortuinverteller, bottel olyfolie of pastaresep word nie vir hulle opgetower nie. Die tuxwinkel se ster word nie nader geroep op ’n weemoedige namiddag nie.

      Maar wanneer die beroemde argitek met sy lang lyf opdaag en die stoel só geskuif moet word dat hy sy lyf met moeite daarin kan wikkel om sy kop op die wasbak neer te lê, is dit oestyd vir Giuseppe. Ook wanneer die afgetrede wynuitvoerder met sy geselsies oor sy mooi piano nobile met die mooi uitsig op die mooi kanaal in mooie Venesië op besoek is. Dan maak Giuseppe in die spieël oogkontak met die skrywer en sy wenkbroue lig.

      Of die blinde dame arriveer. Sy is die vrou van ’n ryk landgoedboer en terwyl Giuseppe soos ’n impresario op die agtergrond huiwer, vergas sy almal met vertellinge oor die nuutste lasertegnologie, haar jaarlikse pelgrimsreis na ’n kliniek in Zürich en haar soektog na sig. Daar is ’n politikus, ’n dame wat prominent is in die plaaslike regering, wie se byekorfkapsel nes dié van Maggie Thatcher daagliks aandag verg. Sy is begaan oor korrupsie, die afdank van knap wit dorpsamptenary en die stadige meegee (“soos ’n vloer waaraan houtkewers knaag”) van plaaslike bestuur. Dit sal nog op ’n revolusie uitloop, meen sy, want ook die armes sukkel. Eendag gaan als nog in vlamme op. Pensioene daag nie betyds op nie, die klinieke word al vrotter, elektrisiteit word al om die hawerklap onderbreek. Die nuwe amptenary speel die perde, glip Vrydae vroeg weg casino toe en sê nie nee vir ’n bottel omkoopwhisky nie.

      Daar is ’n heer, ’n oudburgemeester, wat begaan is oor die uitsterf van tale. Linguicide is sy geliefkoosde woord terwyl Giuseppe se skêr klik. In sy vrye tyd maak die oudburgemeester wyn. Dis sy manier om aan die tyd vas te hou, verduidelik hy. Biebouw Wyne, noem hy sy reeks. En vertel graag dat ons taal ’n viool is, en dat ons moet sorg dat dit oral gebruik word en nie verswelg word deur die klavier van Engels nie.

      Dit terwyl Giuseppe olywe aandra en, terwyl stoom om die sittendes walm, uitroep: “En wat is Italiaans dan? ’n Mondfluitjie of ’n harp?”

      Die laaste regular wat die skrywer dikwels aantref, is ’n staatspatoloog. Sy eis absolute stilte. Geen oordadige massering nie. Sy’s sensitief vir aanraking. Sy hou nie van musiek nie. Kennelik moeg gestaar na lyke met afgesnyde kele, skedels waardeur koeëls getrek het en dooie vroue met verkragte onderlywe, sit sy bleek in die spieël. Niemand waag dit om ’n woord te sê nie. Die fortuinverteller stap binne, gee die situasie een kyk en verdwyn vinnig. Met haar nat hare en wit handdoek om die skouers lyk die staatspatoloog asof sy vir die guillotine voorberei is. Haar kop gaan rol, dink die skrywer dikwels –waarom, weet hy nie.

      In die twaalfde jaar van die nuwe republiek vorm hierdie groepie die elite van Giuseppe Professional Hair Stylists, Winkel 54, Erfenissentrum, waartoe die naam van die dorp nog gevoeg moet word.

      Vir die skrywer word hulle almal gedaantes van sy gemoed. Selwe van sy self. Elkeen verteenwoordig ’n toertjie in sy repertoire. Ja, lyke kan hy oopsny. Na Italië mag hy smag. En blind is hy gebore.

      Nie een van hulle sal vermoed dat ’n videokamera nog in die plafon geïnstalleer sal word nie. Dit het ’n klein lens wat byna onsigbaar is vir die blote oog. Getrou sal dit elke woord, elke klik van die skêr of storting van ’n kraan dokumenteer. Dit sal die pierinkie olywe dophou, die fortuinverteller aanhoor wanneer hy ’n niksvermoedende handpalm platstryk, dit sal kyk hoe Giuseppe indut wanneer dit stil is en niks sal dit ontgaan nie.

      Maar dit lê nog voor, dit kom later.

      Aan die begin is verwys na hierdie woonplek as ’n dorp. Helaas, eintlik is dit nie meer ’n dorp nie.

      Nuwe en onoordeelkundige geld stroom in en die buitewyke is deesdae ’n woud hyskrane, ’n niemandsland van beton, ’n bloeiende woestyn met piramides badkamerteëls. Frenetiese loodgieters jaag in bakkies rond, verby donderende lorries met agterop opgerolde lappe gras wat soos reuserolmops lyk. Die sekuriteitskomplekse en hul strate het buitewêreldse name: Windsor Close, Montenegro, Manchester Village, Beverly Hills. Klaarblyklik voel ontwikkelaars dat potensiële kopers oral sal wil bly behalwe in Afrika. Pleks dat die Minister van Kultuur ou Afrikaanse plekname verander, dink die skrywer, moet hy eerder vergader met hierdie ontwikkelaars wat so ’n uitheemse taalkombers oor die landskap gooi. Oxford Place. Manhattan. Kamma-Toskaanse huise verrys uit die goeie aarde waar nie so lank gelede nie, en in vredevolle middae, herfserige lappe wingerd in skakerings van oranje, bruin, rubikonrooi en ougoud teen die heuwels uitgesprei het.

      Die roetine waaraan die skrywer en ander kliënte – of dalk eerder gaste? – van Giuseppe Professional Hair Stylists hulself onderwerp, is eenvoudig. Dis bedink deur Giuseppe se geliefde, Maria. Sy is ’n vrou van omvang, maar haar liggaamsvet is nie van die slap soort nie. Sy is sterk gebou en strydlustig.

      Sy is nog korter as Giuseppe, en stap met bak arms. Haar hande is uitgeswelde poffertjies en haar vingers stywe worsies. Haar kop is klein, met spits, alarmistiese haarpunte wat ’n beeld van konstante verontwaardiging wek. Haar oë, na aan mekaar, is baie donker, baie intens.

      Die skrywer is lief vir Maria, en hierdie beskrywing moenie as pejoratief ervaar word nie. Normaalweg sou hy sy skryfstudente aan die universiteit in die stad waar hy hoogleraar is, waarsku oor leserreaksies teen so ’n polities verkeerde beskrywing, so ’n eksternalisering van ’n vrou. Maar dis nou eenmaal soos Maria lyk.

      Preutse teorieë uit die akademie loop hulle dikwels teen die lewe vas. Hy vermy hierdie preutsheid doelbewus, welwetend dat die lang messe sal uitkom. Hy’t jare gelede al ’n opmerking van Michel Foucault oor Nietzsche bokant sy skryftafeltjie opgeplak. Hy kyk daagliks daarna: There is in Nietzsche’s work a roughness, a rustic simplicity, an outsideness, a kind of mountain peasantness, that allows him, with a shrug of the shoulder and without appearing ridiculous, to say with unavoidable force: “What non-sense that all is!”

      In wese is hy nie konserwatief nie; dis net dat hy as skeppende gees ’n verweer nodig het teen die politiek korrekte geykthede om hom. Dié frase sit daar om hom die nodige hardkoppigheid te gee. Anders slaan die tye sy arms lam.

      Maria herinner hom aan skaduwees uit sy kinderdae: ’n stoet gesette vroue, sommige stil en ander spraaksaam, van wie hy nie al die name onthou nie. Nie net het hul gul liggame hulle onderskei van sy moeder, die boer se vrou nie, maar hierdie bediendes het ’n ander reuk gehad as sy moeder. Vir hom as seuntjie ’n eksotiese geur, die reuk van die lewe wat gelei word in die werkershuisies anderkant die bult, buite sig van die plaashuis.

      Hulle het geruik na Mum. Soms was die goedkoop reukweerder gedaan en dan was daar die reuk van sweet, ’n malse geur gemeng met dié van vuurrook en die beesmis waarmee hulle die vloere van hul strooise gesmeer het. Om hulle het die reuk van ongesoute vleis gehang. Hulle het soggens werk toe gekom met ledemate wat blink ingevryf is van die beesvet, en hom laggend in hul arms gevang as hy by die kombuisdeur uitstorm na waar hulle nog in aantog was met die voetpaadjie.

      Apartheid het baie liefdes verbloem.

      Hy was ’n onrustige kind en om hom stil te hou, het hulle hom oral oor sy lyf gevryf. Dit het ’n heerlike kalmte oor hom laat kom, ’n dromerigheid, ’n verliefdheid. Hulle was oppassers – in die taal van die tyd is hulle “kindermeide” genoem – en hulle had hul eie geheime. Van sy vroegste herinneringe is aan so ’n vrou, waar hy wiegend vasgebind op haar rug lê terwyl sy hande-viervoet rooi politoer aan een van die opstal se stoepe vryf. Dit was ’n nêrensgevoel, ’n gevoel van geborgenheid, van narkotika. Hy kan die herinnering nou nog na bo wil: die dik bruin hande wat die rooi politoer uitstoot, die borsel wat stewig vryf totdat die